6 minute read

Nongqai Vol 13 No 8

S.A. POLISIE-EIENDOM SMOKKEL MET MY KOP

Advertisement

Kol Wynand Schoeman

Die S.A. Polisie-eiendom smokkel met my kop.

Met my aankoms as Stasiebevelvoerder op Katima Mulilo in die Oos-Caprivi in Desember 1978 het die vorige bevelvoerder al reeds die stasie verlaat. Daar was nie ‘n oorhandigingssertifikaat agtergelaat nie en kon ek aanvanklik nie enige stasie-inventaris opspoor nie. Ook het geen kantoor ‘n kantoorinventaris gehad nie. Sersant Barnard wat op daardie stadium as stasiebevelvoerdersklerk opgetree het, vind egter ‘n ou stasie-inventaris in een van die kabinette wat ek toe maar as vertrekpunt gebruik om die stasieeiendom na te gaan. Stelselmatig het ek vir elke kantoor ‘n inventaris opgestel en dit met die “ou” inventaris probeer sinchroniseer en konsolideer.

Ek ontvang heelwat later wel ‘n kopie van die DK se weergawe van die stasie-inventaris en teken gebreke ook daarop aan. Tot ‘n paar jaar terug, voor 1978, was Katima Mulilo nog die basis van die Distrikskommandant maar met die oordrag van die “Polisieforte” (soos dit bekend gestaan het), by Kongola en Impalila-eiland aan die S.A. Weermag, het die setel van die Distrikskommandant na Rundu (Polisiedistrik 87), verskuif. Distrik 87 het uit die polisiestasies by Rundu, Katima Mulilo, Nkurenkuru, Bagani en Tsumkwe, bestaan. Of van die eiendom na Rundu of elders verskuif is, kon niemand my met sekerheid vertel nie.

So soek ek na 6 grassnyers (wat nie bestaan nie), ‘n polisieboot wat blykbaar jare gelede al vervang is en selfs ‘n voertuig, wat blykbaar jare gelede al ‘n watergraf in die Zambezirivier gevind het. Daar is ‘n massiewe instapvrieskas op die stasie wat deur die menasie gebruik word en volgens aanduiding deur wyle meneer Jan Pickard aan die S.A. Polisie geskenk is, maar nêrens aangeteken of gedokumenteer is nie. Net so is daar ‘n super-grootte snoekertafel maar ook geen rekord op papier nie.

Daar is twee ondergrondse brandstoftenks waarvan die pompe al lankal verwyder is omdat die tenks blykbaar lek. Dié tenks is blykbaar nooit leeggetap nie en niemand weet hoeveel brandstof daar nog in die tenks was nie. Daar is ‘n hulp-motorhawe op die stasie met toerusting, ratkaste, enjins en onderdele wat orals rondstaan maar ook nêrens in ‘n register aangeteken is nie.

Daar is ‘n kragopwekker by die Ngoma grensbeheerpunt by die Choberivier wat die grenskeiding tussen die Oos-Caprivi en Botswana is, en deur twee plaaslike lede beman word. Ngoma was voorheen ‘n klein polisiebasis en die kragopwekker is blykbaar vir die manne by die beheerpunt se gebruik agtergelaat.

Dit lyk nie vir my of die bundels met wette onlangs opgedateer is nie. Die afrolmasjien op die stasie is darem op rekord. Daar is 12 gemeubileerde wonings met staatsmeubels op Katima Mulilo wat deur die getroude manne bewoon is. My logika sê vir my dat daar dus ook vir elke woning ‘n inventaris moet wees en dat ‘n gekonsolideerde rekord op stasievlak behoort te wees. Daar is niks. Die manne koop ook soms huishoudelike toestelle vir hulle self aan en so word staatseiendom met privaateiendom vermeng.

Vermoedelik het daar verskuiwings en oorplasings plaasgevind met die verskuiwing van die DKkantore na Rundu maar niemand weet presies nie. Die lid wat vir die stasie-eiendom verantwoordelik was, bedank en koop sy ontslag binne 14 dae. Die werktuigkundige koop sy ontslag binne 3 weke en nog ‘n lid op wie se skouers die stasie-eiendom ook gerus het, volg kort daarna.

Die vuurwapens en ammunisie op die stasie laat my ook kopkrap. Al die vuurwapens, waaronder die pistole, handmasjienkarabyne en RI- gewere en ander wapens wat daar moet wees, was daar en ek sug van verligting.

Daar was egter sowat 25 bykomende R1- gewere in die wapenkluis waarvoor geen rekord bestaan het nie. Hoe dit daar beland het weet niemand nie. Vermoedelik kon van die wapens S.A. Weermagwapens wees wat deur troepe in die veld agtergelaat is, deur iemand opgetel en by die S.A. Polisie ingehandig is. Hierdie wapens is nêrens in ‘n gevonde eiendomsregister aangeteken nie. Die ammunisie was ook ‘n probleem.

Daar was sowat 20 000 meer R1- patrone op hand as wat die beskikbare inventaris aandui as wat daar moet wees. Niemand kon verduidelik hoe dit daar beland het nie. ‘n Groter kopseer was egter die 9mm patrone op hand, waar daar sowat 5 000 patrone te kort was.

Ek was nog besig om te dink hoe ek die tekort aan 9mm patrone gaan hanteer toe ek ‘n teleksboodskap ontvang dat die Distrikskommandant op pad was vir ‘n stasie-inspeksie.

Geen stasie skiet 5 000 9mm patrone in een skietoefening uit nie en daar was nie onlangs enige skietoefening nie. Noodgedwonge wend ek my tot die Weermag om uit te vind of hul 5 000 9mm patrone aan my kon leen of skenk. Die Weermag was heeltemal bereid om die patrone aan my af te staan en het onderneem om dit by my kantoor af te lewer voordat die Distrikskommandant sou opdaag.

Ek het ‘n sug van verligting gesnak maar die situasie sou hom anders uitdraai as wat ek voorsien het. Die DK arriveer baie vroeg die betrokke Maandagoggend. Die patrone was nog nie afgelewer nie maar ek het verwag om dit enige tyd te ontvang.

Ek maak die DK rustig in my kantoor met ‘n koppie koffie en besef dat ek die patrone sou moes onderskep voordat dit by my kantoor afgelewer word. My reëling met die Weermag was dat hul die patrone direk na my kantoor sou bring. Omdat ek die betrokke oggend ook nog nie die selle besoek het nie, besluit ek om vinnig na die selle te gaan om seker te maak alles is skoon en in orde.

Dit gebeur toe dat ek die aflewering van die patrone mis en dit in my kantoor direk aan die DK oorhandig word met die woorde, “hier is die patrone wat Luitenant Schoeman kort”. Met my terugkeer vanaf die selle vind ek dat die DK alreeds die patrone namens my in ontvangs geneem het en ‘n duidelike vraagteken op sy gesig! Uiteraard moes ek toe maar die situasie aan hom verduidelik.

This article is from: