6 minute read
Oorsake van die Probleme in die Polisiediens: Brig
Ter inleiding
Ek wil van meet af sê dat daar by my nie ’n eensydige, subjektiewe veroordeling van die SAPD is nie. Hierdie is ook nie ’n in-diepte ontleding van al die probleme nie, maar sal ek probeer om slegs sekere kern oorsake uit te wys. Ons en die gemeenskappe wíl almal steeds ’n goeie polisiediens hê. En ek was immers selfs ’n paar dekades deel van hierdie organisasie gewees – beide in die SAP en die SAPD.
Advertisement
Waarneembare positiewe aspekte
Ek is terdeë bewus daarvan dat daar hier en daar nog steeds baie goeie polisiewerk gedoen word. Soos bv. die baie puik ondersoeke wat deur die Valke en ander plaaslike speurders by polisiestasies gedoen word; sekere polisiestasies wat nog goed deur bevelvoerders in partykeer moeilike omstandighede met bekwaamheid en integriteit bestuur word. Die Engelssprekendes verwys daarna as die sg. “pockets of excellence”. Dis is goed dat mens ook daarvan moet kennis neem.
Algemene probleme
Wat het andersins verkeerd geloop?
Die kriminele gedrag en ander kaperjolle, wat swak dissipline en wangedrag binne die geledere van die polisie insluit, en wat al om die ander dag in die media gerapporteer word, is egter die gevolg van dinge wat verkeerd geloop het, nie net tussen die hoë bestuurshiërargie op sigself nie, maar ook wat betref toesig en bestuur van ander offisiere en lede van hierdie groot organisasie ondertoe.
Die tweede kwessie wat meesal uit die oog verloor word, is die huidige strukture waarbinne hulle funksioneer. Meer oor lg. hieronder. Dit alles manifesteer dan in swak polisiëring en ander probleme op stasievlak, daar waar die tekkie die teerblad slaan. En dit raak ons – die gemeenskap - dan almal. Die vraag is nou: Gaan dit mettertyd soos die jare aanstap elke jaar se nuwe rekrute beïnvloed, totdat hulle ook almal gekontamineer is in die werksomgewing en dan maar soos die res, of party van hulle eerder, begin maak? Let wel: dit is nie meer net geïsoleerde insidente nie, maar duidelike onaanvaarbare, waarneembare gedragspatrone wat ontwikkel het. En die tragiese is: dit gebeur vanaf konstabels, reg deur tot heel bo by die (nuwerwetse) generaals. Wie sou ooit in sy stoutste verwagtinge kon dink dat dÍt sou gebeur? ’n Kardinale vraag is: Hoe het dit dan gebeur dat kriminele aktiwiteite nie net deesdae op laagste vlakke plaasvind nie, maar reg bo tot by die hoogste hiërargie? Deel daarvan is kortliks hierbo aangeraak, maar dalk is dit ’n storie vir ’n ander dag, wat ’n veel dieper ontleding verg. Soos ons almal weet, is die misdadige gedrag en ander kaperjolle só aanhoudend en wydverspreid, dermate so dat ek, jy en die Suid-Afrikaanse gemeenskappe alreeds geruime tyd besig om al hoe meer vertroue in die polisie te verloor en lede van die gemeenskap is selfs deesdae bang vir hulle. En dít is ’n gegewe. Dit word bevestig deur verskeie studies wat reeds hieromtrent gedoen is deur geloofwaardige instansies en navorsers.
Daar is heelwat dinge wat mens hier kan lys; van die totale verlies aan institusionele geheue; regstellende aksie (wat selfs nou skaamteloos in blote diskriminasie gemanifesteer het); gebrekkige of onvoldoende opleiding (kollegerekrute én die volgehoue, gevorderde opleiding soos speurder- en offisierskursusse, en ander); aanvanklike rekrute-keuring wat op ’n tydstip oorboord gegooi was, maar later toe effe briek aangedraai is; die feit dat die polisie destyds deur politici (jy weet wie) en hulle trawante gekaap was om hulle eie “kriminele agterente” te red; aanstellings van onbevoegde oud-MK lede vir “dienste gelewer” vóór 1990 teen die vorige regering en top-aanstellings soos Jacki Selebi, Riah Phiyega, Bheki Cele en die huidige nasionale kommissaris ( Khehla Sitole) wat nou deur d.s. Cele (nou minister) oordonder word. Meeste van bg., indien nie almal, was aangestel met ’n politieke doel – nie om misdaad beter te beveg of om ’n bekwame(r) polisiediens daar te stel nie. Lg. kwessies het dus aan die agterspeen gesuig, SA beleef nog steeds die negatiewe gevolge daarvan.
Ek wil ook skryf oor enkele hoofoorsake van swak diens en polisiëring op plaaslike vlak. Natuurlik moet die swak gedrag van lede wat oral oor kop uitsteek, in die dieselfde asem genoem word. Een van die hoofoorsake is die strukturering van die polisie na sy huidige formaat. Na my mening het die nuwe polisiewet te veel magte aan die provinsiale polisiekommissarisse toegesê, soveel so dat hulle (bykans) onafhanklik van Pretoria polisiehoofkantoor begin optree het. Hulle het as’t ware “konings van hulle eie ‘empires’” geword. Dít was voorspelbaar, veral indien jy iemand in daardie posisie plaas wat nie genoegsame integriteit, of selfs bewese bestuursrvaring het nie, dat dit probleme gaan veroorsaak. En die praktyk het dit reeds bewys. Dit het tot allerlei negatiewe gevolge aanleiding gegee. Die provinsiale kommissarisse van die Wes-Kaap, Gauteng en KZN se beweerde kriminele aktiwiteite wat ‘n jaar of wat gelede in die media gerapporteer is, is sprekende voorbeelde daarvan. Een was reeds tot tronkstraf gevonnis, terwyl die ander twee tans verhoorafwagtend is. So ook ’n luitenant-generaal wat as nasionale kommissaris waargeneem het. Ondenkbare gebeure, maar tog. Daar is ander voorbeelde waarna ek ook na kan verwys, maar hierdie is genoegsame bewys dat die verrotting weens ’n nie-goed uitgedinkte en uitbuitbare polisiestruktuur tot by die hoogste vlakke ’n vrugbare lêplek gevind het.
Watter negatiewe impak dit op lede se gedragspatrone ondertoe het, kan mens dus net raai. Of dalk is dit eerder duidelik sigbaar.
Die gevolge - voorbeelde
As gevolg van die magte wat aan die provinsiale kommissarisse by wet gee is, weet ons nou ook dat nepotistiese aanstellings aan die orde van die dag is. Ook word totale onkundige lede en selfs siviele personeellede, deur die provinsiale kommissarisse, met hulle nuutgevonde, wetlike en interne magte (beleid), tot hoë offisiersrange bevorder. Die gevolge hiervan is natuurlik katastrofies en hoef ek nie die detail uit te spel nie. Bewese ervaring en meriete word deesdae as argaïese konsepte beskou. In die nuwe SA was die refrein dat die stasiekommissarisse bemagtig (“empower” was die modewoord) moes word. Met ander woorde, dat hulle ook ietwat onafhanklik kon bevel en beheer uitoefen, met meer magte.
Dit is alles goed en wel, maar sonder behoorlike toesig en beheer oor hulle, was dit voorspelbaar dat daar probleme daaruit sou voortspruit – veral as daar swak aanstellings gedoen word, waarvan daar reeds baie was.
Nasionale standaarde
Dit is duidelik dat nasionale standaarde nie meer tot sy reg kom nie. En as daar nasionale standaarde is om van te praat, wil dit dan so al vir my blyk asof daar nie eintlik ’n definitiewe poging is om dit deurentyd tot op grondvlak, soos in die verlede, te ondersoek om toe te sien dat daaraan voldoen word nie. Ons het al heelwat oor ‘toesig en beheer’ geskryf. Dit is nié, let wel, ou of afgesaagde begrippe nie. Die gebrek daaraan, is na my mening die kernoorsaak van baie van die probleme en kaperjolle waarvan ons elke dag van die SAPD lees. Dit is ’n bewese feit, selfs in die private sektor, dat niemand sommerso op sy eie alleen gelaat kan word nie. Dit is moeilikheid soek. Ek wil net so ’n oomblik teruggaan in die jare. Onthou julle die onverwagte inspeksies deur die afdelingsinspekteure (uniform en speurtak); die inspeksies deur die distrikskommandante en distrikspeuroffisiere en inspeksies deur die Inspektoraat uit Hoofkantoor en die vanuit provinsiale hoofkantore? Voeg daarby die verpligte nauurse besoeke aan stasies en eenhede deur offisiere en stasiebevelvoerders. Hoekom was dit gedoen? Daar is verskeie redes daarvoor gewees. Ek noem drie. Een was om toe sien dat nasionale standaarde nagekom of toegepas word. Die ander was om toesig en beheer te verseker. En laaste, maar nie die minste nie, dat dissipline deurgaans gehandhaaf word. Hierdie dinge is nie net nodig vir so ’n groot organisasies nie, maar logika verwag dit ook. Dit was inderdaad ook ’n wenresep. Word hierdie dinge in die huidige strukture van die SAPD gedoen of toegepas? Ek hoor nie daarvan nie en dit blyk ook nie so te wees nie. Of dalk word dit nie met die nodige ywer gedoen nie. Ek hoor selfs dat speurders nog nie hulle provinsiale speurhoof gesien het of dat hy by hulle stasies al besoek afgelê het nie. Die gevolge van gebrekkige toesig en beheer, is die voortspruitende wangedrag en swak