
3 minute read
Les 5: Opwarming en spel
Belangrike terminologie
Asemhalingsoefeninge: Oefeninge wat fokus op jou asemhaling. Dramasoorte: Die verskillende soorte drama of genres, soos komedie, riller, romantiese drama ens. Fokus: Om klem te plaas op iets of ’n sekere liggaamsdeel. Hoofmomente: Die dele in die drama wat die hoogtepunt van die storielyn is. Kanon: Een persoon/groep begin ’n lied en die ander persoon/groep begin die lied op ’n later stadium. Mimiek: Aksies sonder enige woorde. Gebruik gesigsuitdrukkings en liggaamsbewegings om ’n storie te vertel. Perkussie: Om op of teen iets te slaan soos handeklap, voete stamp of dromme slaan. Tempo: Spoed waarteen jy beweeg/sing. Toonhoogte: Om hoog of laag te sing. Volksverhaal: ’n Verhaal wat eie aan ’n volk is en wat van een geslag na die ander oorvertel word.
Aanbevole hulpmiddels
● Oop ruimte ● Musiekinstrumente ● CD en CD-speler ● Boeke met volksverhale ● Hulpbronne wat Suid-Afrikaanse drama bevat, soos boeke, TV-programme of DVD’s
Les 5 Opwarming en spel
Die fasiliteerder bestudeer aktiwiteit 19 tot 23 noukeurig en gee duidelike instruksies aan die leerders.
Aktiwiteit 19
1. Die aktiwiteit kan saam met ’n maat of die fasiliteerder gedoen word. 2. Die leerder staan oorkant die maat/fasiliteerder.
3. Leerder klap eie hande drie keer teenmekaar. 4. Leerder klap hande twee keer teen dié van die maat/fasiliteerder. 5. Leerder klap eie hande drie keer teen eie bene. 6. Leerder klap weer hande twee keer teen maat/fasiliteerder se hande. 7. Doen die aktiwiteit vinniger en vinniger.
Aktiwiteit 20
1. Leerder doen ’n ruggraatrol. 2. Leerder rol die ruggraat stadig af totdat leerder se hande op sy/haar voete hang. 3. Leerder rol dan stadig weer terug na bo. 4. Leerder staan regop en lig die arms skouerhoogte. 5. Leerder beweeg die heupe na links en regs. 6. Doen dit 10 keer. 7. Leerder staan wydsbeen en plaas hande op die heupe. 8. Leerder buig die knieë en sak stadig af na die grond. 9. Doen die beweging 10 keer. 10. Leerder staan regop met die hande langs die sye. 11. Leerder sak af na die linkerkant sover as moontlik. 12. Leerder ruil kante om en doen dit na die regterkant. 13. Leerder sit plat op die grond met die bene voor hom/haar uitgestrek. 14. Leerder sak af totdat hy/sy hul tone raak. 15. Hou die strekking vir 15 sekondes.
Aktiwiteit 21
1. Die diafragma sit net onder die ribbekas. Leerder plaas sy/haar hand onder die ribbekas en asem in en uit. Laat leerder voel hoe die diafragma beweeg. 2. Laat leerder sy/haar hand op die diafragma hou en diep asem intrek en hard uitblaas. 3. Doen dit 10 keer. 4. Leerder sing enige liedjie wat hy/sy goed ken. Laat leerder lekker hard en uit volle bors sing. 5. Laat leerder die wysie van die liedjie neurie. 6. Leerder oefen om die volgende klanke so duidelik en vinnig as moontlik te herhaal: ● Ppppppp ● Ddddddd
● Kkkkkkkkk ● Mmmmm ● Aaaaaaa 7. Leerder skep self klanke om die stem op te warm.
Aktiwiteit 22
1. Speel ’n liedjie vir die leerder/s. 2. Die leerder/s dans rond op die liedjie. 3. Leerder doen verskillende bewegings soos hop, spring en dansbewegings. 4. Stop die musiek en die leerder moet dadelik vries. 5. Die leerder hou die vriesposisie. 6. Begin weer die liedjie speel en die leerder moet dadelik weer begin dans. 7. Herhaal die oefening ’n paar keer 8. Leerder moet daarop konsentreer om vinnig te vries en dan weer te beweeg.
Aktiwiteit 23
1. Leerder staan regop. 2. Leerder vat beide hande bo die kop saam. 3. Leerder strek beide arms reguit uit na bo. Hou die hande vas. 4. Hou die strekking vir 15 sekondes 5. Leerder staan met die bene wyd uitmekaar. 6. Leerder strek die linkerarm uit bo die kop en sak na die regterkant af. 7. Hou die strekking vir 15 sekondes. 8. Herhaal met die ander kant. 9. Leerder gaan sit plat op die grond. 10. Leerder kruis sy/haar bene en tel die voete op mekaar. 11. Leerder probeer so sit vir soveel tellings as moontlik. 12. Laat leerder rustig op sy/haar rug lê op die gras. 13. Laat leerder egalig asemhaal en ten volle ontspan.