3 minute read

Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk

Daar was geleenthede en verleenthede. Ek en kst(V) Elma van der Merwe het met die patrollievoertuig ‘n dame gaan arresteer vir ‘n verkeersoortreding. Ons het haar ferm hanteer en sy moes uit haar nagklere en rollers kom en regmaak. Tyd was kosbaar. Die voertuig was nodig by die stasie. Ons was genadig en het haar voor tussen ons laat sit. Op pad stasie toe het ‘n voertuig ‘n soliede witstreep verontagsaam. Ek het die bloulig en die sirene aangeskakel en spoed vermeerder, die voorste voertuig verby gegaan en die voertuig agtervolg. My bemanning het hierdie oortreding soos ‘n Bylae 1-misdryf hanteer. Dit het in ‘n jaagtog afgegee. My kollega het haar pistool gespan en by die voertuig uitgeleen. Ek het op die radio vir versterking gevra en voertuie het uit alle rigtings op die vier-rigting-stop buite Boksburg afgejaag. Die VERDAGTE het weggekom en ons moes lank daarna nog met rooi gesigte loop.

Tydens my radiobeheer diens het ek ‘n Mike Romeo voertuig lelik vasgevat oor hulle nie ‘n klag as prioriteit reageer het nie. Ek sou toe ook eers leer dat Mike Romeo Moord en Roof se voertuig is. Per geleentheid het manne by die agterkant van die stasie staan en gesels. Toe ek en my kollega, Elma, met die patrollievoertuig indraai om te parkeer, het ‘n groep polisiemanne se koppe na ons gedraai en ons aandagtig dop gehou. Die gevolg was dat ek te laat gerem en met die polisievoertuig in die muur vasgery het…… Die tweede uitpassering in Desember 1972 was groot. Dit was ‘n mylpaal wat deel van jou hoogtepunte bly. “As jy onvas op jou voete voel, haal diep asem en beweeg jou tone, moet net nie omval nie!” Die Kollege was hard en lekker. ‘n Lekker wat mens nooit weer oor wil hê nie. Daarna het my loopbaan in alle erns begin as konst.(v) by SAP Norwood. Die mans was skepties en ons moes altyd een voor wees. Ons moes klem lê op ons vroulikheid maar ook nie ‘n duit terugstaan vir elke uitdaging wat die polisiëring op ons pad gebring het nie. Ek was hard op myself. Elke dag was om dit wat ons in die Kollege geleer het, in die praktyk toe te pas.

Advertisement

Ons is dopgehou en uitgedaag om te sien of hierdie toevoeging van vroue in ‘n manswêreld die pyne sal kan vat. Ek het my eerste Nuwejaar in Hillbrow-strate diens gedoen met jillende en uitspattige dronk mense wat op- en aanmerkings oor ‘n vrou wat ‘n polisieman is, gemaak het. Van ‘n tiener in 1972 is ek in ‘n ‘n nuwe vorm gegiet. Na buite was geen toneel te skokkend of geen uitdaging te groot nie, maar binne moes ek emosioneel nog by die uiterlike bykom. Wat tot nou nog vreemd is, is dat ek tydens krisisse geen vrees ervaar het nie. Dit was byna asof mens ‘n gevoel van onsigbaarheid ervaar het. Ek kon helder dink en beheer neem.

Die ‘sosiale polisie-kuierkultuur’ het nie agterweë gebly nie en ons het soms ge-deurnag in Hillbrow by die Fontana. Die Fontana het deurnag oop gewees. Die stad se liggies het vir die Ventersdorp kind geflikker. Die volgende oggend was ons weer paraat en op ons pos.

Daar was manne wat uit hulle pad gegaan het om ons te beskerm en te leer, en die praktyk het ons uitgedaag en geleer. Ek is as lokval gebruik in Hillbrow waar daar baie gevalle van diefstal uit handsakke plaasgevind het. Die manne het dan bygestaan en sodra ek die ‘slagoffer’ was, het hulle toegeslaan.

SAP Carletonville was die volgende stop en ek het Ondersoek en Navrae, en Aanklagkantoorwerk gedoen. Daar het ek van lykskouings geleer. Die AO-in-beheer het met groot respek en waardigheid verduidelik hoe hulle te werk gaan. Daar het ek die doodsreuk en die reuk van bloed leer ken. Gesien hoe ‘n mens binne lyk en hoe jou brein lyk. Ek het toe geleentheid gekry om deel van die EERSTE S.A.N.A.B OPLEIDINGSKURSUS in 1975 te wees. Om daardie tyd deur oorsese ondersoekbeamptes opleiding te kon ontvang was ‘n ongelooflike ervaring. Genl-Maj Lothar Neethling en verskeie senior lede was deel van die kursus.

This article is from: