Lavender Ladies 8 - 10 Augustus 2008
Ella Visser en Hester Visser
Vyf-en-sewentig
Die Lavender Ladies in ligter luim.
Dit is gewis ’n groot mylpaal
Gelukwensings
D
aar word gesê dat die lewe maar net ‘n asem lank is en dat dit nie saak maak hoe lank jy lewe nie, maar hoe jy lewe. Dit is woorde wat baie mense sal beaam. Maar een ding is seker, om vyf-en-sewentig te word is gewis ‘n groot mylpaal in enige persoon se lewe. Twee persone wat dit goed sal verstaan is Ella Visser en Hester Visser. Die familie is gevra om ‘n paar momente van onthou en gelukwensing te deel met die twee Lavender Ladies. Vir Barnard Smit is dit ‘n moeilike vraag om te antwoord, want daar is so baie om te sê. “Soos daar geskrywe staan, het ek my Vader en my Moeder verlaat om my twee skoonsusters aan te hang, en nog nooit spyt gehad nie”. “Helsie en Hessie se huise is altyd vir ons oop – en as jy weggaan, is dit met ’n kar wat vol lekkergoeters gestop is. As hulle kom kuier, is die afpak net so groot.” Sê Niekie Smit “Dankie dat julle twee altyd daar was, en nog altyd daar vir ons is. As daar een ding is waarvoor ek vra, is dit dat die Here ons nog lank sal spaar en gretig sal maak om nog die mooi dinge saam te geniet.” Wynand Visser het ook iets op die hart. “Ella, toe ek vir jou in die winkel kom kuier het, was dit oor swiets, maar nou gaan dit oor die warmte en geluk wat daar in jou huis heers. Dis altyd lekker om te kom kuier, al is die kennisgewing kort. Ons wens ook vir jou net die beste gesondheid toe, sodat jy die jare
wat voorlê nog kan geniet.” “Hester, soveel jare soos wat nog vir jou beskore is, wens ons jou die gesondheid toe wat jou van die lewenslus sal verseker om te geniet wat vir jou saak maak. Dat ons ook saam kan deel in die goeie dinge wat nog voorlê. Jou huis sal altyd ‘n tuiste wees.” Gerhard Visser sê, “Dankie, Ma, vir al die jare se uithou en aanhou! Ek hoop ons gee ’n iets terug van dit wat ons ontvang het.” Karen Visser voeg by, “Ons bring dank aan ons Skepper wat aan ons die voorreg gee om ’n 75ste verjaarsdag saam met Ma te kan vier.” Ons beste wense met die groot verjaarsdag aan tannie Hester. Mag sy elke dag vreugdes en vrede ondervind. Die Vissers van Rooikop wens Ouma Hester baie geluk en sê dankie dat sy so ‘n wonderlike ma en ouma vir al die kinders en kleinkinders is. Vir tannie Elsa sê hulle veels geluk met die groot dag, “Voorspoed en seënwense vir nog baie jare. “ Abrie Visser, Elrie Visser en Elsamien Mouton dink onwillekeurig terug aan koekies, beskuit, melktert, die lekkerste lekker kos, mooi gebreide truie, gehekelde doilies, die fynste feetjies met lint geborduur en ‘n paar pragtige blou oë wat altyd lag. Hulle glo vas dat hul ouma ‘n ongelooflike mens is. “Ons wens dat sy haarself deur haar kleinkinders se oë kan sien.” Hul wens is dat sy die Here se besonderse liefde en bystand vir die res van haar lewe sal geniet”. “Ouma het altyd vir ons die soetste pienk
melk gemaak elke keer wat ons daar gekom het. Sy moes met Oupa se sak biltong kompeteer. Sy het ook altyd die poedingbak ekstra vol roomys gepak en die soet koeldrank gekonsentreerde stroop oorgegooi”, is van die momente wat Edith Visser onthou van ouma Hester. Vir Nicole Visser was dit altyd baie lekker op die plaas. Sy onthou van die dubbele kokerboom wat langs die pad oppad plaas toe gestaan het. “Ouma het elke keer aangekondig dis Mpho en Mphojani, vernoem na ‘n Siamese tweeling soos Oupa die boom gedoop het. Nou het Mphojani omgeval, gelukkig staan Mpho nog.” Sy voeg by die onthou van die kameeldoringboom waaronder hulle elke keer gesit het. “Ek het vir Ouma gesé ons moet stoele daar neersit.” “Ouma het altyd vir Nicole op haar voet laat perdjie ry, dan hop Nicole se hare op en af. Sy het ook baie meer kreef gevang aan ‘n ronde bloudraad as Pa en Boeta saam,” is herinneringe wat Francois Visser kan herroep. “Ons hoop dat julle nog vele jare by ons kan wees en nog vele meer verrassingspartytjies sal bywoon in die toekoms, en baie dankie vir julle ope arms en warm harte vol liefde vir ons! Baie, baie liefde”, is wat Johan & Christelle Potgieter vir hulle gun. Eleanor en Michael Pretorius sê, “Baie geluk! Tannie Hester, mag die jaar soveel vreugde en lewenslus inhou soos dié van Tannie se persoonlikheid. En tannie Ella, mag Tannie die jaar net soveel liefde en gunste ontvang as wat Tannie altyd gee”.