Inleiding Sowat 46% van die wêreldbevolking – 3 640 000 000 mense – het ‘n Indo-Europese moedertaal. Daar is ongeveer 445 lewende Indo-Europese tale, waarvan twee derdes tot die Indo-Iraanse tak behoort. Die Indo-Europese taalfamilie sluit groot wêreldtale soos Engels, Spaans en Hindi in, wat onderskeidelik tot die Germaanse, Romaanse en Indo-Iraanse groepe behoort. Dis die deeglikste bestudeerde taalfamilie ter wêreld, en rekonstruksie van die prototaal is tot ˈn groot mate afgehandel, sodat daar vandag redelike sekerheid bestaan oor die klankstelsel, woordeskat en morfologie van Proto-Indo-Europees.
Die Germaanse familie het sowat 520 miljoen moedertaalsprekers (2021) en is die dominante familie op vyf kontinente. Wes-Germaans bestaan uit Afrikaans, Alemannies, Engels, Fries, Duits, Nederduits, Nederlands-Vlaams, Skots en Yiddish. Die lede van Noord-Germaans is Deens, Faroëes, Noorweegs, Sweeds en Yslands.
Reeds vroeg in die geskiedenis van Indo-Europese studies, het dit geblyk dat Germaans op noemenswaardige wyse van die klassieke Indo-Europese patroon afwyk. ‘n Proses van klankverskuiwings het teen die middel van die eerste millennium vC – toe Proto-Germaans sy finale vorm aangeneem het – beduidende verskille met sy portuurtale soos Proto-Kelties, Antieke Grieks, Latyn en Sanskrit meegebring.
3