courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
13 September 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 437
13 September 2017
•OUD-LEERDER VAN HUGENOTE HOËRSKOOL
Brink nou dekaan van Agri-wetenskap •Jaomi Zeeman Professor Danie Brink het in 1977 aan die Hugenote Hoërskool matrikuleer. Sedert sy skooljare op Wellington het hy talle persoonlike en akademiese welslae behaal. Hierdie leier, akademikus, sportman en natuurliefhebber is onlangs as die nuwe dekaan vir die Fakulteit Agri-wetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch aangestel. Prof. Brink neem reeds sedert 2014 in hierdie posisie waar. Sy formele aanstelling in Julie beteken dat hy hierdie fakulteit in sy honderste bestaansjaar sal inlei en selfs sterker sal help posisioneer as ‘n leier op die gebied van landbou-onderrig en navorsing in Afrika. Buiten sy nuwe akademiese kapasiteit is prof. Brink ‘n reënboogforelkenner, ‘n leier op talle fronte, ‘n lid van talle regeringsadviesgroepe en die persoon wat die eerste voorgraadse program in akwakultuur aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit ingestel het. Hy is ook ‘n buiteleweliefhebber en het al meerdaagse kajak-ekspedisies in Chili, Kroasië, Lesotho, Malawi en Suid-Afrika onderneem. Prof. Brink het vanjaar ook vir die tweede keer die Bergrivier-kanomarathon aangedurf. Hy het in 2015 by Maties se kanoklub aangesluit en die “ou manne” het om ingepraat om in 2016 sy eerste Berg aan te durf. Hy het vanjaar tiende in sy ouderdomsgroep geëindig en 'n algehele 58ste posisie beklink. “Die vyf dae alleen in my enkelkano het my kans gegee om te besin oor die talle ooreenkomste tussen my dekaanverpligtinge en die ultramarathon. Albei is byvoorbeeld net haalbaar as jy besliste doelwitte vir jouself stel, deeglik beplan én hard werk om jou mikpunte te bereik,” sê hy. “Mens maak in albei gevalle ook ontsettend staat op die ondersteuning en samewerking van ander, waarsonder jy dit nie sou kon vermag nie,” voeg Brink by. Dié ervarings het hom ook geleer dat ‘n mens altyd moet regmaak vir onvoorsiene én onbekende uitdagings en dat jy eenvoudig aanpasbaar en gereed moet wees om oplossings te soek – anders sink jy dalk net. Brink se verbintenis met die fakulteit strek veel verder terug as die 33 jaar sedert hy in 1984 as ‘n tegniese assistent in die plantteeltafdeling van die Departement Genetika aangestel is. In 1983 het hy sy BScAgric in genetika en dierefisiologie cum laude behaal én die gesogte Paul van der Bijl-medalje ontvang as die fakulteit se beste student. Sy PhD Agric in genetika het in 2004
gevolg na navorsing oor genetiese metodes waarmee die groeikoers van reënboogforelle verbeter kon word. Dié lid van die Wêreld Akwakultuur-vereniging is al deur die Suider-Afrikaanse Akwakultuur-vereniging vereer en was al die Wes-Kaapse landboukundige van die jaar. Hy het ook ‘n US-rektorstoekenning vir sosiale betrokkenheid ontvang, onder meer vir sy ondersoeke na en betrokkenheid by die totstandkoming van talle kleinskaalse akwakultuurprojekte in Suid-Afrika en Namibië. Hy het al gemeenskappe in talle Afrika-lande help oplei en het al op die direksies van talle entiteite gedien. Vir Brink gaan dit oor meer as net die wete dat die boeke klop. “Onder die grootste uitdagings is om ons studente beter te verstaan, te akkommodeer en ten beste toe te rus om hul toekomstige rol in die samelewing te vul,” reken Brink, wat glo dat die landbousektor heelwat onontginde loopbaanopsies vir die jeug inhou. Daarom het hy ook onlangs
samewerking met Agricolleges International bewerkstellig. “Die grootste lekkerte sover was om die suksesse van ons studente, personeel en projekte te kon ervaar en daarin te kon deel,” vertel hy. “Dit sluit in die vreugde van ‘n student wat met moeite wel uiteindelik graad vang, tot die uitmuntende akademiese prestasies en navorsingsuitsette van ander.” Onlangse suksesse soos die eksterne evaluerings van die departemente van voedselwetenskap en hortologie onderstreep die kwaliteit van onderrig en navorsing in dié fakulteit. Hulle word ook deur die jongste hoër onderwys-ranglyste as die beste landboufakulteit in Afrika en onder die vyftig bestes wêreldwyd bestempel. Brink moes die voorreg om klas te gee die afgelope tyd prysgee. “Ek mis die intimiteit van skakeling met studente binne die klasruimte en die wyse waarop mens die persoonlike ontwikkeling van sommige individue kan ervaar en ondersteun,” vertel dié professor vir wie die bywoning van ‘n gradeplegtigheid ‘n besonderse hoogtepunt is. In Maart het die laaste van die meer as 40 nagraadse akwakultuur-studente waaroor hy as studieleier ‘n wakende oog kon hou, gegradueer. Volgens Brink sien hy kans vir die uitdagings van dekaanskap. “Ek het tydens my termyn as waarnemende dekaan, lojale ondersteuning van my kollegas en opbouende advies van belangegroepe ervaar en wil graag daarop voortbou,” sê hy. “Dis veral die koppeling tussen die universiteit en die industrie en spesifieke belange-groepe wat my interesseer.” “Die landbousektor gaan ‘n toenemend belangrike rol in ekonomiese ontwikkeling, ekologiese volhoubaarheid en sosiale welvaart speel. Daarom is toepaslike kundigheid oor landbouproduksiestelsels, dienslewering binne die sektor en regdeur die waardeketting so belangrik, sodat ons kan bybly by die gevorderde aard van die moderne wetenskap, tegnologie en inligtingstelsels en die kompleksiteite van volhoubaarheid, voedselsekerheid, globalisering en klimaatverandering. Landbou-onderrig, vanaf sekondêre tot tersiêre vlak, is dus van kardinale belang vir die skep van geleenthede, die lewering van dienste en die integrasie van kennis om produktiwiteit en volhoubare ontwikkeling te verseker,” sê hy oor hierdie opwindende uitdaging.
NUUS • NEWS