courant
Gratis • Free
Wellington
dié
1
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Uitgawe 399
7 Desember 2016
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
•SKRYWER VANG ENIGMA VAN KELNERIN VAS
Rust-roman roer •Jaomi Zeeman
Winnie Rust, Wellingtonner en skrywer van verskeie historiese romans, se laaste boek, Katryn, is by die Breytenbach-sentrum bekendgestel. ‘n Paneel van historiese- en literatuur-kenners het die konsep, temas en karakters in “Katryn” by die bekendstelling bespreek en toegelig. Hierdie paneel het uit Olivia le Cordeur, kurator van die Wellington Museum, Christine Siebrits, voorsitter van die Vriende van die Museum en bestuurder van die Ouma Granny Huis-museum, Theresa Papenfus, hoof van Litera-publikasies en Suzette Kotzé-Myburgh, ‘n gesoute kenner in die uitgewersbedryf, bestaan. Volgens Theresa Papenfus van Litera-publikasies is die bekendstelling van hierdie boek, veral omdat dit postuum gebeur, baie besonders. “Kort na Winnie se dood het haar broer, Prof. Chris van der Merwe, die manuskrip van ‘Katryn’ aan my gestuur. "Dit is vir Litera-publikasies ‘n ongelooflike eer om hierdie boek te kan uitgee en aan die werk van iemand soos Winnie Rust verbind te wees,” het sy tydens die bespreking gesê. Olivia le Cordeur het tydens die bespreking hulde aan Winnie gebring. “Haar liefde vir die dorp en sy mense, kennis van die plek se geskiedenis en belangstelling in alles wat hier gebeur het, was net ongelooflik,” het sy gesê. Die paneel het oor die tyd en wêreld van die nuwe boek se hoofkarakters, Katryn, die enigmatiese kroegmeisie van die destydse Masonic Hotel, en Blink Ben Marais van die spogplaas Wolwehoek, gesels. Volgens Suzette Kotzé-Myburgh is die meesterlike wyse waarop Rust hierdie historiese roman benader het, kenmerkend van haar werk. “Winnie se liefde vir geskiedenis en haar liefde vir skryfwerk het haar een van ons voorste historiese romanskrywers gemaak. Sy fokus veral op die ryk geskiedenis van Wellington en haar omgewing en haar karakters is geloofwaardig binne die konteks van hierdie agtergrond,” het sy gesê. “Sy ondersoek temas wat baie relevant is in die historiese ruimte waarbinne die verhaal ontvou, maar eintlik nog net so relevant in 2016 kan wees. "Dinge soos ‘n nuwe tydgees in kerkgeledere, drankwette en die taalkwessie word met die wyngeskiedenis en boerdery verweef en vorm die konteks waarbinne die gedoemde liefdesverhaal tussen die hoofkarakters hom afspeel,” het Suzette verduidelik. Volgens Siebrits en Le Cordeur het Rust reeds
Kersmark:
Die Wellington NG Kerk het Woensdag die Kersseisoen welkom geheet en allerhande geskenke op hul Kersmark ten toon gestel. Diegene wat na 'n gepaste geskenk vir 'n geliefde soek, het hier kom snuffel tussen die interessanthede. Suné en Daniël Coetzee het ook hier na iets uniek kom soek.
‘n hele paar jaar gelede met die navorsing vir “Katryn” begin. “Etlike jare gelede het Winnie verwys na ‘n artikel wat Imker Hoogenhout destyds vir die ‘Landstem’ geskryf het. Dit was in 1970 toe die pragtige ou Masonic Hotel afgebreek is om plek te maak vir die Bergrivier Apteek. Die opskrif was: ‘Hotel getuig van Boland se Wilde Weste – smokkelary, bakleiery – dit was woes, woester, Wellington’. Winnie was toé reeds op soek na foto’s van die Masonic – waarskynlik vir hierdie boek,” het Christine vertel. “Historiese inligting oor die stasie en die markplein verskyn ook in ‘Katryn’,” het Olivia bygevoeg. “Winnie het ‘n lêer met inligting oor die stasie-geskiedenis by die museum geleen en toe ons dit terugkry, was haar navorsingsnotas steeds in die kantlyne vasgeplak,” het Olivia
gesê. Suzette Kotzé-Myburgh het met ‘n voorlesing uit die boek afgesluit. “Hierdie is ‘n vonds van ‘n boek. Winnie Rust het in 2015 tydens ‘n onderhoud die volgende verduideliking oor haar skryfwerk se herhaalde verbintenis met Wellington gegee: “Ek wil hier aansluit by ’n uitspraak van Boerneef: dat hy waarskynlik nooit sou geskryf het as hy nie op Boplaas grootgeword het nie, as hy nie so diep in daardie wêreld geanker was nie. "Ek kan dieselfde sê van die omgewing waar my wortels lê. Ek put my stof uit my omgewing, maar hoop om daarmee ook ’n universele klank in te skryf.” “Katryn” is hiervan haar laaste getuienis. * “Katryn" sal by boekwinkels, maar ook by die Wellington Museum en Breytenbach-sentrum te koop wees.
NUUS • NEWS
7 Desember 2016