3 minute read
Brig. Hennie Heymans
Brig HB Heymans
Advertisement
Baie welkom by hierdie besondere historiese uitgawe asook die drie daaropvolgende uitgawes: Ons fokus tans is op die RSA se inligtingsdienste, agtereenvolgend die buro vir staatsveiligheid, die departement van nasionale veiligheid en dan die nasionale intelligensiediens. Ons het met dr LD ‘Niel’ Barnard geskakel en hy het iemand aangewys om die insette vir ons te koördineer. Ons is baie dank aan dr Barnard verskuldig om vir ons lesers die sluier te lig oor die skaduwêreld van ons top nasionale inligtingsinstansie waarop ons almal trots is. Vanjaar is ‘n ook besonderse jaar in my lewe waarin die syfers “5” en “7” ‘n groot rol speel. Op 13 Januarie 1964 attesteer ek in die SA Polisie. Dit was 57 jaar gelede. Ons minister, dr Leon Wessels en ek was saam op skool en saam in die beredetroep. Hy was toe ons troepleier. Deur die genade is ek steeds in kontak met kamerade wat saam met my aangesluit het. Die SAP was toe 50 jaar oud gewees! Elders in die uitgawe is ‘n foto van Leon Wessels op “Nugget” een van ons mooi polisierosse. Wanneer u die tydskrif lees sal ek, DV, 75-jaar oud wees. Die SA Polisie weer, sou nou op 1 April vanjaar sy 108ste verjaarsdag vier! 75 is nog ‘n mylpaal in my lewe—ek onthou toe die SA Polisie 75 jaar oud geword het. Dis ook al 33 jaar gelede met minister Adriaan Vlok aan die spits. Ek is dankbaar aan die Skepper dat ek so lank bewaar gebly het. ‘n Besondere interessante lewe, vol dankbaarheid, lê agter die rug. Reeds op skool was ek lief vir avontuur! Ek en vriende het ver langs die strand langs gestap, daar gebraai en daar langs die see geslaap. Ons het in die hawe gespeel - daar was ‘n boomwortelmoeras en ons het daar gespeel en die wêreld verken. Ons het in die hawe visgevang. Die wêreld per fiets verken. Ons het by Suidstrand in die see geswem tot by die haainette. Ons het geduik en die wêreld onder die water bespied. Ons het deur die RSA geryloop. Donald Campbell en ek het van Durban na Pietermaritzburg gestap. Ek wou kyk of ek “tough” genoeg vir die SA Polisie sou wees. Min het ek geweet ek betree, op staatskoste nogal, die grootste avontuur denkbaar toe ek by die SA Polisie aangesluit het. Skielik as kind, sonder waarskuwing, het ek die grootmens wêreld betree. Ons seuns is deur veterane van die tweede wêreldoorlog opgelei. Dit was die beste opleiding denkbaar en terugskouend kan ek verklaar dat die opleiding van wêreldgehalte was! Ons het selfdissipline geleer, gedril (dit skep dissipline en trots), liggaamsoefening en, perdry gedoen, ons was in wetsvakke en algemene opvoedkunde onderrig. In die skadu was die kapelaan en ons Christelike waardes is aanwesig. Dit was nie daar aan ons opgedring nie—maar dit was altyd in die agtergrond. Kerkbywoning was verpligtend. Daar was geen ateïste in die kollege onder opleiding nie want hulle moes die stalle skoonmaak as ons die kerk bygewoon het. In die kollege het ek geleer om te “organise” - dis ’n basiese gegewe om te oorleef. Na uitpasering op 4 Julie 1964 het ek te SAP Wentworth geland. Wat ’n aaklige plek was dit nie? Alles wat die polisie nie was nie! Gedurende 1965 land ek op King’s Rest - wat ’n aangename verandering. ’n Klein stasie waar die AO met ’n ysterhand regeer het! Hy was bitter kwaai maar het my alles van polisie-administrasie geleer. Hierdie tydskrif (die oorspronklike Nongqai het in 1907 verskyn) bring hulde aan ons voorgangers en rolmodelle. Ek dink veral aan die man op die voorblad! Lekker lees!