3 minute read

Simboliek

Next Article
Bibliografie

Bibliografie

Terug na Göbekli Tepe. Nóg ‘n misterie is die stilswye van die mitologie, tensy niemand nog die narratief herken het nie. Vergelykende mitologie het ‘n aantal gedeelde elemente in die mites van mense op al die kontinente aan die lig gebring. Herhalende temas en storielyne kenmerk mites oor die ontstaan van die heelal, die skepping van die mens uit klei, die aanvanklike paradys op aarde, kommunikasie tussen mens en dier, en ‘n kataklismiese wêreldvloed.

Sedert 1996 is baie boeke geskryf wat vertolkings van Göbekli Tepe aanbied. Konsensus bestaan dat dit ‘n heilige plek of tempel was, en ander beweer dat dit ook ‘n sterrewag was waar die hemele bestudeer is. Die klippe is versier met afbeeldings van totemdiere soos leeus, luiperds, bokke, arende, aasvoëls, akkedisse, skerpioene, spinnekoppe en slange. Dis moontlik dat die leeu, skerpioen en bul na die konstellasies Leo, Scorpio en Taurus verwys.

Advertisement

Pilare 2, 33 en 43 bevat heelwat dierebeelde, wat astronomiese betekenis mag inhou, soos die aasvoël/arend wat ‘n voorloper van die latere Egiptiese Horus (valk) kan wees. Die wolf / hond mag met Anubis, die latere Egiptiese god van die onderwêreld ooreenstem. Die jakkalssimbool kan dalk ‘n voorloper van die Egiptiese Set wees, en die slange moontlike voorlopers van Egipte se Uraeussimbool op die kroon van die Farao.

Omdat Göbekli Tepe ‘n spirituele terrein was, moes daar rituele plaasgevind het wat met die dood en hiernamaals verband hou. Die prominensie van die aasvoël veronderstel ‘n assosiasie met die dood. Een van die teorieë is dat lyke daarheen gebring is vir die aasvoëls om te verorber, en dat die geraamtes dan op ander plekke begrawe is.

Pilaar 18 bevat prominente son- en maansimbole. Die diamantvormige, en die C-, H- en I-simbole van Göbekli Tepe het abstrakte betekenis, en kom ook by sommige ander oerstrukture voor. Daar word vermoed dat die H-simbool na ‘n ster of na ‘n poort of hek verwys.

Die Aard van Proto-Nostraties

Nostraties het oor ‘n uitgebreide reeks sluit- en skuurklanke beskik in stemlose, stemdraende en geglottaliseerde vorme, drie reekse affrikate en sibilante, sowel as laterale obstruente, laringeale, faringeale, en uvulare medeklinkers.

Die klinkers was *a, *e, *i, *o, en *u. Enige klinker kon in die eerste lettergreep van ’n woord verskyn, maar slegs *a, *i, en *u het in nie-inisiële lettergrepe voorgekom. Woorde het met een medeklinker begin; klinker-inisiële woorde was onbekend. Die twee basiese stamformasies was: Medeklinker + Klinker = CV en Medeklinker + Klinker + Medeklinker = CVC.

Volgens linguïstiese tipologie was Proto-Nostraties ‘n analitiese taal met ‘n morfeem tot woordverhouding van 1:1. Met ander woorde, ‘n taal soos Afrikaans of Engels waarin vervoeging en verbuiging nie ‘n groot rol speel nie.

Die funksie van naamwoord-verbuigings is deur agtervoegsels vervul, wat naamvalle soos akkusatief, genitief, instrumentaal, latief, ablatief en essief aangedui het. Die rigiede sinskonstruksie van Nostraties was SOV sodat die werkwoord aan die einde van die sin verskyn.

Die jagter-versamelaarsprekers van Proto-Nostraties moes op ‘n relatief primitiewe kultuurvlak verkeer het. Woorde vir landbou en veeteelt is afwesig in PN se afstammelinge en daar’s nie woorde vir tegnologie nie. Semantiese kategorieë wat in die dogterfamilies identifiseer is, sluit in voornaamwoorde, woorde vir liggaamsdele, woorde vir diere soos die bul, beer, koei, leeu, luiperd, oer-os, skaap, en verskeie spesies wildsbokke. Ook natuurverskynsels en basiese werkwoorde soos buig, kap, weef, opdeel, gryp, sit, sny, staan en so meer.

Die Mesolitiese era is identifiseer as die era van die Nostratiese spraakgemeenskap deur middel van die betekenis van algemene Nostratiese stamwoorde. Die visnet, wat uit die Mesolitiese tyd dateer, se rekonstruksie is *ṭul[γ]a, vanwaar Oeralies *tulko “visnet”; Proto-Kartvelies *txewl- “om vis met ‘n net te vang”; Proto-Mantsjoe-Toengoes *tölä“om ‘n visnet te stel”; Proto-Afro-Asiaties *ṭul‘“visnet” wat in Egipties eindelik /ӡu/ opgelewer het vir “visvang/”.

Geen Nostratiese stamwoorde vir veeteelt of pottebakkery bestaan nie, maar sommige dogtertale gebruik die stamwoord *kada om na /bou/ en /potte maak/ te verwys. Die oorspronklike ProtoNostratiese betekenis is /weef-bind-vleg/. Pottebakkery is ‘n relatief laat uitvindsel wat in die vroeë neolitiese era ontwikkel het uit die mesolitiese mandjie wat met klei bedek is. Die muur en dak van die tipiese proto-neolitiese hut van die 9de millennium VHE is van pale gebou wat met takke, boombas, riete of strooi deurweef is. Soms is klei of gooipleister ook gebuik, soos by die argeologiese terreine Çayönü Tepesi naby Diyarbakır en Hallan Çemi naby Batman, sowat 178 en 275 km oos van Göbekli Tepe.

This article is from: