2 minute read

Die Moedertaal

Next Article
Selfbenaming

Selfbenaming

Die soeke na die Moedertaal, Proto-Mens of Proto-Wêrelds, het ‘n belowende fase betree sedert die stigting van die Tower of Babel: Evolution of Human Language projek en die Global Lexicostatistical Database (GLD).

Dié vordering is ook te dankie aan die navorsing en insigte van mense soos John D Bengtson, Allan R Bomhard, Murray Gell-Man, Petra Goedgebuure, Tetyana Kozlova, George Starostin, Roger Blench, Wim van Binsbergen, John McWorter, Fee-Alexandra Haase, Valentyn Stetsyuk, Theo Vennemann en Peter Schrijver.

Advertisement

Die onthulling en bestudering van Bories is ‘n opwindende mylpaal wat kosbare kennis bring en nuwe uitdagings skep. Dis ‘n geskenk en ‘n geleentheid wat sigself nie aldag voordoen nie. Om realisties te wees: Bories is waarskynlik die naaste wat ons ooit sal kom aan die mitiese moedertaal. En dalk ís dit sy, onder ‘n skuilnaam.

Hierdie skrywe is ‘n huldeblyk aan die voorgangers soos Merritt Ruhlen en Joseph Greenberg, wie se bydraes tot in lengte van dae waardeer sal word.

Die historiese linguïstiek het oor die laaste drie dekades ‘n nuwe dimensie van die verlede aan die lig gebring: dat twee taalfilums tydens die laat Paleolitikum en vroeё Mesolitikum (15,000 – 8,000 vC) in Noord-Eurasiё gepraat is: Dené-Sino-Kaukasies en Eurasiaties.

Die ander twee makrotaalfamilies van Eurasiё is Afro-Asiaties (waaronder Egipties, Berber en Semities) in die suidweste en Austries in die suidooste. Al vier dié filums sou uit die hipotetiese oertaal Bories spruit, die taal van die Steentydperk.

Dené-Sino-Kaukasies het waarskynlik sowat 15,000 jaar gelede ontstaan, en rondom 10,000 jaar gelede verbrokkel. Haar afstammelinge word vandag in Tibet, China, Myanmar, Bhutan, ‘n deel van Frankryk en Spanje, die Kaukasus, en dele van die Himalayas, Siberiё, Alaska, oostelike Kanada, en suidwes VSA gepraat. Hulle sluit in al die Chinese dialekte, Tibetaans, Burmees, Athabascan, Navajo, Apache, Baskies, Burushaski, Noord-Kaukasies en Ket.

Eurasiaties is jonger, beraam op tussen 11,000 en 8,000 jaar gelede, en het waarskynlik uit Dené-Sino-Kaukasies ontstaan. Die sprekers van die afstammelinge van Eurasiaties bewoon die hele Europa, die Amerikas, suidwes-Asiё, die Indiese subkontinent, Siberiё, Korea en Japan, en sluit families in soos Indo-Europees, Altaïes (Turks, Mongools, Toengoes), Oeraals, Nivkh, Yukaghir, Kamchadaals en Inuit-YupikInangan.

Volgens die verspreidingspatroon het Eurasiatiese tale die ouer DSK-tale regdeur Noord-Eurasiё verdring, sodat net geïsoleerde eilande soos Baskies, Burushaski, Kaukasies en Jenisei (Ket) oorgebly het.

Navorsing oor die verdwene substraat-tale van Europa wat ‘n beduidende invloed op Proto-Germaans uitgeoefen het, wys dat hulle tot Dene-Sino-Kaukasies behoort het. Die rivier- en ander antieke plekname van Europa is oortuigende bewys daarvoor. Dit beteken dat daar taalverskuiwings plaasgevind het, waar sprekers van DSK (Waskonies) na Eurasiatiese (Indo-Europese) tale oorgeslaan het.

Die fonologiese en morfologiese verskille tussen Dené-Sino-Kaukasies en Eurasiaties is aan hulle afstammelinge oorgedra wat daarvolgens ontwikkel het, en vandag die taallandskap van die Eurasiatiese landmassa en die Amerikas uitmaak.

Pieter Uys, Orchards, Julie 2021

This article is from: