Foundation for Cross - Cultural Education
NUUS JULIE 2010
Liewe Gebedsondersteuners Feel it, it is here! Met hierdie leuse word die 2010 Sokker Wêreldbeker tot binne ons huise en harte gedryf. Vlae uit verskillende lande wapper in ons strate, kleurvolle vuvuzelas blêr onophoudelik in ons nuutgeboude stadions en die sokkermanie oorheers die wêreldpers. Hoe het Fifa dit reggekry? Binne vier jaar beinvloed hulle mense wêreldwyd om intens in sokker belang te stel en geesdriftig by die sokker aktiwiteite betrokke te wees! Daarteenoor: Tweeduisend jaar gelede het God dramaties in wêreldgebeure ingegryp en Sy volgelinge sukkel om hierdie verlossingsboodskap tot aan die uiteindes van die aarde bekend te maak. Die afgelope weke het FCE ook voor die vraag te staan gekom: waarom sukkel sendingorganisasies, waarvan ons deel is, om Christene passievol by God se sendingopdrag betrokke te kry? Waarom is die kinders van die Here nie aktief betrokke by wêreldgebeure en is hul leefstyl nie ‘n oplossing vir wêreldprobleme nie? Hierdie vrae het ons indringend na ons opleiding laat kyk en onder die leiding van die Heilige Gees het ons opnuut ons motiewe getoets en die inhoud van ons kursusse herstruktureer. Ons mors ons tyd en ons energie as ons roeping en ons taak as sendelinge nie gegrondves is in GOD SE LIEFDE vir ‘n verloregaande mensdom nie, en ons sal nooit suksesvol wees in die uitvoering van ons sendingopdrag as ons HOM NIE BO ALLES LIEFHET NIE. FIFA se sukses met die wêreldsokker lê juis in hulle passie vir sokker en om dit met geesdrif uit te leef en oor te dra. Hulle ontsien niks om hul doel te bereik nie, nie tyd of geld of betrokkenheid nie. Hulle het die afgelope vier jaar net een begeerte gehad en dit was om die wêrelsokker die gebeurtenis van ‘n leeftyd te maak en hulle het al hul hulpbronne ingespan om hul doel te bereik. Ek het tot die slotsom gekom dat ons nie in die sendingopdrag slaag nie, omdat ons nie meer ‘n passie vir Christus het nie. In sy boek: “The key to the Missionary problem”, vra Andrew Murray: “Why, with millions of Christians in the world, the army of missionaries fighting the hosts of darkness, is so small?” En dan kom hy tot die volgende slotsom: “Because of a lack of heart, little enthusiasm for the King – a King to whom every heart should beat warm in loyalty and devotion.” Met hierdie nuusbrief wil ek jul weer opnuut aanspoor om met geesdrif jul sendingopdrag ernstig op te neem en saam met Von Zinzendorf, die vader van die Morawiese sending, uit te roep: “I have but one passion ‘tis He and He only!” Neels de Jager
‘n Belangrike deel van FCE se opdrag is om jongmense te leer om in die voetspore van veteraan sendelinge te stap, sodat hulle met geesdrif die aflosstok by hul leiers kan oorneem om die wedloop verder te hardloop. Hennie en Hettie Mellet was vanaf 2000 – 2004
aktief betrokke in die opbou van Masaiti en Kalungu. Hy was ‘n sendingveteraan wat homself ten volle gegee het – sy passie was Jesus Christus. Menige jong student is deur sy groot hande geslyp vir die sending. FCE neem met hartseer afskeid van oom Hennie Mellet wat onlangs oorlede is. Sy erflating aan ons: Jongmanne en jongvroue wat rondom die etenstafels vertel van die kosbare lewenslesse wat hul by oom Hennie geleer het. Oom Hennie se laaste woorde aan ons: GOD IS GOED!
Feel it, He is here!
OPROEP TOT GEHOORSAAMHEID Christus is volkome van ‘Sy Kerk’ afhanklik om Sy opdrag en verlossingsplan uit te voer. Daarom is sending die verantwoordelikheid van elke gelowige en is dit nie net beperk tot ‘n klein groepie uitverkorenes wat kies om ‘voltyds in diens van die Here’ te staan nie. Gehoorsaamheid aan die sendingopdrag lei tot aksie en hierdie aksie lei tot geleenthede vir die Heilige Gees om in mense se harte en lewens te werk. Deel van FCE se sendingopdrag is om jong mense in sending op te lei. Hierdie opleiding is deels teoreties en ‘n groot deel vind in die praktyk plaas. Die spanne besoek gereeld die villages rondom FCE se opleidingsentrums. Die huidige sendingstudente is in drie groepe verdeel en is na drie verskillende lande: *Malawi: Sulene en Chimemwe en die span het vir Moses en Regina gehelp om hul voete op FCE se nuutse Opleidingsentrum te vind en verhouding met die mense te bou; *Zimbabwe: Eunice en Reagan se span het vir Boet Pretorius, Makesure en Cuthbert in hul bediening gaan ondersteun; *Zambië: Abraham en Desiree se span het in Kalungu gebly om op die Opleidingsentrums en in die villages betrokke te wees. MALAWI FCE is al sedert 1996 in Malawi, die Warm Hart van Afrika, betrokke. Ons lei steeds Malawiërs op as onderwysers by Masaiti en ons het deur die jare gereeld uitreike gereël na die Malawiërs wat deur ons dissipelskapopleiding is. Tans ontwikkel ons die pragtige stuk grond langs die meer as ons volgende Opleidingsentrum. Moses, Regina en hul gesin, maak hul tuis in tydelike verblyf en Chimemwe en Elizabeth staan hulle by. Uitreikgroepe het die grond omhein en die studente het so pas die stoorplek vir die hamermeul klaar gebou. Hierdie meul is ook deur FCE ondersteuners geskenk en maak die taak van vele Malawiërs maklik. In die verlede het hul 20 km gestap om hul mielies te maal. Die studente het vir twee weke in die omliggende villages gebly, en die Here vertrou om hulle te gebruik. Hulle was blootgestel aan armoede, honger, hartseer en demoniese werkinge, en het teruggekeer met Jesus se hart vir mense. Selfs die hoofman van die omgewing kom deesdae handbysit om die grond te ontwikkel. Met die hulp en ondersteuning van gebedsondersteuners is krag by ons opleidingsentrum aangelê en daar is groot opgewondenheid onder die mense in die omliggende gemeenskappe, want vir die eerste keer het hulle ook elektrisiteit. ZAMBIA Masaiti/Koti ni Eden/ en Kalungu maak gereed vir die uitreikgroepe vanuit Suid-Afrika, Engeland en Zambië. Elke groep het ‘n spesifieke taak en ons bid vir Jannie en Etienne wat die groepe moet organiseer. Drie onderwysstudente uit Noorweë het vir ‘n maand lank hul internskap by Koti ni Eden skool gedoen. Ons eie onderwysstudente doen hul internskap in van die omliggende staatskole. Die onderwysers in ons skole is steeds aktief betrokke in die gemeenskappe. Die onderwysers kry geleentheid om vir ‘n tydperk in die villages tussen die ouers en kinders te bly. Op Kalungu is hulle Donderdae by kinderwerk betrokke, waar die kinders Bybelse waarhede leer en ook skoolgereed gemaak word. Die bouprojekte op Koti ni Eden is steeds in volle swang en ons vertrou die Here vir die finansies vir die personeelhuise – want ons trek vanaf Masaiti in Oktober is ‘n werklikheid. Op Kalungu het Driekus en sy span so pas klaar gemaak met die stoorkamer vir die ‘generator’ en die ‘charcoal. ‘n Uitreikspan kom help met restorasiewerk en instandhouding van ons Kampterrein. ‘n Groot watertenk word ook in hierdie tyd by Kalungu opgesit vir die groentetuinprojek wat al van die grond af is. Hul oes op die oomblik tamaties, wortels, groenbone, soetrissies, broccoli, aartappels, blaarslaai, beet en uie. Die Zambiërs het vir die eerste keer met spanspek kennis gemaak. Georg Paul en Joseph het ‘n droom om die weduwees uit die villages te leer om hul eie groentetuine te begin. Hulle het twee weduwees uit die villages gekry, wat baie gewillig is om te leer. Hulle werk ook saam met die plaaslike groenteboere om te kyk hoe hulle d.m.v. kompos die grond vrugbaar kan maak. ‘n Foundation for Farming kursus word ook in Augustus in Kalungu aangebied. Hoe bedrywiger ons in die ‘villages’ raak, hoe groter teenstand kry ons van die vyand. ‘n “Movie-house” is naby Kalungu oopgemaak en dit het ‘n negatiewe invloed op die kinders en die mense in die omgewing. Die Kalungu-span het die hoofmanne en die geestelike leiers in die omgewing bymekaar gemaak en hulle aangemoedig om hul gemeenskappe te beskerm. Daar is ook groter witch-craft-aktiwiteite waarteen ons daagliks te staan kom. VSA en KANADA Luke Sichone en Ameck Phiri was in hul tuin op die walle van die Kalungurivier besig om tamaties te oes, toe Neels de Jager en sy span die gebied gaan verken het. Terwyl Neels hul dopgehou het, het hy ‘n roering in sy gees ervaar en hy het na die Here uitgeroep: “Here gee my manne soos hierdie om Afrika vir U te verander”. Dit is nou 10 jaar later. Beide van hierdie manne is deur die onderwysopleiding. Hulle het deur die jare ontwikkel tot twee sterk leiers in hul gemeenskap en is ware sendelinge onder hul mense – hul passie is om hul mense by Jesus Christus uit te bring. Neels beplan om die twee saam met hom na Kanada en Amerika te neem, gedurende Augustus/September sodat hulle kennis kan maak met die FCE ondersteuners wat deur die jare help bou het aan Masaiti en Kalungu. Ons roep jul op tot gebed, want van die staanspoor af loop ons ons vas teen probleme. Dit blyk onmoontlik te wees om vir die twee visums te bekom, want hulle het nie bewyse van bankkrekenings en borge nie, en hulle het ook nie die finansies om so ‘n reis te onderneem nie. Maar ons aanbid ‘n God wat in die onmoontlike spesialiseer.
ZIMBABWE:
Spanfoto Die span bestaan uit 6 studente van 5 verskillende lande: Duitsland, Suid-Afrika, Zambië, Kanada en Zimbabwe.
Here, hier is ek... Hulle bly in Kanyaga village, werk in die landerye, speel met die kinders en kuier by die families. Hul bid saam met die hoofman en lei hom na die Here. Van die boere begin met God’s Way of Farming en stel hulself beskikbaar vir dissipelskapopleiding.
Besoek aan ‘n hospitaal: Hulle speel met kinders in die hospitaal en vertel hul dat Jesus hulle liefhet. Baie van die kinders het nie huise waarheen hul kan terugkeer nie. Hulle kry geleentheid om saam met die verpleegpersoneel te bid. Die matrone getuig hoe getrou die Here vir hulle deur moeilike tye dra.
Here, ek aanbid u... Hul besoek ook ‘n ouetehuis en‘n weeshuis met 70 kinders. Hierdie plekke is van donasies en vrywillige werkers afhanklik om te bestaan. Hulle harte gaan uit na elkeen wat diens doen, sonder om enige salaris of byvoordele te ontvang. Die liefde van Christus dring hulle.
Chinoyi Hoërskool: 150 Kinders daag op. Die Here lei hul om hul getuienis te lewer en die Christene onder hulle uit te daag tot sending. 21 Kinders gee hul lewens aan die Here oor en 18 kom doen navrae oor hoe om as sendelinge opgelei te word.
Australië en New Zealand
In 1997 het FCE hul eerste Opleidingskollege vir sendingonderwysers in Wellington geopen. Min het ons geweet teen watter magte ons te staan sou kom, en in die proses is die onderwyskollege in November 2003 toegemaak. ‘n Tweede deur het vir ons oopgegaan toe Hebron Teologiese Kollege ons die geleentheid gegee het om onder hul vaandel ‘n nagraadse sertifikaat in Onderwys (Post Graduate Certificate in Education) aan te bied. Ook hierdie deur is besig om vir ons toe te gaan. Intussen gaan ons voort om ons onderwysers in Zambië op te lei en stuur ons manne en vroue in die onderwys met ‘n hart vir Christus-gesentreerde onderwys. Ons onderwysers het poste in staat-, privaat en christenskole en oral waar hulle werk sien ons die resultate van hul toewyding en diens aan die Here. Die doel van Neels se besoek was om te sien in hoe ‘n mate ons ons opleiding erken kan kry. Deur al die jare het die Here ons in kontak gebring met Kolleges en Universiteite dwars oor die wêreld en het ons kontak opgebou met Christendosente wat ‘n begeerte het om onderwysers in die veld te stuur om die jonger generasie vir Christus te wen. In Australië het Neels met die leierskap van ‘n Christen Kollege in gesprek getree oor die moontlikheid om die Koti ni Eden kampus ‘n satellietkampus van hul Kollege te maak. Hierdie proses is nog in sy kinderskoene en die eerste afvaardiging van die Kollege besoek die FCE kollege in September op Masaiti. Bid asseblief saam met ons dat ons binne die wil van die Here sal beweeg. Ek weet die blote gedagte hieraan klink absurd en dit kan net slaag as die Here die deure vir ons oopmaak.
Ons het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die MacKay Christian College te bedank vir hul jarelange betrokkenheid by FCE – hul finansiële hulp het ons in staat gestel om die Koti ni Eden skool te bou. Hul kollege se deure staan ook wyd-oop vir ons en ons studente. Craig Murison, die administrateur van die skool, tree ook in September op as een van die gassprekers by die onderwyskonferensie in Bloemfontein. Neels het ook die jarelange vriendskapsbande met Bethlehem Kollege in Tauronga, New Zealand gaan versterk. Anita Grobler en Bernice Norkee, dosente van FCE se kollege, besoek hierdie kollege in die loop van September en Oktober. Besoeke aan hierdie kolleges verbreed ons horisonne en hou ons in pas met wat in die onderwyskringe wêreldwyd aangaan. Ons voeg ons stem by dié van Andrew Murray: “We feel the need of a special effort to secure the rising generation for Christ. And oh! How deeply I have felt the plight of children entrusted to unconverted teachers. Christ’s lambs given to the charge of the world. In visiting down country congregations it’s clear to me how much ground we have already lost with the young people by the influence of a worldly teacher and we have not an hour to lose if we want by means of pious teachers to win the younger generations for the Lord.”
Terugvoer : Kunsuitstalling King’s Highway Somerset-Wes
Baie dankie vir die belangstelling en ondersteuning in die King’s Highway Kunsuitstalling op SomersetWes. Heelwat besoekers het gedurende die naweek ‘n draai kom maak. Mense was beindruk met die gehalte van die kunswerke. Die houtartikels wat ons vanaf Zambië bemark, onder die naam: “King’s Highway Design”, het groot aftrek gekry. Gert het ‘n talentvolle Zambiër ontdek wat die artikels vir ons maak, en die FCE kunsuitstallings skep vir hom ‘n geleentheid om met sy talente te woeker, en gee vir ons die geleentheid om hom aan te moedig om die Here met sy Godgegewe talent te erken en te eer. Hou vol om die FCE gastehuise in Somerset-Wes, Namibië en Zambië te bemark. Ons vertrou die Here om ons besigheid-inisiatiewe in bedienings- en opleidingsgeleenthede te omskep, en dit finansieel te seën, sodat finansies vir ons beskikbaar is om die Groot Opdrag uit te voer.
FCE OPLEIDING
Ons bring dit weer onder julle aandag dat ons sekere wysingings aan ons opleidingstrukture gemaak het. Ten einde mense te lei to geestelike volwassenheid en geestelike verantwoordelikheid, het ons besluit om ons opleiding langer maak. Dit bied vir ons geleentheid om studente ook Bybelvaardig te maak en na elke teoretiese module, aan hulle die geleentheid te gee om dit in die praktyk toe te pas. Die opleiding vanaf 2010 lyk dus as volg: 1. Dissipelskap-Sendingopleiding (Verkort) Hierdie is ‘n 6 weke kursus wat net op Wolseley jaarliks in Oktober aangebied word. 2. Dissipelskap-Sendingopleiding (Basies) Hierdie is ‘n 3 maande kursus wat jaarliks in Januarie en Julie op Wolseley, Zambië en Malawi aangebied word. 3. Dissipelskap-Sendingopleiding (Gevorderd) Hierdie is ‘n 9 maande opleiding wat jaarliks in Januarie en Julie in Suid-Afrika, Zambië en Malawië voortgesit word. 4. Diploma in Basiese Opvoeding (3 Jaar) Hierdie onderwyskursus rus studente toe om vanaf graad 0 – graad 9 onderrig te gee en word in Zambië aangebied. 5. Sertifikaat in Gemeenskapsontwikkeling (2 Jaar) Hierdie kursus rus studente toe om as fasiliteerders in gemeenskappe te werk. Die opleiding vind net in Zambië plaas. Kontak die kantoor vir meer inligting, ‘n prospektus en aansoekvorms of besoek ons webtuiste: www.fce.org.za
KURSUSDATUMS 2010 Dissipelskap-Sendingopleiding (Verkort) 11 Oktober – 21 November
Posbus 126, Wolseley, Suid Afrika, 6830, Tel/Faks: +27 (0)23 2310 208, info@fce.org.za, www.fce.org.za