Die Kerkblad Mei 2013 lusmaker

Page 1


DISKUSSIE-ARTIKEL D 18 1 Die uitdaging van 'n nuwe ateĂŻsme BESINNING B 21 2 Dit gons rondom mev. Dominee 23 2 Romantiek van 'n afskaaltyd

JAARGANG 116 116, NO NO. 3268 MEI 2013

1 VAN DIE REDAKTEUR Is alle beveiliging selfsug? 2 UIT DIE WOORD God is die groot Beeldhouer in jou lewe 4 REDAKSIONEEL Wat doen ons met Pinkster? 6 HOOFARTIKEL Verbond en verkiesing

ANDER A 25 2 Kerklike ditjies en datjies uit Europa (2) 28 2 Genade onbeskryflik groot 31 3 Museum-Nuus 32 3 Argief-Nuus 33 Tjaart van der Waltgedenklesing en dinee 34 Energieke emeriti! Meestersgraad in Praktiese Teologie 36 Ladysmith is trots op skoolhoofde IN DANKBARE HERINNERING 35 Ds. Jan Carel Erasmus

37 Personalia Wel en Wee 38 Lief en Leed Op die Kerkwerf 40 Kleinadvertensies

8 BRANDPUNT Die sonde in watte verpak FOKUSARTIKELS 10 God alleen moet gedien word 12 Christene moet, soos Christus, dien 14 Of julle dan eet, of drink, of enigiets doen ... 16 Die wet van God ... riglyn vir jou diensbaarheid

Webwerf: h!p://www.gksa.org.za/ Redaksie, Bemarking en Administrasie Posbus 20008, Noordbrug 2522 Tel. (018) 297-3986/7/8/9 Faks: (018) 293-1042 E-pos:kerkblad@gksa.co.za (ar"kels, briewe ens.) Tydskri#e@gksa.co.za (Intekening, rekeningnavrae) bestellings@gksa.co.za (boekbestellings ens.) Redaksie Dr. CN van der Merwe (redakteur) Mev. J Fourie Prof. DF Muller Dr. JA Kruger Dr. J Lion-Cachet Dr. RM van der Merwe Uitleg en tegniese versorging Joey Fourie Advertensies en kleinadvertensies Tariewe op aanvraag beskikbaar by dr. Wymie du Plessis: tel. (018) 297-3989. E-pos: wymiedup@gksa.co.za Intekengeld 11 Uitgawes per jaar (posgeld en BTW ingesluit): R218.00 11 Uitgawes per jaar (haal by Admin Buro af): R145.00 11 Uitgawes per jaar (groepsintekening): R204.00 11 Uitgawes per jaar (Ontvang elektronies): R145.00 Intekengeld word jaarliks aangepas. Intekening moet skri#elik of telefonies deur die intekenaar gekanselleer word. Maak tjeks uit aan: Die Administra"ewe Buro Eienaars en uitgewers Deputate Kerklike Tydskrifte van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Posbus 20008, Noordbrug 2522. Drukkers V & R Drukkery, tel. (012) 333 2462 Menings uitgespreek in ar"kels verteen-woordig nie noodwendig diĂŠ van die Redaksiekommissie nie. Tensy anders vermeld, word die hoofar"kels deur die redakteur geskryf. Die Redaksie behou hom die reg van plasing van bydraes, asook die redigering, verkorting en/of ver werking van bydraes voor.


Redaksioneel

D

ie Christelike Kerke vier in Mei 2013 twee feesdae: Hemelvaart (9 Mei) en Pinkstersondag (19 Mei). Kruisiging, begrafnis, opstanding, hemelvaart kan eers ten vollle verstaan word as daar op die betekenis van Pinkster as die kroon van die Christelike feesdae gelet word. Pinkster word die kroon van die Christelike feeste genoem. Pinkster is ’n begin wat terselfdertyd die einde waarborg. Dit is die begin van die periode tussen Hemelvaart en Wederkoms. Getuienis van die volheid in Christus. Wie in Christus glo, soos die Skrif sê: “Strome lewende water sal uit sy binnenste vloei” (Joh. 7:38). Hiermee het Christus na die Heilige Gees verwys, want die mense wat tot die geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.

Beleef Pinkster as ’n abstraksie Wanneer dit oor Pinkster gaan, moet ons dan met krummels van die Here se tafel en met druppels van sy Gees tevrede wees? “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang” (Joh. 1:16). Hy sê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh. 10:10b). “Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus” (Ef. 3:20-21). Dit is jammer dat Pinkster vir vele Christene in 2013 ’n fees geword het waarmee hulle die minste weet wat om te doen. Met Pinkster staan jy eintlik verleë. Kersfees laat jou jubel en sing saam met die engele van

4

DIE KERKBLAD

die koms van die Messias, en jy kan lofprysend en dankend aan die Kersaktiwiteite deelneem. Goeie Vrydag bring jou by die werklikheid van die kruis en die graf op die koorwysie van ’n oratorium. Hemelvaart laat jou na die oneindige vertes van die lug en wolke kyk en jy visualiseer hoe Jesus Christus liggaamlik verder en verder die hemelhoogtes in deur die verdiepings van wolke in hemelse heerlikheid opgaan (Hand. 1:9). En dan kom Pinkster en jy beleef dit as ’n abstraksie. Dit is vir jou ’n afgetrokke begrip wat net in die gees bestaan en nie in die werklikheid beleef word nie. Eintlik weet jy nie regtig raad met Pinkster nie.

Heerlike realiteit In die Bybel kom Pinkster allermins sleg daarvan af. Die krag van die Heilige Gees word beskryf as

Mei 2013


Redaksioneel

’n heerlike realiteit, in sowel die persoonlike as die gemeentelike lewe. Die ervaring en belewing van die volheid van die genade was konkreet in die gemeente in die Nuwe Testament. Dit was nie ’n vae gegewe of ’n mistieke gebeure nie. Dit was die werklike ontvangs van God se dinamiese krag in die Persoon van die Heilige Gees.

Onbillike kritiek Wanneer jy in ons tyd die Pinkstergebeure beklemtoon, bots jy soms teen onbillike kritiek wat hierdie aspek van die geloofslewe aan die charismatiese denke koppel. Jy word beskou as oorgeestelik en ’n geesdrywer van oppervlakkige aard. So asof jy vol soet wyn is (Hand. 2:13). Pinkster is egter geen luukse nie. Inteendeel, dit is noodsaaklik. Die ontvang van die Heilige Gees is ’n bewuste saak en nie ’n vanselfsprekendheid wat jou outomaties by jou doop of by die bekering ten deel val nie. Bekering is as gevolg van die inwerking van die Heilige Gees wat nie dieselfde is as die inwoning van God se Gees en die vervul word met die Gees nie.

Die gevolge van Pinkster Die ontvang van die Heilige Gees het gevolge. Die vernaamste is getuie wees in die wêreld (Hand. 1:8). Baie mense staan negatief teenoor getuienis. Hulle beskou dit as ongesonde aktivisme en werkheiligheid. Hulle maak daarvan ’n eensydige aktiwiteit van die mens waarin hy homself wil verheerlik. Getuienis is egter gehoorsaamheid deur God se werk

Mei 2013

in jou. In die eerste Christene brand die Pinkstervuur, waardeur hulle bewoë was oor die massas wat God nie ken nie. Hulle sprankelende geloof het in bruisende sendingaktiwiteit sigbaar geword. Christus het nie verniet gesê dat strome lewende water uit hulle binneste sal vloei nie (Joh. 7:38). Dit sê Christus van die Pinkstergees. Hoe dor, lou, negatief en leweloos kan ons staan teenoor die Pinksteropdrag. So asof ons nie weet wat om daarmee te doen nie. Ons dorheid en doodsheid wil God in frisheid en entoesiasme verander. Ons dorre, doodse, negatiewe en aksielose toestand verdwyn deur die volheid van die Heilige Gees, en geloofsmoed en geloofsentoesiasme kom in die plek daarvan. Ons vlees bring geen godsvrug voort nie. God wil ons maer en skrapse ervaring van Pinkster deurbreek en Self in sy heerlikheid in ons harte woon.

Persoonlik ervaar Goeie Vrydag en Pase toon dat Jesus vir ons tot sonde gemaak is, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek word (2 Kor. 5:21). Met Pinkster wil die Heilige Gees in ons kom woon en deur ons heen die wêreld bereik en bewys dat die wêreld aan sonde skuldig is, en dat die reg aan die kant van die gelowiges is, en dat die oordeel al gekom het (Joh. 16:8). Pinkster moet ons persoonlik ervaar, daaraan deel hê in gehoorsaamheid en oorgawe.

’n Pinksterlewe Ons moet ook as kerke, gemeentes, Pinkster belewe. Dan gaan die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gesamentlik en elke lidmaat individueel vurig van gees die Here dien in entoesiastiese getuienis! Die gevolge sal nooit deur die seën van die Here uitbly nie Dit beteken: Die liefde van God is in ons harte uitgestort, want die liefde is die vrug van die Gees (Rom. 5:5; Gal. 5:22; 1 Kor. 13). Deur die krag van die Gees is ons getuies in die wêreld, daartoe gedring deur die liefde van Christus (Hand. 1:8; 2 Kor. 5:14). Deur die krag van die Gees groei ons in die geloof, dit is heiliging (1 Tess. 4:1-8). Ons moet ywer na alle gawes van die Gees (1 Kor. 12:31; 14:1). In alles kom ons onder die besef van hoe oorweldigend groot die krag van God is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het (Ef. 1:19-20). Dan belewe en vier ons in 2013 ’n egte Pinksterfees. Dit is nie beperk tot die aktiwiteite van Pinkstersondag, 19 Mei, nie, maar deur die Heilige Gees word dit in ons harte die verlange om Hom te dien in heiligheid en geregtigheid voor sy aangesig “al die dae van ons lewe” (Luk. 1:75) in die wêreld waarin ons staan. CNM

DIE KERKBLAD

5


Brandpunt Prof. GJC (Jorrie) Jordaan (Teologiese Skool)

I

n die briewekolom van ’n gesinstydskrif enkele weke gelede is daar gedagtes gewissel oor die kwessie van sensitiewe taalgebruik. Dit het gegaan oor die manier waarop verwys word na iemand wat sy eie lewe geneem het. Om daarna as “selfmoord” te verwys, skryf een korrespondent, is darem baie onsensitief; praat liewer van “selfdood”. Nee, skryf ’n volgende een, ook “selfdood” is te erg; sê liewer dat die persoon sy of haar “stryd teen depressie verloor het”. Alles goed en wel, skryf ’n vrou wat haar man onlangs op hierdie wyse verloor het: noem dit wat jy wil – dit verander egter niks aan die harde en wrede werklikheid vir almal wat daarby betrokke is nie. Nou gaan dit nie in hierdie Brandpunt-artikel oor die saak van selfmoord nie. Dít sou inderdaad ’n onderwerp wees waaroor met groot kundigheid en sensitiwiteit gehandel moet word. Wat wel hier aan die orde is, is die kwessie van sogenaamde sensitiewe taalgebruik. Sensitiewe taalgebruik is iets waarop daar dikwels en feitlik orals aangedring word. In plaas van “dowes” en “blindes” moet eerder van “gehoor- en gesiggestremde persone” gepraat word. Na “werkers” en “arbeiders” moet liewer verwys word as “werknemers”. Moet liewer nie die woord “prostituut” gebruik nie; praat liewer van ’n “sekswerker”; en gebruik die mooier benaming “seksuele immoraliteit” eerder as platvoerse woorde soos “egbreuk” en “hoerery”. So word ook aangedring op “sagter” woorde waarmee bedelaars, boemelaars, alkoholiste en dwelmverslaafdes beskryf moet word. Natuurlik is kwetsende en beledigende taal iets waaraan geen mens hom of haar skuldig mag maak nie. In die sesde gebod word enige sulke taalgebruik verbied. Volgens Sondag 40 van die Heidelbergse Kategismus eis die sesde gebod dat ek nie iemand anders mag “onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie, nog minder met die daad”.

8

DIE KERKBLAD

Dit word egter al duideliker dat sensitiewe taalgebruik eintlik iets anders wil voorkom as net beledigende en kwetsende taal. Sensitiewe taalgebruik kom eintlik daarop neer dat die gevolge van die sonde sagter voorgestel word as wat dit is. Sondige praktyke soos prostitusie, egbreuk, hoerery, dronkenskap, moord, bedrog, luiheid, ensovoorts, moet liewer nie meer by die naam genoem word nie, maar moet sagter voorgestel word. Ook die harde werklikheid van hierdie in-sonde-gevalle-wêreld moet in watte verpak word. Die gevolge van die sonde wat deel van ons almal se bestaan is, moet so bietjie witgeverf word: Siekte, ook siekte van geestelike aard, onbekwaamhede, tekortkominge en gebreke word dikwels met ’n lang ompad beskryf, net sodat dit nie reguit gesê hoef te word nie. Dit geld ook vir menslike eienskappe en verskille tussen individue, geslagte, volke en rasse. Ons moet liewer maak of dit nie bestaan nie. Dit is moeilik om vas te stel wat alles agter hierdie beweging sit, maar een ding is seker: enige poging om die sonde of die gevolge van die sondeval te ontken of te versag of te verswyg, hou ’n groot gevaar vir die Christen se geloofsgroei in. Ten diepste kom so ’n ontkenning neer op dit waarteen 1 Johannes 1:8 waarsku: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” So bely ons ook in die Kategismus dat ons moet weet hoe groot ons sonde en ellende is voordat ons enigsins kan begryp hoe nodig ons die verlossing het wat daar in Christus is (vgl. Sondag 1). Ook vir die uitdra van die evangelie is dit nodig dat die wêreld die harde werklikheid van die gevolge van die sonde moet besef. Om die sonde en die gevolge daarvan sagter voor te stel as wat dit is, sal juis liefdeloos wees teenoor ’n mensdom wat in onkunde leef oor hoe nodig die redding van Christus is. Die liefde eis juis dat die wêreld oortuig word

Mei 2013


Brandpunt

van sonde, en die eis om God se geregtigheid te doen, en die waarskuwing van die komende oordeel. Daarvoor, vir hierdie oortuigingswerk, sê die Here Jesus in Johannes 16:9-11, stuur Hy die Heilige Gees as Trooster na die wêreld toe. Sal ons dan die werk van die Gees met ons verpakkingsmetodes probeer inperk? Waarskynlik die ergste gevolge van sonde wat in watte verpak word, is dat die mens daardeur probeer om sy eie “hemel op aarde” te skep. Met versagtende taalgebruik maak die mens homself wys dat die wêreld en die mensdom nie so ßenters is as wat dit lyk nie. Alles is eintlik goed en met almal gaan dit tog wel. Wat dit eintlik sê, is: Ons het nie nodig dat die Here kom om sy skepping te kom herstel nie. Ons praat dit sommer reg met ons woorde. Kortom: ons het die hemel nie nodig nie. Dit alles kom egter neer op een stuk selfbedrog. In Romeine 8:20-21 word die harde werklikheid gestel: “Die skepping is nog aan die verydeling onderworpe” en sien met gespanne afwagting daarna uit

Mei 2013

om “bevry te word van die verslawing van die verganklikheid”. En die gelowiges, ja, ook ons sug saam met die skepping, want ons kyk met oop oë na die gevolge van die sonde waaraan ons in hierdie lewe onderwerp is en waarteen ons elke dag moet stry. Ons stel dit nie sagter voor as wat dit is nie. Romeine 8:23 sê: “Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.” Met oop oë vir die harde werklikheid waarin ons ons bevind, is ons oë ook gedurig gerig op die heerlikheid wat kom. Paulus skryf in Romeine 8:18: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” Kom ons kyk reguit en eerlik na onsself en die wêreld om ons, sonder om die sonde waaraan ons uitgelewer is, op enige manier te probeer verbloem. Dan sal ons ook met groter blydskap die evangelie van Jesus Christus omhels en met opgewonde afwagting na die wederkoms van ons Here uitsien. DK

DIE KERKBLAD

9


Fokusartikel Ds. HJJ (Hentie) Krüger (Bultfontein)

Christene moet, soos Christus, dien T oe ek die eerste keer die opskrif van die artikel gelees het, het ek gedink dit is nie moontlik om hieroor te skryf nie. Christus se dienswerk het onder andere daarin bestaan dat Hy mens geword het, ter wille van mense, en dat Hy die enigste waardige offer was wat vir God aanneemlik was. Hy moes as God-mens aan ’n vloekhout vir ons sondes sterf sodat ons weer in die regte verhouding met God kan staan. Ek dink ook nie dat ek in hierdie twee of drie sinne naastenby reg laat geskied aan wat sy dienswerk alles behels het nie. Persoonlik dink ek ook nie dat Christus bloot net ’n navolgenswaardige voorbeeld was nie, dit sou myns insiens sy goddelikheid aantas. Omdat ek as skrywer net tot 1 300 woorde beperk is, gaan ek hiermee volstaan. Ek vat toe maar die spoor van die Heidelbergse Kategismus, Sondag 21, vraag en antwoord 55, wat leer dat ons as gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, lede van die Here Christus is, en dat ons (die gelowiges) almal saam en elkeen afsonderlik gemeenskap met Hom het en ook aan al sy skatte en gawes deel het. Dan volg die opdrag wat in die belofte van die eerste deel van antwoord 55 ingebed is: gelowiges (hulle wat in ’n ware en lewende verhouding met die Here) staan, is verplig om hulle gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

Christene, moet soos Jesus Christus, dien – Johannes 13 So dikwels is mense se liefde bloot ’n praat-liefde. Jesus het in Johannes 13 nie baie gepraat nie. Die dissipels het baie gepraat. Hulle het byvoorbeeld by monde van Petrus vir Jesus van hulle onfeilbare liefde verseker: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan” (Luk. 22:33). Intussen stry hulle op daardie oomblik oor wie van hulle die belangrikste dissipel is. Op daardie tydstip het hulle nog net oor liefde gepraat. Menslikerwys was Johannes 13 se maaltyd gedoem, want almal wat daar was, was in hulle eie oë baie belangrik. Niemand was klein genoeg of bereid om voete te was nie, ek wonder of hulle ooit daaraan gedink het. Niemand het lief genoeg gehad om liefde te doen nie. Jesus het egter niks gesê nie; net gedoen. Hy het die voete van almal gewas wat so groot in hulle praat en so klein in hulle doen was. Toe Jesus later in die tuin van Getsemane gevange geneem is, het Petrus weliswaar Malgus se

12

DIE KERKBLAD

oor afgekap, maar daarna, so lees ons in Markus 14:50, het ALMAL voet in die wind geslaan. Wanneer ons as Christene soos Christus wil dien, dan moet ons onthou: Liefde is nie ’n selfstandige naamwoord nie, maar ’n werkwoord; nie ’n gevoel nie, maar ’n daad; nie ’n toestand nie, maar ’n pad – wat geloop moet word.

In hoe ’n mate is ons diensbaar? Baie mense in die kerk (sonder om te veralgemeen) ly ongelukkig aan “geestelike Anorexia Nervosa”. In leketaal is dit ’n eetversteuring wat gekenmerk word deur selfuithongering en ’n onvermoë om ’n normale gewig te handhaaf. Persone wat aan Anorexia ly, toon gewoonlik drastiese gewigsverlies en weeg beduidend minder as die normale verwagte gewig vir hulle liggaamsbou, ouderdom en lengte. Lyers van hierdie baie ernstige siekte beperk gewoonlik hulle energie-inname deur baie min te eet en/of kos te eet met ’n baie lae energiewaarde. Op geestelike gebied doen ons (weereens sonder om te veralgemeen) presies dieselfde: ons honger onsself uit; ons beperk ons “energie-inname” deur die Woord van God so min as moontlik te lees en te bid.

Mei 2013


Fokusartikel

In aansluiting daarby pas ons Westerse samelewing, wat deur individualisme gekenmerk word, ons eintlik soos ’n handskoen. Agter ons hoë heinings en mure leef ons net vir onsself. Onafhanklikheid is vir ons baie belangrik. Die (ongeskrewe) reël lui: Elkeen vir homself, en die duiwel vir die res. Daarom moet jy alles uithaal om bo uit te kom, om te presteer, al beteken dit dat jy in die proses op ander moet trap. Dit is immers ’n kwessie van oorlewing van die sterkste. Dien soos Christus …is jy ernstig? Sien, Christus het nie net in die “kerk” van sy tyd gewerk nie. Straatvroue, tollenaars en nog baie ander, wat om watter redes ook al nie in die samelewing van destyds aanvaar was nie, was deel van sy bedieningsveld. Waar laat dit ons? Moet ons nou bordele en casino’s invaar om te kan dien soos Christus gedien het? Ek dink nie noodwendig so nie, maar ons behoort élke dag te lewe soos mense wat in Christus is. Dit het my weer laat besef: in afhanklikheid van die Here moet ons Hom vra om ons elke dag (soos ons kleintyd gesê het) ’n “houspyp” te maak. Sommer net ’n ordinêre “houspyp”, wat gereed lê in sy tuin … ’n “Houspyp” – wat tevrede is om dag na droë dag ’n kanaal te wees vir God se strome van lewende water. Dat ons die Here moet vra om ons oë oop te maak vir verwelkte mense wat verskroei in die wind!

Briewe van Christus Dit is toe ek aan die “houspyp” dink dat Paulus se woorde

Mei 2013

in 2 Korintiërs 3:2-3 by my opkom. Daar skryf hy: “Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.” Ons is ’n lewende briewe wat almal elke dag, waar ons ook al gaan, gelees word. Dit beteken dat Christus deur en op en in ons lewe kenbaar en leesbaar moet wees. As mense hierdie “brief” van Christus lees, dan moet hulle Christus in ons dienswerk raaksien. Soos Christus in sy dienswerk die wil van sy Vader gedoen het, moet ons as lewende briewe weg van onsself na Christus toe wys. Hy moet meer word en ons minder. Ons wil tog so graag ons eie voortreßikhede uitstal – as dit ons houding sou wees, dan dien ons nie soos Christus nie! Dink bietjie aan jouself asof jy ’n sakrament is, asof jy ’n teken is wat Christus wil gebruik om mense te herinner dat sy beloftes ook vir hulle bedoel is. (Ek is deeglik bewus van die feit dat hierdie ’n uiters gebrekkige beeld is – daar is net twee sakramente, die doop en die nagmaal, wat God self ingestel het. Ek wil gewoon met hierdie gebrekkige beeld probeer illustreer dat Christene soos Christus moet dien – asseblief, ek wil nie aanstoot gee nie.) Om ons weer in die regte verhouding met God te bring, is Jesus se liggaam gebreek en sy bloed vergiet. Dit word elke keer by ons ingeskerp wanneer ons Nagmaal vier. Ons het die verantwoordelikheid om te sorg dat ons moeite doen om ons verhouding met die lewende Here in stand te hou; die formulier wys ook daarop dat ons ons verhouding met ons naaste onder die loep moet neem. Die een kán nie sonder die ander nie, roep om die ander, vloei oor in die ander. Ons verhouding met God en ons naaste is ten nouste aan mekaar verbind. In aansluiting by die vorige twee paragrawe – ek het gelees van Overduin, ’n Hollandse predikant, wat leraar van ’n “goeie” gemeente was. Die offers was mild en die boeke Þnansieel gesond. Een nag is Overduin uitgeroep na die sterfbed van ’n buitekerklike man. “Het jy al van God gehoor?” vra Overduin hom. “Ja, dis ’n vloekwoord,” antwoord die man. “Weet jy wie Jesus is?” probeer Overduin weer. “Dit is ’n beeldjie in ’n kerkgebou.” Die man – het Overduin later vasgestel – het jare lank skouer aan skouer saam met ’n diaken uit sy eie gemeente asook ’n lidmaat van die Rooms-Katolieke Kerk gewerk … Die Sondag daarop het Overduin vir sy gemeente gesê: “Julle is sulke gawe mense. Maar julle is sulke wrede mense …” Nie een van ons kan in hierdie dae van vandag bekostig om agteroor op dekstoele soos op ’n passasierskip te sit nie. Kom ons doen moeite en streef daarna om te dien soos Jesus gedien het. DK

DIE KERKBLAD

13


Diskussie-artikel Dr. PP (Paul) Kruger (emeritus, Meyerspark, Pretoria)

Die uitdaging van 'n nuwe ateïsme Ons gebrek word ons voordeel n hierin erken ons die onmeetlike goedheid van God wat ons gebrek tot ons voordeel gebruik.”

“E

Wat ’n vreemde voordeel is dit nie hierdie waarvan die kerkhervormer Johannes Calvyn hier praat nie! Hy is besig om kommentaar te lewer op 1 Korintiërs 2:10 – Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak … Hoe vreemd dit ook al klink, hierdie woorde moet soos ’n banier-opskrif bokant ons staan wanneer ons vandag die uitdaging van die nuwe ateïste tegemoet tree. Ons swakheid, gebrek, is immers dat ons menslike verstand en rede totaal te “log” is om God se geheimenisse te verstaan. Dit is die verleentheid waarmee ons in ons gesprek met ateïste sit – ’n yslike verleentheid! Maar, sê Calvyn, “hoe onsekerder ons verstand is, des te sekerder is ons geloof wat op die openbaring van God se Gees steun”. Juis só gebruik God óns verleentheid vir sy geleentheid.

Voorstedelike Afrikaanse Ateïste “Dawkins is vir die voorstedelike

18

DIE KERKBLAD

Afrikaanse ateïs wat die apostel Paulus vir die vroeë Christene van Rome was.” So sê die bekende skrywer, Dana Snyman, in ’n rubriek wat onlangs in Afrikaanse koerante verskyn het. Die Dawkins waaroor hy dit het, is natuurlik die bekende emeritus-professor van Oxford in Engeland. Hy is, onder andere, die skrywer van ’n wydgelese boek: The God Delusion (2006). Volgens die rubriek van Snyman het voorstedelike ateïste hulleself ’n rukkie gelede saamgesnoer in ’n vereniging met die ietwat rare naam: “Vereniging van Voorstedelike Afrikaanse Ateïste” (VVVA). Een van die eerste dinge wat hulle wil doen, is blykbaar om hulle “apostel” na SuidAfrika toe te nooi.

Nuwe ateïste Die ateïsme waarmee ons hier te doen het – daaroor moet ons duidelikheid hê – is nie meer die ateïsme van vroeër nie. Van dáárdie ateïsme kan, saam met die vooraanstaande natuurwetenskaplike en Christelike teoloog, Alister McGrath, gesê word: “The tides of cultural shift have left atheism beached for the time being …” Dit wil voorkom asof daar, in Europa veral, ’n onbehaaglikheid met die dorheid en ekstremisme van die vroeëre ateïsme ontstaan het (Onthou: Stalin, Mao Tse Toeng, Castro, en waarskynlik Hitler ook, was almal voorste Godloënaars!) Sommige ontleders praat van ’n soort godsdienstige “Ietsisme” (Something-ism) wat daardie soort ateïsme verdring het. Mense se onversadigbare dors na “Iets Hoërs word “geles” met ’n vae, swewende spirituele bewustheid – natuurlik nie meer in tradisionele vorme nie. Die “Godvormige” holte” (Sartre) in mense se innerlike moet mos op ’n manier gevul word! Die ”nuwe” ateïste soos Dawkins en sy Afrikaanse en ander aanhangers wil nou weer midde-in hierdie eb-tyd van die ou beweging ’n nuwe en besliste “Ja” laat hoor vir die stryd teen alles wat na God of godsdiens sweem.

’n Bietjie meer humor, asseblief! ’n Kort bydrae soos hierdie is nie die plek nie – en die kundigheid

Mei 2013


Diskussie-artikel

is uiteraard ook nie daar nie – om selfs net oppervlakkig in te gaan op Dawkins se natuurwetenskaplike beskouings. Veral sy siening van Darwinistiese evolusie verg ’n baie indringende natuurwetenskaplike ontleding om tot ’n verantwoorde beoordeling te kom! Miskien mag ek darem hier net aansluit by ’n “vertroostende gedagte” wat ’n bekende Christelike teoloog, Herman Bavinck, al in 1902 geuiter het (hierdie man wat twyfel aan sy lyf ervaar het, is onlangs nog as ’n tragiese geloofsheld bestempel). Pragtig sê hierdie man (ek onderstreep) “dat daar ook in die grofste afdwaling nog ’n element van waarheid skuil, wat dit dra en daaraan bekoring skenk.” Só laat Bavinck ruimte vir “humor” – die lag met die traan (is dit nie juis wat by ons Christene in ons houding teenoor ateïste, Moslems en ander (regtig) andersdenkendes ontbreek nie?). Daar is immers niks hier in ons gebroke wêreld wat nie deel het aan lig én duisternis, waarheid én dwaling nie. Ook óns, wat ons enigste troos in lewe en in sterwe mag bely, ken nog maar “ten dele”. Daarom moet ons nie te gou by iemand soos Dawkins verbystap nie. Ons kan nog baie leer – ook van hom!

Geloof: Kalmeermiddel of palmboom in die wind? “The God Delusion lê op die bedkassie langs my bed waar die Bybel vroeër gelê het. En ek slaap rustiger as ooit.” Dit is die ontboeseming van ’n selferkende lid van die VVAA in ’n brief aan Beeld ’n tydjie gelede. Hoe hierdie opmerking ook al presies bedoel is, dit ís regtig onthullend! Dit laat blyk dat die Bybel vir daardie korrespondent in elk geval nie soveel “rustigheid” bring as Dawkins se ateïsme nie. Om die waarheid te sê, dit lyk of Dawkins hom aan die slaap sus, sodat hy geen las meer het van al die vrae waarmee “arme” gelowiges – soos ek, en dalk jy ook? – nog worstel nie. Asof dit nie juis eie aan die geloof is om met twyfelvrae te worstel nie! Dit is die Kerkhervormer Calvyn wat ware geloofsekerheid – dit wil sê: geloofsekerheid wat net in die misterie, die lewende, maar menslik onpeilbare, beloftes van God rus vind – soos volg teken: “Dit is ’n palmboom wat teen die aanslae (van die wind) stry en weer regop kom!” Gee my persoonlik maar liewer so ’n (werklike, nie skynbare!) ónsekerheid van die geloof as watter geloof of teorie ook al wat my aan die slaap sus! In hierdie soort geloof is daar geen sprake van ’n “rustigheid” wat die diepste vrae van ’n mensehart vervlak asof daar geen wérklike probleme is nie; in die trant van: Alles is mos maar net materie, stof. Dawkins gee vir ons die antwoorde van die wetenskap. Moet jou nie weer deur die Bybel onrustig laat maak nie. Dit bring jou tog net in verleentheid voor vandag se wetenskaplikes (soos die eerste paragraaf hierbo uitgewys het). Of – aan die ander kant – die “rus” wat sekere gelowiges soek: Basta! Ons Geloofsbelydenisse het klaar lankal ál die antwoorde. Bly weg van enigiets wat jou “rotsvaste” (tradisionele) sekerhede aanveg!

Mei 2013

Daarteenoor egter is wáre geloofsekerheid “nie ’n soort sekerheid wat nie deur vertwyfeling geraak word nie”. Gelowiges is eerder “in ’n onophoudelike stryd met hulle eie wantroue gewikkel” (Calvyn: Institusie 3.2.17). Met groot reg praat McGrath daarom van ’n “Dawkins Delusion” – net soos Dawkins, op sy beurt, ’n groot deel van ons tradisionele kerklike geloof met reg as ’n “God Delusion” ontmasker. Dawkins wil mos alle vrae oor God en geloof as misleidende vrae beskou. Natúúrlik kan ’n mens dan in só ’n windstilte (met Dawkins se boek langs jou) rustiger slaap as wanneer winde van aanvegting rondom die oop Bybel jou as palmboom gedurig heen en weer skud om alle sekerhede van jou af te skud – totdat jy, gestroop van skynsekerhede, gehawend weer terug buig; en “know the place for the Þrst time”! (TS Elliot).

Onsekerheid in die nuutste wetenskap Behalwe vir die misverstand oor die “onrustigheid” wat wáre geloofsekerheid teenoor die “sekerheid” van Dawkins (en allerlei “fundamentaliste”) meebring, vergeet hierdie dwepers-met-Dawkins dat die núútste wetenskap (ná Einstein) self ook deurtrek is van onsekerhede. Dis nie verniet dat Rupert Sheldrake, ’n bekende natuurwetenskaplike, verlede jaar nog die soort benadering van die nuwe ateïste Science Delusion noem nie. Hy pleit met uitstekende redes daarvoor dat die gesindheid van onbevange ondersoek weer uit die omknelling van Dawkinshulle se outydse, verengde materialisme bevry moet word.

DIE KERKBLAD

19


Diskussie-artikel

Om nie meer te noem nie: die beroemde RoomsKatolieke vernuwingsteoloog, Hans Küng, bied, wat my betref, ’n navolgenswaardig-beskeie maar ook besliste antwoord op al hierdie uitdagings. Hy wys onweerlegbaar op die huiwering, onsekerheid, onopgeloste vrae wat na-Einsteinse wetenskaplikes soms uit die slaap hou! Neem die VVAA kennis van sulke werke – en nog baie meer? Of is hulle dalk benoud dat hierdie eerlike óópmaak van vrae hulle dalk net so sleg sal laat slaap soos die Bybel met sy onopgeloste menslike vrae dikwels doen?

As jy hom begryp, is dit nie God nie Vir ’n sinvolle gesprek met die voorstedelike Afrikaanse ateïste kan ’n mens eenvoudig één beroemde vraag van Augustinus nie ontwyk nie. Met dáárdie vraag boor jy die oppervlakkige vanselfsprekendheid oop van ’n houding soos: “Ons weet mos wie God is. Dis dan daardie tradisionele ‘God van die Weste’ wat ons nou hiermee afwys!” Met die vraag van Augustinus gaan jy egter juis vir sulke mense die huidige

“ineenstorting van burgerlike teïsme” (Welker) in al sy naaktheid ontbloot. Die vraag van Augustinus lui : Wat het ek lief as ek U, God, liefhet? Ons kan nie ingaan op die ontroerende manier waarop die kerkvader beskryf wat alles vir hom nie die lewende God is nie. Miskien moet ’n mens net een vraag hier stel: Is die god wat Dawkins as ’n misleiding (delusion) beskou, die God wat ék liefhet (en wat Augustinus al liefgehad het)? Dit beteken dat ek diep deurdronge daarvan moet wees dat Hy Jahweh, die HERE, die Léwende God is: die God van Abraham, Isak en Jakob; “nie die god van Þlosowe nie” – soos die groot denker Pascal dit in die 17de eeu uitgejubel het. Oor enige gesprek met ateïste (of selfs ook met medegelowiges) behoort die woorde van Augustinus steeds soos met neonligte te ßikker: “As jy hom begryp, is dit nie God nie (si comprehendes, non est Deus)!” Van die hoogste belang is ook dat ons belydenis van God as die Drieënige nie net – soos dit voorheen dikwels gebeur het – as ’n regsinnige, koue leerstuk as’t ware op papier erken word nie, maar dat God juis só as die Groot Misterie van liefde, die Driëenige, en alleenlik só, God is, “die God van my jubelende blydskap” (Ps. 43:4).

Vir óns is daar maar één God Afsluitend: indien my en jou God alleen maar ’n vae abstraksie is – ’n “Hoor-sê-God” soos Job sy vroëere belewing van God tipeer – dan kan Dawkins dalk bydra daartoe dat ons op ’n louterende Jobsreis vertrek! Ons Hemelse Vader kan dalk selfs Dawkins gebruik – soos Hy op ’n stadium Kores gebruik het – om jou en my te help bevry tot die belydenis: “Maar nóú het my oog U gesien” (Job 42: 5). Die wáre Paulus, die apostel van ons Heer (Kurios) en Verlosser, Jesus Christus, behoort die VVAA en ander te help om die sogenaamde gode van vandag én in die Christelike tradisie (tereg) af te wys en die ware God (opnuut?) te leer ken. In 1 Korintiërs 8: 5-6 roep hy uit: “En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat ‘God’ en baie wat ‘Here’ genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader uit Wie alles is en vir Wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur Wie alles bestaan en deur Wie ons lewe.” DK

20

DIE KERKBLAD

Mei 2013


Besinning Leona Venter (Pretoria)

Dit gons rondom mev. Dominee Hoe gebeur dit? ’N MENS VRA JOU AF hoe dit kan gebeur dat ’n huwelik wat tog seker uit liefde gesluit is, so totaal kan skeeßoop – en dat ’n predikant se vrou so beknel en beroof voel. Elke egpaar het tog wedersyds sekere aanpassings en toegewings om te maak – en dit wórd ’n “eie lewensruimte”. Die skofwerker se vrou moet by sy ongemaklike werkstye aanpas; die boervrou moet haar lewe skik volgens haar man se dag- en seisoenskedule. Dikwels het die vrou self ’n loopbaan met verantwoordelikhede en verpligtinge. Ek het nie die skripsie gelees nie, maar vind dit vreemd dat dit glo verwys na “oorlewingsmeganismes” (noodmaatreëls?) wat (militant?) help om “verskillende aspekte van hulle lewens terug te eis”, byvoorbeeld om “sekulêre werk” (versus geestelike werk?) te doen waar hulle “hulself kan wees” of hulle aan kerklike aktiwiteite te onttrek en op hulle gesinne te fokus. Die selfgesentreerdheid van die artikel is waarskynlik deel van die probleem. Waar is die dominee in die “konteks waarin sy haar bevind”? Is hy só veeleisend? Indien nie: Hoe kry hy in ’n lewe saam met so ’n gemartelde die krag en besieling om sy ampswerk uit te voer? Hoe lyk hulle huweliksverhouding? Het hulle mekaar nie voor die huwelik leer ken nie? Het hulle nie afsonderlik en saam die Here “met blydskap” (Ps. 100:2) gedien nie? Het sy onverhoeds in ’n onhoudbare situasie beland? Hoe leef hy saam met die wete dat sy huweliksmaat eers deur haar egskeiding en ses jaar se terapie kon afskeid neem van die “konstruk ‘mev. Dominee’”?

’n Vroliker noot ’n “Mev. Dominee” is nie ’n uitsonderlike spesie nie. Hoe kan sy – in terme van die artikel – eensaam voel omdat sy “nóg die dominee self is, nóg ’n gewone gemeentelid”? Self ’n “predikantsvrou”, gaan ek nie voorgee dat daar nie soms probleme en dikwels opofferings in die pastorielewe is nie. Maar ek kan eerlik sê dat daar min dinge is/ was wat nie opgelos kon word binne ’n wedersyds ondersteunende huweliksverhouding en/of onderlinge liefde en vertroue tussen gemeentelede nie – en gedurige bewustheid van waar ons hulp vandaan kom.

Mei 2013

In die By van Beeld 6 April 2013 dek die opskrif Mev. Dominee ’n mistroostige lading: die ervaring van ’n predikantsvrou wat ses jaar gelede van haar man geskei is, (toe) weer hoop gevind het en haarself as “’n oorlewende” verklaar. Sy verwys ook na ’n 2003-skripsie van Chené Swart oor “Women married to Dutch Reformed Clergymen: Narratives of pain, survival and hope” – met klem op die pynaspek. Die skripsie voer volgens Suna Verhoef (die geskeide vrou) aan dat baie vroue wat met dominees getroud is, eintlik “walking wounded” is as gevolg van ’n verlies aan eie identiteit, privaatheid, beheer van ’n eie lewensruimte en tyd. Sy het afgryse ervaar omdat die kerkkalender die res van haar lewe sou reël. Nog ’n geskeide “mev. Dominee” beweer dat sy vry voel deur ontslae te wees van ’n lewe van skynheiligheid en voorgee. (In die By van 13 April is daar diverse kommentare op die oorwegend negatiewe artikel.)

DIE KERKBLAD

21


Besinning

Werk in ons volgende (pas afgestigte) gemeente onthou ons as ’n samebindende tyd van fondsinsameling vir die bou van ’n kerk en die aankoop van ’n orrel, saamlopend met die koms van ons kinders. Ná agtien jaar is ons na ’n gemeente met ’n groot aantal studente – en vir my was dit die geleentheid om weer te studeer. Daarmee saam het ’n pos aan die universiteit nuwe uitdagings en intensiewe beplanning geverg. En altyd was daar belangstellende ondersteuning en waardering vir dinge wat vir my vanselfsprekend was – soos kennismaking met nuwe intrekkers (by hulle huise).

Besin betyds Die keuse van ’n lewensmaat is ’n lewensbepalende oorweging. Die teologie-student of dominee wat met sy hart en sy verstand ’n vrou “kies”, moet biddend saam met haar die konsekwensies oorweeg. Daar word in die bevestigingsformulier na die dominee se roeping as “heerlik” en “verantwoordelik” verwys. Sy vrou hoef net met liefde die opdragte van die huweliksformulier na te kom om die hulp te wees wat die uitvoering van sy roeping makliker maak. In die ou dae is daar dalk verwag dat sy “voorsitster van die susters” sal wees, maar deesdae is daar altyd ook ander gewillige, bekwame leiers en het die maandelikse vergaderings in baie gemeentes in elk geval verval. Kleingroepbediening versprei aktiwiteite en aktiveer meer gemeentelede.

Die meisie wat “ja” sê, moet – soos enige bruid – besin of sy vir die verbintenis opgewasse is. As dit vir haar voel na verlies van haar identiteit, afskeid van privaatheid, prysgee van ’n eie lewensruimte en toetrede tot ’n lewe van skynheiligheid en voorgee, is daar geleentheid om verby te hou. (En ja – daar is tog een besondere bate vir die “predikant se vrou”: om so ’n bietjie vooruitskouing op die preek te hê, as “die dominee” worstel met ’n teks – en sy deel kan hê in die vreugde van die deurbraak van insig en die ontwikkeling van die preek.) DK

Die dominee se vrou het as “gewone gemeentelid” dieselfde geleenthede, verantwoordelikheid en geroepenheid as al die ander. En die dominee, haar man, moet haar “liefhê en verstandig lei, onderrig, vertroos en beskerm”. Van ons eerste huweliksdae (in my geboortegemeente) af was die meelewing en belangstelling van die gemeente deel van ons lewensvreugde. Wie soek dan “privaatheid”? Ons weggaan daar het soos die verlaat van ’n ouerlike woning gevoel.

22

DIE KERKBLAD

Mei 2013


Van Oraloor Piet Roets (Harrismith)

Genade onbeskryflik groot G

edurende Streeksinode Vrystaat en KwaZulu/Natal se sitting in Bloemfontein in November 2012 is die afgevaardigdes van die Geref. Kerk Harrismith platgeslaan deur die onverwagse nuus van die kassier van die Streeksinode dat slegs 60% van die goedgekeurde sustentasie vir 2013 aan die gemeente uitbetaal gaan word. Die rede wat aangevoer is, was die dalende beskikbaarheid van geld in die Sustentasiefonds van die breë kerkverband. Daar is dringende voorleggings gedoen, vertoë gerig, kajuitraad gehou, maar die harde werklikheid het deurgedring dat die gemeente op sy knieë was. Afgevaardigdes by die Streeksinode het selfs daarvan gepraat dat die leraar, ds. Johannes de Bruyn, onmiddellik beroepbaar gestel moes word. Die afgevaardigdes van Harrismith, ds. Johannes de Bruyn en ouderlinge Piet Roets en Gert van Rooy was in daardie stadium gekonfronteer met die feit dat hierdie skokkende nuus aan lidmate, wie se leraar nog nie eens ’n jaar in die bediening was nie, oorgedra moes word.

Dit het gelyk asof daar geen uitweg was nie, en ons het hierdie onverwagse krisis aan die Here opgedra vir moontlike uitkoms en leiding en dit ’n ernstige gebedsaak gemaak. Die vraag wat by almal opgekom het, was: “Sal ons nou ná 75 jaar die kerk se deure moet sluit?” Dieselfde aand ná die gebeure het die Here reeds beheer van die situasie geneem. Ouderling Gerrie Coetzee, een van die afgevaardigdes van Bethlehem,

Br. Piet Blom besig om die eerste aankope te merk.

28

DIE KERKBLAD

het ’n kamer by ’n gastehuis in Bloemfontein met ouderling Piet Roets van Harrismith gedeel. Hulle het ernstig oor hierdie probleem gepraat, waarop Gerrie Coetzee die gedagte geopper het dat ons met ds. Tommie van Vuuren van Heilbron moes praat oor die hoogs suksesvolle speenkalfprojek wat daardie gemeente bedryf om sy fondse aan te vul en sy Þnansiële verpligtinge na te kom. Die volgende oggend voor die gesamentlike ontbyt het Harrismith se afgevaardigdes onder leiding van ds. Johannes de Bruyn met ds. Van Vuuren in gesprek getree, asook met ds. Tinus Smidt van Ficksburg. Ds. Tommie het Heilbron se konsep aan ons verduidelik en ons genooi om hulle te besoek en met die mense te praat wat hulle projek bedryf. Hy het dit beklemtoon dat dit in die eerste plek om die eer van God en ons afhanklikheid van Hom gaan, en daarom lê dit op die weg van die leraar, kerkraad en gemeente om hulle met sulke projekte vir die uitbreiding van die Koninkryk van God en die instandhouding van sy werk hier op aarde te beywer. Die projek moes gepaardgaan met ’n onderneming en verbintenis teenoor die Here dat as Hy ons die geleentheid gee om so ’n saak met sukses te bedryf,

Mei 2013


Van Oraloor

Harrismith weer op sy beurt sy sukses sal deel met ander gemeentes wat dieselfde behoeftes het. Toewyding, harde werk en opoffering van almal in die gemeente het dus die wagwoord geword. Hierdie situasie is sekerlik een van die belangrikste uitdagings wat ons nog in die gesig gestaar het, maar dit het noodwendig ’n dringende beroep op elkeen van ons gedoen om hierdie geleentheid aan te gryp en met inisiatiewe vorendag te kom. Ds. De Bruyn en brs. Piet Blom en Piet Roets het toe lede van die span wat die speenkalfprojek van Heilbron bestuur, gaan ontmoet om fyner besonderhede van so ’n projek en die bedryf daarvan te bekom. Die detail is met die kerkraad van Harrismith bespreek, en weens die dringendheid om met die projek te begin, is ’n mandaat aan ’n kommissie gegee om onmiddellik voort te gaan om ’n soortgelyke aksie in ons eie gemeente tot stand te bring. ’n Rentevrye lening is bekom en br. Piet Blom het 25 speenkalwers aan ons verkoop, wat goedgunstiglik op sy plaas wei totdat hulle ’n bemarkbare gewig bereik het. Wanneer hierdie kalwers bemark is, is die plan om ’n volgende troppie kalwers aan te koop. Op aanbeveling van ds. Tommie van Vuuren is ’n buitengewone vergadering van Klassis Oos-Vrystaat aan die begin van Desember 2012 byeengeroep, waar eenparig besluit is om uit die Hulpfonds van die klassisfondse aan Harrismith beskikbaar te stel om die projek uit te brei. Daar is onmiddellik begin met die

Mei 2013

aankoop van spekulasie- en slagvee onder leiding van ds. Johannes de Bruyn en brs. Piet Roets en Gert van Rooy wat die kuns van onderhandeling, die aanjaag van vee en die merk daarvan vinnig bemeester het. Ook in hierdie geval het die Here ons gehelp om op die eerste dag wat ons die berge in is, reeds 26 stuks vee te kon koop. Namate ons gevorder het, het ons “agent”, wat terloops ook ’n evangelis van ’n ander kerkgenootskap is, ons gehelp om nog meer diere te koop, totdat ons saam met die speenkalwers by br. Piet Blom in ’n stadium 71 beeste in minder as ’n maand bekom het, met die res wat by br. Piet Roets wei. Hiervan is ’n totaal van 30 reeds bemark en rente gedelg, terwyl ander verpligtinge ook nagekom word. Intussen is nog ’n troppie van 25 speenkalwers gekoop. Daar word steeds voortgegaan met aankope, byvoorbeeld speenkalwers, koeie met kalwers, osse en selfs ’n bul is op ’n Vrydag gekoop en die daaropvolgende Maandag teen meer as R2 000 wins laat slag. Samelopend met die kalwerprojek is feitlik terselfdertyd met ’n slagprojek begin, waar volwasse beeste wat gekoop of geskenk word, geslag en verwerk en snitte, maalvleis, en “Dopperwors” volgens sr. Bets Blom se resep te koop aangebied word. Tot twee beeste is al in een week geslag en die verwerkte vleis en wors word deur die gemeenskap opgeraap. Die poging word ook met die hulp van die gemeentes van die NG Kerk op Harrismith bemark en uitsonderlike steun word uit hierdie oord ervaar. Die wonderlike deel hiervan is dat skenkings van beeste nie net van lidmate van die Geref. Kerk Harrismith ontvang word nie, maar dat boere in die gemeenskap al beeste of kontant ter ondersteuning van die beesprojek geskenk het. Die kerkraad en gemeente van die Geref. Kerk Harrismith is van die begin af ten volle oor die projek ingelig. Dit is onder meer merkwaardig dat sommige lidmate help met die verkryging van veemedisyne en spuitstowwe, terwyl ander weer lekke koop en help om die slagdiere na die slagplaas te vervoer. Voorwaar ’n spanpoging. En omdat ons gelowiges is en daagliks sien en ervaar hoe goed die Here vir ons sorg, verg hierdie uitdaging dat ons ons vertroue volkome in ons Skepper sal stel, met die uitdruklike onderneming dat die fondse wat ons deur middel van ons inisiatiewe genereer, vir die uitbreiding van God se Koninkryk aangewend sal word. Die projek is ’n alternatiewe bron om fondse te genereer vir ons gemeente. Derhalwe is die Platberg Bedieningstrust as ’n afsonderlike entiteit tot stand gebring om te help om ons gemeente van fondse te voorsien om tekorte aan te vul. Gedurende die Vrystaatse Streeksinode in Bloemfontein is ons gekonfronteer met die werklikheid dat die sustentasie van ons gemeente soos vir ander gemeentes, besnoei is en dat net 60% van die goedgekeurde begroting uitbetaal gaan word. Uit die aard van die saak is ons genoodsaak om alternatiewe bronne van inkomste te vind. Aansoek is reeds gedoen dat die Fonds verander word na die

DIE KERKBLAD

29


Van Oraloor

Platberg Bedieningstrust, wat BTW-geregistreer sal wees, sodat BTW op vee wat op veilings aangekoop word, teruggeëis kan word. Hoe kan lidmate en mense in die gemeenskap ons help om hierdie projek uit te brei? U het almal vriende in die boerderybedryf, en niks verhoed u om hierdie mense te nader om weiveld beskikbaar te stel vir tien of meer kalwers of beeste nie. U kan help of bydra om byvoorbeeld veemiddels en -lekke vir hierdie diere te bekom, al is dit net by wyse van ’n verlaagde prys. U kan die projek aan u vriende bekend stel en bydraes kan selfs gemaak word vir die aankoop van nog vee. Daar is ook niks wat u verhoed om u vriende/ familie in die boeregemeenskap te nader vir die moontlike skenking van beeste nie. Ons sal graag nuwe voorstelle en inisiatiewe verwelkom, en indien u oor enige bykomende idees beskik, laat ons daarvan hoor. Die belangrikste is egter dat ons hierdie planne ons eie maak en dat elke

30

DIE KERKBLAD

lidmaat en jongmens al ons pogings hulle eie sal maak en voluit sal deelneem. Elkeen van ons het besondere gawes ontvang, wat ons ten volle aan die opbou van ons gemeente en bo alles vir die uitbreiding van God se Koninkryk moet wy. Daarom het die Geref. Kerk Harrismith ’n wilsbesluit geneem om hand aan die ploeg te slaan in ’n ernstige poging om ’n verskil te maak. Ons vertrou dat die hele kerkverband vir ons voorbidding sal doen, sodat die vrug van ons arbeid op vrugbare aarde sal val en kragtig sal groei. Indien enigiemand geldelik of op ’n ander wyse wil bydra tot hierdie projek, kan u gerus met ds. Johannes de Bruyn (sel 084 554 9973) skakel of met br. Gert van Rooy (sel 076 364 7679). Deur die groot genade van ons hemelse Vader vier die Geref. Kerk Harrismith vanjaar sy 75ste bestaansjaar. Die feesnaweek vind DV 19 en 20 Oktober 2013 plaas en alle oudlidmate, -betrokkenes en belangstellendes wat die geleentheid wil bywoon, kan gerus met ds. De Bruyn of oudl. Van Rooy skakel. DK

Mei 2013


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.