GOODWOOD
WINNER BEST
FREE NEWSPAPER IN SA
Ons groot voorraad produkte is nou nog verder uitgebrei met • Nokaste (camshafts) • Turbo-aanjaers
TROTSE DIENS
Woensdag, 5 Julie 2017 | Tel: 021 910 6500 | epos: nuus@tygerburger.co.za
Taurusstraat 10, Brackenfell • Tel (021) 981 4501 www.gho.co.za • info@gho.co.za
@TygerBurger
TygerBurger
VLOOIMARK: JANNIE BEMAN STALLETJIE AL JARE
Sy boek vir jeug op 71 uit CARINA ROUX
S
owat twee jaar gelede het hy besluit om kinderstories en geestelike liedjies te begin skryf, sê Jannie Theart (71) van Goodwood. “Nou sit ek met ’n sakvol,” sê die afgetrede majoor wat al vir jare elke Woensdag, Vrydag en Saterdag ’n boekstalletjie by die Parow-vlooimark beman. Oom Jannie – soos die gereelde besoekers en stalletjiehouers by die mark hom noem – is blykbaar nie ’n man wat hou van lank stilsit nie. “Ons gesels sommer so tussendeur,” het hy laat hoor terwyl hy begin om die stalletjie se boeke in kiste weg te pak. “Ek sê altyd vir myself, ‘jy is nog nie so oud om nie jouself met nuttige dinge besig te hou nie’.” TygerBurger het verlede Vrydagmiddag ’n draai by die mark gaan maak om met hom te gesels oor sy heel eerste boek, Oupa Jan se storiesak, wat onlangs verskyn het. Die A4-boekie met helderrooi omslag en kleurvolle illustrasies bevat nege stories gemik op kleuters – almal met ’n les of opbouende boodskap, volgens oom Jannie. Hy het op ’n tyd Sondagskool gegee en lewer nog gereeld praatjies met ’n geestelike boodskap vir die
kinders by die Bellville Christian Academy. Soms kies hy ’n tema of trek iets aan om dit vir die kinders interessant te maak, vertel hy. Die stories skryf hy oor goed wat by hom opkom – uit sy verbeelding. Hy tree dikwels by ouetehuise op saam met sy vriend, Andries Venter van Ruyterwacht, ’n klankman wat ook kitaar kan speel. Dit was ook Venter wat hom gehelp het om twee jaar gelede ’n CD, Songs from God, met 10 van sy eie liedjies wat hy self sing, op te neem. Meeste van sy liedjies is in Engels en hy wil graag professionele geestelike sangers uitnooi om hom te kontak as hulle van sy liedjies wil gebruik, sê oom Jannie. Tussendeur vat sy hande vlytig nog ’n stapel boeke raak. Dis sommer ook goeie oefening, laat hy hoor. Hy was 32 jaar lank ’n offisier in die weermag en was maar altyd hier in die Kaap (waar hy ook grootgeraak het) rond. In 1996 het hy afgetree as majoor by die Eersterivier-bataljon. Hy en sy vrou, Dalene, met wie hy “baie jare” getroud is en wat gereeld aan sy sy by sy stalletjie is, se vier kinders woon almal oorsee – drie in Engeland en een in Australië. Met die vyf kleinkinders moet hulle maar via die rekenaar en Skype gesels, sê oom Jannie.
Jan Theart is hier met sy boek by die boekstalletjie van die Parowvlooimark waar hy al 30 jaar betrokke is. FOTO: CARINA ROUX