Kerkblad jun 14 lusmaker

Page 1


Webwerf: h p://www.gksa.org.za/

KOMMENTAAR OP KERKLIKE GEBEURE 23 Twee pouse heilig verklaar DISKUSSIE 24 'n Missionêre of missionale kerk? 26 Waarheen is ons land op pad? 28 Die Heilige Gees ... wat lewe uit die niks gebied! 30 Reeds vertrek ...

JAARGANG 117 117, NO NO. 3280 JUNIE 2014

1 VAN DIE REDAKTEUR Buite die kerk is daar geen saligheid nie 3 UIT DIE WOORD Gebedskrag in gebedswakheid 5 REDAKSIONEEL “Een, heilige, algemene en apostoliese kerk” 7 BRANDPUNT Universiteite en die doel van alles FOKUSARTIKELS 10 Die ekumenisiteit van die kerk, soos deur die GKSA beoefen 13 Die regering van die kerk van Christus 15 “Eenheid, mildheid, liefde” – die onderskeid tussen wesenlike en middelmatige sake in ons kerklike lewe 18 Die kerk vandag 20 Koninkryk, kerk en teologie in 'n stukkende wêreld

SKRIFSTUDIE 32 Die derde seël – die ruiter op die swart perd ANDER 34 Nuwe boek op die rype ouderdom van 90 jaar 35 “Saaiers van die Woord”-fonds groei mooi 36 BRIEWE VAN ONS LESERS 38 Lief en Leed Op die Kerkwerf 39 Personalia Wel en wee 40 Kleinadvertensies

Redaksie, Bemarking en Administrasie Posbus 20008, Noordbrug 2522 Tel. (018) 297-3986/7/8/9 Faks: (018) 293-1042 E-pos:kerkblad@gksa.co.za (ar kels, briewe ens.) tydskri e@gksa.co.za (Intekening, rekeningnavrae) bestellings@gksa.co.za (boekbestellings ens.) Redaksie Prof. CFC Coetzee (redakteur) Mev. J Fourie Prof. DF Muller Dr. JA Kruger Dr. J Lion-Cachet Dr. RM van der Merwe Uitleg en tegniese versorging Joey Fourie Advertensies en kleinadvertensies Tariewe op aanvraag beskikbaar by dr. Wymie du Plessis: tel. (018) 297-3989. E-pos: wymiedup@gksa.co.za Intekengeld 11 Uitgawes per jaar (posgeld en BTW ingesluit): R231.00 11 Uitgawes per jaar (haal by Admin Buro af): R149.00 11 Uitgawes per jaar (groepsintekening): R212.00 11 Uitgawes per jaar (Ontvang elektronies): R149.00 Intekengeld word jaarliks aangepas. Intekening moet skri elik of telefonies deur die intekenaar gekanselleer word. Maak tjeks uit aan: Die Administra ewe Buro Eienaars en uitgewers Deputate Kerklike Tydskri e van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Posbus 20008, Noordbrug 2522. Drukkers V & R Drukkery, tel. (012) 333 2462 Menings uitgespreek in ar kels verteen-woordig nie noodwendig dié van die Redaksiekommissie nie. Tensy anders vermeld, word die hoofar kels deur die redakteur geskryf. Die Redaksie behou hom die reg van plasing van bydraes, asook die redigering, verkorting en/of ver werking van bydraes voor.


Van die redakteur

Buite die kerk is daar geen saligheid nie O

ns plaas in hierdie uitgawe verdere bydraes oor die tema: Die Kerk. Die opskrif van hierdie redaksionele artikel wil in ’n enkele sin probeer sê waarom dit so noodsaaklik is om oor hierdie tema te besin. Die kerk het in ons tyd vir al hoe meer mense irrelevant geword, sonder enige werklike invloed of betekenis. Dit is ’n klein minderheid wat nog gereeld “kerk toe gaan”. Elkeen van ons ken mense (bure, vriende, selfs familie) wat glad nie of skaars enige band met die kerk het (vgl. ook die artikel van dr. Henk Askes in hierdie uitgawe). Dit geld al hoe meer ook van die jongmense. In ’n onlangse koerantberig (27 April) met die opskrif: “Jonges glo, dog minder kerk toe”, word onder andere die volgende gestel: “Volgens ’n peiling wat ... Pondering Panda vir sy 2014-jeugverslag onder duisende 13- tot 18-jariges in Suid-Afrika gedoen het, glo 87% in die bestaan bestaan van ’n god of hoër gesag.” (Dit is natuurlik glad nie dieselfde om in die “bestaan van ’n god of hoër gesag” te glo en om die ware geloof in Jesus Christus as jou Verlosser te hê nie. Alle mense glo in iemand of iets en dit word deur hierdie berig bevestig, maar nie alle mense het die ware saligmakende geloof nie.) In elk geval, van die jongmense wat in die peiling betrek is, is 86% Christene. In hierdie verband sê ds. Jaco Strydom van die Echo-jeugontwikkeling in Pretoria: “Jongmense het ’n geweldige hunkering na God, maar hulle gaan soek nie na Hom in die kerk nie.” In die genoemde peiling het 34% van die deelnemers aangedui dat hulle nie in die voorafgaande maand kerk toe gegaan het nie. Sowat 10% het gesê hulle gaan eenmaal per maand kerk toe, en sowat 16% twee of drie keer per maand. Sowat 17% kon nie onthou wanneer laas hulle in die kerk was nie. Net 23% het aangedui hulle gaan vier of meer keer per maand kerk toe. Verskeie redes word aangevoer vir hierdie negatiewe gesindheid teenoor die kerk. “Dit is omdat die kerk ’n naam het as ’n plek wat ... skynheilig is”, sê ds. Strydom. Die feit dat die kerk so erg teen aborsies gekant is en gays veroordeel, dra baie tot hulle negatiewe indruk van die kerk by, sê hy. Ds. Anru Liebenberg van die NG-gemeente Waverley meen die kerk is nie meer relevant vir jongmense en wat hulle vandag beleef nie, aldus die berig. En ds. Theodor van der Spuy van die NG Kerk in Johannesburg sê die kerk praat dikwels nie jongmense se taal nie. Musiek, wat ook ’n baie groot rol speel, stimuleer hulle ook nie emosioneel nie. Volgens ds. Strydom sal die kerk, om jongmense te trek, ’n kultuur van omgee moet skep en oop wees vir moeilike vrae. “Dit moet ’n plek

Junie 2014 ~ DIE KERKBLAD

wees waar mense eerlik kan wees.” Dit is natuurlik ’n groot teenstrydigheid om te glo, maar niks of weinig met die kerk te doen te hê nie. Buite die kerk is daar immers geen saligheid nie. Dit is ’n waarheid wat vir alle tye geld en wat ons jongmense en alle mense moet weet. Dit is ook wat die Rooms-Katolieke Kerk sê. Die Rooms-Katolieke Kerk bedoel egter daarmee: Die kerk maak jou salig. Die kerk is as’t ware soos ’n trein op pad na ’n bepaalde bestemming. Jy moet net op die trein wees, net formeel of in naam aan die kerk behoort. Dan word jy salig. Wanneer ons as gereformeerdes sê buite die kerk is daar geen saligheid nie, bedoel ons daarmee iets totaal anders. Ons bedoel daarmee jy kan nie aan Christus, die Saligmaker, behoort as jy nie aan sy kerk behoort nie. Hy is die Hoof en sy kerk die liggaam (Kol. 1:18; 1 Kor. 12, ens.). As ek my pinkie afkap en eenkant neersit, kan ek 1000 keer vir die pinkie sê om te roer en dit sal nie. Die verbinding met die kop is afgesny. Wat wel gebeur, is dat die pinkie sterf. Die kerk is die vrug, die gevolg van die werk van die Heilige Gees deur die Woord (HK So. 21). Die kerk is die bruid van Christus (Op. 21), “’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry ...” (1 Pet. 2:9). Die Bybel kan as’t ware nie uitgepraat raak

1


Van die redakteur

oor die wonder en die rykdom van die kerk nie. Ons sien dit uit die talle beelde wat in die Bybel gebruik word om hierdie rykdom uit te druk, telkens nog ’n aspek van die wonder van die kerk te beklemtoon. Dit trek alles daarin saam dat jy nooit aan Christus kan dink sonder sy kerk nie. Dit wat die Here Self oor sy kerk sê, staan in skreiende kontras met die kritiek wat in ons tyd al hoe meer van buite, maar ook van binne, die kerk opklink. Hy het aan sy kerk die sleutels

van die Koninkryk van die hemel toevertrou, om deur die prediking van sy Woord en die toepassing van die kerklike tug die Koninkryk vir mense oop te sluit en toe te sluit (HK So. 31). Daarom: Buite die kerk geen saligheid nie. Natuurlik moet die kerk relevant wees. Natuurlik moet die kerk “oop wees vir moeilike vrae”. Natuurlik moet die kerk die jongmense se taal praat, nie hoogdrawende, geleerde, wêreldvreemde “kanseltaal” gebruik nie. Die kerk het egter net een funksie en taak, en dit is om in die taal van die

jongmense of wie ook al, die waarheid van God (sy taal vir alle tye) te bring. Die kerk moet dit doen deur in liefde, maar vreesloos die Woord te verkondig, in prediking, kategese, huisbesoek, evangelisering, die wil van Christus te proklameer, ook oor aborsies en gay wees en alles wat ons vandag beleef. Die mens van ons tyd, ook die jongmense, moet gehoorsaam luister en glo en lewe. Waar dit nie gebeur nie, is dit nie meer kerk nie, het dit valse kerk geword. Waar dit wel gebeur, sal die kerk gedy en die begin van die ewige saligheid ervaar word. CFCC

BOEKE BY DIE ADMINISTRATIEWE BURO

R205.00 (posgeld en

R8.25 (posgeld en

verpakking uitgesluit)

verpakking uitgesluit)

R11.40 R11 40 (posgeld en verpakking uitgesluit)

Bestel by: Administratiewe Buro, Afdeling Publikasies, Posbus 20008, Noordbrug 2522; faks 018 293 1042; e-pos bestellings@gksa.co.za

2

DIE KERKBLAD ~ Junie 2014


Brandpunt Prof. GJC (Gert) Jordaan (rektor, Teologiese Skool Potchefstroom)

Universiteite en die doel van alles I

n ’n onlangse ar artikel skryf Miroslav Volf, ’n Miro professor in Sisprof tematiese Teolotem gie aan die Yale Divinity School, Divi dat die universiteitswese wêreldteits wyd ’n identiteitsbeleef. Op finansiële gebied kkrisis i i b l f O gaan dit miskien goed, veral met groot, bekende universiteite soos Yale en Harvard. Die probleem is egter dat universiteite oor die afgelope 40 jaar al meer in professionele aktiwiteite betrokke geraak het, wat hulle al verder laat wegbeweeg het van dit wat eintlik by ’n universiteit tuishoort. Die lesers mag dalk vra: Waarom hieroor in Die Kerkblad skryf? Wat het dit met die kerk en met ons geloof te doen? Hieronder word die verband verduidelik.

Waarom universiteite ontstaan het Die heel vroegste vorm van die universiteitswese lê ver in die verlede terug, en kan selfs na die ou Griekse filosowe soos Sokrates en Aristoteles herlei word. Drie, vier eeue voor Christus het daardie ou filosowe die taak op hulleself geneem om intellektuele leiding aan die opkomende ge-

Junie 2014 ~ DIE KERKBLAD

Die doel van studie was om ’n uitsig op die geheel (Latyn: universum) van die werklikheid te probeer kry en die samehang daarvan raak te sien. Hiermee hou die benaming “universiteit” uiteindelik verband: dit is op ’n studie van die geheel (universum) gerig. Ons kan sê dat dit tot die wese van die universiteit behoort om ’n universele blik op die werklikheid te kry, sodat elke deeltjie daarvan in sy samehang met die geheel verstaan kan word.

sigte. Hulle het egter sonder die lig van God se Woord gewoon in menslike swakheid met dié vrae geworstel, en daarom het die antwoord hulle bly ontwyk. Die universiteitswese van vandag het waarskynlik eers in die Middeleeue sy beslag gekry, met ’n nederige begin in enkele kloosterskole waarin monnikke hulle nie net in die Bybel verdiep het nie, maar ook geleerdheid oor ’n wyer front nagestreef het. Uit hierdie kloosterskole het Middeleeuse universiteite soos dié van Bologne, Parys en Oxford ontstaan. Toe die geskrifte van Aristoteles in die 12de eeu deur die geleerdes in Europa herontdek is, het dit ’n omwenteling veroorsaak, waarna as die Renaissance verwys word. Dit het geleerdes aan die universiteite weer na ’n omvattende geleerdheid laat streef, maar nou het die lig van die Bybel daarby gekom. Hulle het na hulleself as ’n universitas magistrorum verwys – ’n omvattende versameling van leermeesters.

Die ou filosowe se soektog na ’n geheelperspektief op die lewe het hulle veral laat vra: Wat is die vaste punt waarin alles geanker is? Wat maak die lewe die moeite werd? Hulle antwoorde op hierdie vrae getuig van besondere fyn waarneming en verbasende in-

Studente tot ’n breë lewensuitkyk gelei Op min of meer dieselfde wyse het ook die latere groot universiteite in die Protestantse wêreld ontstaan, soos Yale en Harvard in die VSA. Dit het as

slagte te gee. Hulle doel was dat hulle leerlinge verder as die voor-die-handliggende dinge sou kon kyk en ’n geheelperspektief op die lewe verkry. Daarvoor het hulle sover as moontlik alle fasette van die lewe bestudeer en is uiteenlopende onderwerpe bestudeer. Aristoteles het byvoorbeeld in sy geskrifte oor fisika, biologie, dierkunde, metafisika, logika, etiek, skeppende kunste, uitvoerende kunste, digkuns, musiek, retoriek, taalkunde en politiek geskryf.

7


Brandpunt

teologiese opleidingskole vir predikante begin, en het later tot volwaardige universiteite ontwikkel, op dieselfde patroon as die eertydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO hier by ons, nou deel van die Noordwes-Universiteit.

Aristoteliese breë visie op die wetenskap prysgegee is ter wille van spesialisering op een klein stukkie van die werklikheid. Die wyehoeklens waarmee na die lewe en die werklikheid gekyk is, is by wyse van spreke op ’n mikroskoop ingeruil.

Die belangrike punt is dat van professore verwag is om leermeesters te wees wat studente daartoe lei om ’n geheeluitsig op die werklikheid te probeer kry, en om elke vakgebied en elke faset van die vakgebied binne daardie geheel te plaas. Vanuit die geloofsagtergrond waaruit hierdie universiteite gegroei het, kon die studente gelei word om in die lig van die Woord van God hierdie geheelperspektief raak te sien. Professore was leermeesters wat die nuwe generasie daartoe kon lei om antwoorde te kry op die vrae: Wat is die vaste en onveranderlike anker van alle dinge? Wat gee sin aan die lewe? Wat maak dit die moeite werd?

Vir die opleiding van studente was die gevolge hiervan ingrypend. Professore is al minder daartoe in staat om hulle studente na die wye lewensperspektief te lei wat so inherent aan universitêre opleiding is. Jongmense kom al minder na ’n universiteit om te leer verstaan wat die lewe sinvol en die moeite werd maak. Die breë, vormende onderrig wat mense slyp om selfstandig antwoorde op nuwe lewensvrae te bedink, het vir beroepsgerigte skoling plek gemaak, skryf prof. Volf. So is die universiteitswese besig om sy inherente eienskappe prys te gee.

Nie net die universiteite wat hier genoem is nie, maar die universiteitswese in sy geheel regoor die wêreld is deur die geslagte deur hierdie strewe en doel gekenmerk. Dit het jongmense opgelei, nie soseer om ’n beroep te beoefen nie, maar om hierdie wye lewensperspektief te ontwikkel, met ’n wysheid wat hulle in staat stel om antwoorde op lewensprobleme in die breë te hanteer. Dit gaan in wese by universiteite oor ’n algemeen-vormende onderrig, op grond waarvan die Oxford Dictionary ’n universiteit definieer as ’n “inrigting van hoër onderwys wat onderrig gee in vakke wat hoofsaaklik nieberoepsgerig is nie, met die reg om grade toe te ken” (eie vertaling – GJCJ).

Die krisis van oorspesialisering en beroepsopleiding Universiteite wêreldwyd het egter in die afgelope paar dekades in ’n situasie inbeweeg wat as ’n identiteitskrisis beskou kan word. Dit het begin, skryf prof. Volf, toe wetenskaplikes wetenskap van geloof geskei het. Geloof, wat juis die vermoë huisves om verder as die sigbare horison te sien, is opsygeskuif as iets wat tot die terrein van naïewe fundamentalisme behoort. Daarby het gekom die toenemende aandrang om te publiseer, wat veroorsaak het dat professore al meer moes spesialiseer.Boonop is ’n stelsel aan universiteite ingevoer waarin slegs aan spesialisakademici hoë akademiese gradering toegeken word. Die gevolg was dat die akademiese strewe na ’n

8

Die rol van geloof en roeping van die kerk Intussen is die noodsaak van jongmense wat ’n geheeloorsig oor die werklikheid ontwikkel, steeds nodig. Die samelewing van die 21ste eeu worstel steeds – selfs nog meer as voorheen – met die vraag na die sin van die lewe. Die etiese en morele verwarring van ons tyd laat mense al meer vra wat die lewe die moeite werd maak. Hoe kan universiteite weer sover kom om hierdie vrae op die agenda terug te plaas? Prof. Volf meen die oplossing is daarin geleë dat die akademiese wêreld eers weer die deur vir die Christelike geloof oopmaak. Die Christelike geloof is immers deurentyd met vrae na die sin van die lewe besig, en universiteite kan help om weer op akademiese vlak oor hierdie vrae te besin. Om daarby uit te kom, moet universiteite egter ophou om hulleself as sekulêre instellings te beskou. In die tweede plek, sê die professor, moet akademiese teoloë nie toelaat dat die navorsingstrewe hulle akademiese werksaamhede oorskadu nie. In eenvoudige taal gestel: teologiese professore moet weer met oortuiging die nodige geestelike leiding aan die kerk en samelewing oor die vraag na die sin van die lewe gee. Hulle moet weer die vermoë ontwikkel om voornemende predikante te leer om nie met oogklappe aan net pastorale sielesorg te doen nie, maar om met ’n breë lewensperspektief hulle taak as Woordbedienaars aan te pak. Hierin het hulle die steun van die kerke nodig. Laat dit ons erns wees. DK

DIE KERKBLAD ~ Junie 2014


Fokusartikel Prof. JH (Amie) van Wyk (emeritus) (Potchefstroom)

“Eenheid, mildheid, liefde” • die onderskeid tussen wesenlike en middelmatige sake in ons kerklike lewe • D

ie onderskeid tussen wesenlike en middelmatige sake is vir die kerk van Christus van fundamentele belang. Wanneer hierdie onderskeiding nie sorgvuldig getref en nougeset nagevolg word nie, ondermyn dit die bestaan van die kerk – tot groot skade vir die verlossingsboodskap van Jesus Christus en die uitbreiding van die koninkryk van God. Elke keer wanneer Christene uiteenskeur en mekaar opponeer, vra die nie-Christene en ongelowiges en ateïste immers met groeiende klem: Hoe op aarde kan ons hulle boodskap van versoening nog langer glo? As gereformeerde Christene staan ons in ’n groot mate in die tradisie wat tydens die Reformasie van die 16de eeu ontwikkel het en waarvan Calvyn die kerkvader was. Ons kan dus kwalik beter doen as om te gaan kyk wat Calvyn in hierdie verband aan ons kan meedeel. Calvyn gee aandag aan bogenoemde onderskeiding wanneer hy handel oor die Christelike lewe, die liturgie in die kerk en oor die Christelike leer.

Junie 2014 ~ DIE KERKBLAD

Christelike lewe In die derde boek van sy Institusie handel Calvyn oor Christelike vryheid, en dan skryf hy dat ons van die uiterlike dinge, wat op sigself middelmatig (adiaforoi) is, sonder beswaar teenoor God gebruik mag maak of dit mag nalaat (Inst. 3.19.7). In hierdie verband verwys hy dan na die eet van vleis, die gebruik van vakansiedae, die dra van klere en die gebruik van verskillende soorte wyn. Kennis van hierdie vryheid is baie noodsaaklik, want wanneer dit ontbreek, sê hy, sal ons gewete geen rus hê nie en sal daar geen einde wees aan bygelowe nie. Calvyn stel egter duidelik dat alles wat hy in hierdie verband oor die vermyding van ergernisse leer, na middelmatige sake verwys. Wat egter noodsaaklik gedoen moet word, moet deur geen vrees vir enige ergernis nagelaat word nie (3.19.13). In sy vierde boek van die Institusie bring Calvyn kerkwette en die Christen se gewete ter sprake en verwys hy ook na die eet van afgodsoffervleis. Hy merk op dat Christene hulle van sulke

(middelmatige) sake behoort te weerhou as hulle daarmee vir die swakke broers ’n struikelblok in die pad lê, maar húlle gewete is daarin vry (4.10.4). Nog later waarsku hy daarteen dat aan “vas”, wat op sigself ’n middelmatige saak is, enige verdienstelikheid toegeskryf word (4.12.19).

Liturgiese sake Ook wat liturgiese sake betref, gebruik Calvyn die begrip middelmatige sake. In hierdie verband verwys hy byvoorbeeld na die viering van die nagmaal waar sekere sake “in die vryheid van die kerk geleë is” (4.17.43). Hy verwys dan na die wyse waarop die brood geëet en die beker aangegee word, asook of daar gesuurde of ongesuurde brood en wit of rooi wyn gebruik word. Ons weet ook dat in die tyd van Calvyn die nagmaal al wandelende gevier is; nagmaalgangers het na die tafel geloop en die brood en wyn uit die hand van die predikant(e) (en later diakens) ontvang. Calvyn verwys ook na die saak van openbare boetedoening

15


Fokusartikel

in die kerk (4.19.14), ’n gebruik wat reeds in die vroeë kerk (by Ciprianus) voorgekom het. In die geval van ’n sonde moes die sondaar voor die priester boete doen en dan is aan sodanige voor die gemeente vryspraak deur handoplegging deur die biskop en ander geestelikes verleen. So is die sondaar weer in die gemeenskap van die kerk opgeneem. Calvyn noem hierdie gebruik “heilig en heilsaam” en hy wens self dat dit weer in ere herstel kan word. Tog wys hy daarop dat hierdie seremonie ’n instelling van mense is en nie van God nie, en dat dit daarom “nie noodsaaklik” is nie – dit is immers ’n middelmatige saak. Christelike leer Tot dusver was Calvyn se gedagtegang baie duidelik en ook maklik aanvaarbaar. In die daaglikse lewe en in die kerklike liturgie is daar ruimte vir skakering, variasie, veelvormigheid, nuanse en vryheid. Geen wonder nie dat die wydverbreide gereformeerde kerkorde ’n artikel bevat wat lui dat “in middelmatige dinge moet die buitelandse kerk by wie ander gebruike as by ons in swang is, nie veroordeel word nie” (Kerkorde art. 85). Maar: Wat van leerstellige sake? Is alle leerstellige sake nie uit die aard van die saak wesenlike sake nie? Bestaan daar so iets soos middelmatige leerstellige sake? Dis ’n groot verrassing dat Calvyn ook bereid is om die genoemde onderskeiding in verband met leerstellige sake ter sprake te bring. Hy aanvaar die suiwer bediening van die Woord en die sakaramente as kenmerke van die ware kerk, en maan dat ons die ware kerk nie mag verwerp

16

solank dit in hierdie bedienings volhard nie, “selfs al wemel dit andersins van ander gebreke” (4.1.12). Calvyn gaan verder en sê: “Ja, daar kan selfs die een of ander fout in die bediening van óf die leer óf die sakramente insluip, maar dit behoort ons nie van die gemeenskap met die kerk te vervreem nie, want al die hoofpunte van die ware leer het nie net een vorm nie. Sekere aspekte daarvan is (egter) so noodsaaklik om te ken dat dit vas en ontwyfelbaar by almal moet wees as besondere leerstellings van die godsdiens.” Die vraag is nou wat Calvyn onder hierdie “sekere aspekte”, dit wil sê wesenlike sake, verstaan. Wat sluit dit alles in? Hy gee enkele voorbeelde sonder om op volledigheid aanspraak te maak. Hy noem die volgende voorbeelde: dat daar een God is, dat Christus God is en die Seun van God en dat ons saligheid op God se barmhartigheid berus en “dergelike dinge”. Natuurlik wil Calvyn met hierdie benadering van hom “selfs nie die geringste dwaling verdedig nie”, maar hy wil dit duidelik maak dat “ons nie die kerk vanweë sekere rusietjies onbesonne moet verlaat as die leer waarop ons saligheid ongeskonde berus, daarin net veilig en ongedeerd behou word … nie” (4.1.12). Daarom kon Calvyn vir Luther byvoorbeeld as ’n “uitnemende apostel van Christus” bestempel. Die groot vraag is natuurlik wáárom Calvyn hierdie bepaalde onderskeiding ook ten opsigte van leerstellige sake ter sprake bring? Die antwoord is eenvoudig: Calvyn was diep begaan oor al vier die eienskappe van die kerk, naamlik

eenheid, reinheid (heiligheid), diepheid (apostolisiteit) en wydheid (katolisiteit). Veral die eenheid van die kerk het hom diep ter harte gegaan. Dit wat vandag algemeen aanvaarbaar is, naamlik die onenigheid van die kerk van Christus, die bestaan van verskillende en opponerende “denominasies”, was vir Calvyn ’n enorme probleem. In ’n brief aan aartsbiskop Thomas Cranmer van Engeland skryf Calvyn ’n hartroerende brief waarin hy daarna verwys dat die liggaam van Christus bloeiend is (vanweë die kerklike verskeurdheid). “Dit moet gereken word onder die slegste euwels van ons epog dat die kerke so vanmekaar geskei is”, skryf hy verder. Calvyn noem dat hy bereid is om tien oseane oor te steek om ’n konferensie hieroor by te woon soos wat Cranmer beoog het. Calvyn sou nooit vrede kon hê met ’n situasie waar nimmereindigende kerkskeurings op goedkoop wyse aangegaan en agterna regverdig word nie. Die eenheid van die kerk van Christus was vir hom ’n wesenlike saak, soos ook die apostolisiteit (die suiwere leer in sy essensie) vir hom wesenlik was. Ons situasie vandag Ons leef vandag in ’n samelewing wat deur vryheid en openheid gekenmerk word, en die kerk van Christus moet die gelowiges met die evangelieboodskap toerus om met die nodige verantwoordelikheid en volwassenheid op te tree. Hierdie toerusting sal veral daarin bestaan om gelowiges te help om die dinge te onderskei waarop dit wérklik aankom (Rom. 2:18; Fil. 1:10), dit wil sê om tussen wesenlike en middelmatige sake te onderskei.

DIE KERKBLAD ~ Junie 2014


Fokusartikel

Dit is vandag nie meer vreemd dat dominees sonder ’n manel preek, jongmans met lang hare en vrouens sonder ’n hoed en met ’n langbroekpak ’n erediens bywoon nie – iets wat ’n halfeeu gelede ondenkbaar was. (My manel van 60 jaar gelede hang nog in my kas.) Alle Gereformeerde gemeentes vier ook nie die nagmaal op presies dieselfde wyse nie, hoewel daar ten opsigte van die essensie van die viering eenheid is. Ook ten opsigte van die kerklied bestaan daar variasie, solank die lied Skrifgetrou is en Skriftuurlik verantwoord kan word. Leerstellig gesien, bestaan daar myns insiens ’n groot mate van eenheid tussen die gemeentes in die kerkverband van die GKSA. Een van die brandpunte in die teologie vandag gaan oor die belydenis van Christus waarin sy kruis en opstanding van deurslaggewende betekenis vir die mens se redding is. Wanneer dít aangetas word, val die evangelie weg en word die kerk ’n godsdienstige klub. Die hiperkritiese teologie vandag beskou Jesus slegs as ’n voorbeeldige mens sonder enige verlossende betekenis. ’n Kort opmerking moet egter oor een belangrike saak gemaak word, aangesien dit dikwels spanning veroorsaak. Dit gaan oor ons Skrifbeskouing, of beter gestel: ons Skrifverklaring. Enersyds hou gereformeerde Christene tereg aan die gesag van die Skrif as betroubare Woord van God vas, maar andersyds verf ons mekaar maklik in ’n hoek vas wanneer iemand die Skrif anders verklaar as wat ons self doen.

Ons vergeet maklik die betekenisvolle uitspraak van Herman Bavinck dat “lank nie alles wat in die Skrif opgeteken staan, normatiewe gesag vir ons geloof en lewe het nie”. In ons verklaring van die Skrif hou ons nie altyd genoeg rekening met die verskillende literatuursoorte in die Skrif nie – byvoorbeeld geskiedenis, poësie, profesie – en ons wil alles altyd slegs letterlik verstaan. Ons hou veral nie voldoende rekening daarmee dat geen enkele teks in die Bybel buite Christus om reg verstaan en verklaar kan word nie (Luk. 24:44; Heb. 1:1-2). Dis egter weer ’n verhaal van sy eie. Slot Tydens ’n konferensie wat oor die sogenaamde “omkeerstrategie” in die GKSA gehandel het, is die opmerking gemaak dat sinodebesluite in die toekoms dalk meer genuanseer moet word en wel op drieërlei wyse: daar word (1) bindende besluite oor wesenlike sake geneem; (2) oor belangrike sake word eenstemmigheid by alle gemeentes sterk aanbeveel; en (3) middelmatige sake word aan die vryheid van die plaaslike gemeentes oorgelaat. Hierdie gedagte bevat besondere meriete en verdien om verder uitgediep te word. Om af te sluit – mag ons die wysheid vind om die volgende stelreël uit te leef: Eenheid in die essensiële Mildheid in die middelmatige In alles: liefde DK

van bl. 14 – Die regering van die kerk van Christus

versorging van en die orde in die kerk, want God is ’n God van reg en orde; God is heilig, en deur goeie regering en dissipline word die kerk se heiligheid gedien en bewaar. Ek het in ’n artikel wat In die Skriflig verskyn het, geskryf oor die hermeneutiek (verstaansbeginsels) van die gereformeerde kerkreg. Daarin behandel ek die belangrike saak van hoe die kerkorde gebruik en toegepas moet word. Dit moet in ag geneem word dat die bepalinge van die kerkorde bindend en gesagvol

Junie 2014 ~ DIE KERKBLAD

is, omdat dit op die Skrif berus, die gees van die Skrif adem, en omdat die kerke ooreengekom het dat hulle mekaar sal bystaan en ondersteun soos dit in die 86 artikels geformuleer is (om hierdie genoemde bydrae te lees, gaan na http://dx.doi.org/10.4102/ids. v46i1.36). My hoop en vertroue is dat die GKSA in sy kerklike lewe en werk die gereformeerde kerkregering, soos dit ook in ’n kerkorde gestalte gevind het (net soos die gereformeerde belydenisskrifte) wat uit die Reformasie van die 16/

17de eeue afkomstig is, en die toets van die tyd deurstaan het, as kosbare kleinood sal gebruik en respekteer. Die Kerkorde is nie soos die Skrif ’n kanonieke geskrif nie en is onderhewig aan veranderinge en verbeteringe, maar dan op ’n ordelike wyse (soos in meerdere vergaderings) en mag nie na die gevoel en oordeel van plaaslike kerke geïgnoreer of gewysig word nie. Die Kerkorde is in diens van die kerke. DK

17


Diskussie Prof. Gert Breed (Teologiese Skool Potchefstroom)

Waarheen is ons land op pad? U

het seker ook al gewonder waarheen is ons land op pad? Wanneer jy in diepte kyk na dit wat in ons land aangaan, kan jy nie anders as om raak te sien dat daar aan waarskuwingsligte aangaan nie. Die geweld wat ’n klomp k deel van stakings geword het, polisie wat soms onbevoeg dee optree en selfs onnodige geweld gebruik of wat deel is optr van korrupsie, die president van die land wat met sy optrede besig is om meer en meer wantroue en minagting tred baie mense te wek. Kinders vermoor hulle ouers en by b gesin. i Geliefdes G li fd word uit vrees of woede doodgeskiet. U kan self nog baie dinge opnoem. In Mei het ons gestem, wat hou die nuwe regering wat verkies is, vir ons land in?

God se ekonomie Die belangrikste is dat ons vir onsself duidelik uitspel waar ons Here en ons God in hierdie saak staan. Moet ons glo dat Hy sy rug op ons gedraai het? Is Hy besig om ons te straf oor alles wat in die verlede verkeerd gedoen is? Wat is God se plan met Suid-Afrika, met die GKSA en met elkeen van ons? God laat ons nie in die duister oor sy plan nie. In Efesiërs 1 word sy ewige raadsplan vir ons duidelik gemaak en die uiteindelike doel van hierdie raadsplan is “om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Ef. 1:10). God laat tye vol word, volgens sy plan. Hy laat dinge ryp word en saamloop tot die volmaakte tyd waarop Hy weer nuwe dinge wil laat gebeur. Hy laat dinge só ontwikkel en saamloop dat die ondenkbare kan gebeur – soos dat Jesus se dood aan die kruis ons verlossing kan bewerk. En die einddoel van sy plan (sy ekonomie) is dat Hy alle dinge wat met die sondeval uitmekaar gebreek en verskeur is, weer in volkome harmonie onder Jesus Christus as Hoof sal saambring. Alles onder sy heerskappy as Koning. God is in beheer, al kan ons dit nie altyd raaksien nie. Hy gebruik ook die onreg en die dwaasheid in Suid-Afrika om die volheid van die tyd gereed te maak vir wat Hy hier wil doen. Die val van apartheid, die

26

onbeholpenheid van ons huidige regering en munisipaliteite, teoloë en kerke wat die Woord van God se gesag bevraagteken, die tekort aan predikante in die GKSA, baie lidmate wat die kerk verlaat, ja, elke ding wat jy kan opnoem, is nie buite God se beheer nie. Wat die uitslag van die verkiesing ook al was en die konsekwensies wat daaruit voortvloei, dit gaan nie vir God ’n verrassing wees nie, dit gaan nie sy planne omvergooi nie. Dit gaan net nog ’n legkaartstukkie wees wat Hy in plek sit om die volheid van die tyd te laat aanbreek vir sy planne met Suid-Afrika, elke gemeente en elke individu.

Wat is ons taak as kerk van die Here? Val in by God se ewige raadsplan – Die kerk het ’n besondere plek in die raadsplan van God. Ons is die draers van sy waarheid. Ons is die instrument wat Hy gebruik om sy raadsplan te volvoer. Ons moet sing en leef: “Ek bied u hart en hande in willige offerhande, alles wat ek is en het.” Ons moet alles wat ons doen, toets aan die vraag of ons glo dat Hy alles sal voorsien wat ons nodig het en of ons voluit sy koninkryk soek.

DIE KERKBLAD ~ Junie 2014


Diskussie

Dit beteken dat Christus se heerskappy deur sy Gees ook in jou hart moet groei. Leef heilig, rein, toegewy aan jou God, moenie die Heilige Gees bedroef met sondes wat jy vertroetel nie. God se plan hou in dat die sonde wat die mens verslaaf en stukkend breek, vernietig moet word (Ef. 4, 5) en dit begin in jou eie hart. Omkeer in die GKSA is nie moontlik as daar nie omkeer in die predikante, ouderlinge, diakens en lidmate se harte kom nie. Omkeer is om as medewerkers by God se raadsplan in te val. Onderskei God se tyd – Volgens 1 Korintiërs 2 sê Paulus dat hy nie sy werk in sy eie krag of wysheid doen nie, maar met die wysheid van die Gees. God se Gees openbaar aan ons die diepste geheimenisse van God. Ons het die Gees van God om ons in die volle waarheid te leer en te lei, ook die waarheid van hierdie moment in ons lewe en in die lewe van ons land. Elke gelowige en elke gemeente moet biddend na die vervulling met die Gees soek. Ons moet God sonder ophou om sy Gees smeek.

wil Hy deur jou dienswerk in plek sit? Bid: “Here maak ons oë oop vir die goeie werke wat u vir ons voorberei het” (Ef. 2:10). Leef as oorwinnaar – Al Satan se slim planne wat hy deur sy agente, die Fariseërs en Skrifgeleerdes, in werking gestel het om Jesus te neutraliseer, het God téén hom gebruik. Satan het sy eie ondergang bewerk deur Jesus te laat kruisig. Wat hy ook al probeer het, hy kon nie wen nie. God het vir hom gelag (Ps. 2), want wie kan die Almagtige se planne keer? Elke plan wat iemand buite God om maak, is ’n plan wat sy eie ondergang gaan bewerk. Die magtiges in ons land smee verniet hulle planne, hulle is slegs besig om God se plan ten uitvoer te bring. In Efesiërs 6 staan dat ons die helm van verlossing moet opsit, dit is die oorwinning wat ons in Christus het. Jy is meer as oorwinnaar deur Hom wat in jou woon. Satan is oorwin. Hy kan ook nie in Suid-Afrika of in die kerk of in jou lewe wen nie. Hou dus op om pessimisties te dink en te praat. Hou op om na alles rondom jou te kyk en bedreig te voel! Verheerlik God deur die oorwinning wat Hy vir jou deur sy Seun bewerk het, deel van jou denke en jou optrede te maak. Laat almal hoor en sien dat jy kind van die Almagtige is sonder wie se wil niemand kan roer of beweeg nie.

Die uitslag van die algemene verkiesing Die uitslag van die algemene verkiesing in Suid Afrika is dat God se plan met hierdie land nog een trappie verder gevorder het. God is besig om alles onder Jesus se heerskappy in te bring. Hy gebruik daarvoor wie en wat Hy wil. Hy wil jou gebruik! Hy wil die GKSA gebruik. Laat ons biddend na sy wil soek en laat ons biddend doen wat ons hand vind om te doen in afwagting dat Hy ons klein bydrae kan gebruik om te doen ver bo wat ons kan bid of dink. Dieselfde krag wat Hy gewerk het toe Jesus uit die dood opgestaan het, werk ook in en deur ons. DK

’n Tyd van onrus en vrees, ’n tyd van onsekerheid en twyfel is ’n tyd wat ongekende geleenthede oplewer. Ons leef in so ’n tyd in ons land. ’n Land vol soekende, gewonde seerkry-mense. ’n Land wat die Geneesheer nodig het. Wat is die verleenthede waarby jy betrokke is wat die almagtige God deur die wysheid van die Gees in geleenthede kan omskep? By watter nood moet julle as gemeente daar in julle dorp betrokke raak? Watter legkaartstukkie in God se raadsplan

Junie 2014 ~ DIE KERKBLAD

27


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.