Vir passasierveiligheid is ABS remme met elektroniese remkrag en verspreiding, remhulp, elektroniese stabiliteitsbeheer met traksiebeheer, heuwel wegtrek en heuwel-af beheer deel van die standardtoerusting wat ook lugsakke voor vir beide bestuurder en passasier insluit. Alle Isuzu D-MAX modelle word verkoop met Isuzu Complete Care wat standaard insluit ’n 5 jaar/120 000 km buffer-tot-buffer waarborg, Isuzu padbystanddiens, ’n 5 jaar/onbeperkte kilometer anti-roes waarborg asook ’n 5 jaar/90 000 km diensplan. Ekstra dekking kan aangekoop word vir padbystanddiens, diensplan asook die onderhoudsplan. Pryse (BTW uitgesluit): D-Max 250 TD Dubbel kajuit X-Rider 4x2 Outo R421 043,48 D-Max 250 TD Dubbel kajuit X-Rider 4x4 Outo R451 478,26 D-Max 3,0 TD Dubbel kajuit X-Rider 4x2 Outo R479 217,39
2020 Mahindra Pik Up S11 Dubbelkajuit 4x4 Outomaties beïndruk
Mahindra het vroeg in 2020 hul Pik Up S11 met outomatiese ratkas in SuidAfrika bekendgestel – die eerste land in die wêreld om dit te doen. Na aanleiding van groeiende belangstelling in outomatiese weergawes gaan aanvanklik slegs die Pik Up dubbelkajuitmodelle daarmee toegerus word. Die vlagskipmodel in die reeks, die “KAROO” is ook opgekikker en is slegs as 4x4 outomaties beskikbaar.
Met spesiale sierwiele, voorste bosbreker asook ’n rolstaaf agter die kap, vertoon die KAROO visueel indrukwekkend en behoort belangstelling onder kopers te lok. Die Mahindra S11 Pik Up word aangedryf deur die groep se mHawk turbodiesel 2,2 liter enjin. Die 4-silinder lewer 103 kW piek verrigting teen 3 750 opm en 320 Nm maksimum wringkrag in ’n plat kurwe tussen 1 500 en 2 800 opm. Amptelike brandstofverbruik word aangedui as 7,9 liters vir elke 100 km gery in ’n kombinasie van stad en ooppadry. Aandrywing na die pad gaan via die agterwiele of na al vier die wiele (by 4x4 model) deur middel van ’n nuwe 6-spoed outomatiese ratkas wat in die S11 Pik Up debuteer en tans nog net vir die S11 dubbelkajuit bedoel is. Die ratkas kom met ’n selfwissel-opsie wat in die 4x4 model ook oor ’n heuwel-af beheer funksie beskik wat, in samewerking met die voertuig se traksiebeheerstelsel, spoedbeheerkontrole asook enjinremming en rembeheer gebruik om die voertuig veilig en stadig teen steil afdraendes gedurende uitdagende veldrytoestande te laat ry. Die S11 Pik Up dubbelkajuitbakkie is heel bekwaam in die veld danksy ’n 210 mm grondvryhoogte en ’n meganiese ewenaarslot (MLB) wat in samewerking met Eaton ontwikkel is. Met ’n intreehoek van 34˚, ’n vertrekhoek van 15˚ en ’n oorklimhoek
van slegs 18˚ kon die S11 gemaklik klaarspeel met uitdagende veldrywerk danksy die hulp van die swaardiens Cushion-veerstelsel wat in die S11 diens doen. Die Mahindra Pik Up-dubbelkajuitreeks is gesertifiseer om ’n sleepwa met eie remme plus vrag met ’n maksimum totale gewig van 2 500 kg te sleep. Binnekant het die S11 se kajuit ook onder die poeierkwas deurgeloop met veral die voorpaneel wat ’n nuwe 7”
volkleur raakskerm insluit. Hierdie infotainmentstelsel vertoon die kamerabeelde van die nuwe tru-kamerastelsel asook die satellietnavigasiestelsel. Klank en telefoonskakeling kan nou ook via Bluetooth gedoen word in die S11 of met die USB-koppelpunt in die voorpaneel. Verder is die S11 standaard toegerus met onder meer twee voorste lugsakke, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, elektriese vensters en kantspieëls asook ’n verstelbare stuurwiel met beheerskakelaars vir die tele-foon, klankstelsel en spoedbeheer. Die Karoo kry ook kantskorte ekstra, asook ’n sluitbare roldeksel vir die laaibak. Alle modelle kom standaard met rubbervoering vir die laaibak. Prys: Mahindra Pik Up S11 4x4 Dubbelkajuit Outomaties: R414 999 Mahindra Pik Up S11 4x4 Dubbelkajuit Karoo Outomaties: R429 999 Mahindra SA verkoop die Pik Up met ’n 4 jaar / 120 000 km tegniese waarborg en ’n 5 jaar/100 000 km diensplan. ’n Gratis padbystand-diens is ook ingesluit. Die eerste oliediens is op 10 000 km met 20 000 km diensintervalle daarna.
www.proagri.co.za
ProAgri 250 – Desember / December 2020 11