5 minute read
Les 2: Veranderinge by seuns en meisies: puberteit en geslagsbewustheid (geslagsdenkbeeld) (3 ure
1.2 Les 2: Veranderinge by seuns en meisies: puberteit en geslagsbewustheid (geslagsdenkbeeld) (3 ure)
1.2.1 Fisiese en emosionele veranderinge
Adolessensie word gekenmerk deur emosionele en fisiese verandering. Hierdie veranderinge speel ’n belangrike rol in die vorming van jou selfbeeld en selfkennis. Seksualiteit is die wyse waarop ons onsself as seuns en meisies sien. Dit is nie dieselfde as seks nie.
Seksualiteit gaan oor die volgende aspekte: 1. Hoe ons onsself sien en hoe ons oor ons liggame voel en dink. Dit sluit aan by Les 1 wat ons gesê het hoe belangrik selfrespek is. Jy kan net jou eie liggaam respekteer as jy dit in ’n positiewe lig sien. Jy het dalk sproete of groot ore en hou nie daarvan nie. Dit is belangrik om verby hierdie dinge te kyk en al jou positiewe eienskappe raak te sien, bv. jou mooi oë. Jy sal ook dan ander mense makliker respekteer as jy selfrespek en selfliefde het. 2. Puberteit veroorsaak dat ons anders begin dink oor die teenoorgestelde geslag. Ons kry seksuele gevoelens en gedagtes en raak maklik verlief. 3. Die bewuswording van ons seksualiteit beïnvloed hoe ons optree en reageer en het selfs ’n invloed op jou kleredrag en keuse van musiek! 4. Seksualiteit gaan ook oor ons waardes en norme ten opsigte van liefde en die bestaande vriendskappe wat ons het. 5. Dit bepaal ook tot wie ons aangetrokke is.
Puberteit bring dus al hierdie veranderinge mee en maak ons intens bewus van die verskillende geslagte. Daar is verskeie faktore wat jou seksualiteit kan beïnvloed.
1. Jou ouers/gesin Dit vorm die basis van jou seksualiteit. Dit is hier wat jy leer watter rol speel elke geslag in die gesin en samelewing. Jou ouers vorm jou waardes en norms ten opsigte van jou seksualiteit.
2. Jou vriende en portuurgroep Jou vriende het nie te alle tye dieselfde siening oor seks as jy en jou ouers nie en dit kan soms lei tot konflik in jou eie waardestelsel. Dit kan jou verward en deurmekaar laat voel.
3. Jou kultuur en rassegroep Sekere kulture en rasse het voorskrifte ten opsigte van seksualiteit en die verskillende geslagte se optrede in verband hiermee. Die voorskrifte kan jou opinie oor seksualiteit in ’n groot mate beïnvloed. In sekere kulture mag seuns en meisies glad nie alleen gelaat word nie. Hulle word selfs geskei tydens sosiale funksies.
4. Jou geloof of godsdiens Jou geloof stel aan jou sekere vereistes en dit kan ook voorskrifte gee ten opsigte van jou seksualiteit. Die Christelike geloof is bv. gekant teen enige seksuele verhouding voor die huwelik.
DEFINIEER
5. 1.
Seksualiteit: Die manier waarop ons onsself as seuns en meisies sien. Puberteit: Dit is die tydperk vanaf so 13 jaar wanneer die pituïtêre klier in ’n kind se liggaam geprikkel word en dit veroorsaak fisiese en emosionele veranderinge. Homoseksueel: Dit is mense wat seksueel aangetrokke is tot die dieselfde geslag. Heteroseksueel: Dit is mense wat seksueel aangetrokke is tot die teenoorgestelde geslag.
1.2.2 Begrip vir die veranderinge en hoe dit verhoudings beïnvloed
Die fisiese en emosionele veranderinge wat in jou liggaam plaasvind is nie net beperk tot jou nie. Dit gebeur ook met jou maats en daarom moet jy begrip hê vir hulle ook. Dit is nie net jy wat soms baie goed voel en dan weer ewe skielik hartseer en omgekrap voel nie. Jou vriende of vriendinne gaan ook daardeur. Julle moet begrip en deernis met mekaar hê.
Jy kan dus nou insien hoe al die veranderinge jou verhouding met jou vriende kan verander of beïnvloed. Enige twee persone hanteer puberteit verskillend. Dit kan gebeur dat jy van jou vriende verloor en soms nuwe vriende kry.
Die veranderinge in jou liggaam en gevoelens verander ook die verhouding wat jy met jouself het. Jy gaan dalk nie altyd verstaan hoekom jy in sekere situasies op sekere maniere reageer en optree nie. Jy moet baie geduld met jouself hê en verstaan dat hierdie veranderinge intree om jou by volwassenheid te bring.
As jy jou eie seksualiteit verstaan en bewus is van die veranderende emosies binne jou, sal jy ook jou ouers se optrede verstaan. Dit kan bydrae tot ’n positiewe en opbouende verhouding waarin jou ouers jou ook sal respekteer.
KERNINHOUD
Die kerninhoud van die les gaan oor die proses van puberteit en hoe dit bydra tot ’n geslagsidentiteit.
Hoekom is dit belangrik om te leer van puberteit en seksualiteit?
verstaan. Dit gee jou selfvertroue as jy weet wat met jou liggaam gebeur en dit help jou om jou gevoelens beter te verstaan. Jy weet dan dat jy nie alleen deur dit gaan nie. Dit help jou om liefdevolle en positiewe verhoudings te bou met die mense naaste aan jou.
As jy jou eie seksualiteit verstaan is dit makliker om vir jouself waardes en norms daar te stel en jouself te respekteer. Jy hoef nie altyd saam te stem met jou maats se opinie ten opsigte van seks nie. Jy moet ook gemaklik voel om “nee” te sê vir enigiets wat nie binne jou waardesisteem val nie.
Dit maak jou bewus van die probleem van seksuele misbruik en kan jy situasies herken waarin jy nie gemaklik voel nie. Ons leer om te aanvaar dat daar mense is wat ander seksuele waardes en neigings as ons het.
Die wyse waarop jy dus begrip toon aan alle persone om jou, hetsy jou vriende of familie sal julle verhouding direk beïnvloed. As jy jou vriende positief ondersteun sal jul ’n sterk verhouding bou.
Waak daarteen om elke slegte bui te gebruik om ander mense seer te maak.
1.2.3 Respek vir eie en ander se liggaamsveranderinge en emosies en waardering en aanvaarding van self en ander
Tydens puberteit ontwikkel seksuele gevoelens by elkeen van ons. Dit is ’n normale proses. Seksualiteit moet egter verantwoordelik hanteer word en dit moet ons aanleer. Dit is dus ook normaal dat nie almal dieselfde tipe seksualiteit sal hê nie.
Persone se seksualiteit word deur verskeie faktore beïnvloed, soos in 1.2.1 bespreek is. Baie jong mense wat nie goeie rolmodelle in hul lewens het nie, kry soms inligting op verkeerde plekke. Dit kan advertensies, TV of vriende wees. Hierdie bronne dra nie altyd die korrekte boodskap oor ten opsigte van seksualiteit nie.
Die norm van seksualiteit is dat ’n persoon aangetrokke is tot die teenoorgestelde geslag, met ander woorde heteroseksueel. Daar is egter mense wat seksueel aangetrokke voel tot dieselfde geslag en ons noem hul homoseksueel.
In vandag se samelewing kom dit baie meer voor as voorheen. Al stem ons nie saam in alle gevalle nie, is dit belangrik om ander mense se “andersheid” te respekteer.
Ons moet eerstens onsself waardeer en aanvaar. Daarna moet ons ook besef dat mense soms anders as ons sal wees en daarom ook hul waardeer en aanvaar vir die persoon wat hul is.