1 minute read

Gesondheidsdienste in gemeenskappe steeds ‘n prioriteit

MET die hulp van verskeie vennote bring die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand steeds omvattende gesondheidsdienste na kliënte.

Die departement het onlangs ooreenkomste gesluit met meer as tien nie-regeringsorgansisasies vir ‘n volgende termyn. Plekke soos klinieke en daghospitale is ankerpunte vir dienste in die gemeenskap, maar om bystand te gee aan soveel as moontlik mense, werk die departement saam met verskeie vennote.

Advertisement

Voorbeelde van dienste wat op hierdie manier beskikbaar is, sluit in:

● Plekke waar kroniese medikasie afgehaal kan word in woonbuurte

● Tuisbesoeke vir die deel van inligting oor gesondheid (veral gesinsbeplanning, babagesondheid, immunisasie, en voor- en nageboortesorg)

● Tuisbesoeke vir ondersteuning met die neem van kroniese medikasie

● Geestesgesondheidsondersteuning

● Rehabilitasie en/of palliatiewe sorg

Aan die einde van die finansiele jaar het sommige ooreenkomste wat gesluit is tussen die departement en nieregerings organisasies verstryk. Ná ‘n proses waar diensverskaffers kon aansoek doen vir kontrakte, is ooreenkomste vir ‘n nuwe termyn aangegaan sodat hierdie dienste voortgaan sonder onderbrekings.

Wanneer Bibbie Pogieter van Ceres dink aan die dienste wat haar 65-jarige suster, Wendy, ontvang het by een van die departement se vennote in die Witzenbergstreek, is sy vol lof en dank.

“My suster het serebrale gestremdheid gehad. Die gesondheidswerkers het elke dag na haar gekom, haar gewas en aangetrek. Hulle was ook by haar die oggend toe sy gesterf het” onthou Bibbie.

Wendy is in 2019 oorlede, maar die waarde en impak van die diens wat hulle ongeveer ses jaar lank ontvang het, is nie vergete nie.

“Dit was ‘n wonderlike diens. Hulle was vol empatie en het haar met soveel menswaardigheid behandel. Ek is bly dat sulke dienste voortgaan.”

Die departement is baie dankbaar teenoor al sy vennote. Vennote in die Kaapse Wynland distrik wat gemeenskapsgebasseerde gesondheidsdienste bied vir die Breedevallei, is Boland Hospice, Vukahambe Association for the Multi-disabled en Breedevallei APD.

In die Witzenbergstreek is die vennote NorSA, Vrolike Vinkies dagsorg en Boland Hospice.

“Die behoefte aan gesondheidsdienste is groot. Met die hulp van ander rolspelers kan ons impak baie groter wees en is ons ‘n tree nader aan beter gesondheid en welstand,” sê Handri Liebenberg, Wes-Kaap gesondheid en welstand se direkteur van die Kaapse Wynland distrik. “Ons sê dankie aan die vennote wat ons tot nou ondersteun het en wil pasiënte gerusstel - al verander die diensverskaffer met wie jy bekend geraak het in jou omgewing, sal jy steeds ondersteun word. Jou welstand is steeds baie belangrik vir ons.”

This article is from: