courant swartland en weskus
tel: 022 487 3221
Uitgawe 227
die
Bekroon: Nommer 1-Streekkoerant
19 Junie 2013
hugenotestraat 24, malmesbury
Winterson sak oor die Swartland: Die son het Saterdagaand met ‘n hemelse gloed oor die rante van die Swartland onder gegaan. Hierdie foto is geneem van die Berghuisie op die plaas Helderfontein buite Malmesbury.
•goeie sekuriteit kan inbrake beperk
Toets alarms gereeld
Op die vooraand van die wintervakansie en die algemene tendens dat daar in die winter wanneer dit koud is, normaalweg meer inbrake ondervind word, het die courant gaan kyk na maniere om jou sekuriteit op te knap. “Ons werk op drie minute. Onder normale omstandighede (as daar nie oponthoude soos verkeersligte is nie) is dit hoe lank dit sal neem voor ons by jou perseel in die dorp is,” sê JP Pelser van Vision Sekuriteit. “Toets jou alarm en paniekknoppie elke maand. Lig net jou moniteringsmaatskappy vooraf in. “Laat weet ons ook as jy weggaan, anders mors ons tyd wanneer die beheerkamer jou probeer skakel nadat ‘n alarm afgegaan het. “Een van die belangrikste wenke is om te verseker jou perseel is verlig.” Altus Koen van Multiple Security Services sê mense moet seker maak elkeen in die huis weet presies hoe hul alarmstelsel werk en onthou om die paniekknoppie 1 of 2 sekondes in te hou. “Dit is ook so dat daar in die winter en met reën meestal ‘n toename in inbrake is, omdat baie mense dan nie elders werk kry nie. “Een van die grootste probleme is ook dat slagoffers dikwels nie ‘n diefstalsaak in die howe deurvoer nie en die diewe dan sonder ‘n rekord wegstap. Net om die volgende keer dit weer te doen,” sê Koen. Pelser het bevestig daar is ‘n tendens om motorhuise te teiken, “daarom is dit goed om ‘n straal-alarm buite die deur aan te bring. Dit ver-
hoed dat die inbreker by jou deur kan kom, nog voordat hy enige skade kon aanrig,” voeg hy by. “Maak seker die alarmmaatskappy het toegang tot die perseel en lig hulle in as jy ‘n nuwe hond aangeskaf het,” beveel Pelser aan. Sekuriteitswenke Voor jy met vakansie vertrek, verseker dat ..alle hekke en diefwering toe is en elektriese heinings in werkende toestand is. ..die alarmstelsel geaktiveer en in werkende toestand is. ..vensters toegemaak is en deure behoorlik gesluit is. ..waardevolle items, waaronder jou motorsleutels, toegesluit is in ‘n kluis en jy die kluissleutel met jou saamneem. ..tuinmeubels en ander waardevolle buiteitems veilig weggesluit is. ..elektriese toestelle wat nie gebruik word nie, ontkoppel is. ..die bure kennis dra van jou vakansieplanne. Maak seker hulle weet waar om jou in die hande te kry. ..jy koerantaflewering tydelik stop. ..iemand van tyd tot tyd die pos kom verwyder of die tuin kom natlei. ..bederfbare produkte uit die yskas verwyder is. ..jou huisinhoudversekering in orde is. ..jy ‘n lys (en selfs digitale foto’s) saamneem van waardevolle gemerkte eiendom. Dit kan in die geval van diefstal en inbraak baie waardevol wees.
..vuurwapens behoorlik toegesluit is in ‘n vuurwapenkluis. Behalwe snags, wanneer u dit vir selfbeskerming byderhand hou, is die bedkassie se laai of onder die matras beslis nie ‘n goeie plek vir ‘n vuurwapen nie. * Heelparty inwoners van die Swartland met uitstaande verkeersboetes het reeds die laaste paar weke ‘n paar onaangename verrassings op die lyf geloop. Die direkteur van beskermingsdienste van die Swartland Munisipaliteit, Phillip Humphreys, het aan die courant bevestig dat daar sedert 1 Junie hernude aksie geneem word om uitstaande boetes te vorder. Lede van die munisipale polisie werk tot 21:00 saans om lasbriewe vir inhegtenisname te dien op individue wat in gebreke gebly het om vroeër in die regsproses te reageer. “Daar is duisende boetes uitstaande en ons hou spesiaal ‘n betaalpunt tot saans laat oop sodat die betrokkenes hul boetes dan kan vereffen. “Al is die bedoeling om die oortreders so ver te kry om hul boetes te betaal, magtig die lasbrief wat deur ‘n plaaslike landdros uitgereik word, inhegtenisname.” Humphreys het aan die courant gesê wanneer daar tot dié aksie oorgegaan word, is die hele regsproses deurloop en is dit die laaste uitweg. Hy het daarop gewys dat inwoners die verkeerskantore kan skakel om vas te stel of hul uitstaande boetes het.