courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
9 November 2016
Uitgawe 395
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
•BOHEEMSE HUIS VERTEL 'N RYKE VERHAAL
‘Alles het ‘n storie’ •Jaomi Zeeman Agter die mure van die opvallende rooi huis in Murraystraat, skuil ‘n magdom interessante stories, ‘n sintuiglike belewenis en ‘n ontploffing van kreatiwiteit en ‘n eiesoortige liefde vir mooi goed. Die eienaar, Marius du Plessis, is ‘n Wellingtonner in murg en been en sy stories is vervleg met dié van ons dorp en ons land se geskiedenis. Marius woon al 57 jaar lank op Wellington. Hy het, ten spyte daarvan dat hy al op baie ander plekke gewerk het, nog altyd eiendom op die dorp gehad en herhaaldelik hierheen teruggekeer. Marius se huis is die getuienis van sy vele ondervindings, sy reise, sy liefde vir kuns, sy ongelooflike kreatiwiteit en sy vaardigheid as kunstenaar en naaldwerk-ghoeroe. “As mense my vra om my huis te beskryf, is daar eintlik net een woord: boheems,” sê hy terwyl hy in sy Barokstyl-sitkamer met die verskillende kleure helder mure sit. “Elke ding wat hier is, het ‘n storie en betekenis. Dit is nie sommer net ‘n spul mooi goed wat bymekaar gegooi is nie. Elke item is verbind aan ‘n persoon of ‘n gebeurtenis of ‘n reis iewers in my lewe,” vertel hy. Marius se kreatiewe aard het alreeds op hoërskool begin lewe kry. “My ma het ‘n vreemde vorm lyf gehad en sy het vreeslik gesukkel om klere te kry wat pas. Tannie SCB Smit, wat nou nog op die dorp woon, het my in standerd 9 gehelp om vir my ma ‘n rok uit ‘n stuk geruite materiaal wat ek by Ackermans gekoop het, te maak. "Die moue het nie so goed uitgekom nie, maar die res van die rok was reg. Die tannie sê toe as ek vir my ma ‘n rok kan maak, kan ek vir al die vet tannies in die dorp begin klere maak,” vertel hy oor sy aanvanklike kreatiewe pogings. Hy het begin klere maak en in matriek maak hy sy eerste bruidsluier. Terwyl hy later onderwys studeer, hou hy aan met klere maak en hy maak tydens sy studentejare sy eerste trourok vir ‘n bruid in Namibië. Hierna was daar geen keer aan hom nie. Hy het talle bruide se trourokke gemaak – selfs ‘n trourok vir ‘n Poolse baronnes. Marius begin ook met koekbak en koekversiering eksperimenteer en leer die fynere kunsies hiervan by ‘n plaaslike tannie. “Die tannie se man het ‘n bietjie diep in die bottel gekyk en sy moes huis en haard bymekaar hou met die troukoeke wat sy gebak het. Ek het alles wat ek van koekversiering weet, by haar geleer,” vertel hy. “Ek het oor die jare baie koeke gebak en versier, maar ek onthou die een verskriklike groot
koek waar ek meer as 3 dosyn perfekte proteas en heide met die hand moes maak om op die koek te sit. Ek het nagte deur gesit met daardie blomme,” sê hy. Terwyl Marius in sy lewe talle trourokke en -koeke opgetower het, het hy eintlik nog ‘n “day job” ook gehad: hy was ‘n onderwyser. “Ek het in my onderwysloopbaan al vir elke graad skoolgehou – van pre-primêr tot matriek,” vertel hy. Hy het ook al op talle interessante plekke skoolgehou. “Ek het in die Kaap, in Koeweit City in die Midde-Ooste, in Rhundu in Namibië en in Langa skoolgehou,” sê hy. Hy is beskeie oor die feit dat hy vir nege jaar lank die skoolhoof van ‘n hoërskool in Langa was. “Daar was 1600 studente in my skool. Dit was in ‘n stormagtige tyd in ons land se geskiedenis en ek was ‘n blanke skoolhoof in die hartjie van Langa. Dit was nie maklik nie, maar ek het soveel oor myself en die mense om my geleer,” vertel Marius. Hy het in sy tyd as skoolhoof soms naweke en tydens skoolvakansies by die destydse “Bakkies se Padstal” gaan uithelp. “Dit was regtig vir my soos ontspanning en ‘n ontsnapping in moeilike tye. "Ek en Bakkies-hulle is groot vriende en dit het nie vir my soos werk gevoel as ek daar gehelp het nie. "Ons het soms 400 melkterte, 150kg puff pastry per week en 20 sjokoladekoeke van ses lae elk per dag gemaak. Dit was fantasties,”
vertel hy. Nadat hy as skoolhoof uitgetree het, het hy voltyds by Bakkies gaan werk. Toe die padstal toemaak, het Marius die sjef by die restaurant op Tafelberg geword, waarna hy ook al die Hillside Manor bestuur het en die bestuurder en sjef van ‘n gastehuis op Wildernis was. Hy het gereeld oorsee gereis en moes ook al ‘n stryd teen kanker stry. “Ek is gelukkig nou al ‘n hele paar jaar ‘skoon’. En ek is nog híér,” sê hy. Vir Marius, wat ‘n afstammeling van die Graaf Richelieu de Moureaux du Plessis is, is dit elke jaar ‘n hoogtepunt om na die Lions, waarvan hy ‘n lid is, se rooitapyt-geleentheid te gaan. “Ek maak elke jaar vir my ‘n wonderlike, uitspattige jas wat ek na hierdie geleentheid toe dra – dit het al ‘n instelling geword,” vertel hy. Volgens hierdie kleurryke man met sy kleurvolle mure, interessante kunswerke, versameling artefakte, meesleurende stories, pragtige meubels en ‘n kamer vol ongelooflike uitrustings, pruike en bykomstighede, leef hy nou rustiger. “Ek vind vreugde in die eenvoudige dinge en kan rustigheid vind binne die mure van my huis en tussen die goed wat ek hier het,” sê hy. Mense kan Marius se huis, talle kunswerke en eksklusiewe ontwerperskledingstukke op afspraak besoek. Jy kan ook sommer aansit vir ‘n ‘high tea’ met eksklusiewe koeke, gateauxs en soutighede. Kontak hom by 072 074 8246 vir navrae of besprekings.
NUUS • NEWS
9 November 2016