Nongqai Vol 13 No 8

Page 17

S.A. POLISIE-EIENDOM SMOKKEL MET MY KOP Kol Wynand Schoeman Die S.A. Polisie-eiendom smokkel met my kop. Met my aankoms as Stasiebevelvoerder op Katima Mulilo in die Oos-Caprivi in Desember 1978 het die vorige bevelvoerder al reeds die stasie verlaat. Daar was nie ‘n oorhandigingssertifikaat agtergelaat nie en kon ek aanvanklik nie enige stasie-inventaris opspoor nie. Ook het geen kantoor ‘n kantoorinventaris gehad nie. Sersant Barnard wat op daardie stadium as stasiebevelvoerdersklerk opgetree het, vind egter ‘n ou stasie-inventaris in een van die kabinette wat ek toe maar as vertrekpunt gebruik om die stasieeiendom na te gaan. Stelselmatig het ek vir elke kantoor ‘n inventaris opgestel en dit met die “ou” inventaris probeer sinchroniseer en konsolideer. Ek ontvang heelwat later wel ‘n kopie van die DK se weergawe van die stasie-inventaris en teken gebreke ook daarop aan. Tot ‘n paar jaar terug, voor 1978, was Katima Mulilo nog die basis van die Distrikskommandant maar met die oordrag van die “Polisieforte” (soos dit bekend gestaan het), by Kongola en Impalila-eiland aan die S.A. Weermag, het die setel van die Distrikskommandant na Rundu (Polisiedistrik 87), verskuif. Distrik 87 het uit die polisiestasies by Rundu, Katima Mulilo, Nkurenkuru, Bagani en Tsumkwe, bestaan. Of van die eiendom na Rundu of elders verskuif is, kon niemand my met sekerheid vertel nie. So soek ek na 6 grassnyers (wat nie bestaan nie), ‘n polisieboot wat blykbaar jare gelede al vervang is en selfs ‘n voertuig, wat blykbaar jare gelede al ‘n watergraf in die Zambezirivier gevind het. Daar is ‘n massiewe instapvrieskas op die stasie wat deur die menasie gebruik word en volgens aanduiding deur wyle meneer Jan Pickard aan die S.A. Polisie geskenk is, maar nêrens aangeteken of gedokumenteer is nie. Net so is daar ‘n super-grootte snoekertafel maar ook geen rekord op papier nie. Daar is twee ondergrondse brandstoftenks waarvan die pompe al lankal verwyder is omdat die tenks blykbaar lek. Dié tenks is blykbaar nooit leeggetap nie en niemand weet hoeveel brandstof daar nog in die tenks was nie. Daar is ‘n hulp-motorhawe op die stasie met toerusting, ratkaste, enjins en onderdele wat orals rondstaan maar ook nêrens in ‘n register aangeteken is nie. Daar is ‘n kragopwekker by die Ngoma grensbeheerpunt by die Choberivier wat die grenskeiding tussen die Oos-Caprivi en Botswana is, en deur twee plaaslike lede beman word. Ngoma was voorheen ‘n klein polisiebasis en die kragopwekker is blykbaar vir die manne by die beheerpunt se gebruik agtergelaat. Dit lyk nie vir my of die bundels met wette onlangs opgedateer is nie. Die afrolmasjien op die stasie is darem op rekord. Daar is 12 gemeubileerde wonings met staatsmeubels op Katima Mulilo wat deur die getroude manne bewoon is. My logika sê vir my dat daar dus ook vir elke woning ‘n inventaris moet wees en dat ‘n gekonsolideerde rekord op stasievlak behoort te wees. Daar is niks. Die manne koop ook soms huishoudelike toestelle vir hulle self aan en so word staatseiendom met privaateiendom vermeng. NONGQAI Vol. 13. No. 8

17


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.