19 minute read

Nongqai Vol 13 No 8

STRATEGIE

Advertisement

OORLOG IN OEKRAÏNE: MAAND-EIND ANALISE #6, JULIE 2022

Dr. Willem Steenkamp ‘n STRYD VEEL WYER AS DIE MILITÊRE & OM VEEL MEER AS OEKRAÏNE

Hoe langer die konflik in Oekraïne voortduur, hoe duideliker word dit dat:

• Die werklike protagoniste nie soseer Rusland vs. Oekraïne is nie (met lg. wat eintlik net maar die gras onder die pote is van die groot olifante wat baklei) maar wel die VSA vs. Rusland;

• nog baie meer lande – prakties die hele wêreld – wesentlik geraak word deur hierdie konflik, en vorentoe al hoe meer die pyn gaan voel;

• hierdie nie sommer maar ‘n “ingewing van die oomblik” besluit tot aksie was nie, met ‘n lang aanloop van die kant van beide die hoofprotagoniste;

• die twis oor grondgebied tussen Rusland en Oekraïne, slegs maar ‘n (mindere) komponent is van ‘n veel groter stryd, wat al hoe meer gaan oor die grootmoondhede se statuur en posisie in die snelveranderende internasionale magsorde wat hierna sal geld;

• die militêre stryd op die slagveld, maar net een van die dimensies van die konflik is – met die ekonomiese stryd toenemend die belangrikste, gevolg deur die diplomatieke stryd om die goedgesindheid van die res van die wêreld; en

• les bes, dat daar ‘n nuwe internasionale verdeling besig is om pos te vat, synde tussen die Westerse lande wat glo dat die bewinde vir wie hulle as outokrasieë beskou (Rusland, Sjina, Iran ens.) hokgeslaan moet word soos wat Fascisme en Nazisme in die veertigerjare gestuit is, terwyl ‘n baie groot deel van die nie-Westerse wêreld op hulle beurt weer glo dat die era van Westerse diktaat, wat so eng verstrengel was met imperialisme, kolonialisme en rassisme, nou kan en behoort beëindig te word.

Die militêre situasie: Soos wat ons reeds vanaf die heel eerste artikel in hierdie reeks voorspel het sal gebeur (gepubliseer net vier dae na die Russiese inval aan die einde van Februarie 2022), is die Russiese militêre masjien steeds brutaal-sistematies besig om voort te maal, met dieselfde langtermyn-strategie wat Rusland goed gedien het in Tsjetsjnië en Sirië. Dit word steeds meer duidelik dat tyd in die Russe se oë hulle bondgenoot is – veral in die breër konflik met die Weste – en dat die komende winter deurslaggewend mag wees.

Die Westerse propaganda-media, en veral dié van die Anglosfeer, is deesdae stil oor wat op die slagveld aan’t gebeur is (behalwe om “wonder-wapens” soos die Himars meervuldige vuurpyllanseerder te probeer ophemel, as bewys van hoe daadwerklik hulle die Oekraïniërs steun – al wil hulle nie self waag om stewels op die grond te sit, of nie-vlieg sones te probeer verklaar nie). Dit is egter onomstootlik duidelik dat die Russe en hulle plaaslike bondgenote stelselmatig besig is om die Oekraïniërs in die oorblywende deel van die Donbass te oorrompel. Die hele Lugansk-provinsie is reeds ingeneem, en in die restant van Donets is die Russe skynbaar onstuitbaar sistematies aan die opmars.

Oekraïne besef uiteraard dat, wanneer die Donbass volledig ingeneem is, die Russe in terme van strategiese belang, waarskynlik aanstons die Swartsee-kus rondom Odessa sal teiken (Odessa is deur Katarina die Grote gestig as heeljaar-hawe vir Rusland, want die See van Azof, geleë Oos van die Krim-skiereiland rondom Marioupol-hawe, is onderhewig aan see-ys gedurende die winter – soos wat die hawens in die Noorde van Rusland dan uiteraard ook is). As Rusland hierdie Suidelike kusstrook Wes van die Krim ook van Oekraïne kan afneem, dan sal lg. nie net sy ekonomies-rykste streek (die Donbass met sy landbou, industrieë en grondstowwe) verloor het nie, maar ook sy enigste oorblywende toegang tot die see. Oekraïne was en is reeds by verre die armste land in Europa, en as die Donbass en Swartsee-kus in Russiese hande val, dan sal Oekraïniërs se toekomstige ekonomiese lot nog veel erger wees.

Dit is dus van kardinale belang vir Oekraïne om sy hartland Wes van die Dnieper-rivier te behou, en veral dan die oorblywend Suidelike kusstrook (hierdie suidelike kusstrook, soos die Donbass, is egter tradisioneel Russies-sprekend).

‘n Strategiese probleem vir Oekraïne is dat die Russe reeds tydens die aanvang van die oorlog, ‘n aansienlike brug-hoof aan die westekant van die Dnieper gevestig het, rondom die hawestad Kherson. Dit bied die Russe dus ‘n ideale lanseer-platform vir die verwagte aanval op Odessa (Rusland is tans besig om 16 nuwe brigades, wat gerekruteer is in die streek, veg-gereed te kry – een waarvan as die Odessa-brigade gedoop is). Ideaal-gesproke moet Oekraïne dus hierdie Kherson-brughoof elimineer, of andersins minstens isoleer en sy verdedigingslinies daarteenoor só goed ingraaf en beman dat die Russe nie verder weswaarts sal kan deurbreek nie.

Oekraine kan tans egter sielkundig nie bekostig om te sê dat sy werklike strategiese belang nou lê in die verdediging van die Suidkus, en nie meer die Donets-area nie. Kiëf kan nie beken dat hulle daarom hulle beste troepe nou verdedigend in die Suide gaan moet konsentreer – want sou hulle dit erken, beteken dit hulle erken dat Oekraïne in effek reeds die Donbass verloor het en dit in die nabye toekoms sal moet prysgee (al wil Kiëf daar bly veg vir so lank moontlik, om tyd te koop om die verdediging in die Suide reg te kan kry).

Daarom word daar vir ‘n maand al groot propaganda gemaak, wat te kenne gee dat wat Oekraïne eintlik beoog om te doen, is nie om te verdedig nie, maar wel om positief die Russe met ‘n teenaanval van “een miljoen soldate” uit Kherson terug te druk (sou die teen-aanval nie materialiseer nie, of nie slaag nie, dan minstens het hulle wel ‘n groot deel van hulle magte kon herontplooi na hierdie strategies kern-belangrike gebied, sonder om die aap uit die mou te gelaat het oor eventueel moet bes gee in die Donbass).

Vir die Weste, en veral die VSA, bied hierdie “teen-aanval” se voorbereiding, ook geleentheid om simbolies hulle steun aan Oekraine te demonstreer (merendeels vir die Westerse media), met Himars-aanvalle op die brûe oor die Dnieper. Hierdie missiele met hulle GPS-leiding is weliswaar akkuraat, maar dis ligte missiele (in wese net hoë-tegnologie Stalin-orrels), wat ten meeste die pad-oppervlak oor die brug tydelik kan beskadig, maar nie die struktuur self kan vernietig nie.

Om wel Himars-missiele enigsins deur te kon gekry het na die padbrug (m.a.w., deur die Russiese lug-afweer skild – na ‘n vroeëre poging geloods met 12 missiele, almal afgeskiet is) moes die Oekraïniërs na bewering tydens hulle jongste poging ongeveer 80 van hierdie missiele prakties gelyktydig lanseer het. Die missiele kos elk sowat US$100,000. Deskundiges beraam dat, gegewe

die beperkte produksie per jaar, die VSA waarskynlik maksimum ongeveer 1,200 missiele aan Oekraïne sou kon gelewer het – dus ‘n groot-totaal van ongeveer 200 salvo’s verdeel tussen al Oekraïne se Himars-lanseerders gesamentlik. Uit die stuk of tagtig missiele wat in die laaste week van Julie een nag gelyktydig lanseer is, het glo omtrent ‘n dosyn wel die pad-oppervlak getref, maar geen-een van die kolomme is beskadig nie.

Daar is drie brûe oor die Dnieper wat toegang gee tot Kherson – die vierbaan-padbrug, ‘n treinbrug en dan ‘n trein- en padbrug oor die nabygeleë hidro-elektriese skema se damwal (met lg. wat uiteraard nie met Himars kan vernietig word nie). Dis voorts ook só dat Kherson ‘n hawestad is, met kaaie aan beide oewers van die Dnieper, met die gevolg dat dit eenvoudig is om voorraad met veerbote en barkasse oor die rivier te neem (dis hoe dit vir eeue gedoen is, voor die brûe gebou is). Nietemin het die Russiese sappeurs reeds ook glo drie nuwe ponton brûe oor die Dnieper gebou, onder die lugafweer-sambreel van hulle S.400-stelsels wat die padbrug beskerm.

Die Russe besef duidelik dat die Oekraïniërs al die brûe oor die Dnieper en die Inhulets sal moet bly teiken, hetsy vir hulle teen-aanval of vir die verdediging van die Suidkus; as Oekraïne werklik sou meen dat hulle die Russe uit Kherson sal kan forseer en dan vandaar die res van die besette gebied sal kan begin terugvat, sou hulle seker die brûe intak wou gehad het vir hulle eie gebruik om die Russe aan die oostekant van die Dnieper te kan gaan aanpak?

Gedurende die laaste week van Julie het die Oekraïniërs wel begin met ‘n teenaanval teen die Kherson-brughoof, vanuit die Noord-Weste. Hulle het self drie ponton-brûe gebou oor die Inhuletsrivier (geleë Wes van die Dnieper – ‘n kleinerige rivier wat daar die front vorm) en terrein aan die oostekant van dié rivier vir enkele dae kon beset, voor hulle deur Russiese valskermsoldate teruggedryf is – die Oekraïniërs verduidelik nou dat hierdie net ‘n “reconnaissance in force” was, en nie werklik die begin van die voorspelde groot teen-aanval nie.

‘n Belangrike verwikkeling oor die laaste naweek van Julie, is dat die Oekraïniese regering ‘n verpligte ontruiming van die burgerlike bevolking van die Donets-provinsie gelas het – as dieselfde gaan gebeur as wat in Lugansk-provinsie plaasgevind het in Junie, dan beteken dit dat die Oekraïniërs gereed maak om terug te trek uit Donets en net verskroeide aarde vir die Russe agter sal wil laat, deur self alle strukture wat die Russe nog nie verwoes het nie, plat te maak soos wat hulle onttrek.

Genoeg egter oor die militêre situasie – soos ons van die begin voorspel het, gaan die deurslaggewende fase die komende winter wees (daar is reeds beriggewing dat gerugte in Oekraïniese geledere die rondte sou begin doen het van ‘n oorgawe in September, omrede gevrees word dat die bevolking nie nog ‘n winter van oorlog sal kan oorleef nie; een-derde van die bevolking ly volgens die VN reeds onder voedsel-tekorte, en een uit vier Oekraïniërs het reeds die land verlaat).

https://www.youtube.com/channel/UCUnc496-PPmFZVKlYxUnToA

Die ekonomiese oorlog tussen die Weste en Rusland: Van die belangrikste gebeure in die ekonomiese oorlog gedurende Julie, was die akkoord wat die VN en Turkye onderhandel het vir die uitvoer van graan en kunsmis vanaf Oekraïne en Rusland, en die Europese Unie se sewende sanksie-uitvaardiging – lg. nie soseer vir wat nuut toegevoeg is tot die sanksies nie, maar vir die “ophelderings” wat die EU-verklaring bevat het oor wat nie deur Europese strafmaatreëls geraak

word nie, en waarin daar dus onbelemmerd handel gedryf kan word. Beide hierdie verwikkelinge is gesien as wesentlike oorwinnings vir Poetin.

Die graan- en kunsmis-akkoord het dit ten eerste duidelik gemaak dat die probleem m.b.t. die uitvoer vanaf die oorblywende Oekraïniese hawens te wyte is aan die Oekraïniërs se saai van see-myne, en nie ‘n doelbewuste Russiese blokkasie van uitvoere nie (‘n belangrike punt, i.t.v. meningsvorming in veral die Derde Wêreld oor wie se skuld die voedseltekorte is). Die tweede belangrike element van die akkoord, is dat dit duidelik gemaak is dat nie net Oekraïniese graan uitgevoer mag en moet word nie, maar eweseer ook Russiese graan en kunsmis – met Rusland wat in werklikheid ‘n baie groter leweransier van beide graan en kunsmis aan die wêreld-mark is, as Oekraïne. Net soos wat Oekraïne se uitvoere onbelemmerd moet kan geskiet, so ook geld dieselfde vir Russiese uitvoere – wat natuurlik ‘n saakmakende bron van buitelandse valuta vir Rusland is.

Die 7e rondte van Europese sanksies het weliswaar ‘n verbod geplaas op die direkte invoer van Russiese goud in Europa in (wat hoogstens van simboliese belang is), maar veral het dit opgeklaar dat Europa in hulle eie woorde nie aandadig wil wees aan wêreld-tekorte van landbou-grondstowwe, voedsel en energie nie – sodat dit klinkklaar duidelik gemaak is in die EU-verklaring dat Russiese uitvoer van kunsmis en graan, sowel as van olie, vryelik deur derde lande mee handel gedryf kan word, sonder dat sulke handelaars strafmaatreëls hoef te vrees.

Ook is duidelik gemaak dat onderdele vir kommersiële vliegtuie aan Rusland gelewer mag word. Airbus, die Europese konglomeraat, is natuurlik ‘n belangrike leweransier van lg., en dan is dit ook só dat Russiese rederye in hoofsaak hulle vliegtuie gehuur het van Europese makelaarmaatskappye, eerder as om dit te gekoop het; meer as 400 sulke gehuurde vliegtuie ter waarde van meer as US$10 miljard is eenvoudig deur Rusland “oorgeneem” kragtens wetgewing wat Moskou kort na die inval uitgevaardig het, en sonder onderdele om die gereelde dienste mee te kan doen, sou hierdie vliegtuie heel gou enorm in waarde begin val het, op die boeke van hulle Europese eienaars).

Die oliehandel-vrystellings is ook insiggewend, en verklaar die opkoop van tenkskepe deur Sjinese en Indiese operateurs, wat Russiese olie nou in groot maat koop en oorskeep uit Russiese skepe op die hoog-see, en dit dan verkoop oor die wêreld heen – o.a. terug aan Europeërs...

Suid-Afrikaners weet uit eie ervaring dat sanksies merendeels ‘n simboliese oefening is vir publieke konsumpsie, met die derduisende maniere om dit te omseil; wat die gebeure gedurende Julie op die ekonomiese oorlogsfront illustreer, is dat die Europeërs maar weer (soos destyds met Suid- Afrika) een ding sê en ‘n ander probeer doen – met ‘n groeiende kloof tussen hulle en die Amerikaners. Die realiteit is dat die werklikhede waaraan Europa en Amerika onderworpe is, hemelsbreed verskil – Amerika is selfonderhoudend wat petroleum-produkte en voedsel betref, terwyl Europa hoegenaamd nie is nie. Dis maklik vir die Amerikaners om te gesmaal het dat Rusland kwansuis net ‘n “vulstasie met kernwapens” is – vir die Europeërs egter, is en was Rusland hulle gerieflikste (en in baie gevalle) hulle enigste vulstasie – wat die skoen gewis aan die ander voet plaas.

n Verdere faktor van groot belang is inflasie. Die VSA is in die gunstige posisie dat die dollar die referensie-geldeenheid van die wêreld is, en dat meeste internasionale lenings-ooreenkomste, New York rentekoers as vlottende riglyn het. Wat dit beteken, is dat die VSA – ten einde inflasie hok te probeer slaan – sy rentekoerse kan opskuif, wat dan gelyklopend die dollar in waarde laat styg. Dit bring vir ander lande egter ‘n dubbele terugslag, want hulle eie geldeenhede verswak dan teen die dollar. Wat op sy beurt beteken dat, al bly die internasionale olie-prys konstant in dollar, dan betaal die ander lede steeds wesentlik meer in hulle eie geldeenhede vir brandstof, want hulle geld het mos teruggesak teen die sterker dollar. Wat lenings betref: bo-en-behalwe dat ander lande nou hoër rente moet betaal op hulle staatskuld, moet hulle ook die lenings in dollars terug betaal (wat in

waarde gestyg het teen hulle eie eenhede), sodat hulle nou dubbel gepenaliseer word i.t.v. hoeveel hulle meer moet terugbetaal in hulle eie geld.

Die Russe gaan nie skroom om die ekonomiese oorlog kaal-hand te veg nie, soos reeds gedemonstreer deur hulle toe-knyp van die gas-toevoer na Wes-Europa. Die komende winter in veral Duitsland gaan swaar wees vir beide huishoudings en hulle industrieë. Kenners meen reeds dat die verenigde front wat die EU probeer voorhou teen Rusland, onderliggend aansienlike verdeeldheid verskuil. Die komende verkiesing in Italië en die toenemende sosiale onrus a.g.v. die druk van inflasie en ‘n resessie, kan Europese eenheid ernstig onder druk plaas – veral as daar wesentlike energie en voedsel-tekorte oor die winter gaan voorkom. Dan sal gesien moet word hoeveel opofferings die gemiddelde Wes-Europeër bereid is om te maak ter wille van Oekraïne...

Die diplomatieke front: Die VSA en NAVO / die EU kon nog nie daarin slaag om werklike steun te mobiliseer uit veral die Globale Suide vir hulle kampanje teen Rusland nie. President Biden se pogings om ‘n beraad van Latyns-Amerikaanse lande byeen te bring is alom as ‘n mislukking gesien, met Meksiko en Brasilië wat ewe veel blaam aan die VSA (as die aanhitser van die konflik) toedig as aan Rusland as die uiteindelike invaller.

Dis ook opmerklik dat die voedseltekort (a.g.v. die gesukkel om graan uit die Swartsee-hawens te bekom) wat oor die koppe van baie Derde Wêreld-lande hang, deur daardie lande merendeels aan die Weste se strafmaatreëls toegedig word.

President Biden het ook onverrigter sake teruggekeer van sy hoed-in-die-hand besoek aan die Midde-Ooste, waar veral Saoedi-Arabië geensins op sy pleidooie wou regeer nie – trouens, net ure na Biden se vertrek, het die kroonprins ‘n besonder vriendskaplike foonoproep gemaak na Poetin, om die belang van OPEC en Rusland se rol daarin, te herbevestig.

Dat Westerse sanksies as werktuig om Rusland na sy wil te laat buig gefaal het, en nou ‘n boemerang geword het wat die Westerse ekonomie en sosiale orde ernstig bedreig, word vir al meer waarnemers al hoe duideliker.

Een voorbeeld is ‘n opinie-artikel op 29 Julie deur die Britse Guardian se gesiene joernalis, Simon Jenkins: “The Rouble is soaring and Putin is stronger than ever – our sanctions have backfired”. Hy skop af deur te sê: “Western sanctions against Russia are the most ill-conceived and counterproductive policy in recent international history. Military aid to Ukraine is justified, but the economic war is ineffective against the regime in Moscow and devastating for its unintended targets. World energy prices are rocketing, inflation is soaring, supply chains are chaotic, and millions are being starved of gas, grain, and fertilizer.” https://www.theguardian.com/commentisfree/2022/jul/29/putin-ruble-west-sanctions-russia-europe

‘n Punt wat die Weste, en die VSA in besonder, kennelik nie kan of wil insien nie, is dat hulle gehaper op die noodsaak om die sg. “reël-gebaseerde internasionale orde” in stand te hou, deur die groot gros van nie-Westerse lande (wat tipies slagoffers was van Westerse imperialisme en kolonialisme) gesien word as bloot ‘n desperate poging om die verbygaande era van Westerse diktaat in stand te probeer hou – ‘n era wat, soos een Afrika-leier dit gestel het, allermins op reëls gebaseer was en nog minder internasionaal-aanvaar was. Vir die Derde Wêreld (en vir dié argument is lande soos Sjina en Indië daarby in te sluit) is dit dus “reëls” van Westerse maaksel, wat die Weste in stand wil hou, essensieel ten einde hulle eie vermoë om in eie belang te kan bly dikteer, te beskerm – wat, vra hulle, is die verskil tussen die VSA se inval in Irak, en Rusland se inval in Oekraïne?

Hoe langer die konflik in Oekraïne voortduur, hoe meer besef mens dat die Russe jare reeds daarop begin voorberei het. Vir hulle en hulle bondgenote, is dit duidelik ‘n omvattende konflik gemik daarop om die bestaande Westers-gedomineerde orde tot ‘n kantel-punt te dwing – om van ‘n enkel-pool

orde gedomineer deur die VSA, na ‘n multi-pool nuwe orde te beweeg, waar daar nie meer eensydiglik aan hulle gedikteer sal kan word vanuit Washington nie.

Dit gaan dus nou om veel meer as net die annekseer van grondgebied in Oekraïne. Of die Weste die stamina (en die vermoë) gaan hê om Oekraïne met hulle steun in die stryd te hou – en of Oekraïniërs aanhou bereid sal wees om die Russe ten behoewe van die Neocons in Washington te bly veg “tot die laaste Oekraïniër” – sal veral die komende winter ons leer.

Want bes moontlik Poetin se belangrikste verklaring gedurende hierdie afgelope maand van Julie, was sy waarskuwing dat: hoe langer die stryd voortduur, hoe hoër gaan Rusland se eise styg, en hoe moeiliker gaan dit vir Oekraïne word om met Rusland te onderhandel.

Wat ook hierdie maand opgeval het, is hoeveel Amerikaanse en Britse hoëlui in die openbaar gewaarsku het dat Sjina in werklikheid die Weste se grootste veiligheids-uitdaging is. Die hoofde van die FBI en MI.5 het vir die eerste keer, vanaf dieselfde platform, so ‘n waarskuwing gerig. Die Amerikaanse voorsitter van hulle gesamentlike staf-hoofde het dit die hoof-tema gemaak van ‘n toespraak wat hy in die Filippyne gelewer het. Tony Blair het dit sy wekroep gemaak, en so ook die Britse nasionale veiligheid-adviseur en die hoof van hulle vloot. Les bes, het die Amerikaanse staatsekretaris dit benadruk.

Die manier waarop die Weste die Sowjet-Unie hokgeslaan het, was deur sg. “containment”. Deur die USSR effektief te omsingel het met die betrek van lande soos Turkye binne NAVO. As die Weste gedoen het soos wat die Franse en veral die Duitsers wou, deur vir Rusland na die val van die kommunisme daar, ekonomies en polities in te getrek het – soos wat Rusland self graag ook wou – dan sou Sjina maklik omsingel kon gewees het. Nou, a.g.v. die Neocons se fiksasie met Rusland antagoniseer, het Sjina ‘n sterk bondgenoot aan sy noord-front gekry, wat boonop vir hom kan voorsien van alles wat hyself nie het nie, in die vorm van energie, grondstowwe en voedsel.

In stede daarvan om vir Sjina (as synde die verklaarde groot gevaar), fisies en ekonomies te kon “contain” het met die hulp van sy bure soos Rusland en Indië, het ons vandag die BRICS as ekonomies-kragtige bondgenote van Sjina. Waar Sjina andersins, soos Japan gedurende die dertigerjare, sou moes spartel om sy armoede aan energie-bronne en grondstowwe te oorkom, is hy nou omring – nie deur Westerse “containment” nie – maar deur bondgenoot-voorsieners van juis daardie grondstowwe en energie. Watter strategiese sin maak dit? Veral gesien uit Wes-Europese hoek, aangesien dit hulle is wat by uitstek die prys gaan betaal in die ekonomiese oorlog, sowel as in die diplomatieke stryd, waarin hulle koloniale verlede hulle gaan agterhaal...

Weer sê ons as NONGQAI-redaksie dat die brutaal-gewelddadige manier van Oekraïne binne te geval het, nimmer goed gepraat kan word nie.

Soos wat die Pous (en vele ander staatshoofde) sedertdien gesê het, is daar egter twee partye wat aan hierdie ramp skuld het. Wat nou ontketen is, is nie net maar ‘n onderonsie oor waar Rusland en Oekraïne se grens moet loop nie. Dit is ‘n stryd wat die internasionale magsorde vir dekades gaan bepaal. Dit word nie net geveg op die slagvelde van die Donbass nie, maar in groot mate ook internasionaal-ekonomies. Die newe-effekte wat ons reeds sien, soos inflasie, resessie en voedseltekorte, gaan groot skade doen aan onskuldige buitestaanders soos Suid-Afrika. Om nie eers te praat van moontlike eskalasie tussen kern-moondhede nie...

As die Weste hierdie proxy-stryd gaan verloor, dan gaan dit die demokrasie in lande soos Suid- Afrika in gevaar stel, omdat potensiële outokrate hier sal kan reken op steun van Moskou en Beijing, sonder demokratiese teenwig. Vraag is egter: kan die Weste hierdie geveg, wat die Neocons so kortsigtelik loop soek het, wel wen?

This article is from: