8 minute read

Les 1: Konsep: Selfbeeld (2 ure

1.1 Les 1: Konsep: Selfbeeld (2 ure)

1.1.1 Wat is my persoonlike positiewe eienskappe en hoe beïnvloed dit my verhouding met myself, my familie en my vriende?

Persoonlikheid is volgens die HAT: “alles wat aan iemand ’n eie en unieke karakter gee.” Die HAT beskryf karakter as “al die eienskappe wat ’n persoon anders maak as ’n ander persoon.”

Jou persoonlike eienskappe is die eienskappe wat eie aan jou is en jou van ander mense onderskei. Dit is die eienskappe wat jou JOU maak. Die persoon wie jy is. Jou positiewe persoonlike eienskappe is dit wat mense na jou toe aantrek. Dit is bv. jou vriendelikheid, geduld en hulpvaardigheid.

Jou persoonlike eienskappe beïnvloed eerstens die verhouding wat jy met jouself het. Dit sal jou selfbeeld ten nouste beïnvloed en vorm. As jy ’n positiewe persoonlikheid het en jy voel goed oor jouself sal dit ’n positiewe uitwerking hê op jou selfbeeld en die verhouding wat jy met jouself het. Jy sal jou foute en tekortkominge kan aanvaar en op ’n positiewe wyse kan hanteer en verwerk.

Jou verhouding met jou familie en vriende word ook beïnvloed deur jou positiewe persoonlike eienskappe. As jou vriende en familie jou as positief ervaar sal hul ook ’n positiewe houding teenoor jou hê. Jou positiwiteit kan ook bydrae daartoe dat jy hul postitief beïnvloed en hul selfbeeld kan verbeter. Hoe jy jouself sien, reflekteer na ander mense en hul reageer daarop.

DEFINIEER

Selfbeeld: Dit is die prentjie wat jy van jouself sien. Persoonlike eienskappe: Dit is daardie eienskappe van jou persoonlikheid wat jou onderskei van ander mense. Dit is hoe jy is. Potensiaal: Dit is waartoe jy in staat is. Dit wat jy kan bereik en jou potensiaal lê in wat jy van jouself glo. Selfrespek: Dit is wanneer jy jouself belangrik genoeg ag dat jy nie jouself in ’n situasie sal plaas wat jou sal verkleineer of jou waardigheid, eer of integriteit sal aantas nie. Diversiteit: Dit beteken verskillende, bv. verskillende kulture.

1.1.2 Persoonlike belangstellings, vermoëns en potensiaal

Persoonlike belangstellings is die dinge waarin jy belangstel, bv. jou stokperdjie. Dit kan enige iets wees wat jou belangstelling prikkel. Dit is iets wat jy graag wil doen en wat jou gelukkig maak as jy dit doen.

Vermoëns het ons in graad 6 behandel. Dit is alles waarmee of waarin jy goed is. Dit is belangrik om te weet hoe om jou belangstellings en vermoëns te kombineer om eendag jou volle potensiaal te bereik. Dit kan jou ook help om in die toekoms die regte beroepskeuse te maak.

As ons na ’n persoon se vermoëns en potensiaal kyk, is daar ten minste ses soorte mense.

1. ’n Persoon wat daarvan hou om te lees en te skryf noem ons ’n oorredende persoon. Die oorredende persoon het die volgende eienskappe:  Hulle wil te alle tye in beheer wees.  Hulle hou meer daarvan om te praat as om te luister.  Hulle kan hul eie onderneming bedryf en stel veral belang in verkope.  Hulle kan hul eie idees goed oordra na ander persone en is baie oortuigend.

2. Die intellektuele tipe persoon is baie goed met probleemoplossing. Hulle beskik oor die volgende eienskappe:  Hulle stel belang in wiskunde en wetenskap.  Hulle hou daarvan om oplossings vir probleme te vind en kan ingewikkelde probleme oplos.  Hulle is goeie data ontleders en is leergierig.

3. Die praktiese persoon hou van praktiese werk en sal eerder met tasbare voorwerpe werk as met idees. Hul eienskappe sluit die volgende in:  Hulle werk gewoonlik in die buitelug en kan goed herstel.  Hulle het baie goeie koördinasie en kan gereedskap produktief gebruik.  Hulle is gewoonlik baie avontuurlustig.

4. Die kunstige persoon val onder die kreatiewe tipe. Hul is gewoonlik persone wat:  Nuwe dinge kan skep.  Dink oorspronklik en ontwikkel nuwe idees.  Hulle druk hulself uit op enige kreatiewe wyse – deur musiek, skryf, teken of ander kunsvorme.  Hulle hou daarvan om selfstandig te werk.

5. Spontane mense is baie sosiaal en werk graag met mense. Hul het die volgende eienskappe:  Hulle is nie skaam om hulself verbaal uit te druk nie.  Hulle kom maklik met ander mense oor die weg en maak gou nuwe vriende.  Hulle is gewoonlik goeie redenaars en sprekers.

6. Mense wat graag met syfers werk is aanpasbare mense. Hul eienskappe sluit in:  Hulle is roetine vaste persone.  Hulle hou daarvan om presies te weet wat van hul verwag word in situasies.  Hulle is baie perfeksionisties.  Hulle hou van aspekte wat met finansies verband hou.

As jy bogenoemde tipe mense bestudeer, sal jy jouself kan herken by een of selfs meer. Jou potensiaal word dus bereik as jy jou belangstellings en vermoëns kombineer op ’n positiewe wyse.

KERNINHOUD

Jy sal onthou uit die vorige grade dat die woord “selfbeeld” beteken dat dit die prentjie is wat jy van jouself het. Daar is baie dinge wat jou selfbeeld kan beïnvloed:  Jou voorkoms – hoe jy lyk.  Jou akademiese prestasie.  Die liefde en ondersteuning van jou vriende en familie.  Jou prestasie op sportgebied.  Die klere wat jy dra en die musiek wat jy luister.

Dit is gesond en voordelig om ’n positiewe selfbeeld te hê. Dit is egter normaal dat ’n persoon nie altyd goed voel oor homself nie. Daar is baie strategieë wat ons kan toepas om ons eie selfbeeld en ook die van ander te verbeter. Dit is egter belangrik om eers meer van jouself uit te vind, sodat jy die regte strategieë kan ontwikkel.

1.1.3 Strategieë om jou selfbeeld te bevorder deur positiewe optrede: selfrespek

Ons almal het op ’n tydstip ’n probleem met ons selfbeeld. Dit gebeur selde dat iemand heeltemal tevrede is met hom- of haarself. Dus maak ons baie keer staat op ons familie en vriende om ons selfbeeld te verbeter en op te bou.

Dis belangrik om die weet hoe jy regtig oor jouself voel en hoe jy jouself sien, voordat jy verbeterings kan aanbring.

Beantwoord die onderstaande vrae vir jouself en identifiseer sodoende die areas waar jou selfbeeld swak is. 1. Hoe voel jy oor jou voorkoms? Hoe lyk jy vir jouself? 2. Hoe voel jy oor die vriende wat jy het? Het hul ’n positiewe of negatiewe invloed op jou selfbeeld? 3. Voel jy beter oor jouself as jy aan aktiwiteite deelneem wat jy geniet, bv. fietsry? 4. Hou jy daarvan om skool te gaan en hou jy van die akademiese werk wat jy doen? 5. Laat die klere wat jy dra jou beter voel oor jouself?

Sodra jy die spesifieke areas geïdentifiseer het, kan jy nou gaan kyk na strategieë om dit te verbeter. Dit is belangrik dat jy te alle tye jouself respekteer. Selfrespek is een van die sleutelaspekte van ’n gesonde selfbeeld. Jy mag jouself nooit verkleineer nie. Jy moet leer om jou tekortkominge te aanvaar en op ’n positiewe wyse daaraan te werk en dit sodoende te verbeter of verander. Sodra jou selfbeeld verbeter, sal jy ook meer selfrespek hê.

Voorbeelde van strategieë om jou selfbeeld te verbeter: Liggaam Eet gesonde kos Oefen gereeld Vermy slegte gewoontes, bv. rook Ontspan gereeld Vriende Kies vriende wat dieselfde waardes en norme het Omring jou met vriende met positiewe houdings Vermy persone wat jou manipuleer om verkeerde keuses te maak Kies vriende met dieselfde belangstellings Aktiwiteite Doen aktiwiteite wat opbouend is Doen aktiwiteite wat vir jou lekker is en jou goed laat voel oor jouself Doen aktiwiteite wat jou algemene gesondheid bevorder Vermy enige aktiwiteit wat ’n negatiewe uitwerking op jou het Skool/akademie Gee te alle tye jou beste Gebruik jou talente tot die beste van jou vermoë. Stel vir jouself realistiese doelwitte, sodat jy nie moedeloos raak nie Kleredrag/musiek Kies jou klere so dat jy te alle tye jou selfrespek behou. Behou jou uniekheid deur die keuse van jou klere Dra dit wat vir jou gemaklik laat voel Kies jou musiek sodat dit jou positief beïnvloed

1.1.4 Strategieë om ander se selfbeeld te bevorder deur positiewe optrede: respek vir ander en respek vir diversiteit

Respek vir ’n ander persoon dra daartoe by dat daardie persoon se selfbeeld positief beïnvloed word.

Wat is respek?

Dit is wanneer jy ’n ander persoon, ongeag sy kultuur, ras, godsdiens of geslag op so manier behandel dat daardie persoon nie minderwaardig voel nie. Jy neem dus daardie persoon se persoonlikheid en belangstellings in ag.

Watter positiewe optredes kan ’n persoon se selfbeeld positief beïnvloed? 1. Ondersteun die persoon te alle tye al stem jy nie altyd saam nie. 2. Respekteer en aanvaar die persoon vir wie hy of sy is. 3. Respekteer die persoon se opinie en verskil met die persoon op ’n respekvolle wyse.

4. Gesonde konflikhantering in konfliksituasies. 5. Luister aandagtig na ander persoon se opinie.

Watter negatiewe optredes beïnvloed ’n persoon se selfbeeld? 1. Jy kritiseer die persoon se opinie en persoonlikheid. 2. Jy boelie ’n persoon en kraak hom of haar af. 3. Jy dink jy is altyd reg en gee die ander persoon nie die geleentheid om hul kant van die saak te stel nie. 4. Jy diskrimineer teen die persoon op grond van hul kultuur, taal, godsdiens of ras.

Een van die aspekte wat baie belangrik in ons daaglikse lewens is, is konflik. Almal van ons kom daarmee in aanraking. Die wyse waarop ons konflik hanteer kan ons en die ander persoon positief of negatief beïnvloed.

Wanneer ontstaan konflik?

Dit is wanneer mense verskillend dink oor ’n saak en verskillende idees en opinies het. Daar is hoofsaaklik drie maniere waarop ons konflik hanteer.

Bemiddeling

(Positief) 1. Persone stel elkeen sy of haar saak. 2. Persone skree nie op mekaar nie. 3. Elke persoon luister aandagtig na ander persoon en gee erkenning aan hul opinie. 4. Persone respekteer mekaar se gevoelens, kultuur en tradisies. 5. Die konflik word op gesonde wyse opgelos.

Ontkenning

(Negatief) 1. Die persoon word kwaad maar praat nie daaroor nie. 2. Die ander persoon is soms nie eens bewus van die konflik nie. 3. Die ander persoon verstaan nie die rede vir die konflik nie. 4. Die konflik word nie opgelos nie.

Konfrontasie

(Negatief) 1. Respekteer nie mekaar se opinies nie. 2. Val mekaar verbaal of fisies aan. 3. Het nie respek vir ander kultuur, tradisies en persoonlikhede nie. 4. Daar word tot geen vergelyk gekom nie en die konflik word nie opgelos nie.

Sien jy jou eie konflikhantering hierin?

This article is from: