TygerBurger Durbanville - 17 February 2021

Page 1

DURBANVILLE

Woensdag, 17 Februarie 2021 | Tel: 021 910 6500 | e-pos: nuus@tygerburger.co.za

MORNINGSTAR: AANVALLE NEEM TOE

Fietsryers, stappers geteiken ESMÉ ERASMUS

T

e midde van ’n bekgeveg op sosiale media oor ’n “skerp toename in misdaad” rondom die nuwe woonontwikkeling in Morningstar, is fietsryers en drawwers gewaarsku om op hul hoede te wees na nóg aanvalle naby dié woonbuurt. Dit kom nadat TygerBurger tevore berig het oor aanvalle op veral fietsryers, maar ook motoriste en stappers (“Loop lig naby Morningstar”, 3/02). Aanvalle kom ook gereeld in die omgewing van Fisantekraal voor. In ’n onverwante voorval is nog ’n fietsryer Saterdag baie ernstig beseer toe hy naby Fisantekraal van sy fiets geslaan en van sy selfoon beroof is. TygerBurger het verneem dat die James David (56) onder meer sy femur en elmboog gebreek het. Hy is aanvanklik in die Karl Bremer-hospitaal behandel, maar oorgeplaas na die Tygerberg-hospitaal vir ’n heupvervanging. In die jongste voorval verlede Vrydag naby Morningstar is ’n fietsryer omstreeks 04:55 by die vierrigtingstop op die hoek van De Villiers-rylaan en Van der Byl-laan (naby die skaatsbaan) deur drie mans beroof. Die fietsryer se selfoon, ’n Huawei P30 Lite ter waarde van R10 000 en sy LED-flitslig ter waarde van R200 is geroof. Volgens kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, is die slagoffer nie beseer nie en word ’n klagte van gewone roof ondersoek. Rhode sê die polisie dra nie kennis van die ander voorvalle waarna op sosiale media verwys word nie. Meeste van die voorvalle vind in Lange-

bergweg voor die nuwe Morningstar-behuisingsprojek plaas, word beweer. Op sosiale media word verwys na twee drawwers wat byna beroof is naby Morningstar op dieselfde oggend. Daar is glo gesê dat hulle nie klagte aanhangig gemaak het nie, omdat die polisie hulle afgeraai het omdat hulle geen beserings opgedoen of skade gely het nie. Saterdag het ’n groep van sewe fietsryers in Langebergweg net voor die verkeerslig in Wellingtonweg gery toe een van drie verdagte mans, wat by die Vibracrete-muur gestaan het, met ’n klip na een van die fietsryers gemik het. Sondag is ’n inwoner in Fluweeltjieweg oorkant Wellwaypark-Oos in sy agterplaas deur ’n jong man met bakstene aangeval. Die inwoner kon wegkom sonder enige beserings en kon in sy huis in vlug en sy huis se traliehek sluit. Daar was glo ook verlede Donderdag ’n mislukte aanval op ’n fietsryer, terwyl ’n voorval waarin ’n huishulp voor die nuwe behuisingsontwikkeling in Morningstar van haar taxigeld beroof is, op sosiale media gedeel is. Nie een van laasgenoemde voorvalle is vermoedelik by die polisie aangemeld nie. TygerBurger het vroeër berig oor ’n voorval op 23 Januarie waarin ’n fietsryer in Langebergweg voor Morningstar met ’n sak met vermoedelik ’n baksteen daarin van sy fiets geslaan is. Lt.kol. Marius Swanepoel, hoof van sigbare polisiëring by die Durbanville-polisie, het gesê mense moet ’n klag by die polisiekantoor aanhangig gaan maak, al het hulle nie skade gely nie. V Na bladsy 2.

@TygerBurger

TygerBurger

NETWERK24. ALLES OP EEN PLEK.

Teken in by www.netwerk24.com.

Hok toe:

Ella Odendaal (links) en Emma Claassen, albei vyf jaar oud, was onder duisende graad R-leerders wat die eerste treë van hul skoolloopbaan gegee het toe die skole Maandag heropen het. Ella en Emma is al maats vandat hulle twee jaar oud is en is nou ook saam in graad R by die Pre-primêre Skool Kenridge. FOTO: JOHANITA ODENDAAL


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
TygerBurger Durbanville - 17 February 2021 by Tygerburger Newspaper - Issuu