BRACKENFELL
WINNER BEST
FREE NEWSPAPER IN SA
WATERLESS GARDENING ASK US HOW! X1UAD3QW-AL070218
Woensdag, 7 Februarie 2018 | Tel: 021 910 6500 | epos: nuus@tygerburger.co.za
@TygerBurger
TygerBurger
OU EVERITEFABRIEK: VELDBRANDE EN DIEFSTAL SAKEEIENAARS SE VOORLAND EN OOK...
Kwellings oor asbes
DESIRÉE RORKE @dezzierorke
N
adat veldbrande verlede week op die ou Everiteasbesfabriek se stortingsterrein gewoed het, vrees aangrensende sake-eienaars nou dat die dorre en oorgroeide terrein ’n groot brandgevaar inhou. Hulle vrees vir hul veiligheid, eiendom en ook hul gesondheid as die ou asbesprodukte weens die vlamme asbesvesels in die lug vrystel. Die veldbrande het Sondag uitgebreek en het teen Woensdag nog gesmeul. “My hart was in my keel toe die vlamme oor die grensmuur begin kom het,” vertel een sake-eienaar, wat die vlamme met brandblussers oor sy grensmuur in toom probeer hou het. Sandra Henderyckx, wat haar onderneming ook reg langs die terrein bedryf, sê die brand het vir dae lank gewoed. “Ons voel nie meer veilig nie, omdat daar enige tyd weer ’n brand kan uitbreek as gevolg van die plantegroei,” sê sy en voeg by dat sy sedert die brande nou elke dag uurliks die terrein dophou vir nuwe brande. Een bekommerde sake-eienaar het selfs op eie koste ’n brandpad tussen sy fabriek en die Everite-terrein gestootskraap. Henderyckx en sowat 20 ander naburige sake-eienaars het Woensdagaand vergader om die kwessie te bespreek. Die ou Everite-fabriek in Brackenfell het van die 1940’s asbesprodukte geproduseer tot en met die vroeë 2000’s toe wetgewing vir die gebruik van asbes in boumateriaal strenger
geword het. Die gebruik daarvan is later verbied. Die fabriek het gevolglik gesluit en vorm nou deel van die Johannesburgse konstruksiekonglomoraat Group Five. Die terrein in Brackenfell, wat nou aan Group Five behoort, is in 2000 gebruik om ou asbesmateriaal op die perseel te begrawe. Group Five het in 2014 bevestig dat die asbesprodukte onder die grond verseël is om te verhoed dat dit in die atmosfeer vrygestel word. Sake-eienaars het by die vergadering gesê hulle pleit nou al vier jaar lank by Group Five om die eiendom behoorlik skoon te maak en te beveilig. Afgesien van die brandgevaar, sê Henderyckx, word die terrein wat oopstaan, gebruik vir onwettige storting en het dit die tuiste geword van dosyne haweloses wat die aangrensende ondernemings gereeld beroof. Die asbesprodukte, wat hier begrawe is, begin ook nou plekplek deur die grensmuur bars. Volgens Peter Sutter van die Brackenfell-belastingbetalersvereniging is asbesprodukte sowat drie tot vyf meter diep onder die grond begrawe, maar is dit al voorheen op plekke so vlak soos 30 cm gevind – moontlik as gevolg van gronderosie. Dit is bekend dat asbes ’n karsinogeen is en volgens kenners het asbesvesels die vermoë om in die lug te hang, selfs nadat ’n brand geblus is. Mense wat die lug inasem, word dus blootgestel aan asbes en dié blootstelling kan met die verloop van tyd tot ernstige gesondheidsprobleme lei. Dit is juis dié gevaar wat nabye inwoners laat regop sit. V Na bladsy 2.
Ettiene van Zyl wys waar die ou asbesprodukte langs een van die grensmure uitpeul. FOTO: DESIRÉE RORLE