2 minute read

Voorwoord

Next Article
Leselemente

Leselemente

Welkom by graad 6!

Die vak Lewensvaardighede dra daartoe by om elke leerder as geheel te ontwikkel. Dit vorm die middelpunt van die holistiese ontwikkeling van die leerder. Leerders word toegerus om hulle volle potensiaal te bereik op ’n fisiese, intellektuele, persoonlike, emosionele en sosiale vlak. Die leerders word toegerus met kennis en vaardighede om hulle te help om as volronde mens in die samelewing te funksioneer. Die vak moedig leerders aan om lewensvaardighede te ontwikkel wat hulle sal toerus om op ’n doeltreffende wyse die aanslae van die samelewing te hanteer. Die leerders word ook aangemoedig om ’n aktiewe en verantwoordelike rol in die samelewing te kan speel.

Lewensvaardighede as vak bestaan uit drie afdelings: ● Persoonlike en Sosiale Welsyn (PSW) ● Liggaamlike Opvoeding (LO) ● Skeppende Kunste (SK) – Uitvoerende Kunste en Visuele Kunste

Die handleiding is só saamgestel dat die drie afdelings inmekaar vloei. Die LO-aktiwiteite is nie agter in die handleiding geplaas nie, maar ingesluit in elke kwartaal se werk. Jy kan die lesinhoud aanpas volgens jou goeddunke, maar jy moet seker maak dat al die werk tydens die kwartaal gedek word.

Die handleiding is in oorleg met die KABV-vereistes opgestel. Persoonlike en Sosiale Welsyn leer leerders hoe om op te tree in die verhouding tot hulself en die omgewing en gemeenskap. Dit gee aan leerders die lewensvaardighede om ingeligte besluite te neem, ten opsigte van die alledaagse lewe. Dit sluit ook besluite oor persoonlike leefstyl, gesondheid en sosiale welsyn in.

Dit sal leerders help om moeilike situasies te hanteer en fokus veral op drie onderwerpe: ● Ontwikkeling van die self ● Gesondheids- en omgewingsverantwoordelikheid ● Sosiale verantwoordelikheid

Liggaamlike Opvoeding fokus op die fisiese ontwikkeling van die leerders. Die leerders leer van gesonde eet- en oefengewoontes, sodat hulle ingeligte besluite oor hul fiksheid en gesondheid kan neem.

Die laaste deel is Skeppende Kunste. Dit word verdeel in Uitvoerende Kunste en Visuele Kunste.

Uitvoerende Kunste stel leerders bloot aan dans, drama en musiek. Dit help die leerders om hul kreatiwiteit te ontwikkel en uit te brei. Die vier onderwerpe van Uitvoerende Kunste is: ● Opwarming en spel – voorbereiding van die liggaam en stem, en die gebruik van speletjies om die vaardighede aan te leer. ● Improviseer en skep – gebruik spontane kunsvaardighede om leer te demonstreer. ● Lees, interpretasie en opvoering – leer die taal van die kunsvorm, interpretasie en opvoering van die kunsproduksies. ● Waardering en nadenke – demonstreer begrip en waardering van eie en ander se kunsproduksies.

Visuele Kunste fokus op die volgende drie aspekte: ● Visuele geletterdheid ● Skep in 2D ● Ontwerp in 3D

Die vak Lewensvaardighede het die volgende spesifieke doelstellings: ● Leerders te lei om hulle volle fisiese, intellektuele, persoonlike, emosionele en sosiale potensiaal te bereik. ● Leerders te onderrig om hul grondwetlike regte en verantwoordelikhede te beoefen en om die regte van ander te respekteer. ● Leerders te lei om ingeligte en verantwoordelike besluite te neem oor hul gesondheid en omgewing. ● Kreatiewe, ekspressiewe en innoverende individue te ontwikkel. ● Vaardighede soos bewustheid van self, probleemoplossing, interpersoonlike verhoudinge, leierskap, besluitneming en effektiewe kommunikasie te ontwikkel. ● Leerders aan ervarings en die basiese vaardighede van dans, drama, musiek en visuele kunste, asook kunsgeletterdheid en -waardering, bloot te stel. ● Leerders toe te laat om die gesondheidsvoordele van oefening te geniet en om sosiale vaardighede wat met deelname aan liggaamlike opvoeding gepaard gaan, te ontwikkel.

Alle formele assessering kan in die portefeuljeboek gevind word.

This article is from: