8 minute read

Nongqai Vol 13 No 8

VERTOLKING VAN BERIGTE & KOERANT ARTIKELS

Brigadier Fanie Bouwer

Advertisement

Ek is gevra om kommentaar te lewer, of dan liewers 'n vertolking te gee van etlike koerantartikels en mediaverklarings wat aan my voorgehou is rondom die polisie en misdaad.

Die taalguru’s reken 'vertolking' is in werklikheid 'n interpretasie-ding. Andersins impliseer dit ook een van twee dinge: eerstens, die betrokke tekste is effe vaag in soverre dit die bedoeling daarvan betref en dat my vertolking sal wees om 'n verduideliking te probeer gee van daardie bedoeling. Dit sal dan ook onderhewig wees aan my moontlik eie persoonlike voorkeure of praktiese kennis - veral my institusionele geheue as oudpolisie-offisier met dekades se polisie-ervaring - en dalk ook 'n skeut subjektiwiteit wat dalk na vore mag tree. En dít is maar hoe dit is.

Die artikels en die mediaverklarings wat ek gelees het, is uiteenlopend van aard.

As mens dit egter aandagtig lees, kom jy agter dit is persone, joernaliste en/of organisasies wat ernstige misdaad enersyds onder die breër publiek se aandag wil bring, met ook, let wel, 'n pleit dat dié kwessies daarin vermeld van die polisie moet aandag kry.

Terselfdertyd, en subtiel natuurlik, wys dit ook 'n gebrek of tekortkominge in polisiëring uit. Dit is inderdaad 'n wekroep vir beter polisiëring. Niks anders nie.

Die oproep uit die Wes-Kaap deur die Kaapse Forum dat 'n referendum uitgeroep moet word vir die afwenteling van polisiemagte na die Wes-Kaap, is een wat eintlik sê: "Ons sal polisiëring beter doen as die nasionale SAPD". Die voor- en nadele van só iets, met die finansiële implikasies, sal natuurlik eers goed ontleed moet word.

Mens kan deesdae enige 10 ander artikels rondom die polisie en polisiëring in die media hier aanhaal. En dit wat ek hierbo gesê het, sal eweneens van toepassing wees.

Die logies vraag nou is: Is dit wat in die artikels en mediaverklarings aan my voorgehou is, iets nuuts? Is daar skielik 'n nuwe tendens waarvan ons moet van kennis neem? Die antwoord is een van 'nee', soos ek hier onder gaan verduidelik. Dit kom reeds jare aan.

Eerstens, ek gee die afgelope 10 jaar baie aandag aan die SAPD en hoe dié organisasie misdaad takel en hoe hulle presteer. En natuurlik ook die SAPD se on/professionaliteit, dissipline, kennis, gewilligheid, nuwe kultuur, werkswyses, ensovoorts. Hierdie dinge het ons ook elders reeds al breedvoerig onder die loep geneem. Daar was praktiese voorstelle. Tog moet ek dit weereens net kortliks na verwys.

Dit gaan nie help dat die geleerde 'kenners' van misdaad en polisiëring in koerantartikels en ook talle ander wat ek onlangs gelees het wat op die oog af intelligente, maar ietwat teoretiese voorstelle (om beter polisiëring te doen) aan die hand doen nie.

En dan lees ek ook van die sg. geestesgesondheid van die polisiebeamptes; die geweldige druk wat die polisie deesdae in die gesig staar; die verlies aan mannekrag; die lae werwingsgetalle;

polisiewerk onder moeilike omstandighede; dat lede oorwerk is en hulle konstante trauma en onderbetaling - so asof dít - hierdie toevallige (oordrewe) bysake - die kernoorsake is. Dit is nie. Ook wil ek amper sê siestog.

Dan lees ons ook van 10 000 rekrute wat ná opleiding misdaad gaan hok slaan in SA. Die getalle is blykbaar nodig vir die SAPD om op sy optimale vlak te presteer. Dít sal nié gebeur nie. Die polisieminister sê ook dat die Openbare Orde Polisiëringseenheid 4 000 bykomende lede sal kry om in die toekoms meer doeltreffend te kan optree sou onluste uitbreek. Sy oordeel is verkeerd. Getalle veroorsaak nie beter openbare orde polisiëring nie. Net goeie opleiding, met knap opgeleide offisiere en 'n wil, kan dít teweeg bring.

Al hierdie dinge spreek nié die kernoorsake aan nie.

Die koerantberigte - die wekroep waarvan ek gepraat het - dui aan dat die SAPD nie presteer nie en dat hulle hulle sokkies sal moet optrek.

Groot dinge (van die SAPD) is verwag, maar die agteruitgang wat ons almal in SA egter ervaar, is ontstellend. Die sg. dun blou lyn het ernstige krake. Die erg-stygende misdaadstatistieke wat die minister op 3 Junie bekend gemaak het, vertel 'n skrikwekkende verhaal hoe die polisie die stryd teen misdaad loshande verloor.

Ek kan nie ál die baie ernstige gebreke, van laer vlakke tot heelbo, binne die SAPD nou hier uitspel nie. Ook nie my voorstelle vir regstellings nie. Beide is te omvattend.

Ek het egter onlangs na die nuut-aangestelde nasionale polisiekommissaris se eie ontleding, planne met en visie oor die SAPD geluister. Hy het reeds sy wittebrood tydvak van 100 dae oorskry. Hy het sy visie vir die SAPD bekend gemaak en aangedui dat sekere dinge wat wanfunksioneer onmiddellike aandag gaan geniet. Intussen het ons nog van niks konkreets verneem nie.

Ek lees toevallig nou die dag op sosiale media toe die baie bekende menseregteprokureur, Richard Spoor, van KZN die volgende skryf: "If you think Eskom is a disaster, just wait until you see the state of the SAPS".

As dié man reken dat die SAPD selfs in 'n treuriger toestand is as Eskom, bevestig dit inderdaad dit wat die Suid-Afrikaanse burgers ervaar en ook sien en lees oor die polisie.

Vra jouself dan die volgende (politiese) vrae: Wie het Eskom verlam? Wie het die SAPD verlam? Of het hulle dalk net die spoor rondom die politiese bestuur van die polisie, soos met ander staatsdepartemente, ook bloot net verloor?

Ek het al voorheen aangedui dat die gebrek aan ware polisiëring reeds miljarde rand se ekonomiese skade tot gevolg gehad het. Dink net aan die honderde vragmotors wat uitgebrand is; die spoorweë wat rot en kaal gesteel word; die sabotasie by Eskomkragstasies, ensovoorts. Die polisie in die onderskeie stasiewyke was en is gewoonlik afwesig. Daar is baie meer voorbeelde.

In die Bybel word telkens gemaan dat mens nie moed moet verloor nie. Dit is egter op persoonlike vlak.

Soos dinge 'buite hoop' of 'onredbaar' kan wees, só begin ek ook deesdae voel oor die SAPD. Ek kan nie meer teen my eie beterwete hoop of stry nie.

Daarom, uit pure moedeloosheid het ek al gesê: "Die berg het 'n muis gebaar". Of 'Jy kan nie 'n roereier weer in 'n eier verander nie".

Dit alles dui op 'n ongelukkige persepsie van dat 'n punt van geen terugkeer wat betref die SAPD se funksionele ineenstorting, nou bereik is.

Dr Steenkamp: Kommentaar:

Eietydse polisie-geskiedenis – verslag van Julie 2022 Beste Brig. Hennie: As mens na die items wat u gelys het kyk, dan verstaan mens waarom die SAPS deur die algemene publiek as die mees korrupte instelling in die land beskou word (en sekerlik ook een van die mees onbevoegde).

Dis duidelik dat, ondanks die skokkende gebeure van Julie 2021 in KZN en Gauteng, die SAPS allermins nou beter ge-rat is om só ‘n situasie te hanteer. (Elders in hierdie opgawe van NONGQAI analiseer ons oud-president Thabo Mbeki se onlangse stelling dat Suid-Afrika openbare oproer soortgelyk aan die “Arabiese lente” van 2010 kan beleef: die teelaarde daarvoor, wat gewis bestaan, en die risiko’s waarvoor Suid-Afrikaners dus behoort te beplan).

Dis ook skrikwekkend dat die getal speurders so wesentlik aan’t verminder is (met 1,300 sedert Mnr Cele minister geword het). Dít, terwyl die persentasie suksesvolle vervolgings van ernstige misdaad, klugtig laag is – in die artikel met analise van President Mbeki se waarskuwing oor ‘n “Arabiese lente” noem ons bv. dat die sukses-persentasie vir vervolging van misdade soos roof en voertuig-kaping, slegs maar twee persent is, terwyl slegs een uit elke vyf moord-klagtes hedendaags enigsins op die bepaal van ‘n hof-datum uitloop (wat nog te sê van suksesvolle skuldigbevindings).

Die tragiese werklikheid is dat niemand tot verantwoording geroep word nie – nie die rowers, verkragters en moordenaars nie, nie die oproermakers van Julie 2021 nie (van wie nog geen saakmakende figuur vervolg is nie), en ook nie die polisie-leierskorps wie se verantwoordelikheid dit tog duidelik was en is dat hierdie jammerlike toedrag van sake nie op hulle diensbeurt moes gerealiseer het nie.

‘n Staat se primêre verpligting teenoor sy burgers (wat hom met hulle belasting-geld in stand hou) is tog sekerlik om hulle persoonlike veiligheid en dié van hulle besittings te verseker. Suid-Afrika lei die wêreld in ernstige misdaad (internasionale statistiek bewys dit, ondanks die feit dat al minder Suid-Afrikaners hulself die moeite troos om misdaad by die SAPS aan te meld, sodat ons statistiek dus geensins verteenwoordigend is van die werklike situasie nie). Die vlak van misdaad, plus die stand van die ekonomie, die hoogste werkloosheid-syfers in die wêreld en powere openbare dienslewering in die algemeen (wat ‘n vrugbare teelaarde skep vir onrus), behoort die effektiwiteit van sy polisiemag enige regering se prioriteit te wees. Veral gegewe die realiteit dat die publiek, en die armes in die besonder, erg die impak van histories-hoë inflasie, voedseltekorte en wêreldwye resessie aan die lyf gaan voel – wat die potensiaal vir radikalisering en politieke onrus nog meer gaan verhoog, aangedryf ook deur die faksie-konflikte binne die regerende party.

Daar is egter geen teken daarvan dat die regering doelbewus werk maak daarvan om sy polisiediens (en veiligheidsmagte in die algemeen) op te knap nie.

Dit skyn asof plaaslike gemeenskappe op hulleself aangewese gaan wees, om hulle eie veiligheid te verseker, sou President Mbeki se waarskuwing van komende openbare onrus op die skaal van die “Arabiese lente” bewaarheid word.

This article is from: