8 minute read

Sy bring vir hom voordeel, nie nadeel nie haar hele lewe lank

Ons SANAB-groep in Potchefstroom het veral onder die studente by die Universiteit gewerk. Een van my sake was ‘n regsdosent wie se dogter met dwelms deurmekaar geraak het. Dagga en Mandrax was ‘n groot probleem en ek is genooi om met studente oor die gevaar van dwelmmisbruik te gesels.

As ek terugkyk na daardie ervaringe het alles nie altyd volgens protokol verloop nie.

Advertisement

Ek en ‘n vroue kollega het by Potchefstroom-dam ‘n rondawel langs ‘n verdagte man en vrou met twee kinders gehuur en met hulle vriende gemaak. Daardie tyd het ons sleg gelyk. Ons sou kon deurgaan as tipiese hippies. Ek het begin voelers uitgooi en hulle het my genooi om saam met hulle te stap. Hulle wou my uitkyk. Ons het baie vêr gestap, onder deur die brug na ‘n verlate eensame plek tussen die bome. Hulle wou my toets en hulle het ‘n zol gerol en omgestuur. Daar was nie ‘n “plan B” nie en ek was alleen. Ek het saam gerook en na die visvang uitstappie moes ek met ‘n gerookte brein weer al die pad saam met hulle terugstap. Daar was ‘n arrestasie en skuldigbevinding. Die feit dat ek deelgeneem het aan die naweek kuier verrigtinge het sake bemoeilik, maar die saak kon bewys word sonder my enigsins in die prentjie.

So het ons verdagtes in kafees ‘opgetel’. Mense van wie mens dit nooit sou verwag nie. Daar is uiters gevaarlike werk gedoen sonder dekking. Ek en ‘n konstabel het per geleentheid leidrade opgevolg en ons is na ‘n nedersettings waar ons ‘n verdagte vrou se plek deursoek het en haar gearresteer het. Toe ons terug in die voertuig was, is ons omsingel deur opruiende en woedende inwoners. Nou eers besef ek dat ons in lewensgevaar was.

Gedurende 1975 is ek as Adj.Off. (V) na Klerksdorp verplaas waar ek weer Uniform werk gedoen het en SB klerk was. Daar het ek en my aanstaande trouplanne gekry. Hy was toe ‘n speurder in Windhoek.

Ons is beide na Rustenburg verplaas en is gedurende 1977 getroud.

Ek het die Bevorderingseksamen geslaag en gedurende 1978 was ek en Adj.Off.(v) Annalize Melville van die eerste vroue op Offisierskursus. Ek was toe die eerste swanger kandidaatoffisier. Ek en my man is gedurende 1979 na Pretoria verplaas en ek het as luit(v) by DK Noord Tvl gewerk.

Ek is daarna as Persoonlike Adjudant na genl-maj Frikkie Engels verplaas. ‘n Veel meer ingetoë en voorbeeldige tyd in my loopbaan. Ek was soos ‘n opgewende robot wat paraat en beskikbaar moes wees. Ek het die verskillende afdelings in die polisie se bevelvoerders leer ken en het verstaan hoe alles saamwerk.

Na Genl-Maj Engels se aftrede is ek as na Openbare Betrekkinge verplaas en ek was in my element. Ek het mediaskakel gedoen, funksies gereël en saam met filmspanne gewerk wanneer tonele verfilm is waarin polisie rolle vertolk het. Ek was toe ‘n kaptein. Ek was ook betrokke met die onthaal en skakeling met oorsese besoekers. Gedurende 1981 is daar begin met die Nasionale Diploma (Polisie-Administrasie) en ek was bevoorreg om die Diploma te kon verwerf.

Na my tweede swangerskapsverlof is ek by die Sentrale Vuurwapen Register geplaas. Die Vuurwapenafdeling was ‘n uitdaging. Berge aansoeke en honderde aansoekers wat appelleer. Daar is geproeflees en taalkundige versorg, nimmereindigend. Gelukkig was daar toe Woordverwerkers en die dames kon die memo’s wat korrigeer sonder om dit oor te tik. Gedurende 1986 is ek terug na Openbare Betrekkinge. Ek het in die Ou Kompol gebou gewerk. Ek was as Argivaris by die Museum en het my ingeleef in die afgehandelde sake. Die uitstalling

waar die Fonteine Pangaman was, het vir baie skokke verantwoordelik gewees. Die groot man met sy panga het elke keer vorentoe beweeg as mens nader na die uitstallingsvenster stap. Die hout was seker uitgetrap daar. Elke keer het ek ‘n ongemaklike rilling ervaar. Ek het ure se navorsing vir ‘n nuwe uitstalling wat op A4-papiere, wat amper die helfte van die kantoor mure beslaan het, beplan. So het ek saak vir saak deurgegaan en toe hak ek vas by die Skêrmoord. En ek hak behoorlik vas.

Die dame was toe op parool uit die gevangenis en het begin werk. Ek wou haar haar kant van die storie hoor. Medelede het my gewaarsku dat dit verbode terrein was, maar ek was begeesterd. Sy het immers na al die jare ook ‘n storie gehad om te vertel. En toe skakel ek haar. En ek maak een van die grootste foute in my loopbaan.

Voor teetyd die volgende oggend is ek deur Brig Dippenaar na Brig Colyn, die Kapelaan by Hoofkantoor en Genl-Maj Stevens ontbied.

Dit was die ergste, beleefde uittrap wat ek ooit kon kry, soos, “Dawn, hoe kon jy? Ons is 24 uur beskikbaar vir telefoon bystand as sy ons sou skakel vir bystand en hier het jy die vermetelheid om haar te skakel en haar te vra vir haar storie”. En daar verloor ek my ‘cool’ en ek praat en praat en is baie uitgesproke. Genl-maj Colyn het gesê ek het hulle baie teleurgestel. Genl Stevens en brig Dippenaar het ongeloof in hierdie gedrag gedeel.

Ek het die volgende oggend voor oggendkoffie via die grapevine van my onmiddellike verplasing na Registrasie verneem.

Ek is met ‘n baie swaar gemoed daar weg. Die afhaal van die beplanning van my nuwe beplande uitstalling was ‘n pak A4 papiere in ‘n houer. Alles tevergeefs. My aankoms by Registrasie was soos ‘n vuishou in die maag. Ek was as majoor soggens deel van ‘n span wat sakke en sakke pos ontvang het. Die sakke is oopgesluit en koeverte het soos ‘n rivier uitgestroom, dit is dan volgens koevert grootte sorteer, in hopies geplaas, oopgesny, gestempel en die pos is sorteer. Een koevert na die ander, nimmereindigend. Honderde duisende leërs en liassering, onverbiddelik en alfabeties.

Genl Stevens het na die tyd vir my kom sê, “Dit is soms nodig om na die SOUTMYNE van SIBERIË te gaan.

Toe kom die geleentheid. Ek moes as leek, Inligtingstelsels aan die SA Polisie bekendstel. Wat ‘n heerlike uitdaging. Die massiewe hardeskyf, die ponsdames by hulle terminale, die programmeerders, die sagteware ontwikkelaars en week na week die tegnologie wat soos ‘n weghol-trein vertiendubbel het.

Inligtingstelsels het my aanvaar en was geduldig om ingewikkelde begrippe met voorbeelde uit die alledaagse lewe aan my te verduidelik. Ek het soveel geleer en het die voorreg gehad om ‘n Skakelseksie op die been te bring wat weekliks ‘n nuusbrief uitgegee het, asook ‘n glansblad waar lede deur Inligtingstelsels op hoogte gehou is oor rekenarisering in die SA Polisie. Ons het B Kursuslede van Bestuursontwikkeling onthaal waar hulle deur die personeel van Inligtingstelsel oor die verskeie rekenaartoepassings toegespreek. Lede is en daarna vir middagete onthaal en hulle kon meer uitvind as hulle vrae gehad het.

Ons het ook na ander Streke gegaan en aanbiedings oor rekenarisering gehou. Daardie tyd was daar ongeloof as verduidelik is wat kom. Daar was skeptisisme by die aanhoor dat die wiel het met ‘n ongelooflike tempo draai en dat dit elke kantoor gaan raak.

En toe het ek weer gedurende 1991 teruggekom aarde toe. ’n “Nagtrein” -verplasing na Pretoria Sentraal. Dit was verskriklik erg, maar die aanpassing was eintlik soos fietsry. Jy gaan net aan. Dit was weer uniform en ek het tuis gevoel. Ek was toe ‘n majoor en ek het alles ingesit. Humor was baie keer my oorlewing. Ek was baie keer die ‘slagoffer’ van poetse bak soos vingerafdrukink in my handskoene terwyl ek selle besoek het en as ek klaar die VB geteken het, almal wat my met groot oë aankyk as ek salueer. Die geheim was om nooit te reageer as jy dit agterkom nie. Die skoonmaak na die tyd moes jy maar vat.

Kommunikasie is vir my belangrik en ek het ‘n weeklikse Nuusbrief begin wat baie geslaagd was. Daar was nog nie selfone of rekenaars nie en lede was honger vir nuus.

Ek is een oggend deur die DK en die Kapelaan ontbied. Dit was ‘n groot skandaal en hulle wou weet hoe ek dit kon toelaat. Ek het met ‘n rooi gesig formeel jammer gesê en my woord gegee dit sal nóóit weer gebeur nie.

Dit het so gebeur: Die sersant wat saam met my gewerk het, het gevra of hy op een blad humoristiese padtekens kon plaas. Dit het goed geklink. Die resultaat was die mees vulgêre en suggestiewe tekens wat jy jou kon indink. Die Bulletin is die volgende oggend deur die gebou versprei. Ek is onderlangs uitgekyk, party geskok, ander met ‘n onderlangse grinnik.

Om Diensoffisier te wees met ‘n man wat self in die Polisie is en twee kinders by die huis was nie altyd maanskyn en rose nie.

Gedurende 1992 was ek as afgedeelde diens die Stasiebevelvoerder van SAP Sentraal.

Ek het altyd onthou wat Genl Johann Coetzee gesê het, “Here I go, but through the Grace of God alone”. Die selbesoeke met sy bekende reuk wat nou nog in jou neus sit. Die wanhopige kyk van die verhoorafwagtendes met die onsekerheid oor wat voorlê en ‘n honger vir menswaardige behandeling. Ek glo daardie paar sekondes waar ek so persoon raakgesien het en gehoor het, hoop in hopelose omstandighede gegee het.

Daar is baie eina herinneringe wat nou met die skryf weer wil oppervlakte toe kom. Insidente wat baie diep weg gebêre is. Motorongelukke waar ‘n babatjie dood in die pad lê. Selfmoordtonele waar die persoon met ‘n haelgeweer onder sy ken indruk en sy kop weggeblaas het. Verkragtings van kinders waar die polisie die mat vol bloed inbring en jy voel as jy net kan wraak neem. Aanrandings waar vroue stukkend is en snikkend-bang ‘n klag lê, net om dit weer terug te trek want daar is nie ander opsies vir haar nie. Die kyk “in die oë” van ‘n gewetenlose moordenaar gewetenloos en minagtend jou in die oë kyk.

Maar dan die dankbaarheid waar jy daar was vir mense in nood.

En toe my laaste stop. Mens sweet nooit wanneer dit jou laaste gaan wees nie. As Lt-kol(v) Menslike Hulpbron Bestuur by Area Noord-Transvaal. Hier het ek die voorreg gehad om met polisielede te werk en vir hulle tot diens te wees. Om ‘n oor te hê wat na hulle luister. Ek het toe na my omswerwinge beter begrip gehad vir hulle omstandighede. Hulle trauma waarmee hulle nie sommer iemand mee vertrou nie. Hulle gesinsomstandighede waar daar baie spanning was waar hulle eggenoot/note nie begrip vir hulle omstandighede gehad het nie.

Ek is intussen na Kol(V) bevorder en my bevordering na Brig(V) was onder oorweging. My dokumente was reg vir en die Bevorderingsraad moes sit, en toe verander ALLES!

This article is from: