6 minute read
Les 3: Groepsdruk: die invloed van groepsdruk (3 ure
1.3 Les 3: Groepsdruk: die invloed van groepsdruk (3 ure)
1.3.1 Hoe groepsdruk ’n persoon kan beïnvloed: dwelmgebruik, misdaad, ongesonde seksuele gedrag, afknouery en rebelse gedrag
Wikipedia definieer groepdruk as wanneer een sosiale groep druk uitoefen op ’n bepaalde persoon om hul gedrag te verander sodat dit ooreenstem met die groter groep. Dit kan positief of negatief wees. Ons gaan egter na die negatiewe aspekte van groepsdruk kyk.
Jou vriendekring is die belangrikste persone, naas jou ouers, tydens jou tienderjare. Dit is hulle wat die meeste tyd saam met jou spandeer en jou gedrag beïnvloed. Vriende kan ook baie druk op jou plaas om dinge te doen wat jy nie altyd mee saam stem nie. Jy wil egter nie uit voel nie en doen dan dalk hierdie dinge om hul tevrede te stel. As jy nie ’n goeie verhouding met jou ouers het nie of daar is geen volwasse rolmodel in jou lewe nie, kan jy dalk baie makliker onder groepsdruk knak.
Groepsdruk kan ’n individu as volg beïnvloed:
1. Dwelmgebruik Huisgenoot het in 2012 ’n peiling onder jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 16 jaar oud gedoen. Daarvolgens het 12% al dagga gerook, waarvan 58% van hul dit ten minste een keer per maand rook.
Drie persent van die respondente het al tik gebruik. Daar was selfs wat al ecstacy, kokaïen, CAT en hallusinogene sampioene gebruik het. Sommiges het ook al petrol en gom gesnuif. Die meeste tieners dink dat hul dit net een keer sal doen. Jou liggaam pas egter vinnig by die effek van die middel aan. Jou liggaam ontwikkel ’n behoefte na hierdie middel.
Daar ontstaan twee soorte afhanklikheid by die persoon:
1. Sielkundige afhanklikheid Die persoon het ’n sterk drang na die middel en raak obsessief daaroor. Hy of sy ervaar angstigheid en raak baie geïrriteerd.
2. Fisiese afhanklikheid Dit sluit al die faktore van sielkundige afhanklikheid in, maar die persoon ervaar ook fisiese onttrekkingsimptome, bv. bewing, koors en spierkrampe. Dwelmgebruik wat omsit in dwelmmisbruik vernietig die jeug se lewens en toekoms en dit kan selfs tot die dood lei.
2. Misdaad Dwelmgebruik onder jongmense lei in baie gevalle tot misdaad. Hul het geld nodig om dwelms te koop en sal enige iets doen of steel om hul behoeftes te bevredig. Die drang na ’n dwelmmiddel raak so oorweldigend dat dit alle logiese redenasie oortref.
Tieners raak ook in baie gevalle by misdaad betrokke onder groepsdruk. In baie gevalle moet jy ’n misdaad pleeg om te wys dat jy een van die groep is. Dit is veral ’n groot probleem op die Kaapse Vlakte onder die jeug daar. Daar is al bespiegel dat baie jongmense kies om deel te wees van ’n bende uit vrees. Hulle voel veilig in die bende se beskerming en sal enige iets doen om deel daarvan te wees.
3. Ongesonde seksuele gedrag Huisgenoot se peiling in 2012 het aangedui dat van die respondente tussen 12 en 16 jaar oud al ’n derde van hulle seksuele omgang gehad het. 65% van die kinders was maar 13 jaar oud toe hul dit vir die eerste keer gedoen het.
Dit gebeur in baie gevalle op partytjies waar jou vriende jou aanmoedig om dit te doen. Dit kan ook gebeur dat jou meisie of kêrel druk op jou plaas, en dit kan ook as ’n tipe groepsdruk gesien word.
4. Afknouery en rebelse gedrag Groepsdruk lei dikwels daartoe dat ander persone wat anders is as die groep afgeknou en geboelie word. Die persoon se selfbeeld word afgeknou en hy of sy word minderwaardig behandel. Kinders toon rebelse gedrag teenoor hul gesagspersone soos bv. ouers en onderwysers.
Jy kan dalk voel jy is baie “cool” en “groot” as jy so optree en jou groep bewonder jou vir jou rebelsheid. Jy toon geen respek vir ander mense nie.
DEFINIEER
Groepsdruk: Die manipulasie deur ander mense, veral jou maats, om jou iets te laat doen wat jy self nie noodwendig wil doen nie. Dwelm: Dit is enige chemiese, natuurlike of mensgemaakte middel wat tydens inname ’n verandering meebring in die wyse waarop die persoon voel en optree. Dwelmgebruik: Dit is wanneer jy dwelms gebruik, maar dit nie oor ’n lang termyn doen nie. Dwelmmisbruik: Dit is wanneer jy dwelms oor ’n lang tydperk gebruik en afhanklik daarvan raak.
1.3.2 Gepaste reaksies op druk: selfversekerheid/selfgelding en vaardighede om probleme te hanteer
Om deel van ’n groep te wees gee aan jou ’n sekere identiteit. Dit laat jou belangrik voel. Die groep kan jou ook baie selfversekerd en selfgeldend laat voel. Jy kan dit positief of negatief toepas in jou verhouding met ander mense.
As jy te selfversekerd en selfgeldend voorkom en jou standpunte en opinies wil afdwing op ander persone kan dit meebring dat jy negatief ervaar word. Dit kan veral gebeur in jou verhouding met jou ouers of onderwysers. Jy kan dalk gedurig in die moeilikheid wees, omdat die gesagspersone nie saamstem met jou gedrag nie.
Dit kan vir jou probleme skep as jy beide jou groep en jou gesagstrukture wil tevrede stel. Dit is belangrik om vir jouself om probleem-oplossings vaardighede aan te leer. Dit is belangrik om positief te bly met die oplos van probleme.
Bestudeer die onderstaande probleemoplossingsmetode: 1. Wat is die probleem? Identifiseer die probleem. 2. Wat wil jy bereik deur hierdie probleem op te los? 3. Raadpleeg ander mense vir hulle idees om die probleem op te los – versamel dus inligting oor die probleem. Ken jy iemand wat al ’n soortgelyke probleem gehad het? 4. Dink oor al die moontlike oplossings en lys al die verskillende opsies. 5. Gaan weeg die voor- en nadele van elke opsie teenmekaar op. 6. Evalueer al jou opsies en kies die beste moontlike een. 7. Kyk of jou opsie die gewenste uitwerking het op die probleem.
Onthou dit kan gebeur dat jou oplossing nie die gewenste uitwerking het nie. Jy moet dit op ’n gereelde basis hersien en aanpassings maak.
Verwys ook terug na les 1 waar ons konflikhantering behandel het.
KERNINHOUD
In hierdie les gaan dit hoofsaaklik oor groepsdruk of sosiale druk en hoe dit ’n individu kan beïnvloed.
Ons kyk na die negatiewe gevolge wat dit op ’n persoon kan hê, asook hoe die persoon hom- of haarself kan help om probleme op te los. Dit is belangrik dat die individu weet waar hy of sy kan aanklop om hulp.
Die les maak die leerder bewus van die gevare van groepsdruk en wanneer dit negatiewe gevolge kan hê. Dit berei die leerder voor om slegte situasies te kan identifiseer en ingeligte besluite te neem.
Dit sluit ook aan by les 1 waar ons gekyk het na konflikhantering. ’n Probleem is ’n soort konflik en daarom loop die twee temas hand aan hand.
1.3.3 Waar kan ek hulp kry?
Jou ouers is eerstens die beste plek om hulp te soek. As jy voel dat jy verkeerde dinge gedoen het as gevolg van groepsdruk sal jou ouers jou kan bystaan.
Jy kan met ’n ouer broer of suster gaan praat of enige ander ouer persoon wat dalk al in dieselfde situasie was. Jy kan ook met jou predikant, pastoor of jeugleier gaan praat.
Ernstiger probleme soos dwelm- of drankverslawing het meer professionele hulp nodig en dan is dit nodig om by rehabilitasiesentrums aan te klop. Besoek gerus www.rehab-centre.co.za. Daar sal jy baie inligting kan kry.
VIR DIE NUUSKIERIGES
Doen navorsing oor die volgende dwelms. Dit is middels wat die meeste misbruik word. Jy kan die Internet, tydskrifte en die biblioteek gebruik vir jou navorsing. Skryf kortliks wat elkeen is en hoe dit die mens beïnvloed wat dit gebruik.
1. Dagga (marijuana) 2. Alkohol 3. Tik 4. Mandrax 5. Kokaïen 6. Heroïen
Hierdie opdrag tel nie punte nie. Dit is net om jou belangstelling te prikkel en jou bewus te maak van die gevare van dwelms. In die fasiliteerdersgids is ’n inligtingstuk wat jou kan help.