Khoisan as Taalfamilie

Page 1

Khoisan as taalfamilie Bewyse vir die genetiese verwantskap van Khoe, Kx’a, Tuu, Hadza en Sandawe deur Pieter Uys

1


Khoisan is ‘n geldige genetiese taalfamilie, wat uit een proto-taal ontstaan het. Bewerings dat Khoe, Kx’a en Tuu drie afsonderlike taalfamilies sou wees, druis in teen die bewyse, teen Ockert se Skeerlem en teen gesonde verstand. Die volgende uiteensetting dui op eienskappe wat die genetiese verwantskap van Khoe (Khoehkoegowab, Naro), Kx’a (Ju/’hoansi), Tuu (!Xóõ, !Xam), Hadza en Sandawe bevestig. Aangesien ‘Khoisan’ met die Suider-Afrikaanse tale vereenselwig word, kan Makro-Khoisan gebruik word om na die hele familie – wat Hadza en Sandawe van Tanzanie insluit – te verwys.

2


Geslag Grammatiese geslag, ‘n eienskap van Hadza, Sandawe en Khoe, bestaan nie in die Ntutale van die Niger-Kongo taalfamilie nie en is raar in Nilo-Saharies. Afro-Asiaties is die enigste ander taalfamilie in Afrika met geslagsaanduiding, en Afro-Asiaties is die mees resente familie op die kontinent, en boonop beperk tot die noorde en die noordooste. Proto-Khoisan het oor dié eienskap beskik, wat steeds in Hadza, Sandawe en Khoe voorkom; die Kx’a- en Tuu-groepe het dit verruil vir naamwoordklasse, waarskynlik onder invloed van die Ntutale. Vir mense wat skape en beeste aanhou, is grammatiese geslag van belang by die teling; by jagter-versamelaars geniet dit nie ‘n hoë prioriteit nie.

Voornaamwoorde Die meeste Khoe-subgroepe onderskei ‘n eksklusiewe en inklusiewe 1ste persoon meervoud. Elke vorm van die 1ste persoon dualis of meervoud bestaan uit drie morfeme: die volledige vorm van die stam, ‘n vorm wat geslag/klas merk en een wat as die primêre pronominale basis dien. Twee hoof- pronominale morfeme staan uit: *-m vir 1ste persoon dualis en *-e vir 1ste persoon meervoud. Die mi-foneem, die verwante labiaal /w/ of die nasale /m/, /n/ en /ŋ/ kom in die 1ste persoon by almal voor: Proto-Kx’a *mV, Ju /mi/, Proto-Tuu *n of *ŋ, !Xóõ /n/, /ŋ/, Hadza /ona/. Dit stem ooreen met Proto-Kx’a *m vir 1ste persoon inklusief en *e vir eksklusief. Dus moes die dualis/meervoud-opposisie op ‘n stadium as inklusief/eksklusief hervertolk gewees het, of andersom. Waarskynlik is *-m en *-e oorspronklik vir grammatiese getal gebruik, terwyl *si- gebruik is om inklusiviteit te merk. Baie tale van die !Ui-subgroep van Tuu se /n-/ of /ŋ-/ het /m-/ as allomorf of /ma-/ wanneer die woord met ‘n labiale konsonant begin. Die oorspronklike vorm was moontlik *ŋ wat in *m verander het in Proto-Kx’a omdat *ŋ nie as aanvangsvorm 3


elders verskyn nie, en maklik met ‘n labiaal assimileer. In Kx’a is daar wel spore van 'n -n- of -ŋ- wat as 1ste persoonlike voornaamwoord funksioneer. Die ander stam vir ‘ek’ is *ti wat as /te, ta, ti, ts, tsi, mtsa, tʃ/ wat ‘n wye verspreiding het, bv die 1ste persoon /ta-/element soos in Nama /mũta/ “ek sien” en Hadza /fwata/ “ek drink”. Sandawe 1ste persoon /tsi/, Nama /ti/, !Ora ti-re, Nato /tija/, Sandawe /ci/. Proto-Khoe se *t- mag op dieselfde wyse met Sandawe *c [ts] korelleer. Dié *t-/*cvorm is eksklusief aan Khoisan, terwyl *m, *n en *ŋ natuurlik uiters algemeen in ander taalfamilies reg rondom die wêreld gebruik word vir ‘ek’. Die tweede persoon enkelvoud verskyn as /a/, /ha/, /e/ of /i/ regdeur die vyf paradigmas, en die derde persoon enkelvoud /hV/ of /sV/ verskyn in die vorme /ha, he, hi, xa, sa/ of /hewe/ by al vyf. Die Sandawe-suffiks /-we/ = Nama /-b/ en stem ooreen met Nharon /xaba/ en /xasa/. Die Hadza enkelvoud manlik /-wa/ = Sandawe /-we/ en Nama /-b/ soos hierbo, en Hadza 3de persoon onafhanklike voornaamwoord is dieselfde /-ha/ as in Sandawe, en die onafhanklike /ha/ van Tuu en Kx’a en Nharon /-xa/. Hadza /hawa/ = Sandawe /ha-we/ = 3de persoon besittingsuffiks = /-ma/ en Nharon /xaba/. Sandawe /-si/ vir vroulik meervoud selfstandige naamwoord = Naron vroulik meervoud snw /-si/, Nama /-ti/, Kx’a-tale /si/ en /Auni van die Tuu-tale /-si/, laasgenoemde sonder geslagskonnotasie. Sandawe manlik meervoud snw /-ko/ = Nama manlik mv snw /-ku/ en !Xam mv snw /-gu/. Hadza, wat ‘n m/b-wisseling toon, se derdepersoon besittingsuffiks is /-ma/; die manlik meervoud snw is /-bi/, die vroulik meervoud snw is /-be/ en die werkwoordsuffikse is /-mi/ en /-me/, ‘n patroon wat met Nharon ooreenstem. Sandawe se resiprokale /-ki/ in die werkwoord = Nama /-ku/. Sandawe vorm bywoorde en byvoeglike naamwoorde met ‘n /-se/ sufiks = Auen (Kx’a) /-si/ en Nama /-se/. 4


Hadza 3de persoon vroulik besitting is /-sa/ wat met Sandawe /-sa/ en Nharon vroulik snw-suffiks /-sa/ korelleer. Hadza se persoonlike vnw vroulik meervoud is /ti/ = Nama persoonlike vnw vroulik meervoud /-ti/ en Sandawe /-tsi/.

Meervoud en werkwoorde Meervoudvorming geskied op dieselfde manier in Khoe, Kx’a en Tuu: suffikse vir reëlmatige en onreëlmatige meervoude, en spesiale reekse vir verwanskapsterme en vir verkleinwoorde. ‘n Neutrale meervoud is waar die woord nie verander nie, dus dien die een vorm as beide enkel- en meervoud, bv in !Xóõ /soo/ ‘medisyne’ en /xhuye/ ‘heuningby’. Korellasie verskyn ook by tydsaanduiding in die werkwoord. Die verlede tyd in Ju/’hoansi word deur /go/ aangedui wat met Naro (Khoe) /ko/ en !Xóõ (Tuu) /ko/ korelleer. Toekomstige tyd word deur /ka/ aangedui in beide Kx’a en Khoe.

5


Klieks, klinkers en begeleiding Vyf kliektipes bestaan: Dentaal/ǀ/, lateraal/ǁ/, labiaal /ʘ/, alveolêr /ǃ/, palataal /ǂ/. Kx’a en Khoi het vier basiese klieks, /ǀ ǁ ǃ ǂ/ Hadza en Sandawe gebruik drie /ǀ ǁ ǃ/. Dis net in Tuu waar vyf klieks voorkom – die bilabiale kliek /‫ּס‬/ in !Xóõ /‫ּס‬ôõ/ ‘droom’. By Khoe, Kx’a en Tuu kom die kliek net in die aanvangsposisie voor, gevolg deur ‘n klinker en een van die volgende konsonante: /b/, /m/, /n/, /r/, of /l/. By Hadza en Sandawe kan klieks ook in die middel van woorde verskyn (soos in die Ntutale). In al die tale gaan klieks gepaard met glottale, aspirasie-, stemdraende, nasale en ander begeleidings wat die foneem-inventaris uiters kompleks maak. Dié reeks begeleidings word ook “vrystellings” of “sekondêre artikulerings” genoem, en word voor en saam met, of net na die kliek uitgespreek. Elkeen verleen sy eie timbre aan die uitspraak. !Xóõ het meer kliekkombinasies as Kx’a (Ju/’hoansi) en die Khoetale. Hadza gebruik drie en Sandawe vyf begeleidings. Dis hier waar die verwarring intree wanneer ‘n foneemgetal aan byvoorbeeld !Xóõ toegeskryf word, want sommige linguïste beskou elke variant as ‘n afsonderlike foneem, terwyl ander die plek van artikulasie as primêr beskou, en dus die kliek en al sy begeleidings as een foneem tel. Die Ntutale met klieks het gemiddeld 25 meer konsonante as dié daarsonder. En Ntutale met meer klieks het meer konsonante as dié met minder klieks. Die vraag ontstaan dus of klieks die enigste konsonante was wat die Ntutale by Khoisan geleen het. Is die rede vir die groter inventaris dalk dat hulle ook nie-kliekkonsonante by Khoisan geleen het? Dis ook merkwaardig dat die Ntutale geen genasaleerde vokale of diftongs by Khoisan geleen het nie, maar alleenlik klieks. En dat die klieks nie tot die leenwoorde beperk gebly het nie, maar aktief in die Ntu-woordeskat ontwikkel. Al die Khoisangroepe het dieselfde vyf-vokaal-stelsel wat op uiteenlopende wyses artikuleer kan word, byvoorbeeld met faringeale, glottale, nasale, ruiserige 6


begeleiding. Hier ook kom die vraag na vore of elke variant as ‘n foneem getel kan word. (!Xóõ neem onder meer nasale, faringeale, glottale en ruiserige timbres Volgens die een metode hierbo, sou dit dan 44 fonemiese klinkers aan !Xóõ toeskryf). Ju/’hoansi (Kx’a) het lang vokale en diftonge; Sandawe het kort orale /a/, lang orale /aː/ en lang nasale /ãː/-vokale; Hadza kry lang vokale waar intervokaliese [ɦ] uitgelaat word, bv [kʰaɦa] of [kʰaː] 'kl(om te)' en as uitsondering elders, bv [boːko] 'sy' vs [boko] 'siek wees'. Khoe en Tuu gebruik slegs kort vokale. Benewens die vyf-vokaal-stelsel, die klieks /|, ǁ, !/, die begeleidings vir klieks en vokale, en grammatiese geslag, is daar kognate in die kernwoordeskat soos “persoon”: Hadza /akwiti/ “vrou”, /akwiako/ “dogter”, /akwibi/ “die jeug”, Nama /khoi/ en !Xam /kwi/ en vir “broer”: Hadza /tsia/, Auen /tsĩ/, !Kung /siŋ/, en “huis”: Hadza /ǁneam/, !Xam/ǁneiŋ. ‘Naam’ in Proto-Kx’a = *|à(u)ŋ, !Xóõ = /ou ŋ/, |Xam /e ŋ/, N|u /e ŋ/, Sandawe /ǁwa/, Hadza /Ɂakana/, Proto-Khoe */kxon/, en ‘Neus’ in ProtoKx’a *cɁú ŋ, !Xóõ /núh/, Sandawe /nathi/, Hadza /inthawe/.

Genetika Genetiese studies dui op ‘n nouer onderlinge verwantskap tussen die Hadzabe, Pigmeë en San, as tussen die Sandawe en Hadzabe. Tog bestaan daar ‘n oer-oue genetiese verbintenis tussen al vyf die Khoisangroepe, wat suggereer dat hulle wortels na ‘n enkele bevolking in die diep verlede terugstrek. In genetiese verband kan mens ook wyer en ouer verwantskappe in ag neem. Op Madagaskar is daar ‘n tradisie van, en spore van, voorgangers met ‘n kort statuur; jagter-versamelaars wat as die eerste mense beskou word. Die BaTwa (pigmeë) van die Groot-Mere-streek word as die vroegste bewoners van Afrika beskou, saam met die San van suidelike Afrika. Egiptiese rekords uit die Ou Koninkryk verwys na die ‘dansers van die gode’ wat in die ‘Land van die Geeste’ woon. Homerus (Illiad boek III) en Aristoteles (History of Animals) maak ook melding van hulle. 7


Onder die Malagasy is daar klein en verspreide groepies jagter-versamelaars wat as Vazimba of Mikea of Beosi bekend staan. Hulle praat Malagasy, maar in die geval van laasgenoemde bestaan daar ‘n substraat-leksikon wat onder meer Ntu-woorde insluit wat nie in standaard-Malagasy voorkom nie. Die moontlikheid bestaan dus dat die Beosi ‘n oorblyfsel is van ‘n eiland-bevolking wat daar was voordat die Austronesiese migrasie plaasgevind het. Die BaTwa woon in ‘n breë strook van hoofsaaklik reënwoud, wat van Kameroen, Kongo Brazzaville en Gabon deur Kongo Kinshasa tot in Rwanda en verder suid strek. In die weste woon die Mbenga, Bayaka (Aka en Baka), Bakoya en Bongo, wat Niger-Kongo-tale praat (Kameroen, Gabon, Kongo- Brazzaville, Sentraal-Afrikaanse Republiek); die Mbuti woon in Kongo-Kinshasa in die Ituri-woud, en praat Ntu- en Sentraal-Soedaniese tale; rondom die Groot Mere en verder suid woon groepe wat almal Ntutale praat. Onder die Aka en Baka is daar substrate geïdentifiseer wat tot 30% van die leksikon uitmaak, en wat hoofsaaklik botanies is of op die oes van heuning betrekking het. Genetiese studies impliseer ‘n oer-oue oorsprong van tot 100,000 jaar gelede. Volgens die data van Lachance et al. (2012) het Khoisan-sprekende bevolkings eerste ontstaan, gevolg deur Pigmeë. Volgens Tishkoff et al. het ‘n Proto-Khoisan jagter-versamelaargroep sowat 30,000 jaar gelede in Oos-Afrika ontstaan. Studies plaas ook die oorsprong van die Khoisan in die Horing van Afrika.

Verlangse familie Aan die ander kant van die Indiese Oseaan woon daar ver-af verwante etniese groepe van die San en die Twa wat as Negrito bekend staan. Die Negrito kom op die vasteland van Suidoos-Asië, op die Oseaniese eilande, en op eilande in die Baai van Bengale voor. Daar word beraam dat hulle tussen 60,000 en 30,000 jaar gelede die vasteland van Afrika moes verlaat het. “Orang Asli” (“eerste mense”) is die Maleisiese term vir Negrito’s. Hulle sluit in die inheemse mense van die Andaman Eilande, die Semang van die Maleisiese 8


Skiereiland, Maniq van Thailand, en verskeie groepe in die Filippyne, soos die Aeta. Taalkundig vorm die Andamans ‘n eenheid met Nieu-Guinee en die eilande van Melanesië. Hierdie eerste inwoners van Suidoos-Asië word vanaf sowat 5,000 jaar gelede deur inkomende Austronesiese groepe verplaas. Soos die Pigmeë, praat die meeste groepe Negrito’s die Austro-Asiatiese of Austronesiese tale van hulle bure. Die oorspronklike Andamanese wat in afsondering op Sentinel-eiland woon, vorm egter deel van die Indo-Pasifiese taalfamilie wat op Nieu-Guinea, die eiland Timor en sy bure, in Melanesië en voorheen op Tasmanië gepraat is.

9


Makro-Khoisan is een familie Terug by Makro-Khoisan - Die bovermelde morfologiese korellasie – veral die persoonlike voornaamwoorde – is onweerlegbare bewys van oorerwing, d.i. afkoms uit ‘n proto-taal. Statisties kan sulke ooreenkomste nie toeval wees nie, en nog minder kan dit leenvorme wees. ‘n Moontlike scenario is dat die Hadzabe heel eerste die Oer-Khoisan-groep verlaat het. Daarna het Proto-Khoisan verdeel toe die Proto-Khoi-sprekers na die suide beweeg het. In dié migrasieproses kon die klein groepies jagter-versamelaars oor lang afstande afgesonder geraak het van die skaapherders. Dis ook moontlik dat die jagter-versamelaars, met inbegrip van Hadza, eerste van die veeherders geskei is; een groep het suid beweeg (Kx’a en Tuu), terwyl die voorouers van Hadza-sprekers in Oos-Afrika gebly het. Daarna sou die Khoevoorouers van Sandawe geskei het. Die jagter-versamelaars sou in kontak met sprekers van Ntu-tale gekom het, vanwaar waarskynlik die naamwoordklas-stelsel. Later sou ‘n breë verdeling plaasvind, met die voorouers van die Kx’a wat in ‘n westelike rigting beweeg terwyl die ander groep oor die land versprei, van die Drakensberge tot in die Kaap. Intussen het die herders, in ‘n konstante soeke na weiding vir hulle vee, ook die Kaap bereik. Regdeur die land moes daar voortdurende kontak oor millennia plaasgevind het, met wedersydse beïnvloeding en gevalle van taalverskuiwing.

10


Bibliografie Daneyko, Thora 2019 & Bentz, Christian 2019. Click languages tend to have large consonant inventories: Implications for language evolution and change In: Modern Human Origins and Dispersal. Kerns Verlag, Tübingen. Eaton, Helen. 2010. Sandawe Grammar. SIL International. Gabanamotse-Mogara, Budzani. 2011. A Comparative Study of the Verb Structure in Northern, Central and Southern Khoesan: The Case of Ju/’Hoansi, Naro And !Xóõ. University Of South Africa Greenberg, Joseph H. (1966) The Languages of Africa (2nd ed. with additions and corrections). Bloomington: Indiana University. Güldemann, Tom. 2019. African language classification beyond Greenberg In: "Areal linguistics in Africa before a new approach to its genealogical language classification". Humboldt University Berlin and Max Planck Institute for the Science of Human History Jena. Güldemann, Tom. 2014. “Khoisan” linguistic classification today. In book: Beyond ‘Khoisan’: historical relations in the Kalahari Basin (pp.1-41) Chapter: “Khoisan” linguistic classification today. Publisher: Amsterdam: John Benjamins. Editors: Tom Güldemann, Anne-Maria Fehn. Güldemann, Tom. 2005. Tuu as a language family in Africa. Papers on Africa. Institut für Afrikanistik.DOI: 10.1016/B0-08-044854-2/00176-0 Heine, Bernd & Derek Nurse (eds.), A linguistic geography of Africa (Cambridge Approaches to Language Contact). Cambridge: Cambridge University Press, 2008. Pp. xviii+371. Heine, Bernd, 2009. The Kx’a Family: A New Khoisan Genealogy. Henry Honken. Jour of Asian and Afr Studies, No 79, 2010. Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis. Menán van Heerden, Menán du Plessis. 2018-02-15. www.litnet.co.za/indigenous-khoisan-languages-interview-menan-du-plessis/ Khan, Razib. 2011. The Sandawe: after the demographic flood. Gene Expression. Discover Magazine. https://www.discovermagazine.com/health/the-sandawe-after-the-demographic-flood Kerry Jones (2019) Contemporary Khoesan Languages of South Africa, Critical Arts, 33:4-5, 55-73, DOI: 10.1080/02560046.2019.1688849 The Khoisan languages. https://sites.google.com/site/thekhoisanlanguages/home Lachance et al. (2012) Evolution of the Pygmy Phenotype: Evidence of Positive Selection from Genome- wide Scans in African, Asian, and Melanesian Pygmies. December 2013Human Biology 85(1- 3):251-84. DOI:10.3378/027.085.0313 Maddieson, lan, Peter Ladefoged and Bonny Sands. Clicks in East African Languages

11


Miller, Amanda L. The Sounds of Nǀuu: Place and Airstream Contrasts by Amanda L. Miller, Johanna Brugman, Bonny Sands, Levi Namaseb, Mats Exter and Chris Collins. Working Papers of the Cornell Phonetics Laboratory 2007, v.16, pp. 101-160 Miller, Amanda (2011). "The Representation of Clicks". In van Oostendorp, M.; Ewen, C.; Hume, E.; Rice, K. (eds.). The Blackwell Companion to Phonology. New York: Wiley-Blackwell Miller, Kirk (2008). Hadza Grammar Notes. https://www.academia.edu/36533859/Hadza_grammar_notes N|uu: South Africa’s oldest San language, with only 2 people on Earth who speak this ancient SA language. Culture History, June 8, 2020. https://hadithi.africa/2020/06/08/ Pickrell, J., Patterson, N., Barbieri, C. et al. The genetic prehistory of southern Africa. Nat Commun 3, 1143 (2012). https://doi.org/10.1038/ncomms2140 Reid, Lawrence A. (2013) Who Are the Philippine Negritos? Evidence from Language, Human Biology: Vol. 85: Iss. 1, Article 15. Available at: http://digitalcommons.wayne.edu/humbiol/vol85/iss1/15 Ruhlen, Merrit. 1994. On the origin of languages: Studies in linguistic taxonomy. Stanford Universaity Press. Sands, Bonny. 1995. Evaluating claims of disant language relationships: The case of Khoisan. Univ California, Los Angeles Shriner, Daniel. 2018. Genetic Ancestry of Hadza and Sandawe Peoples Reveals Ancient Population Structure in Africa. Daniel Shriner, Fasil Tekola-Ayele, Adebowale Adeyemo, Charles N Rotimi Author Genome Biology and Evolution, Volume 10, Issue 3, March 2018, Pages 875–882, https://doi.org/10.1093/gbe/evy051 Uys, Pieter. Makro-Khoisan Uys, Pieter. Taal is ‘n lied uit die wieg van die mensdom Uys, Pieter. Taal is ‘n lied uit die wieg van die mensdom II Uys, Pieter. Swaargewigtaal Nuu Verdu, Paul. African Pygmies. Current Biology 26, R1–R21, January 11, 2016.

Khoisan as taalfamilie ©Pieter Uys Orchards, 2021.

12


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.