7 minute read

Les 3: Groepsdruk

As jy eers weet wat jou belangstellings en vermoëns is, kan jy dit gebruik om jou potensiaal te ontwikkel. Jy kan jou belangstellings en vermoëns gebruik om algemene vaardighede te ontwikkel, soos om in ’n span te werk of jou woordeskat te verbeter. Jy kan dit ook gebruik om te besluit watter skoolvakke jy op hoërskool moet neem en watter beroepe jou sal pas.

As jy goed skaak speel, kan jy heel moontlik lank konsentreer en vooruit beplan. As jy jou skaakvermoëns ontwikkel, kan jy dalk ’n kampioenskaakspeler word, of jy kan jou vermoëns gebruik om ’n snydokter te word wat lang operasies doen wat konsentrasie verg. As jy in masjiene of rekenaars belangstel en goed doen in wiskunde en wetenskap, kan jy dalk ’n ingenieur word. As jy mal daaroor is om stories te skryf of te vertel, en jou vriende dit geniet om na jou stories te luister, het jy dalk die potensiaal om ’n skrywer of akteur te word. As jy goed kan teken, kan jy dalk ’n kunstenaar, of ’n ontwerper of ’n argitek word.

Jy kan ook oorweeg om dinge te identifiseer waarin jy nie so goed is nie, en oorweeg of jy jou vaardigheid daarin kan verbeter. As jy nie van spansport hou of goed daarin is nie, kan jy dalk swem of dans om fiks en sterk te word. As jy skaam is, kan jy dalk in ’n koor sing of by ’n dramaklas aansluit om jou te help om meer selfvertroue voor mense te kry.

Les 3 Groepsdruk

3.1 Voorbeelde van groepsdruk in verskillende situasies: skool en gemeenskap

Dit is vir alle tieners belangrik om in te pas. ’n Groep maats dra gewoonlik dieselfde tipe klere of luister na dieselfde musiek. Dit is hoe hulle met mekaar identifiseer en is deel van die groep se dinamika. Groep- en portuurinvloed raak ons almal op een of ander wyse, ongeag van jou ouderdom of jou geslag. Dit is ongelukkig so dat nie alle invloed ten goede op ons inwerk nie. Druk van die groep laat mense soms hulle gedrag verander, al voel hulle ongemaklik daarmee. Maats stel soms eise aan jou wat jy weet is nie reg nie, maar jy gee daaraan toe omdat jy nie “uit” wil wees nie.

Aktiwiteit 13

1. Dink na of jy onlangs deur iemand beïnvloed is? 2. Watter tipes invloede kry ons? Probeer self ’n paar identifiseer. 3. Verdeel dit in goeie en slegte invloede. 4. Watter invloede, dink jy, is die moeilikste om te weerstaan? 5. Waarop het jou portuurgroep ’n invloed as dit by jou besluite kom? 6. Beïnvloed jou maats jou voorkoms? 7. Beïnvloed jou maats die musiek waarna jy luister? 8. Beïnvloed jou maats wat jy in jou vrye tyd doen?

Jou portuurgroep is vriende wat min of meer so oud soos jy is. Dit is mense wat saam met jou op skool is of in dieselfde sosiale kringe as jy is. Die groep het ’n baie groter invloed op jou as wat jy dink en bepaal baie keer hoe jy in ’n seker situasies gaan optree. Die invloed van die portuurgroep kan negatief of positief wees en dit is dus belangrik dat jy jou eie gevoelens verstaan en jou eie besluite vertrou.

Groepsdruk kan plaasvind by die skool en selfs in jou gemeenskap. By die skool kan jou groep druk op jou plaas om klasse te “bank” of die onderwysers sleg te behandel. Jy doen dit dalk omdat jy nie jou vriende wil verloor nie, maar dink nie aan die nagevolge nie. In jou gemeenskap is daar dalk groepe of bendes wat druk plaas op die jongmense om verkeerde dinge te doen, soos om dagga te rook. Dit bly altyd jou eie keuse of jy aan die druk gaan toegee.

Alle groepsdruk is nie negatief nie. Jou vriende en portuurgroep kan jou ook goeie raad gee en jou aanmoedig om huiswerk te doen en aan sport deel te neem. Dit het dus ’n positiewe uitwerking op jou aksies. Negatiewe groepsdruk het ’n nadelige uitwerking op jou. Dit laat jou verander en kan later ernstige gevolge hê. Jong mense gee toe aan groepsdruk omdat hulle deel van die groep wil wees. Ander kinders is dalk net nuuskierig of het ’n swak selfbeeld en wil ten alle koste deur ander aanvaar word.

Aktiwiteit 14

1. Maak ’n lysie van goeie en slegte invloede wat jou vriende al op jou lewe en besluite gehad het. 2. Maak ’n lys van positiewe groepsdruk. 3. Maak ’n lys van negatiewe groepsdruk.

3.2 Gepaste reaksies op groepsdruk in verskillende situasies

Jy kan “nee” sê en van negatiewe groepsdruk af wegstap. Dit is egter nie altyd so maklik nie. Jy moet goeie selfkennis hê en weet wat reg en verkeerd is. Jy moet altyd onthou wat jou ouers jou geleer het. Jy moet ook jou eie gevoelens en emosies verstaan. Jy moet altyd aan die gevolge van jou aksies dink. Jy is dalk vir daardie oomblik nie gewild by die groep nie, maar op die lang duur sal dit vir jou voordelig wees.

Jy moet altyd jou vriende reg kies. Kies maats wat dieselfde waardes as jy het en dieselfde opvoeding het. Dit sal jou help om altyd die regte keuses te maak. As jy wel verkeerde keuses gemaak het, moet jy met iemand wat jy vertrou daaroor praat.

Jy moet altyd goed voel oor jouself. Dit sal jou help om groepsdruk te weerstaan. As jou maats jou sleg laat voel oor jouself is hulle nie die regte maats vir jou nie. Dit is tog lekker as iemand goeie dinge van jou sê en dit ontwikkel ’n positiewe selfbeeld. ’n Negatiewe selfbeeld is wanneer jy nie goed voel oor jouself nie en onseker van jouself is. Dit is daarom belangrik dat jy ’n positiewe selfbeeld ontwikkel. Positiewe mense is gelukkige mense en trek ook ander gelukkige mense na hulle toe aan.

Hoe kan jy positief wees elke dag?

● Wees jouself. Moenie soos ander mense probeer wees nie. ● Fokus op die dinge waarin jy goed is. Leer nuwe vaardighede aan. ● Wees optimisties en omring jou met positiewe mense. ● Bring baie tyd deur saam met vriende wat jou goed laat voel oor jouself. ● Bly weg van mense wat verkeerde dinge doen. ● Leer uit jou foute. Moet nie bang wees om foute te maak nie. Almal maak foute. ● Neem altyd verantwoordelikheid vir alles wat jy doen.

Aktiwiteit 15

1. Beskryf enige situasie waar jy gevoel het dat jy onder die druk van jou portuurgroep was. 2. Wat was die besluit wat jy moes neem in die situasie? 3. Wat het jy besluit en wat was die gevolge daarvan? 4. Sou jy dit anders benader het as jy nou weer daaroor dink?

3.3 Lees oor groepsdruk

Lees die volgende leesstuk.

Slim planne om groepdruk te hanteer

Het jy al gevoel jy moet op ’n sekere manier aantrek, of sekere musiek luister of op ’n sekere manier praat om “in” of “cool” te wees? Daardie gevoel is die gevolg van groepdruk of portuurgroepdruk. Jou portuurgroep is die kinders wat so oud soos jy is, wat saam met jou in dieselfde graad of klas is of saam met wie jy ná skool speel of kuier. Ons almal wil graag deur die mense om ons aanvaar word en voel of ons êrens behoort of inpas.

Dit is egter belangrik om jouself te ken en om nee te kan sê wanneer jou vriende jou probeer oortuig om iets te doen wat verkeerd is, of waarvan jy nie hou nie, byvoorbeeld om te rook of ander mense te boelie. Luister na jou lyf in so ’n situasie. Hoe voel jy? Klop jou hart vinnig? Is daar ’n hol kol op jou maag? Voel jou mond droog? Stop en dink waarom jy so voel. Gaan jy in die moeilikheid kom? Breek jy ’n wet of skoolreëls? Is dit veilig? Gaan jou ouers en onderwysers kwaad of teleurgesteld wees as hulle uitvind? Gaan dit iemand seermaak? Voel jy goed daaroor?

Hier is ’n paar maniere om negatiewe groepdruk te hanteer. As iemand uit jou portuurgroep iets voorstel wat jy nie wil doen nie, kan jy bloot vriendelik “nee, dankie, nie vir my nie” sê. Jy kan ook wegloop sonder om iets te sê, of maak of jy dringend iewers anders moet wees. Jy kan oor iets anders begin praat of lag en maak asof jy dink die persoon het ’n grap gemaak.

Of, as jy dapper en seker van jouself is, kan jy jou vriende vriendelik probeer oortuig dat die optrede gevaarlik of verkeerd is. Jy kan sê, “ek het gedink jy is te slim om so iets te doen” of “dink net hoe sou jy gevoel het as iemand so iets vir jou gesê het”.

Aanvanklik sal die persoon wat dit voorstel jou dalk probeer spot. As jy egter glimlag en aanhou om vriendelik te wees, sal mense jou gou begin respekteer as iemand wat selfvertroue het en vir jouself kan dink. Jy kan ook positiewe groepdruk op jou vriende uitoefen en hulle ondersteun wanneer hulle onseker is, gespot word of geboelie word.

Positiewe groepsdruk kan jou help om ’n beter mens te wees of beter op skool te doen, byvoorbeeld wanneer jy saam met vriende besluit om geld of kos vir minder bevoorregte mense te gee of mekaar help voorberei vir ’n toets.

This article is from: