7 minute read

Les 2: Vermoëns, belangstellings en potensiaal

Next Article
Jaarplan

Jaarplan

Deur die eeue heen het mense verskillende idees gehad oor wat mooi is, soos byvoorbeeld klein voete, lang nekke, vol onderlippe, baie maer lywe, baie vet lywe, geen hare nie of baie hare. In sommige kulturele is ’n mollige lyf ’n teken van gesondheid en welvaart. Netso kan vandag se idees oor wat mooi of goed lyk, eendag totaal verander.

Jy mag dalk dink dat mense meer van jou sal hou as jy mooier of maerder of sterker is. ’n Glimlaggende, vriendelike mens sal altyd meer vriende hê as ’n ongelukkige, knorrige persoon, maak nie saak hoe hulle lyk nie. Leer om jouself te aanvaar en dinge te vind wat jou gelukkig maak.

Les 2 Vermoëns, belangstellings en potensiaal

2.1 Identifiseer eie vermoëns, belangstellings en potensiaal

Figuur 1.6

Dit is belangrik om te weet watter dinge jy goed kan doen en wat laat jou goed voel oor jouself. Mense onthou altyd net die foute wat hulle maak en vergeet van al die dinge wat hulle goed kan doen. Jy moet die waagmoed hê om dinge aan te pak, al weet jy nie of jy suksesvol gaan wees nie. Dit is die enigste manier hoe jy sal weet waarin jy goed is. Jy moet weet wat jou eie belangstellings en vermoëns is, sodat jy dit kan ontwikkel en verbeter om jou volle potensiaal te kan bereik. Jy kan dit bepaal deur die dinge wat jou gelukkig en ontspanne te laat voel, te identifiseer.

● Watter sportsoorte hou jy van en is jy goed in? ● Watter skoolvakke is vir jou lekker en vaar jy goed in? ● Watter ander aktiwiteite hou jy van?

Aktiwiteit 7

1. Maak ’n lys van al jou belangstellings en vermoëns.

2. Trek kolomme met die volgende opskrifte en skryf by elkeen notas van wat jy van jouself dink. ● My drome. ● Dinge wat ek goed kan doen. ● Dinge wat ek reeds goed gedoen het: skool/sport/ander. ● Waarvan hou ek om te doen. ● Dinge waarvan ek nie hou om te doen nie. ● Dinge wat vir my moeilik is om te doen.

2.2 Verhouding tussen vermoëns, belangstellings en potensiaal

Jou vermoëns en belangstellings bepaal of jy potensiaal het om iets te doen. Jou belangstellings is al die dinge waarvan jy hou om te doen, soos sport. Jou vermoëns is al die dinge wat jy goed kan doen. Jy kan van rugby hou én goed wees daarin. Hoe jy die twee eienskappe in verhouding tot mekaar gebruik, gaan bepaal of jy jou volle potensiaal gaan bereik.

Figuur 1.7

As jy intens in iets belangstel, beteken dit gewoonlik dat jy ook die vermoë het om dit te doen. Die twee loop hand aan hand. Jy kan ook sekere vaardighede aanleer as jy baie daarvan hou om iets te doen, maar nie baie goed daarin is nie. Jy bou dan op jou belangstelling om jou vermoë om dit te verrig, te verbeter en só jou volle potensiaal te bereik. Jy kan nie die een sonder die ander doen nie. So as jy baie belangstel in rugby en jy kan dit goed speel, sal jy die eienskappe gebruik en hard oefen en daarop voortbou. En eendag kan jy jou volle potensiaal gebruik om ’n Springbok word!

Aktiwiteit 8

1. Maak twee kolomme in jou boek, een kolom vir belangstellings (dit wat jy van hou om te doen) en een kolom vir vermoëns (dit wat jy goed kan doen). 2. Vul elke kolom in. 3. Bestudeer die kolomme en kyk of jy enige verhouding kan identifiseer tussen waarvan jy hou om te doen en dit wat jy goed kan doen.

Aktiwiteit 9

1. Gebruik die lys van belangstellings in aktiweit 8. 2. Knip prentjies uit ’n tydskrif wat hierdie belangstellings voorstel. 3. Maak ’n kleurvolle A4-plakkaat met die prentjies om jou belangstellings voor te stel.

2.3 Skep geleenthede om die meeste te maak van eie vermoëns, belangstellings en potensiaal

Jy wonder seker hoekom dit vir jou belangrik is om jou belangstellings en vermoëns te bepaal. Jy is nou op ’n ouderdom waar jy een van die dae moet besluit watter vakke jy moet neem en watter beroep jy wil volg. Dit bepaal al die toekomsbesluite wat jy gaan neem, veral wat jou beroep betref. Jy moet ook besluit aan watter sportsoorte of enige ander aktiwiteite jy wil deelneem. Jy wil tog nie iets doen waarvan jy nie hou nie? Daarom moet jy nou al bepaal waarin jy belangstel en ook waarin jy goed is. Dit help jou ook om nou te begin om dié eienskappe te ontwikkel en verbeter, sodat jy later jou volle potensiaal kan bereik.

Aktiwiteit 10

1. Watter beroep wil jy eendag volg? 2. Weet jy watter vakke om te neem om eendag daarvoor te studeer? 3. Pas die beroep in by jou belangstellings en vermoëns? 4. Gee redes vir jou antwoord in 3.

2.4 Aksieplan om die meeste te maak van eie belangstellings en vermoëns en om eie potensiaal te ontwikkel

Jy het nou ’n besliste idee van jou belangstellings en vermoëns en kan fokus daarop om die eienskappe te verbeter sodat dit jou kan help op jou pad vorentoe. As jy daarvan hou om iets te doen, is dit gewoonlik maklik om daarop te verbeter. Soms is jy te bang om dit bietjie verder te waag, omdat dit makliker is om te bly by dít wat jy ken en waarmee jy gemaklik is. Jy weet dalk nie hoe om te verbeter nie! Jy het dus hulp, raad en leiding nodig om jou te help ontwikkel en verbeter. Soms moet jy net self die besluit neem om jou talente te verbeter en te ontwikkel en dan die nodige stappe te neem om dit te bereik.

Hoe kan jy jou belangstellings en vermoëns ontwikkel? ● Ek moet myself gereeld herinner aan die dinge wat ek goed kan doen. ● Ek moet altyd alles geniet wat ek doen. ● Ek moet meer inligting verkry oor my belangstellings. ● Ek moet daarop fokus om die dinge wat ek goed kan doen, te verbeter.

Aktiwiteit 11

1. Wat dink jy kan jy doen om jou belangstellings en vermoëns te ontwikkel en verbeter? 2. Bespreek dit met jou maats of fasiliteerder.

Hoe kan my aksieplan lyk om my vermoëns en belangstellings te ontwikkel?

Jy moet nou aksie neem en ’n plan daarstel om jou belangstellings en vermoëns te ontwikkel en verbeter. Slegs dan sal jy jou volle potensiaal kan bereik. Jy sal nooit jou vaardighede verder kan ontwikkel as jy nie probeer om dit te verbeter nie. Die maklikste manier om ’n plan toe te pas is om eerste ’n plan op te stel. Kom ons werk op die volgende 10 stappe wat jy kan volg.

Die 10 stappe kan as volg lyk:

Stap 1: Herinner jouself elke dag aan jou doelwitte. Stap 2: Glo in jouself. Stap 3: Dink te alle tye positief en moenie dink aan alles wat negatief kan gebeur nie. Stap 4: Gee klein treë – doen een ding op ’n slag om jou te help om jou doelwit te bereik.

Stap 5: Neem verantwoordelikheid vir jou besluite. Stap 6: Al is die taak moeilik moet jy nie moed opgee nie; hou net uit en aan! Stap 7: Moenie ongeduldig word nie. Onthou, jy gaan nie alles in een dag regkry nie. Stap 8: Evalueer jou plan gereeld. Maak veranderinge aan jou plan indien nodig. Stap 9: Probeer om dit te alle tye geniet. Stap 10: Gee terugvoer aan jouself en jou vriende van wat jy bereik het.

Aktiwiteit 12

1. Ontwerp ’n A4-plakkaat met jou eie aksieplan. 2. Bespreek dit met jou maats of fasiliteerder. 3. Plak jou aksieplan êrens op waar jy dit elke dag kan sien.

2.5 Lees oor ontwikkeling van belangstellings, vermoëns en potensiaal

Lees die volgende leesstuk.

Maak die beste van jou belangstellings en vermoëns

Hou jy van atletiek of wiskunde? Kan jy goed lees of teken? Wil jy ’n dokter of ’n vlieënier word? Die dinge wat jy geniet om te doen of meer oor wil weet, word jou belangstellings genoem. Die dinge waarin jy goed is, is jou vermoëns. Dikwels hou ons daarvan om dinge te doen waarin ons goed is, en omdat ons dit geniet en dit dikwels doen, word ons selfs beter daarin. Dit is ’n goeie idee om te weet wat jou belangstellings en vermoëns is, sodat jy jou volle potensiaal kan ontwikkel.

Jy kan jou belangstellings identifiseer deur die volgende vrae te vra: Wat is jou gunstelingvak? Hoekom? Wat is jou gunstelingspeletjie? Watter televisieprogramme kyk jy graag? Het jy enige stokperdjies? Waarom hou jy van hierdie stokperdjies? Hou jy van spansport of om dinge op jou eie te doen?

Probeer nou jou vermoëns te identifiseer. Watter vakke is jy goed mee? Watter sporte is jy goed in? Watter speletjies is jy goed mee? Vra ook jou vriende en ouers wat hulle dink jou vermoëns is – jy kan dalk kaarte goed volg en jou pad terug huis toe vind of moeilike somme vir vriende verduidelik sodat hulle dit verstaan.

This article is from: