1 minute read
Inleiding
Sowat 46% van die wêreldbevolking – 3 640 000 000 mense – het ‘n Indo-Europese moedertaal. Daar is ongeveer 445 lewende Indo-Europese tale, waarvan twee derdes tot die Indo-Iraanse tak behoort. Die Indo-Europese taalfamilie sluit groot wêreldtale soos Engels, Spaans en Hindi in, wat onderskeidelik tot die Germaanse, Romaanse en Indo-Iraanse groepe behoort. Dis die deeglikste bestudeerde taalfamilie ter wêreld, en rekonstruksie van die prototaal is tot ˈ n groot mate afgehandel, sodat daar vandag redelike sekerheid bestaan oor die klankstelsel, woordeskat en morfologie van Proto-Indo-Europees.
Die Germaanse familie het sowat 520 miljoen moedertaalsprekers (2021) en is die dominante familie op vyf kontinente. Wes-Germaans bestaan uit Afrikaans, Alemannies, Engels, Fries, Duits, Nederduits, Nederlands-Vlaams, Skots en Yiddish. Die lede van Noord-Germaans is Deens, Faroëes, Noorweegs, Sweeds en Yslands.
Advertisement
Reeds vroeg in die geskiedenis van Indo-Europese studies, het dit geblyk dat Germaans op noemenswaardige wyse van die klassieke Indo-Europese patroon afwyk. ‘n Proses van klankverskuiwings het teen die middel van die eerste millennium vC – toe Proto-Germaans sy finale vorm aangeneem het – beduidende verskille met sy portuurtale soos Proto-Kelties, Antieke Grieks, Latyn en Sanskrit meegebring.