Aratta, Armenia, Urmia, Urartu

Page 1

Armenië, Ararat en Urartu Die Urmia-meer lê in die verre noordweste van Iran waar dit aan Azerbaijan, Armenië, Turkye en Irak grens. Bergreekse omring dié skilderagtige streek van 51,000 km2 met sy groen heuwellandskap, strome en valleie. Reg in die middel van die dreineringskom, en tussen die Iranse provinsies Wes- en Oos-Azerbaijan lê die meer – 'n verwonde pêrel wat geleidelik herstel nadat die watervlak in 1996 'n laagtepunt bereik het.

1


Dis hier waar taal- en kultuurkontak sedert minstens die vyfde millennium vC plaasvind tussen Indo-Europees, Semities, Sumeries, Horities, Kartveels en ander tale van die antieke Nabye Ooste. Interaksie tussen Proto-Semities, -Kartveels en -Indo-Europees moes besonder intens en oor 'n baie lang tydperk plaasgevind het, soos die leksikon, klankstelsel en struktuur van laasgenoemde drie toon.

Klinkerwisseling by verbuiging en woordvorming – wat as apofonie en ablaut bekend staan – is eienskappe wat elders ongewoon is. Die kategorie van geslagsaanduiding wat by Semities en PIE aangetref word, is ook raar onder die tale van die wêreld. ‘n Uitgebreide gedeelde leksikon onder Proto-Semities, PIE en Proto-Karveels sluit in die woorde vir wyn, landerye, gewasse, skape, beeste en bokke. Die gedeelde woorde vir “ster” en “sewe” dui moontlik op ‘n eenvormige ideologie of religie. Urmia is die grootste meer in die Midde-Ooste en die tweede grootste soutmeer op aarde. Op ‘n hoogte van min of meer 1,275 meter (4,183 voet) bo seespieël het die water in die 1990s vir ongeveer 140 km noord en suid gestrek. Afhangende van die mate waartoe die meer herstel, kan dit tot 85 km breed word van oos na wes, met ‘n oppervlak-area van tussen vyf- en sesduisend vierkante kilometer.

2


Urmia is die terminaal van ‘n onafhanklike dreineringskom wat deur een-en-twintig standhoudende of seisoenale riviere en 39 periodieke strome gevoed word. Die Zarrinarudrivier (Jegatoo) is 302 km lank, gevolg deur die Āji Čāy van 265 km en die Simineh van 200 km. Ander riviere is die Alamlou, Gadar, Leylan, Nazlou, en Barandouz. Die wintersneeu op die omringende berge voed die riviere wanneer die droë somer aanbreek.

Urmiameer het meer as 100 eilande, waaronder Shahi (Persies: ‫ )جزیره شاه‬van 23,000 ha wat die enigste bewoonde eiland is. Sedert die watervlakke so erg gedaal het, het Shahi ‘n skiereiland geword. Kabudan (3125 ha), Ashk (1250 ha) en Espir (1250 ha) tel ook onder die groteres. Die eilande dien as ‘n rusplek vir ‘n verskeidenheid migrerende voëlspesies soos flaminke, pelikane en ooievaars. Die stad Urmia is op die Shaharrivier tussen die meer en die bergagtige Turkse grens geleë, in ‘n landskap van vrugteboorde, landerye en weivelde. Die woord “Urmia” kan “golwend” beteken, of dis die samestelling van Ur (stad) + Miya (water). Die meer en sy eilande is ‘n nasionale natuurreservaat; kleiner bewaarareas sluit in Ellar Bagipark langs die Shahar Chayi (stadsrivier), die Marmisho-meer en Shahrchay-dam. Ontspanningsareas omvat strandmere soos Isti Sou, parke soos Saheli (Rivieroewerpark), en eilande soos Kazem Dashi en Kabudan.

3


Die meer word plaaslik Daryāche-ye Orūmiye (‫ )دریاچه ارومیه‬genoem, en Zerivar-i Wermi in Koerdies. Die Armeense naam Kaputan tsov (Կապուտան ծով), beteken "blou see". Die Ou-Persiese naam was Chichast, wat ‘glansend’ beteken, en in Latyn was dit Lacus Matianus of Matiene. Tydens die Middeleeue is dit Kabuda genoem (die Persiese woord vir helderblou).

Die vroegste vermelding van Urmiameer verskyn in ‘n teks van die Assiriese Koning Shalmaneser III (858–824) uit die negende eeu VC, wat verwys na die Parsuwaš (Perse) en Mattai (Meders). Die Urmiakom bevat historiese terreine uit sover terug as die 6de milennnium, soos Teppe Hasanlu. Ander verwante terreine is Yanik Tepe, Kul Tepe Jolfa en Haji Firuz Tepe waar die vroegste bewys van druiwewyn gevind is. Indo-Europees het deur die jare al heelwat tuislande gehad wat dan weer in onguns verval het: Sentraal-Asië, Indië, die Balkans, Sentraal-Europa, Skandinawië en selfs die Noordpool. Tans is die meerderheid spesialiste in Indo-Europees ten gunste van Marija Gimbutas en Dawid W Anthony se Kurgan-Steppe hipotese (Ongeveer 4,000 VC het die sprekers, nomadiese veeboere wat in waens gewoon het, van die “Pontiese vlaktes” van Oekraiene deur die Balkan Europa verower). Die Anatoliese hipotese van die argeoloog Colin Renfrew plaas die sprekers in Anatolie in 8,000 VC, vanwaar hulle geleidelik deur Europa versprei het en die landbou saamgeneem het. Nie een van die twee hipotese stel ‘n goeie saak vir die verspreiding van Indo-Europees na Iran en Indië nie. Die ontdekking van die Hetiete in 1920 was ‘n nagmerrie, want die spesialiste se paradigmas het in duie gestort. Die taal van die mense van Hattusas naby Boğazkale in Turkye is die oudste Indo-Europese of -verwante taal wat op die wêreldtoneel verskyn het. 4


Helaas vir die hipotetiseerders, is Anatoliese Indo-Europees (Hetities, Karies, Lidies, Lisies, Luwies en Sideties) ‘n bietjie “anders” as die res van die groep op ‘n onverwagte manier, te wete dat die grammatika baie eenvoudig is in vergelyking met die ou, beminde Prototaal. Die morfologie van beide die naamwoord en die werkwoord is vereenvoudig. Baie van die tyds-uitgange in die werkwoord, en die verbuigingsvorme van selfstandige naamwoorde is afgeskaal. Verder klou aanhangers van nommer een hierbo, sowel as etlike ondersteuners van nommer twee, aan die feëverhaal dat die Anatoliese groep die Anatoliese Skiereiland via die Bosporus binnegegaan het.

Die spreekwoordelike Mammoet in die kamer is die feit dat Indo-Europees sekere betekenisvolle kernwoordeskat (op die Swadesh-lys) met Oeralies, Kartveels en Semities in gemeen het. Maar die sprekers van Oeralies was in daardie era jagter-versamelaars wat glo te ver noord en oos van Oekraïene en Anatolië gewoon het. Dis net deur langdurige en intensiewe kontak dat drie verskillende tale soveel van daardie kategorie van woorde sou uitruil. Wat Semities betref, is dit alombekend dat die oudste en mees noordelike Semitiese tale, Eblaïeties en Akkadies, nooit noorder as die grens tussen Turkye en Sirië gehoor is nie. 5


Plekname Een van die redes wat voorheen aangevoer is om ‘n Midde-Oosterse oorsprong vir PIE uit te skakel, is dat daar geen Indo-Europese plekname in daardie geweste sou wees nie. (Toponieme – die name van riviere, mere, berge en ander natuurverskynsels is bekend vir hulle weerstand teen verandering). Dis waarom soveel Amerikaanse stede, riviere en state Amerindiese name het soos Alabama, Arkansas, Dakota, Massachusetts, Minnesota, Mississippi, Nantucket).

Die onafhanklike Franse navorder Arnaud Fournet het so pas daardie vergissing uit die weg geruim, en nou waardeer mens opnuut die wysheid van die gesegde, “Niemand is so blind as dié wat nie WIL sien nie.” Inderwaarheid wemel dit van Indo-Europese plekname in die Midde-Ooste: Sirië, Mesopotamië, Anatolië, die Suid- en Transkaukasus. Eerstens, die naam van die land Aratta wat in Sumeriese verhale soos ‘Enmerkar en die Heer van Aratta’ voorkom, se etimologie is waarskynlik Proto-Indo-Europees *ar-th‘water, rivier. ’ Die Horitiese (Hurrian) naam van die Tigrisrvier is Aranzah of Arašših, en die Assiriese naam van die Orontes, (Grieks Ὀρόντης) is Arantu. Die naam van die Khaburrivier, ‘n hoof-bydraer tot die Eufraat, stam uit PIE */H2eb-/ ‘rivier’ of Hetities /haba-/ ‘rivier’. Hierdie PIE-stam verskyn vandag as Sanskrit /áp/‘water’ < *h₂ep-; en Litous /ùpė/ ‘rivier’. Hetieties /hapa- /‘rivier’ reflekteer *h₂ebʰ-, en hoort by Ou Iers /ab, aub/ ‘rivier’. Die boloop van die Eufraat word Mala genoem in Hetitiese bronne, PIE *mel- ‘donker’ . Vandag noem die Turke die westelike rivier wat die Eufraat voed, “kara su” wat ‘swart water’ beteken. Die stam *h 2eb- wat Khabur geword het, is foneties argaïes en kon dus nie uit ‘n later Indo-Europese taal soos dié van Mitanni gekom het nie. In Sirië is daar die stad Aleppo (Haleb), die Abanarivier en die antieke stad en bergreeks Barga [PIE *bʰerǵʰ = hoog, berg] (nou Arabies: ‫ سلسلة الجبال الساحلية‬Silsilat al-Jibāl as-Sāḥilīyah); in Turkye die Taurusgebergte. [PIE *táwros = bul]. Die woordeskat van PIE getuig van ‘n boomryke landskap van berge, heuwels en klowe, valleie, kranse en rante: *bhergh (hoog), *kholnis (heuwel), *mn̥ s (berg), *khl ̥men (piek), *har (vallei), *sledh (berghang), *rainos (rant), * kl ̥dis (bergpaadjie), *dholos (kloof), *lonko (riviervallei) en *khamm (bergwoud).

6


Dit was ‘n waterryke gebied van riviere, mere, poele, stroompies en vleiland. Die werkwoord *dhenand (vloei) en dhān (rivier) waaruit riviere soos die Don, Donau, Dniepr en Dniester hulle name gekry het. Naamwoorde soos *wr̥stā (reën), *wed (nat), *wodor (water), *mor/*mar (see, meer, moeras), *oru (meer) is volop in die taal. Verder ook *wend (golf), *lindh (dam), *selo (vleiland), *palo (klei, modder), *pan (vlei), *aperos (oewer, rivierbank), *dhūn (kus), *sol (eiland), *almos (fontein), bhoglā (rivier/beek soos in Liesbeeck) en *pont (brug). Wolk (*nebhos), donder (*tontrom), storm (*m̥ bhros), sneeu (*sneigs), ys en koue (*eis /*is) en wind (*wentos) was algemene verskynsels, terwyl die as- (*Hos), beuke- (*bhaHk), berke- (*bherHk) en denneboom (*phith) alombekend was, net soos appels (*samlu), kersies (*khrno), moerbeie (*moro) en die roos (wr̥t). Fauna in hierdie streek sluit in die wolf (*wl ̥kwos), jakkals (*wolpis), luiperd (*phars), leeu (*lewos), wildekat (*leukh), olifant (*lebhonth), en voëls soos die gans (*ghans), en die kraai (*korniks). Huisdiere is die hond (*kwōn, kwonos), en kat (*kattā), en plaasdiere sluit skape (*owis) en beeste (*peku) in. Die kleurterme is ghlastos of m̥ dhros vir blou, ghelwos vir groen, bhlōwes vir geel, bhrūnós vir bruin, rudhrós vir rooi, albhos vir wit, pl ̥wos vir grys en kr̥snos vir swart.

Argeologie Iran Hasanlu (Persies: ‫ )تپه حسنلو‬is 'n argeologiese terrein van 'n antieke stad naby die suidelike oewer van Urmiameer op die Solduz-vlakte in die Gadarriviervallei. Hasanlu dateer uit 7,000 vC, en is sonder onderbreking bewoon tot die jaar 825 vC. ‘n Wye reeks artefakte is daar gevind, soos eetgerei, huisware, juweliersware en dekoratiewe teëls. Dalma Tepe is 'n klein heuwel ongeveer 5 km suidwes van Ḥasanlū Tepe af, naby die dorpie Dalma. Groot hoeveelhede handgemaakte pottebakkery-aardewerk is gevind wat tydperk IX in Ḥasanlū Tepe verteenwoordig, en is gedateer op ongeveer 5000-4500 v.C. Soortgelyke aardewerk is gevind in Seh Gābī en Godin Tepe, toegeskryf aan Tydperk X. Kul Tepe Jolfa is 'n ander verwante terrein uit dieselfde tydperk wat noord van die Urmia-meer geleë is.

7


Armenië In Armenië is daar die Aknashen, Aratashen en Mestamor argeologiese terreine, en die Shulaveri-Shomukultuur wat tussen 6000 en 4000 vC aktief was. Dit is opgevolg deur die Bronstydperk se Kura-Araxes-kultuur wat van rondom 3400 - 2000 BC aktief was. Van sowat 2200 vC tot 1600 vC, floreer die Trialeti-Vanadzorkultuur in die gebied van die huidige Armenië, suidelike Georgië, en noordoostelike Turkye. Een van die oudste strukture in Armenië is die Karahunj Sterrewag en Tempel van die Son wat uit 8000 vC dateer. Naby Metsamor in die Armavir provinsie is ‘n kasteel van sowat 5000 jaar oud, met enorme klipstelae wat die son en leeus uitbeeld, en idiogramme wat die proses van koper- en ystersmelting illustreer. Meer as 100,000 rotstekeninge is in Armenië opgeteken, waarvan die oudstes uit die 12de millennium vC dateer. Twee van die heel oudstes is ‘n afbeelding van ‘n olifant en ‘n afbeelding van wilde buffels wat intussen in Armenië uitgesterf het. Geometriese figure, plante, hemelliggame en mitologiese karakters verskyn ook daarin. Op die rotse van Ukhtasar word byna die volledige reeks fauna van die Armeense Hoogland uitgebeeld. Die Jivakheti-, Gegham- en Vardeni-berge bevat van die mees indrukwekkende rotskuns.

Azerbaijan Teen die hange van die Boyukdash-, Kichikdash- en Cingirdashberge, sowat 60 km van Baku af, is daar

duisende rotstekeninge uit die Meso- en Neolitiese era. Die terreine sluit in Damcılı spelonk, Ovçular mağarası (Jagtersgrot), Anazagha, Khanlar, Garakopektepe, Yanigtepe, Haji Firuz, Shomutepe en Toyretepe. In die Eneolitiese periode (6de tot 4de millennium vC) is daar smeltery en koperwerk verrig. Meer as 4,000 rotstekeninge van mense, diere, algemene ervarings, jag en dans is oor duisende jare by Gobustan uitgebeeld. Die meeste van die rotstekeninge verskyn teen groot kranse wat tussen veelvuldige antieke woonplekke te siene is. Azokh is ‘n enorme spelonk in Hadrut, Artsakh, tussen die dorpies Azokh en Drakhtik. Dit beslaan sowat 8000 m2 en bevat asemrowende rotstekeninge en -gravures wat die prehistoriese leefstyl uitbeeld. Die goedbewaarde sketse toon jagters wat bokke en oer-osse (aurochs) jag, vroue wat dans en mense wat op rietbote vaar.

Dagestan Die Chokh-terrein op die noordoostelike hang van die Groter Kaukasusgebergte het twee Mesolitiese lae en een Neolitiese laag, uit die agtste tot die sesde millennia vC. Aardewerk-pottebakkery en gekultiveerde graan is in die Neolitiese laag gevind. 8


Georgië Die Vroeë Neolitikum van westelike Georgië word deur ‘n Laat-Neolitikum gevolg, wat deur terreine op die kusstrook verteenwoordig word, soos Anaseuli-2, Odishien en Makhvilauri waar aardwerk-pottebakkery verskyn. (Nebieridze, 1972; Kiguradze, 2001).

Slotsom Dis nou duidelik dat van 12,000 tot 8,000 vC die terreine van Ghar-I Kamarband, Hotu, Qari-Komishan, en Ali Tappeh in noordelike Iran; Damjili, Kaniza, Maral, Ana Zaga, Ovchular, Okuzler, Jeyranlar en Firuz in Azerbaijan; en Chokh, Mekegi, Kozma-Noho, Shau-Leget en Sosruko in die noordelike Kaukasus deur Mesolitiese mense bewoon is.

9


Aratta, Ararat, Urartu Aratta is ‘n fabelagtige land wat in die oudste Sumeriese legendes verskyn. Aratta is bergagtig en lê noord van Sumer. Die land is ryk aan goud, silwer, lapis lazuli, en ander minerale. Plekke op pad na Aratta sluit in Zamua, wat suid van die Urmiameer was. Dit blyk dat Aratta graan en ander landbouprodukte van Sumer af verkry het, en mynbouprodukte en boumateriaal na Sumer uitgevoer het.

Die Sumeriese narratiewe wat na Aratta verwys, sluit in die Enuma Elish, ‘n Babiloniese skeppingsmite, sowel as die verhale Enmerkar en die Heerser van Aratta, en Enmerkar en Ensuhkkishdana (Ensuhgirana). Aratta word ook besing in Lugalbanda en die Anzugvoël, Bilgamesh en Huwawa, Die Himne aan Nisaba, Weeklag oor Ur en in ‘n lofgedig van Koning Shulgi. Navorsers reken dat die Enmerkar-narratiewe na ‘n tydperk rondom 3100 vC – 2900 vC verwys, terwyl Enmerkar ook gekoppel word aan die eerste dinastie van Sumer (3500 – 2750 vC). In Farao Thutmoses III van Egipte se verwysing na die mense van "Ermenen" (in die jaar 1446 vC), beweer hy dat in die land Urartu, die “hemel op vier pilare steun” Enmerkar en die Heerser handel oor Enmerkar se ambisie om Unug se rang bo dié van Aratta te verhef. Enmerkar en Ensuhkisdanna is die verhaal van die ambisieuse leier van Unug en Kulaba en sy regterhand, Numenatumma, wat hegemonie oor Aratta wou verkry, die stad wat deur Ensuhkkishdana en sy hoofminister Ansigaria regeer is. Die eerste bovermelde mite sluit die Inkantasie aan Nudimmud in.

10


“Eens was daar geen slang, geen skerpioen, geen hiëna, geen leeu, geen wildehond, geen wolf nie; daar was geen vrees, geen angs nie. Die mens het geen vyand gehad nie. In daardie tyd het die lande Subur en Hamazi, Sumer met sy tong van harmonie, in vrede geleef, die groot land met sy wette van heerskappy. En Uri, die land met alles wat nodig is, die land Martu wat in veiligheid rus. Die hele kosmos, die mense het soos een met een tong met Enlil gepraat. Toe het Enki, die heer van oorvloed, wie se bevele betroubaar is, die heer van wysheid wat die land verstaan, die hoof van die gode, die heer van Eridu het die spraak in hulle monde verander, het tweespalt in die taal van die mens ingebring, wat tot op daardie tyd een was.” Die implikasie van die Aratta-mites is dat Aratta ‘n sleutelrol gespeel het in Sumeriese religie, en dat handel en diplomasie tussen die twee state van die grootste belang was.

Name van Armenië Name wat oor die millennia na die hoogland van Armenië en/of die mense van die hoogland verwys, sluit in: Alzili, Aratta, Ararat, Arimi, Armani, Armen, Arme-Shupria, Azzi, Biainili, Ermani, Ermen, Ḫāte, Haya, Hayasa, Nairi, Shubria, Shurili, Somkheti, Subartu, Surili, Urumia, Wan.

11


Armeens Oorsprong Dis nie bekend hoe en wanneer die eerste sprekers van Armeens die ooste van Anatolië betree het in die gebiede rondom die mere Sevan, Urmia en Wan nie. Dis moontlik dat hulle reeds teen die middel van die tweede millennium vC daar gewoon het. Hulle teenwoordigheid as opvolgers van die Urartiërs kan tot sowat 520 vC dateer word, met die inskripsie van Darius die Grote by Behistun. Die Indo-Europese dialekgroep Grieks-Armeens-Aries was deel van die laaste fase van linguïstiese eenheid onder die sprekers van Indo-Europees. In die “Pontiese” teorie word bespiegel dat rondom 3000 – 2500 vC, Proto-Grieks en Proto-Indo-Iraans geskei het, en dat Grieks na die weste en Indo-Iraans na die ooste begin beweeg het. Armeens het kenmerke van beide die centum- en satemtale.

Aard Armeens stem met die ander Indo-Europese tale ooreen in struktuur, maar in fonologie en in sekere aspekte van die grammatika weerspieël dit elelemente van die Kaukasiese tale en Kartveels. Dis ‘n fleksionele taal met ‘n uitgebreide reeks naamvalle en werkwoordverbuigings. Die taal is ryk aan konsonante, waaronder ‘n stel ejektiewe (glottale), en konsonantstapeling kom aan die begin van woorde voor. Die naamwoord het geen geslagsaanduiding nie, en agtersetsels is algemeen. Die werkwoord het vyf modale aspekte, te wete indikatief, subjunktief, kondisioneel, nesessitief en imperatief, en die indikatief het vier tydsanduidings: teenwoordig, imperfektum, preteritum en imperatief.

12


Bibliografie

Ajorloor, Bahram. 2013. The Early Neological Period in the Urmia Lake Region, in: jocO Quarterly, vol 1, no. 1, Autumn 2013. Bengtson, John D. 2008. In Hot Pursuit Of Language In Prehistory: Essays In The Four Fields Of Anthropology In Honor Of Harold Crane Fleming. John Benjamins. Bomhard, Allan R. 1996. Indo-European And The Nostratic Hypothesis. Charleston, South Carolina: Signum. Bomhard, Allan R. 1998. Nostratic, Eurasiatic And Indo-European. In: Joseph C. Salmons And Brian D. Joseph (Eds.) Nostratic. Sifting The Evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 17-49. Diakonoff, I. M. 1984. The Prehistory of the Armenian People. Delmar, New York, 1984 Dolgopolsky, A., 1998. The Nostratic Macrofamily And Linguistic Palaeontology. (Papers In The Prehistory Of Languages.) Cambridge: Mcdonald Institute For Archaeological Research. Dolgopolsky, A., 1999. The Nostratic Macrofamily: A Short Introduction, In Nostratic: Examining A Linguistic Macrofamily, Eds. C. Renfrew & D. Nettle. Cambridge: Mcdonald Inst For Archaeological Research, 19–46. Fournet, Arnaud. (2019) [draft]. Reasons why Indo European studies are a fraud: Solving the issue of the IndoEuropean homeland. www.academia.edu/40251214/Reasons_why_Indo_European_studies_are_a_fraud Gamkrelidze, Thomas V, and Ivanov, Vjaceslav V. 2005. Indo-European and the Indo-Europeans: A Reconstruction and Historical Analysis of a Proto-Language and a Proto-Culture. Mouton de Gruyter, Berlin New York 1995. Hansen, S, Guram Mirtskhulava, Katrin Bastert-Lamprichs, Neolithic Settlements Of The 6th Millennium Bc In The Southern Caucasus. In: O. P. Nieuwenhuyse/R. Bernbeck/P.M.M.G. Akkermans/J. Rogasch (Hrsg.) Interpreting The Late Neolithic Of Upper Mesopotamia (Turnhout 2013) 387-396. Ivanov, Vyacheslav V. The Indo-European Homeland in the Near East: New Evidence. Bulletin Of The Georgian National Academy Of Sciences, vol. 175, no. 3, 2007. Kozintsev, Alexander. 2019. Proto-Indo-Europeans: The Prologue. Journal of Indo-European Studies, vol 47. Lehmann, W. P. 2002: Pre-Indo-European. Journal of Indo-European monograph series 41. Washington D.C.

13


Movsisyan, Artak. The Sacred Highlands: Armenia In The Spiritual Geography. National Academy Of Sciences Of The Republic Of Armenia. Institute Of Oriental Studies of the Ancient Near East. Yerevan University Publishers. Petrosyan, Armen. 2005. Problems Of Armenian Prehistory. Gitutyun Publishing House, Yerevan. Ruhlen, Merritt (1991). A Guide To The World’s Languages. Vol 1. Stanford, Stanford University Press. Salmons, Joseph C. And Brian D. Joseph (1998) Introduction. In: Joseph C. Salmons And Brian D. Joseph (Eds.) Nostratic. Sifting The Evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 1-12. Smith, Adam T. 2012. The Prehistory of the Urartian Landscape. Biainili-Urartu: The Proceedings of the Symposium held in Munich. Edited by S. Kroll, C. Gruber, U. Hellwag, M. Roaf & P. Zimansky. Peeters, 2012. Stetsyuk, Valentyn, Historical Macrolinguistics. Stetsyuk, Valentyn. The Urheimat Of The Nostratic Languages. Tokhatyan, K. S. 2015. Rock Carvings of Armenia In: Fundamental Armenology, No. 2, 2015. Varoutsikos, Bastien, et al. 2017. From the Mesolithic to the Chalcolithic in the South Caucasus: New data from the Bavra Ablari rock shelter. In: Batmaz A., Bedianashvili G., Michalewicz A., Robinson A. Context and Connection: Essays on the Archaeology of the Ancient Near East in Honour of Antonio Sagona. Leuven : Peeters, 2017. Vine, Brent. 1998. Indo-European And Nostratic: Some Further Comments. In: Joseph C. Salmons And Brian D. Joseph (Eds.) Nostratic. Sifting The Evidence. Amsterdam: John Benjamins. Pp. 85-106.

Pieter Uys, 2021.

14


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.