22 Januarie 2015
DIE POTTEBAKKER! Jeremia sien ‘n pottebakker wat besig is met sy klei (Jer 18:1-6). God self gee vir hom hierdie prentjie. Hy wil vir Jeremia (en ons) ‘n belangrike boodskap deur hierdie eenvoudige beeld oordra. God is die Pottebakker ... ons die klei. Die Pottebakker is geduldig met die klei. Hy het nie, met respek gesê, ‘n koekiedrukker gebruik toe Hy jou aanmekaar geweef het, diep in die moederskoot nie (Ps 139:13-17). Jy is die beeld van Sy handewerk – jy dra die vingerafdrukke van jou Skepper. Jy is kosbaar, waardevol en uniek net soos wat jy is! Moenie iemand anders probeer wees nie! Eer die Pottebakker wat jou uniek “jy” gemaak het ... en dink daaraan: nadat Hy jou met Skeppingshande gemaak het, dra Hy jou jou hele lewe lank steeds koesterend in sy Vaderhand.