Die kerkblad sept 14 lusmaker

Page 1


Webwerf: h p://www.gksa.org.za/

20 Vrou in die amp ... meer as 2 net 'n twisappel 22 Die NWU Potchefstroom– 2 kampus en die pad vorentoe SKRIFSTUDIE S 24 Kosmiese katastrofe op die 2 laaste dag

JAARGANG 117, NO. 3283 SEPTEMBER 2014

1 VAN DIE REDAKTEUR Die kerk bly onder die vergrootglas 3 UIT DIE WOORD Wapens van die lig teenoor werke van die duisternis

ANDER A 27 KRUISPAD – die 2 gereformeerde jongmenstydskrif Predikant verwerf doktorsgraad by Universiteit van Pretoria 28 Die Geref. Kerk Koster – 'n eeu van genade 40 “Hoe gesê?” BOEKBESPREKING 30 Nuwe Testament en Psalms – 'n direkte vertaling 33 BRIEWE VAN ONS LESERS

5 REDAKSIONEEL Is twyfel deel van geloof? 7 BRANDPUNT Gesonde geloof in 'n tyd van terreur DISKUSSIE 9 Die vakbondwese in SuidAfrika 12 Vrug van die Gees (2) 14 Die kerk as die liggaam van Christus (2) 16 Gereformeerde spiritualiteit (2) 18 Die Christelike geloof onder die soeklig (1)

34 Lief en Leed Op die Kerkwerf 35 Personalia 36 Kleinadvertensies

Redaksie, Bemarking en Administrasie Posbus 20008, Noordbrug 2522 Tel. (018) 297-3986/7/8/9 Faks: (018) 293-1042 E-pos:kerkblad@gksa.co.za (ar kels, briewe ens.) tydskri e@gksa.co.za (Intekening, rekeningnavrae) bestellings@gksa.co.za (boekbestellings ens.) Redaksie Prof. CFC Coetzee (redakteur) Mev. J Fourie Prof. DF Muller Dr. JA Kruger Dr. J Lion-Cachet Dr. RM van der Merwe Uitleg en tegniese versorging Joey Fourie Advertensies en kleinadvertensies Tariewe op aanvraag beskikbaar by dr. Wymie du Plessis: tel. (018) 297-3989. E-pos: wymiedup@gksa.co.za Intekengeld 11 Uitgawes per jaar (posgeld en BTW ingesluit): R284.00 11 Uitgawes per jaar (haal by Admin Buro af): R195.00 11 Uitgawes per jaar (groepsintekening): R266.00 11 Uitgawes per jaar (Ontvang elektronies): R195.00 Intekengeld word jaarliks aangepas. Intekening moet skri elik of telefonies deur die intekenaar gekanselleer word. Maak tjeks uit aan: Die Administra ewe Buro Eienaars en uitgewers Deputate Kerklike Tydskri e van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Posbus 20008, Noordbrug 2522. Drukkers V & R Drukkery, tel. (012) 333 2462 Menings uitgespreek in ar kels verteen-woordig nie noodwendig dié van die Redaksiekommissie nie. Tensy anders vermeld, word die hoofar kels deur die redakteur geskryf. Die Redaksie behou hom die reg van plasing van bydraes, asook die redigering, verkorting en/of ver werking van bydraes voor.


Redaksioneel

Is TWYFEL deel van GELOOF? D

ie direkte aanleiding tot die skryf van hierdie artikel is ’n artikel geskryf deur Wilhelm Jordaan in Beeld van 18 Julie 2014: “Geloof ís twyfel en pyn.” In twee aparte artikels (sien die eerste elders in hierdie uitgawe) reageer prof. Amie van wyk veral op Jordaan se siening oor Jesus. In hierdie artikel gaan dit spesifiek oor die standpunt dat geloof twyfel is. Jordaan is nie die eerste om oor hierdie onderwerp te skryf nie. Inteendeel, in 2011 het prof. Julian Müller ’n boek geskryf met die titel: “Om te mag twyfel?”, waarin hy die gedagte van geloofsekerheid verwerp. Reeds in 2005 het ’n boek van Anton van Niekerk verskyn: “Geloof sonder sekerhede”, waarin hy homself ’n “onseker gelowige” noem. As ons die reaksie op Jordaan se artikel in die koerant lees, asook ander briewe en artikels, moet ons die stelling maak dat twyfel al hoe meer toeneem, juis ook by mense wat hulleself gelowiges noem. In Beeld van 5 Augustus pleit prof. Christina Landman van Unisa daarvoor dat die kerk ’n ruimte moet wees “om in te twyfel”. Die vraag is of twyfel deel van geloof is. Om hierdie vraag te kan beantwoord, moet ons nie in die eerste plek kyk na die verskynsel van “geloofstwyfel” wat ons al hoe meer waarneem nie. Ons moet vra wat die Bybel self sê. Dan lees ons inderdaad in die Bybel van twyfel. Prof. Landman verwys ook in haar artikel na Psalm 73:2 waar Asaf sê dat hy begin twyfel het aan God se goedheid toe hy die voorspoed van die goddelose sien. Prof. Landman lees egter nie die hele Psalm nie (soos ons die Bybel in sy konteks moet lees). Dan lees ons juis in Psalm 73:23 en verder van die “nogtans” (1953vertaling) van die geloof, en die psalm eindig op ’n klimaks van geloofsekerheid. ’n Ander voorbeeld van twyfel vind ons in Matteus 14:30, 31 waar Petrus op die water na Jesus toe loop. Toe hy egter van Jesus af wegkyk, na die golwe en die wind, begin hy sink. Dan gryp Jesus hom en sê vir hom: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” In die Bybel word geloof juis konsekwent teenoor twyfel gestel. In Matteus 11:6 sê Christus: “Gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.” En in Matteus 21:21 sê Hy: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het.” In Romeine 4:20 lees ons van Abraham wat nie “in ongeloof begin twyfel” het nie, en in Jakobus 1:6, 7 lees ons dat ons gelowig moet bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel is soos ’n brander in die see wat deur die wind heen en weer gedryf word, onbestendig in al sy doen en late. Ons sou nog meer voorbeelde kon noem. Teenoor die twyfel beklemtoon die Bybel dan telkens die sekerheid van die geloof. So lees ons in Hebreërs 11:1 – “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig

September 2014 ~ DIE KERKBLAD

te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Die geloof is ’n gawe van God (Ef. 2:8) wat die Heilige Gees deur die evangelie in ons harte werk (Rom. 10:17). Ons ken ook die bekende oorwinningslied van die geloof in Romeine 8:38, 39 dat ons “oortuig”/”verseker” is dat niks, selfs nie die dood, ons van God se liefde in Christus kan skei nie. Dit is op grond van sommige van bogenoemde tekste dat ons dan in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ’n ware geloof “nie alleen ’n vasstaande kennis” is “waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God … ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het”. Niemand kan dit van harte bely en terselfdertyd twyfel nie. Twyfel beteken juis om NIE alles wat God

5


Redaksioneel

in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar te aanvaar nie. Ons sien dit baie duidelik by Jordaan en andere se standpunte. Jordaan behandel in sy artikel drie temas om sy “andersoortige geloofsposisie” te illustreer, naamlik die gesag van die Bybel, sy beskouing oor God en oor Christus die mens (vgl. die artikels van prof. Amie van Wyk).

jou Skrifbeskouing is, is die volgende logiese stap dat jy die inhoud van die Bybel begin bevraagteken. So aanvaar Jordaan nie wat God oor Homself sê nie. Die begrippe “Skepper”, “Vader”, “Lig”, “Fontein”, “Pottebakker” ensovoorts, is vir hom slegs beelde waardeur die mens die “Iets” (God) nader bring en persoonlik maak.

Die Bybel is vir hom nie die onfeilbare Woord van God nie, maar “menslike belewenisse en voorstellings oor hoe God is”. Die Bybel vra volgens Jordaan “vir kritiese herinterpretasie om aan te sluit by hedendaagse behoeftes aan singewing by mense met ’n postmoderne wêreldbeeld en wat bekoor word deur wat die wetenskappe ontdek en blootlê”. As dit

Jordaan sê self dat sy nuwe geloofsposisie van twyfel pynlik is en met trane in donker nagte gepaardgaan. Vir sy eerlike worsteling moet ons begrip en simpatie hê, maar ons moet ook sê hy (en twyfelaars soos hy) kan alleen rus en sekerheid vind as hulle God op sy Woord neem. God moet meer word, en die mens minder. CFCC

6

DIE KERKBLAD ~ September 2014


Diskussie Prof. JH (Amie) van Wyk (emeritus) (Pretoria)

Die Christelike geloof onder die soeklig (1) I

n Beeld van 18 Julie 2014 verskyn daar ’n opspraakwekkende artikel van Wilhelm Jordaan oor “Geloof is twyfel en pyn”. Die artikel getuig van diep nadenke oor en uiteindelik ’n hartseer afskeid van die klassieke verstaan van die Christelike geloof. Jordaan is ’n gereelde rubriekskrywer in Beeld en talle van sy artikels getuig van goeie insig en vaardige taalgebruik. Af en toe skryf hy ook oor geloofsake waarin hy tot verdere nadenke prikkel. Die groot vraag is vanuit watter vertrekpunte hy skryf, want geen mens dink en skryf sonder bepaalde vertrekpunte nie. Dit is baie belangrik dat veral predikante deeglik sal kennis neem van die groot debatte wat tans in Suid-Afrika aan die gang is. Belangrik, omdat hulle die gelowiges met Bybels-verantwoorde nadenke en standpunte moet toerus. Daar is byvoorbeeld tans ’n groot debat oor ateïsme waarvan die boek getitel God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (2012) getuig. Die boek is onder redaksie van Frits Gaum en George Claassen uitgegee. Eersgenoemde het ’n aantal Christelike teoloë genader en laasgenoemde ’n aantal ateïste en nie-Christene om oor die genoemde tema te skryf. Die ateïste wat bydraes gelewer het, is die volgende: Jurie van den Heever (Stellenbosch), Dave Pepler (Stellenbosch), Antjie Krog, Alex Valentine (Stellenbosch), Piet Croucamp (Johannesburg)(baie radikaal ateïsties), Lizette Rabie (Stellenbosch), Willemien Brümmer (Stellenbosch), Breyten Breytenbach, Abel Pienaar, Hans Pietersen, Pienkes du Plessis (baie radikaal ateïsties), Christi van der Westhuizen (oorspronklik ’n “Dopper”). Meeste van hierdie name is bekende persone wat dikwels in die openbaar optree en bydraes lewer. Dit val op dat Wilhelm Jordaan nie deel van hierdie groep uitmaak nie. Hy wil nog graag, soos hy self sê, “onverwoesbaar deel van my kerk en my gemeente wees”. Op die vraag of dit moontlik is, sal ons in ’n opvolgartikel ingaan. ’n Tweede debat wat tans in Suid-Afrika gevoer word, is geïnisieer deur ’n beweging wat as die Nuwe Hervorming bekend staan. In 2002 het daar ’n boek onder redaksie van Piet Müller verskyn met die titel Die Nuwe Hervorming. Die volgende persone het hierin bydraes gelewer: Piet Müller, Wilhelm Jordaan, Hansie Wolmarans, Pieter Craffert, Sakkie Spangenberg, Maretha Jacobs, Jacques en Carol Kriel en Pieter Botha. Die hoofstuk wat Jordaan in hierdie boek gelewer het en wat oor ’n eksperiment met alternatiewe vorme van spiritualiteit handel, sou gemaklik ook in ’n “gewone” boek kon verskyn het, omdat dit nie duidelik die kenmerke van die

18

Nuwe Hervorming vertoon nie. In sy bogenoemde Beeld-artikel kom egter meer van die “standpunte” van die Nuwe Hervorming na vore – alhoewel dit nie volkome duidelik is of hy ál die “standpunte” van die Nuwe Hervorming aanvaar nie. Die vraag is nou: Wat glo die Nuwe Hervormers? Het hulle ’n bepaalde belydenis? Vanuit watter voorveronderstellings en vertrekpunte redeneer hulle? Uiteindelik bepaal ’n mens se vertrekpunt (waar jy begin) tog jou middelpunt (waar jy staan) en jou eindpunt (waar jy uitkom). Die Nuwe Hervormers aanvaar nie so iets soos ’n belydenisskrif of dogma nie, maar wel – wat hulle noem – ’n stel Waardes wat soos volg lui: x Ons aanvaar dat wanneer ons oor die goddelike praat, ons na die onbegryplike misterie van die lewe verwys wat ons onder andere in Jesus van Nasaret leer ken. x Ons koester die beste van ons erfgoed in onder andere die Bybel, ons Christelike en ander spirituele tradisies. Dieselfde geld vir ons nalatenskap op die gebied van musiek, kuns, letterkunde en wetenskap. x Ons maak nie aanspraak op ewige waarhede nie, maar neem die huidige wêreldbeeld ernstig op. x Ons waardeer die uniekheid, eiewaarde, gelykheid en potensiaal van elke individu. Ons erken die inherente vermoë van individue

DIE KERKBLAD ~ September 2014


Diskussie

x

x

x x x

om te groei en om groter hoogtes te bereik deur met mekaar saam te werk. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir onsself, en teenoor ons medemens en ons natuurlike omgewing. Ons streef daarna om met morele integriteit op te tree. Ons streef daarna om medemenslik en verdraagsaam teenoor alle mense op te tree, ongeag geslag, seksuele oriëntasie, geloofsoriëntasie, fisieke vermoë, en groepsverband. Ons bevorder kreatiewe en innoverende denke. Ons beskou diversiteit en godsdienstige pluralisme as positiewe verskynsels. Ons verbind ons tot ’n etos van samewerking.

Uit hierdie gegewens kan onder andere die volgende a eidings gemaak word: (1) Daar word vaagweg oor “die goddelike” as onbegryplike misterie gepraat. Dis duidelik dat afskeid geneem word van die klassieke Christelike belydenis dat God ’n persoon is met wie jy in ’n persoonlike verhouding kan staan. Die belydenis van ’n Drieenige God is ondenkbaar. (Dit val op dat Jordaan in sy Beeld-artikel wel nog van “God” praat – as ontvouende misterie.) (2) Daar word wel na Jesus van Nasaret verwys, maar hy is slegs ’n guur “onder andere”. Daar is dus ook talle ander belangrike menslike persone wat besondere aandag verdien. Jesus is nie die Verlosser van sondes en oorwinnaar oor die dood nie. Sy kruisdood het nie bevrydende betekenis en sy opstanding het nie werklik plaasgevind nie. “Opstanding” beteken dat Jesus se boodskap van Godsvertroue en medemenslikheid in die harte van mense moet opstaan. Hy is nie Heiland en Here nie. Jesus is bloot ’n voorbeeldige mens.

September 2014 ~ DIE KERKBLAD

(3) Die Bybel en die Christelike trasisie het nog betekenis, maar “onder andere”. Die Bybel het nie normatiewe en gesaghebbende betekenis nie en die Christelike belydenis is bloot mensewerk wat rustig gekritiseer kan word. Gewoonlik word gesê dat die Bybel bloot menslike gedagtes oor God bevat wat stam uit ’n periode lank gelede met ’n primitiewe wêreldbeeld. (4) Daar bestaan nie so iets soos “ewige waarhede” nie, want alle menslike kennis is voorlopig en beperk. Daar bestaan nie ’n waarheid soos “God is Skepper”, “Jesus is Verlosser” en “die Heilige Gees is Vernuwer” nie. Die vraag wat hieruit voortvloei is of hierdie benadering nie in teenspraak met homself is nie: Word bogenoemde “waardes” nie as bepaalde “waarhede” aangedien nie? Die stelling “daar bestaan geen waarheid nie” word tog as waarheidsuitspraak aangedien! (5) Dit val op dat daar in die “waardes” nêrens na die persoon en werk van die Heilige Gees verwys word nie. Dieselfde benadering wat hierbo aangedui is, word ook aangetref in die jongste boek van Abel Pienaar (voormalige NG-predikant) met die titel God se oë is blou. ’n Kop-en-hart-reis (2014). Ook hy wil nog “bewustelik vanuit die Christelike tradisie (in sy breedste sin) werk” (bl. 375), al beteken dit vir hom ’n afskeid van die klassieke Christelike geloof (bl. 192). Talle van hierdie gedagtes resoneer ook in die boek Hier staan ek … maar ek kan nie sê wie ek is nie (2011) onder redaksie van Diek van Wyk, Coenie Nolte en Leon Atterbury. Volgende keer wil ons graag dieper ingaan op die standpunte van Wilhelm Jordaan soos in sy Beeld-artikel voorgedra. DK

19


Diskussie Prof. Herman van Schalkwyk (rektor, NWU Potchefstroomkampus)

Die NWU Potchefstroomkampus en die pad vorentoe In die lig van die besondere band tussen die Gereformeerde Kerke en die NWU-Puk, en na al die nega ewe en soms verdraaide publisiteit wat die NWU die afgelope tyd ontvang het, het die redaksie prof. Herman van Schalkwyk gevra om hierdie ar kel te skryf. Ons is oortuig dat die NWU-Puk steeds die universiteit is waarheen ons Gereformeerde ouers hulle kinders met vrymoedigheid en vertroue kan stuur. Ons bedank prof. Herman vir sy besondere leiding en bid hom en sy span krag en wysheid van ons hemelse Vader toe in hulle moeilike en verantwoordelike roeping.

“I

ndien iemand verlede jaar hierdie tyd vir my gesê het dat ons in 2014 sulke hoë vure sal probeer doodslaan, sou ek dit nie geglo het nie. Tot dusver was 2014 ’n vasklou-rit op ’n taai Arabier hingsperd wat nie ingebreek wil wees nie. Ons het skoppe gekry, afgeval, stof geëet, en daar is op ons getrap. Een ding is seker – die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit sal bly opklim!” Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus en adjunkhoof van die Noordwes-Universiteit, skryf oor die onstuimige waters waardeur die kampus vanjaar gegaan het en oor die pad vorentoe ... Waar alles begin het Op 21 Januarie vanjaar het die bestuurskomitee van die kampus inligting ontvang van ontgroeningspraktyke wat het by drie koshuise op die kampus kop uitgesteek. Nadat ons agter die kap van die byl gekom het van wat gebeur het, is verskeie huiskomiteelede van die koshuise geskors, hangende ’n formele ondersoek. Ons het ’n sterk waarskuwing aan alle studente gekommunikeer dat ontgroeningspraktyke en menseregteskendings nie op hierdie kampus geduld sal word nie, en dat daar sterk opgetree sal word teen diegene wat hulleself hieraan skuldig maak. Die uiteinde was dat verskeie individue skuld erken het op praktyke wat teen die beleid van die universiteit is. Sommige van hulle is in die koshuise teruggelaat. Die NWU-Potchefstroomkampus is baie ryk aan tradisies. Mooi tradisies, wat ek seker is nog vir jare en jare sal voortleef. Dit is egter ook so dat daar soms ’n ondeurdagte insident homself afspeel, en gewoonlik kom dit die skuldiges duur te staan, soos ons reeds bewys het. Die Universiteit het ’n opvoedingstaak. Nie net akademies van aard nie, maar ons poog ook om ons studente met die spreekwoordelike graad van die lewe toe te rus. Volgende jaar se ontvangsen bekendstellingsprogram van die eerstejaarstudente sal ietwat anders as die tradisionele lyk, juis omdat hierdie tydperk deur baie bestempel word as die tyd waar bogenoemde praktyke kop uitsteek. Dit, ten spyte daarvan dat alle senior studente verplig is om inligtingsessies wat met menseregte verband hou, by te woon. Dit is ’n feit dat ons met meer as 20 000 studente op kampus werk. Dit is

22

’n reuse taak! Mens moet onthou dat studente jonk is en dikwels spontaan in sosiale samesyn oorgaan. Dit op sigself hou bepaalde risiko’s in. Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is pro-studentelewe en wil hê dat elke alumnus eendag moet terugdink en kan sê dat hulle studentedae die beste tyd van hulle lewens was. Die media Die kampus het nog altyd ’n beleid van deursigtigheid gehandhaaf. Toe ons die eerste klippie in die skoen begin voel, het ons besluit om ’n persverklaring aan die media uit te reik, sodat hulle presies weet wat gebeur het en hoe ons dit hanteer. Dit het begin waar sommige media ons gebrandmerk het dat ons ’n Nazikultuur ondersteun. Terselfdertyd was ons gestenig omdat ons ontgroeningspraktyke, wat studente se menswaardigheid aangetas het, aangespreek het. Vir die feit dat die ondersoek na ontgroeningspraktyke enkele weke geduur het, het sommige media hulle eie agendas op voorblaaie begin dryf. Dit is toé dat die damwal breek. Die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus is as Nazi’s, rassiste, fasciste gebrandmerk, ons beskik oor die onvermoë om te verander en is teen transformasie. Dag

DIE KERKBLAD ~ September 2014


Diskussie

na dag het ons voorblaaie gehaal – vir die verkeerde redes. Ons het nagte omgesit en beplanning gedoen. Verklarings uitgereik, onderhoude toegestaan, maar dit is ’n feit dat die media-pen vlymskerp is. Die situasie het op die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr. Blade Nzimande, se tafel beland en het tot ’n onafhanklike ondersoek uitgekring waarvan prominente individue deur die Raad van die NWU aangestel is. Die ondersoek het baie kritiek en kommentaar ontlok. Na a oop van die ondersoek is ’n verslag van bevindinge saamgestel waar besluit is dat dit nie in die openbaar bekendgemaak mag word nie. Die Raad het wel bevestig dat een ding seker is – daar heers GÉÉN vorm van ’n Nazi-kultuur of facisme op die kampus nie. Die verslag is ook aan die minister beskikbaar gemaak. Die Gereformeerde Kerke en die NWU-Potchefstroomkampus As mens in die geskiedenis gaan terugkyk, is dit baie duidelik dat dié kampus sy ontstaan aan die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika te danke het. Op 11 Februarie 1859 word die Gereformeerde Kerke in Rustenburg gestig. Die besluitnemers het dié besluit onder ’n seringboom geneem, waarvan daar steeds ’n granietreplika van dié boomstomp as nasionale gedenkwaardigheid bestaan. Op 20 Mei 1869 vergader die sinode in Potchefstroom en word besluit om ’n Teologiese Skool in Burgersdorp te begin. Die doelwit was nie net om predikante op te lei nie, maar ook onderwysers. Daar is destyds sowat 411 pond ingesamel om die skool op dreef te kry. Die Teologiese Skool open sy deure op 29 November 1869 met twee dosente en vyf studente. Later is besluit dat die

September 2014 ~ DIE KERKBLAD

skool na Potchefstroom moet verskuif. Dié open sy deure op 13 Februarie 1905 met twee geboue, 18 studente en twee losieshuise. Op 23 Julie 1919 word die PUK gebore. Die Potchefstroomse Universiteitskollege voor Kristelike Hoger Onderwijs kom tot stand met die skeiding van die Teologiese Skool en die Literariese Departement. Dié stap is gedoen om vir broodnodige staatsubsidie in aanmerking te kom. Dit is eers in 1951 wat die PU vir CHO as ’n selfstandige universiteit tot stand gekom het. In 2003, onder leiding van dr. Theuns Eloff, word die samesmelting van die PU vir CHO, die Universiteit van Noordwes, die Vista-Sebokengkampus en die Vaaldriehoekkampus tot die Noordwes-Universiteit met sy drie kampusse bekragtig. Sedertdien funksioneer die Teologiese Skool van die GKSA steeds onder die NWU-vaandel. Statistiek Die NWU-Potchefstroomkampus het tans agt fakulteite, 20 kampuskoshuise, ses dorpskoshuise, 20 771 kontakstudente en 31 173 afstandstudente. Ons studente het tans 84 aktiewe gemeenskapprojekte wat hulle vir die liefde van die saak doen. Oor die afgelope vyf jaar is R6.8 miljoen deur studente ingesamel en aan gemeenskapsprojekte en individue in en om Potchefstroom uitbetaal. Ek is vreeslik trots op die NWU-Potchefstroomkampus se nuutste navorsingsuitsette. Rou data wat pas bekendgemaak is, wys dat 2013 se uitsette op 1581.90 staan, teenoor 2010 se 1034.13. Navorsingsuitsette bestaan uit wetenskaplike artikels wat gepubliseer is, doktors- en navorsingsmeestergrade wat afgelewer is, konferensieverrigtinge en boeke gepubliseer. Dit is die beste wat die Potchefstroomkampus nog gevaar het: ’n astronomiese verhoging wat die syfer op 1.90 uitsette per akademiese personeellid bring. Ons plan om ’n navorsingsgerigte kampus te word, is vinnig besig om vrugte af te werp. Die pad vorentoe Ek kan met vertroue sê dat dit ten spyte van alles met die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus goed gaan. Soos ek reeds genoem het, is ons kampus se missie om ’n navorsingsgerigte kampus te word en syfers wys dat ons uks op pad na die wenpaal is. Ons investeer baie in nuwe toerusting, apparate, infrastruktuur en die opleiding van personeel. Ons ondersoek voordurend nuwe kursusgeleenthede en implementeer dié wat volhoubaar is. Ons resep werk – veral wanneer ons sien dat studente by vier ander universiteite verby ry om by die NWU-Potchefstroomkampus te kan studeer. Die terugvoer van werkgewers is dat ons studente goed afgerond en gebalanseerd is. Meer as 80% van hulle kry binne die eerste drie maande na hulle studies werk, en hulle is volgens werkgewers goed vir die werksplek voorbereid. Ons probeer gereeld met oudstudente in kontak kom deur middel van saamtrekke en reünies reg oor Suid-Afrika en selfs in Namibië en Londen. Ons kry baie positiewe terugvoer van studente, oudstudente, personeel en ouers oor hoe die kampus bestuur word. Ek nooi u uit om ons te steun in dit wat behoort. Aan dit wat eie is aan ’n unieke kampus en sy gemeenskap. Oor kwaliteitopvoeding. Gesels ook met ons oor dit wat moet verander ... Ek weet dat studente lief is vir hierdie plek, want hulle neem eienaarskap deur te sê “Eenmaal ’n NWU-Puk, altyd ’n NWU-Puk”. Tree gerus met my in gesprek by herman.vanschalkwyk@nwu.ac.za DK

23


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.