3 minute read

AWSUM gesels met Retief Goosen oor sy skooljare en Bosveld Intervarsity

Retief Goosen (The Goose), oud HTS Tom Naudé - leerder en wenner van twee Amerikaanse Ope Gholftoernooie, praat oor sy skooljare in Polokwane. Behalwe vir sy 36 oorwinnigs as professionele gholfer en sy sewe PGA Toer - oorwinnings, haal Retief ook die World Golf Hall of Fame in 2019.

Advertisement

Ons moet begin deur te vra oor jou skoolloopbaan. Wat sal jy altyd van jou skool onthou?

Wat ek onthou, is dat die onderwysers by my skool streng was. As jy stout was die klas, het jy pakslae gekry. Daar was `n paar onderwysers wat gholf gespeel het en ek het saam met hulle gespeel, maar ek het nog steeds deugeloop as ek stout was.

Wat onthou jy van Bosveld Intervarsity? Het jy self ook deelgeneem?

Vir my was dit net gholf elke dag. Op laerskool het ek wel rugby gespeel. Ek was binnesenter, maar het van 12 jaar oud op gholf begin fokus deur gholfboeke wat in die huis was, te lees - onder andere boeke van Ben Hogan, Jack Nicklaus en Gary Player. Daai dae was daar nie videos nie, so ek moes in `n spiëel oefen alles wat ek in die boeke geleer het.

Watter tipe ou was jy op skool?

Ek was maar `n stil ou op skool en my eie ding gedoen. Ek was `n prefek in my laaste jaar, so dit was lekker om stoute ouens by onderwysers aan te kla.

Vertel ons meer oor jou grootwordjare in Polokwane. Polokwane was maar klein tydens my grootwordjare. Ek kon met my fiets orals heen ry. Ons het naby genoeg aan Polokwane Gholfklub gebly dat ek met my gholfstokke en sak op my fiets kon ry en vinnig nege gate na skool kon speel.

Wat is die beste raad wat jy al ooit ontvang het en wat jy vandag met ons lesers wil deel?

Niks kom verniet nie. Jy moet hard werk.

As jy nie `n gholfspeler was nie, watter sport sou jy wou beoefen?

Gholf was alles vir my. As dit nie gewerk het nie, sou ek seker nie `n ander sport beoefen het nie. Tydens `n onderhoud met die Polokwane Review vertel Retief: “Ons het altyd vir ure gholfballe agter in die tuin geslaan en my ma het ons uitgetrap, want ons het haar gras uitgeslaan” onthou Retief. “Ek het my liefde vir gholf by my pa geleer en dan natuurlik by Francois my broer ook. Ek het vir hom gecaddy,” skerts Retief.

Wat sou jy sê vat dit van `n speler om die hoogste vlak van `n sportsoort te bereik en daar te bly?

“Dissipline en harde werk! My pa het geglo dat as jy iets wil hê, moet jy daarvoor werk en voluit daarvoor gaan. Hy het vir jou die geleentheid gegee, maar jy moes ‘n sukses daarvan maak. My pa se werketiek is iets wat oorgespoel het na my gholf. Met talent en harde werk, kan jy net suksesvol wees en ek is dankbaar daarvoor,” vertel Retief vir die Polokwane Review.

In dieselfde berig, berig die Polokwane Review dat oom Theo Goosen, Retief se pa, op 21 Desember 2022 op die ouderdom van 89 oorlede is. Tot die dag van sy dood het Oom Theo gholfraad met Retief gedeel en hy onthou hoe sy pa ‘n paar keer in Amerika en Engeland gaan gholf kyk het. “Sy tydsberekening was nie altyd so goed met die raad nie, en as ek nie goed gespeel het nie, het hy sommer sy vliegtuigkaartjie vervroeg en teruggevlieg.”

Retief Goosen is as 16 - jarige deur weerlig op die golfbaan raakgeslaan toe hy en sy neef Henri `n rondte gholf op `n Woensdagmiddag gespeel het. Toe dit op die vyfde gat begin reën, het hulle gaan skuil onder `n afdak, maar toe die reën opklaar, het hulle verder gaan speel. Dis toe wat hy deur die weerlig geslaan is en 20 minute later in die hosipitaal wakker geword het. Nadat sy neef gaan hulp soek het by die klubhuis het hy `n dokter gekry wat toevallig gholf gespeel het en Retief vertel dié dokter het sy lewe daardie dag gered. Na 3 weke wat hy nie skoene kon aantrek nie as gevolg van sy brandwonde, was hy terug op die gholfbaan en toe het sy golf vlamgevat, want mens besef jy kon dood gewees het.

Destyds het Retief die volgende wenk aan `n jong opkomende gholfer gegee: Hou jou fokus en neem die spel net hou vir hou, Vergeet van die toernooi en vergeet waar jy op die punteleêr lê.

This article is from: