RAVENSMEAD
WINNER BEST FREE NEWSPAPER IN SA
Woensdag, 8 November 2017 | Tel: 021 910 6500 | epos: nuus@tygerburger.co.za
@TygerBurger
TygerBurger
SPORTBEURS: NETBALSTER VAN UITSIG MOET STAAL NOU BY ’N SPORTSKOOL WYS
Hier kom ’n Protea! AVRIL FILLIES
N
ie almal is so gelukkig om ’n sportbeurs ter waarde van R100 000 per jaar van die ministerie van sport en rekreasie los te slaan nie. Hierdie eer het Renicha Carelse van Uitsig, ’n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Ravensmead, te beurt geval en dié beurs is jaarliks beskikbaar tot 2022. “Ek is bly vir die geleentheid wat sy kry. Sy is ’n goeie netbalspeler en het die WesKaap sedert verlede jaar verteenwoordig. “Die sportbeurs bepaal dat sy by ’n sportskool in ’n koshuis haar hoërskoolloopbaan moet voortsit en sy kan dus nie hier by ons bly nie. Ek hoop en vertrou dat gegewe haar agtergrond, die skool wat haar gaan inneem nie slegs gaan fokus op haar sportprestasies nie, maar ook op haar akademiese prestasies,” het Joseph Bouman, hoof van die Hoërskool Ravensmead gesê. Volgens hom is van die ander riglyne wat neergelê is, dat die skool oor ’n gimnasium, koshuis en sportgeriewe moet beskik. “Ons moet onthou dat Renicha uit haar bekende omgewing verwyder gaan word en dat sy ’n goeie ondersteuningsnetwerk by haar nuwe ‘tuiste’ sal moet hê. “Die aanpassing by ’n nuwe skool en omgewing sal nie net vir haar ’n nuutjie wees nie, maar ook vir haar ma, wat ’n enkelouer is. Dis nie altyd maklik vir ouer en kind om geskei te word nie, want in ons gemeenskap is ons nog familievas,” het Bouman gesê. Hy het ook bygevoeg dat van die skole in die Tygerberg nie aan die vereistes voldoen soos uiteen gesit in die ooreenkoms nie. “Die enigste skole wat ek sommer so uit die vuis uit aan kan dink, is Paarl Gimnasium of Hoër Meisieskool Bloemhof. Ek is tans besig om te onderhandel met die ministerie om uitsluitsel te kry oor wat ons nou moet
doen as sy dan in ’n koshuis gehuisves moet word,” het Bouman gesê. Levona Heynse, netbalafrigter by die skool, het gesê dat daar ’n blink toekoms op Renicha in netbal wag. “Sy was verlede jaar by die Laerskool Tygersig in Uitsig en het vir Ravensmead se o.14-netbalspan in Julie verlede jaar die Wes-Kaapse span verteenwoordig. Vanjaar het sy weer die Wes-Kaap se o.15-span gehaal en het van 2 tot 6 Julie in Boksburg deelgeneem,” het Heynse gesê. Na afloop van dié toernooi is ’n groep elitespelers aangewys en Renicha is in die groep opgeneem. Die elite-spelers is toe in Bloemfontein getoets en die ministeriële beurs is aan haar toegeken. “Ek is baie bly vir haar, want sy het al die potensiaal om ’n goeie netbalspeler te word. Ons sal haar mis as doelverdediger, maar ons kan nie in haar pad staan nie,” het Heynse gesê. Renicha is ook baie opgewonde oor die sportbeurs. Sy het verlede jaar besef dat sy potensiaal het nadat die Laerskool Tygersig daarin geslaag het om die onoorwonne Laerskool Vorentoe, ook in Ravensmead, te klop. “Ek speel ook sokker en is ’n doelwagter. In atletiek neem ek aan hekkies deel. Daar is talle onderwysers op laer- en hoërskool wat ’n rol in my skoolloopbaan en sportprestasies gespeel het en daarvoor is ek baie dankbaar,” het Renicha gesê. Haar droom is om eendag vir die Proteas te speel en haar groot heldin is Natalie du Toit, die Paralimpiese swemmer. “Ek bewonder Natalie vir haar moed om haar drome na te bly streef, ondanks die feit dat sy haar een been in ’n motorongeluk verloor het. Sy kan spog dat sy ook ’n Olimpiese atleet is – ’n prestasie wat sy voor die motorongeluk behaal het,” het Renicha gesê. V Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.
Renicha Carelse (links) staan hier by haar netbalafrigter, Levona Heynse.