courant
dié
Wellington
Gratis • Free
1
Hugenotestraat 24, Malmesbury
8 Junie 2016
Uitgawe 373
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
• poole ‘n blink nuwe akteur
Van Wellingtonse laaitie tot sterloper Hein Poole is die blink nuwe TV-ster wat eens as kind in Wellington se strate gespeel en rondgeloop het. Hierdie oudleerder van Pauw Gedenk Primêr, St. Albans Primêr en New Orleans Sekondêr vertolk tans een van die hoofrolle in die gewilde Kyknet-reeks, Sterlopers. “Met ‘n oupa soos Frank Brink wat die plaaslike Roslins Rugbyklub gestig het, en my ander oupa Henry Poole, wat vir jare die skoenmaker in Wellington se middedorp was, is my wortels diep in Wellington geplant. As ‘n mens vir 27 jaar lank op ‘n plek bly, word die plek en die mense deel van wie jy is,” vertel Hein. Hy sê dat hy as 7-jarige “laaitie” in opvoerings by die kerk en skool begin speel het en dat ‘n gesondheidstoestand hom as kind verhoed het om aan sport deel te neem. Dit het hom as’t ware gedwing om kuns, drama en vermaak as alternatief te verken. Hy het vinnig besef dat hy nie net ‘n natuurlike aanleg daarvoor het nie, maar dat hy ook baie lief is daarvoor. “My ouers en onderwysers het my altyd aangemoedig. Ek sal altyd erkenning gee aan die dorpenaars se inspirerende woorde en ondersteuning in my lewe. Wellington se mense is vriendelik en trots. Hulle sal altyd agter jou staan as hulle weet jy wil iets positiefs bereik. En al die dorp se stories en mense help my om karakters en situasies kleurvol te skets,” sê Hein. Sy pad tot by Sterlopers was egter nie net met ster-
re besaai nie. Hy moes al baie klein rolletjies vertolk om die pot aan die kook te hou. As opkomende akteur kon hy nie kieskeurig wees nie en hy het al enigiets van ‘n skoolkind, ‘n ou man op ‘n stoep, ‘n skollie, ‘n gelukbringer, ‘n “nerd” en selfs ‘n vrou gespeel. Hy was ook al deel van gemeenskaps- en opvoedkundige teater en het in selfoonadvertensies verskyn. Hy voel dat dit hom waardevolle ondervinding laat opdoen het en hom gehelp het om te kom tot waar hy vandag is. Sy ondervinding op die stel van Sterlopers is iets wat hy nie gou sal vergeet nie. “Ek moes vir 3 maande lank tussen die Kaap en Johannesburg pendel, omdat die reeks in Johannesburg geskiet is. Die energie onder die akteurs op die stel was ongelooflik. Almal het mekaar ondersteun en daar was ‘n lekker gekskeerdery agter die skerms – veral as ons moeilike tonele moes skiet.” Hein lag as hy oor sy karakter in Sterlopers praat. “Ek speel Cheslin Cupido in Sterlopers. Toevallig is dit ook my buurman in Wellington se naam! Daar is baie verskille tussen my en die karakter Cheslin, maar daar is ook baie ooreenkomste. Cheslin dans, speel seremoniemeester en skryf gedigte en dit is alles dinge wat ek ook doen. Ek het ook die geleentheid gekry om my eie rymklets/ slam poem in die reeks te doen (Doef ka doef).” Hein sê sy familie is sy anker. “Ek het ‘n massiewe familie. Ek kry net nie
‘‘
‘‘
• Jaomi Zeeman
Wellington se mense is vriendelik en trots."
tyd om by almal uit te kom nie. Die Poole’s, die Brinks en die Gilfellins – ek’s in die skuld by almal. "Ek is getroud en het die pragtigste 15 maande-oue seuntjie. My beroep stel hoë eise aan my familielewe, maar hulle verstaan en ondersteun my ongelooflik baie.” Intussen is dit vir hom nog steeds onwerklik wanneer mense hom op straat herken. “Ja-nee, dis net selfies en uitnodigings wat na my kant toe kom. Ek moes nou selfs al ‘n PA kry. Partykeer skrik ek my boeglam wanneer die mense my oorval. Almal is so ondersteunend en trots. Ek moet sê, dit kompenseer nogal vir die tyd toe daar net vyf tot 100 mense voor my in die gehoor gesit het.” Op die oomblik is Hein druk besig met ‘n hele paar projekte. Hy tree gereeld op as seremoniemeester by funksies, hy werk aan ‘n musical, hy is deel van die komediereeks Nommerpas 1 en 2, hy speel in die drama Broodlyn, hy is betrokke by kinder- en gemeenskapsteater en toer met Miriam Makeba se storie. Hein voel dat hy ook moet terugploeg in die gemeenskap wat hom gevorm het en daarom gee hy dramalesse by die Breytenbachsentrum. Al is sy kop tussen die sterre, is sy voete nog stewig op die grond. “Al die struikelblokke wat ek al moes oorkom het my baie geleer. Elke dag is ‘n nuwe uitdaging. Ek fokus net op wat ek in die lewe wil bereik en vertrou op God,” laat hy filosofies hoor. Dit is wyse woorde van Wellington se blink Sterloper. Leerders wat belangstel in dramalesse kan die Breytenbachsentrum kontak by 021-873 2786.
NUUS • NEWS
8 Junie 2016