6 minute read

Nongqai Vol 13 No 8

Advertisement

TROU TOT DIE DOOD TOE: MOORD OP GONIWE, CALATA, MKONTO EN MHLAULI

Genl JV van der Merwe

Ek was in 1985 tweede-in-bevel van die veiligheidstak van die SA Polisie en genl. Stan Schutte bevelvoerder. Toe die moord op die vier aktiviste op die lappe kom, het ek dadelik vermoed dat die Weermag betrokke was. Ek het die saak eers met genl. Schutte en genl. Jan Grobbelaar, hoof van die speurafdeling by hoofkantoor, bespreek en daarna met genl. Johann Coetzee, Polisiekommissaris. My standpunt was dat die Polisie alles in die stryd moes werp om die moorde aan die man te bring. Hulle het saamgestem en ek het gereël dat kol. Harold Snyman en kol. Eric Strydom, hoof van die speurafdeling in Port Elizabeth, my in Pretoria kom spreek. Ek het die saak met hulle bespreek en beklemtoon dat alle moontlike middele ingespan moet word om die saak op te los.

My vermoede dat die Weermag by die moorde betrokke was, is later verder versterk. Ek is gevra samesprekinge by te woon waar maatreëls bespreek is om die nadelige gevolge wat die moorde vir die Regering inhou, af te weer. Dit was onder voorsitterskap van mnr. Adriaan Vlok, adjunkminister van Verdediging en van Wet en Orde. Genl. Hans van Rensburg was ook teenwoordig. Hy was van mening dat die saak met maksimum-publisiteit en propaganda gehanteer moet word. Ek het skerp verskil en dit onomwonde gestel dat die moorde ʼn sinnelose daad was wat ʼn groot verleentheid vir die Regering is. Hoe minder daaroor gesê word, hoe beter. Genl. Van Rensburg se woorde hierop was: “Johan, don’t fear when the Defence Force is near.”

Tydens die tweede geregtelike doodsondersoek het adv. Anton Mostert, wat vir die Weermag opgetree het, gevra om met my kom praat. Hy was vergesel van adv. Doep de Bruyn, wat vir die Polisie verskyn het. Adv. Mostert het sonder om doekies om te draai te kenne gegee dat lede van die veiligheidstak die moorde gepleeg het en dat hy hulle aan die kaak gaan stel as ons nie die saak kon skik nie. Adv. De Bruyn het hom heftig aangeval en sy stelling verwerp. Dit was in daardie stadium moeilik om te bepaal of dit ʼn gesamentlike operasie was en om die rol wat lede van die Weermag en die Polisie gespeel het, te onderskei. Ek het adv. Mostert meegedeel dat ek oor geen

ander inligting beskik as dié wat reeds beskikbaar is nie en dat dit hom vry staan om alle feite waaroor hy beskik, bloot te lê.

Tydens ’n amnestieverhoor in 1998 het dit aan die lig gekom dat lede van die veiligheidstak in Port Elizabeth die moorde gepleeg het en dat die Weermag nie daarby betrokke was nie. Kolonels Harold Snyman, Nic van Rensburg, maj. Herman du Plessis, kapt. Sakkie van Zyl en luitenante Gerhard Lotz en Eric Taylor het om amnestie gevra. Volgens die getuienis sou kol. Harold Snyman die optrede gemagtig het. Die ander lede was onder die indruk dat kol. Snyman goedkeuring van hoofkantoor gehad het, maar tydens die verhoor het dit geblyk dat dit nie die geval was nie.

Hierdie voorval is een van die mees sprekende van al die faktore waaraan die SA Polisie, en in die besonder die veiligheidstak, blootgestel was. Eerstens het die skeidslyn tussen polisieman en soldaat baie dun geword. Die ontplooiing van polisielede in Rhodesië (nou Zimbabwe) en Suidwes- Afrika (nou Namibië) waar hulle in die uitvoering van hulle taak ook met lede van militante organisasies in gevegte gewikkel geraak het, het die wese van polisiëring, wat uitsluitlik daarop gemik is om te beskerm en te dien, aangetas. In die oorlogsituasie het die beginsel van die gebruik van minimumgeweld en hofgerigte optrede nie gegeld nie.

het mnr. P.W. Botha se verbintenis met die Weermag ’n sekere gesag aan die Weermag verleen. Die idee het ontstaan dat enige optrede van die Weermag wat die stilswyende goedkeuring van die Regering, veral van mnr. Botha, wegdra, bokant die reg verhewe is. Die blote feit dat regter Zietsman tydens die geregtelike nadoodse ondersoek bevind het dat Weermaglede vermoedelik by die moorde betrokke was, bevestig myns insiens bo alle twyfel dat die rol wat die Weermag-beheerde GBS gespeel het, tot die moorde gelei het.

Indien al die feite noukeurig ontleed word, is die redelike slotsom dat daar in die geledere van die veiligheidsmagte ʼn sterk persepsie bestaan het dat sleutelfigure wat ʼn rol gespeel het om verset en onluste te bevorder, in sekere omstandighede doodgemaak kon word. Brig. Van der Westhuizen, voorsitter van die GBS, was klaarblyklik onder dié indruk vanweë die druk wat uit regeringsgeledere op hom geplaas is. Daar is min twyfel dat hy verwag het dat sy voorstel dat Matthew Goniwe en die ander twee aktiviste “permanent uit die samelewing verwyder moet word”, sonder meer toegestaan sou word. Hy het egter ʼn kolossale denkfout begaan. Die regeringsleiers wat kragdadige optrede verkondig het, wou baie graag die aktiviste “permanent uit die samelewing verwyder” sien, maar sou in geen omstandighede die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. Soos dit dikwels in politieke geledere en hoër kringe gaan, moes iemand anders die vuil werk doen.

Lede van die veiligheidstak was ook oortuig daarvan dat van owerheidsweë stilweg van hulle verwag word om staatsvyande uit die weg ruim. Hulle was egter gewoond daaraan om self die gevolge van hul dade te aanvaar. Die lede wat betrokke was by die moorde op die vier aktiviste, het dus tot handeling oorgegaan sonder om te wag op “amptelike” goedkeuring, wat hulle waarskynlik besef het nooit gaan kom nie.

Die bewering in New Nation dat die sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad die voorstel in die teleksboodskap gemagtig het, is van alle waarheid ontbloot. Die manne “daar bo” sou hulleself nooit amptelik aan so iets verbind het nie.

Ek het geen twyfel in my gemoed dat die lede van die veiligheidstak wat by die moorde betrokke was, vas oortuig was dat hul optrede die goedkeuring van die Regering wegdra. Myns insiens is dit ook ’n onweerlegbare feit dat die moorde politiek van aard was en in die konflik van die verlede gepleeg is. Desondanks is amnestie aan die betrokke lede van die veiligheidstak geweier, net nog ʼn bewys van die skreiende wyse waarop teen lede van die veiligheidsmagte gediskrimineer is. (Die bevinding van die amnestiekomitee kan by die webadres http://www.doj.gov.za/trc/decisions/1999/ac990350.htm gelees word.)

This article is from: