2 minute read
... en in Musina loop hulle in die strate rond
Deur Andries van Zyl
Die opwagting van twee jong krokodille in die spruit/dam in Rissikstraat oorkant die bekende FireFly Kafee in Louis Trichardt het die afgelope week die tonge laat gons. Die vraag op almal se lippe: Wie het hulle daar ingegooi?
Advertisement
Die twee jong krokodilletjies, die een ongeveer 80 cm en die ander een so een-en-‘n-half meter lank, het die eerste keer “oë” gewys verlede Vrydag, 17 Februarie. Dit het noodwendig gesorg vir groot toeskouerwaarde en in ‘n stadium moes die polisie se hulp ingeroep word om die skare te beheer.
Krokodille sit “vangers” ore aan “Nee, hulle wen ons nog,” het bekende plaaslike slangvanger en diereliefhebber Jan “Slang” van Rooyen Woensdag gesê op ‘n vraag of hulle nou al daarin kon slaag om die twee reptiele te vang. Van Rooyen se grootste vrees is dat iemand die krokodille sal doodmaak vir “muti” doeleindes. Die “ons” waarvan Van Rooyen praat is hy en lede van die Departement Omgewingsake en die Bedreigde Spesie Eenheid van die polisie.
“As ‘n mens daar kon inklim en swem, het ons hulle al lankal gevang. Maar ek gaan nie in daardie water klim nie. Jy gaan vrek!,” het Van Rooyen gesê, verwysend na hoe vuil en besoedel die water is met onder andere riool. Hulle het die afgelope week feitlik daagliks verskeie tegnieke probeer om die krokodille te vang, sonder sukses. Vrydag het Van Rooyen met ‘n kano probeer, maar dit het te moeilik geblyk te wees. Saterdag het ‘n ander inwoner vir Van Rooyen ‘n groter boot geleen, maar steeds het die reptiele hulle ontglip. “Daar het stories uitgekom dat twee mans blykbaar Donderdagaand [16de] op die brug gestop het en die twee krokodille daar ingegooi het, een aan die linkerkant en een aan die regterkant,” het Van Rooyen gesê. Aldus die nagskofpersoneel by die BP-vulstasie oorkant die dam. Een gerug wou dit hê dat die twee mans op sekuriteitskamera vasgelê is, maar navrae in dié verband kon niks bevestig nie. Alhoewel besighede in daardie omgewing videokameras het, wys hulle blykbaar nie na die brug se kant toe nie.
‘n Kriminele oortreding
Van Rooyen het gesê hy kan nie verstaan waarom iemand so iets sou doen nie. Indien hulle vasgetrek kan word, het Van Rooyen gesê, kan die oortreders definitief kriminele klagte in die gesig staar. Dit is beaam deur mnr. Izak Lukoto van die Departement van Omgewingsake op Louis Trichardt.
Volgens Lukoto word krokodille volgens CITES en volgens die NEMBA wetgewing (National Environmental Management: Biodiversity Act 10 of 2004) as ‘n spesiaal beskermde spesie gelys. Hulle kan derhalwe nie gevang of vervoer word sonder ‘n permit nie. Indien iemand sonder so ‘n permit betrap word, kan hy tot 15 jaar gevangenisstraf opgelê word.
Intussen duur die soektog na die twee krokodille voort. In hierdie stadium, het Van Rooyen gesê, hou die twee reptiele nie vir mense ‘n gevaar in nie, omdat hulle nog te klein is. “Indien daardie krokodille groter was, so twee-en-‘n-half meter en groter, dan eers raak hulle ‘n gevaar. Hulle sal egter steeds nie sommer net ‘n mens aanval nie, maar as jy op hom trap, gaan hy vir jou byt,” het Van Rooyen gesê.
Oor die oorsprong van die krokodille wou Van Rooyen nie spekuleer nie. “Iemand kon hulle in die Albasinidam gevang het of in een van die damme hier in die berg. Niemand weet nie ... Ek dink die mense het die krokodille gevang en ná die tyd uitgevind hulle kan dalk in die moeilikheid kom daaroor,” het Van Rooyen gesê. (Vervolg op p.2)
Crunchburger
Smlchips
SmlNosugarDrink