4 minute read
Wat sê kenners van ... voedselsekerheid in Afrika?
from ProAgri SA 278
by ProAgri
deur Maryna Steyn
Gaan ons en ons kinders nog kos hê om te eet? Dit is die vraag op almal se lippe. Kenners het hierdie vraag probeer beantwoord by die onlangse Global Trade Review (GTR) se Afrikakonferensie in Kaapstad.
Advertisement
Sowat 500 mense het die konferensie bygewoon om te luister na besprekings oor hoe sterk en volhoubare groei deur handel versnel kan word.
Een van die paneelbesprekings is gelei deur Zhann Meyer, hoof van Landboukommoditeite by Nedbank, en het gefokus op die impak van die Oekraïne-Rusland oorlog op voedselsekerheid in Afrika. Ander lede van die paneel was Bharat Gupta van Olam Global Agri, Freddie Tucker van British International Investment (BII), Wouter Marinus Kool van Rabobank en Sean Shiels van Export Trading Group (ETG).
Twee besprekingspunte was die toegang tot voedsel en voedselpryse. Dit is ՚n kernvraag tot voedselsekerheid.
Die paneelbespreking het afgeskop met die vraag of die oorlog in Oos-Europa se kringeffek op die wêreld werklik so erg is. “Die antwoord is ja,” sê Zhann. “Noord-Afrika is veral afhanklik van Oekraïne se koring. Dit lei na ՚n probleem in kostoevoer en ՚n geskarrel om alternatiewe bronne te vind. Die skerp toename in voedselpryse in die vasteland getuig daarvan.”
Nie net het die oorlog veroorsaak dat voedsel nou oor langer afstande vervoer moet word nie, maar ook dat daar ՚n drastiese styging in insetkoste was. Plaaslike verbouing in Afrika-lande het verhoogde pryse in insetmiddels soos kunsmis gesien.
Die vraag oor logistiek in Afrika Onkostes wat styg word toegeskryf aan meer as net die hoë brandstofprys. Die afstande word al hoe groter. Boonop is die paaie regdeur Afrika in ՚n swak toestand en die hawens is ook nie geskik vir die groot vragte invoere of uitvoere nie.
Die hooftesourier van Olam het opgemerk dat ՚n gewoonte van kos opgaar regoor die vasteland toegeneem het. Hierdie verskynsel word hoofsaaklik deur regerings beoefen in ՚n poging om voedselsekerheid te verbeter.
Hulle koop grootmaat-stapelvoedsel op om te probeer keer dat burgers honger ly. Dit plaas groot druk op maniere om voedsel veilig en korrek te berg. Selfs die koue voorsieningsketting spartel om goeie, veilige berging te verskaf.
In Suid-Afrika alleen verloor ons ՚n derde van ons voedsel net omdat die infrastruktuur nie voldoende is nie.
Hierdie feite dui aan dat regerings moet besef daar moet meer geld bestee word aan hawens en ander infrastruktuur.
Die vraag oor regering se betrokkenheid Suid-Afrika het tans voedselsekerheid, maar dit lyk baie anders in die res van Afrika. Die onus rus op regerings om aan te dui in watter rigting boere moet beweeg ten opsigte van watter gewasse geplant moet word en om hulle in te lig hoe uitvoere werk.
Zhann sê die volgende belangrike vrae moet aan regerings gevra word:
• Hoe belangrik is vervangingsbeleide vir lande wat altyd ՚n spesifieke stapelvoedsel ingevoer het.
• Word daar verklaar dat binnelandse produsente op gewasse moet fokus wat invoerprodukte moet vervang?
• Is dit lewensvatbaar in daardie omgewing?”
Die vraag oor opbrengste verhoog deur kunsmis en befondsing Oos-Afrika het die afgelope drie jaar ՚n erge droogte gehad. “Marinus Kool van Rabobank in Nairobi getuig hoe die intensiewe droogte hongersnood begin veroorsaak het: “Maar kunsmis alleen kan nie die hongersnood keer nie, want boere sukkel ook om befondsing te kry.”
“Die beskikbaarheid van kunsmis vir kleinskaalse boere is ingewikkeld,” sê Zhann. “In Afrika is dit baie duidelik hoe die koste van kunsmis boere se opbrengs beïnvloed. Die kontinent se gemiddelde opbrengs het nie veel verander sedert 1960 nie.”
՚n Rowwe beraming dui daarop dat Afrika maar gemiddeld 19:1 kunsmis per hektaar gebruik teenoor die 90:1 per hektaar in Suid-Afrika.
Oor die afgelope klompie jaar het kunsmispryse effens gedaal, maar dit is steeds hoër as wat ՚n kleinskaalse boer kan bekostig. Waar ՚n boer voorheen twee sakkies kon bekostig, koop hy nou net een.
Freddie Tucker van BII het konferensiegangers herinner dat die hele doel van hulle onderneming is om befondsing aan boere te bied. “Hy het gesê: “Ons maak seker dat mense nie hongerly nie; dit is BII se mandaat om fondse te voorsien waar ՚n kommersiële bank nie altyd kan nie.”
“Ongelukkig is een van die goed wat in hierdie situasie gebeur dat kunsmis wat ՚n boer in die hande kry nie noodwendig bedoel is vir die gewas wat hy plant nie,” brei Zhann uit. “Soos dit deur Sean Shiels uitgelig is, bly dit moeilik om aan boere te verduidelik dat die regte insetprodukte gebruik moet word om die optimale opbrengs te kry.”
Die goeie nuus is dat miljoene boere saam met maatskappye soos Olam en ETG toegang tot markte vir kontantgewasse het deur ՚n massiewe netwerk van mense en logistiek. In hierdie geval is dit een hand was die ander, want hoe meer gewasse boere verbou, hoe meer is daar om uit te voer en om hulle sake te laat groei.
Die grootste uitdagings vir die pad vorentoe
Die grootste voor die hand liggende uitdaging in Afrika bly opleiding en kennisverspreiding onder boere. Dit sluit onder meer in inligting oor watter gewasse goeie gewasse is om te verbou in watter klimaatstreke van watter lande.
Rabobank se verteenwoordiger het beaam dat daar ook ՚n groot uitdaging is om die landbousektor in Afrika te befonds. “Daar is ՚n hoë rentekoers , maar daar is ook baie risiko’s betrokke by befondsing vir landbou,” sê Zhann. “Maar te danke aan instansies soos BII kan likiditeit bewerkstellig word.”
Die rol wat finansiële instansies in die stap tot voedselsekerheid in Afrika speel, is om befondsing te bied aan handelsnetwerke wat op hulle beurt met hulle sakebedrywighede kleiner boere se groei kan stimuleer.
Laastens is dit ook belangrik dat plaaslike ekonomieë gestimuleer word. In elke land is ՚n oplossing daarvoor om waarde tot landbou produkte te voeg. Daar moet dus ՚n groter fokus wees om landbouverwerkingsaanlegte op te rig. Handelaars soos ETG is tans besig daarmee.
Rich crops – thanks to KSB solutions for irrigation.
All over the world, irrigation assists in growing agricultural crops and pastures, maintenance of landscapes and revegetation of disturbed soils in dry areas during periods of less than average rainfall. A challenge KSB handles with competence. KSB has been providing pumps and valves for more than 60 years to the farming community and other industries in South Africa and Sub-Saharan Africa.
Our pumps and valves help farmers to get the water where it is needed.
Whatever the agricultural application, KSB - the right partner for you.