23 minute read

SA Spoorwegpolisie: Honde Afdeling

Next Article
Diensskiet

Diensskiet

ons ʼn tong in sy oor, dan skreeu Slabbie soos ʼn maer vark. Ons waarsku hom dat hy nie so mag skreeu nie want as hy skreeu sal hy nie ʼn majoor word nie. So het ons vir Slabbie baie nagte gaan kuier. Slabbie het toe, ten spyte van die lawaai, tog ʼn majoor geword en die volgende jaar kon hy weer gesellig saam met ons verkeer. Sy voorbeeldigheid het later van hom ʼn brigadier gemaak, ons kon hom nie keer nie. (Wietsche Fourie)

S.A. SPOORWEGPOLISIE: HONDE AFDELING.

Advertisement

Kolonel P.M. Du Plessis (later Gen. Du Plessis) het, as gevolg van die verskeidenheid van kriminele oortredings wat op Spoorwegpersele gepleeg was, die behoefte aan hondegeleiders geïdentifiseer. Samesprekings tussen die Hoofkantore van die S.A. Spoorwegpolisie en die S.A. Polisie was gehou en daar was besluit om ʼn aantal lede van die Spoorwegpolisie by die Polisiehondeskool by Kwaggasrand, Pretoria, as hondegeleiders op te lei. Die eerste Dwelmhondkursus was in 1974 deur sersant Robbie Roberts, Ben Munro en konstabel Gert van Greunen bygewoon. Wyle kolonel P.G. (Fido) Victor, toe ʼn adjudant offisier met Patrolliehond Mix R1 en sersant C.C (Skip) Scheepers met Patrolliehond Rommel R2 was die eerste lede wat as Patrolliehond geleiders opgelei was. Na afloop van Victor en Scheepers se patrolliehond kursus, was beide van hulle as instrukteurs vir die S.A.Spoorwegpolisie opgelei. Die verdere opleiding van lede van die Spoorwegpolisie as hondegeleiders was by die S.A. Polisie Hondeskool deur Victor en Scheepers aangebied. Gedurende Junie 1974, was wyle sersant Chris (Tokkie) Koen met Patrolliehond Rex, die eerste lid wat deur Scheepers as Patrolliehond geleider opgelei was. In 1975 was sersant Koen as Instrukteur opgelei. Sersant Jan Brand was in Junie 1975 met Patrolliehond, Wollie, opgelei en in 1976, na die onluste, was hy as Instrukteur opgelei. Met adjudant Victor se bevordering na luitenant in 1978, was hy na Hoofkantoor verplaas waar hy in bevel van die Honde afdeling was. Die opleiding van lede van die Spoorwegpolisie as geleiders het by die S.A. Polisie Hondeskool voortgegaan. Verskeie lede was as Patrollie, Springstof en Gevorderde Springstof hondegeleiders opgelei. In 1980 was ʼn verdere vier hondegeleiders, onder andere sersant Elred Krause (Queenstown honde-eenheid), sersant Dennis Crew (Durban honde-eenheid), sersant Henk Herbst (Maitland honde-eenheid) en sersant Bouts Botha (Vryheid) as Patrollie, Springstof en Dwelmhond instrukteurs opgelei. Na afloop van dié kursus het hulle na hul onderskeie standplase teruggekeer. Latere jare het ʼn behoefte ontstaan om lede van die honde afdeling as bomopruiming en springstof Inspekteurs op te lei. In September 1980 het adjudant offisier Scheepers, wat toe by die S.A. Polisie se hondeskool gestasioneer was, en sersant Elred Kruase van Queenstown, die bomopruiming en springstof Inspekteurskursus by Esselenpark deurloop. Die kursus was deur instrukteurs van die S.A. Polisie aangebied en luitenant Herman Buckingham (SASP) was die kursusleier. As gevolg van uitbreidings by die S.A. Polisie Hondeskool in Pretoria, was die Spoorwegpolisie in 1982 versoek om die opleiding van hulle lede elders te neem. Die ou klip plaashuis op Esselenpark was as opleidingsterrein geïdentifiseer. Hondehokke was opgerig en verdere opleiding van hondegeleiders het daar plaasgevind. Adjudant offisier Scheepers en waarnemende adjudant offisiere Chris Koen en Jan Brand was toe die eerste honde instrukteurs te Esselenpark Hondeskool. Kursusgangers was in die ou plaashuis gehuisves. Die huis was in ʼn administratiewe kantoor, ʼn kamer wat as ʼn Hondekliniek gedien het, en slaapkwartiere vir die studente ingedeel. Die behandeling van die honde het in ʼn buitegebou, wat spesiaal vir dié doel ingerig was, plaasgevind. Sersant Koen het as die nie-amptelike veearts opgetree en het die elementêre behandelinge behartig – verdere behandeling was deur ʼn veearts gedoen. Vir ontspanning, buiten die geriewe wat die Kollege gebied het, het die Suid Afrikaanse Lugdiens ʼn ou bus beskikbaar gestel wat naby die plaashuis as kuierplek ingerig was. Instrukteurs en kursusgangers het braaigeriewe gebou waar lede na ure kon ontspan. In 1982, terwyl die drie bogenoemde instrukteurs aan bevorderingeksamens deelgeneem het, het kaptein Victor en sersant Elred as instrukteurs opgetree. In 1983 was sersant Elred Krause vanaf Queenstown na die Hondeskool te Esselenpark, as instrukteur, oorgeplaas. Verdere opleiding wat ook plaasgevind het, was die opleiding van sowat negentien honde vir

252

gebruik deur die Sekerheidswagte van die Spoorweë. Hierdie lede en honde het as gevolg van die terroristiese bedreigings by die brandstof depots landswyd diens verrig. Verskeie werknemers van ESKOM was ook deur die Spoorwegpolisie se instrukteurs opgelei. Twee lede van die kernkragstasie te Melkbosstrand in die Kaap, asook twee lede van Germiston en twee van Megawatt Park in Johannesburg, was as springstofhond geleiders opgelei. Ses lede van die destydse Ciskeise Polisie was ook as patrolliehond geleiders opgelei. Een van die lede was latere jare die Bevelvoerder van die S.A. Polisie honde eenheid te Oos Londen. Tydens die begin stadium van die M.S.O.S stelsel was toetse met honde van die SASP uitgevoer ten einde die stelsel op die been te bring. Met hierdie stelsel was daar van ‘n stofsuier gebruik gemaak wat die lug (molekules) uit ‘n motor, bagasie of vraghouer deur ‘n spesiale materiaal gesuig en die reuk in ‘n houer bewaar het. Die houer was dan op metaalstaanders geplaas en die hond het dan aan al die houers geruik. Indien die hond die reuk van springstof kon ruik, het hy gaan sit om aan te dui dat die houer springstof bevat het. Mettertyd het die noodsaaklikheid vir die bestaan van ʼn vertoongroep ontstaan. Lang ure was gewerk om toerusting te bou waarop die honde verskeie toertjies kon uitvoer. Die vertoonspan het uit die instrukteurs en hondemanne op buitestasies bestaan. Hulle het gereeld vertonings op versoeke van die publiek gelewer. Dit het so gewild geword dat die lede min naweke vry was as gevolg van die vertonings wat oor naweke plaasgevind het. Daar was ook vertonings by verskeie skoue te Witbank, Klerksdorp en Rustenburg gehou. Party vertonings was gelewer saam met die gimnastiekvertoonspan en die orkes van die Spoorwegpolisie. Die instrukteurs het ook aan die destydse SAWDIS (South African Working Dog Invitation Stakes) te Gilooley’s Farm, Edenvale, deelgeneem. Hulle het verskeie medaljes tydens hierdie kompetisies, wat jaarliks gehou was, verower. Alle instansies in Suid Afrika wat van honde gebruik gemaak het, asook dié van die Buurstate, het aan die kompetisies deelgeneem. Die wenners van die onderskeie items het dan teen ʼn uitgenooide span van die buiteland meegeding. Verskeie hondemanne wat op stasies diens gedoen het, het ook aan die kompetisies deelgeneem. Scheepers het dan ook as beoordelaar by die kompetisies opgetree. Ander instrukteurs van die Spoorwegpolisie was ook uitgenooi om as beoordelaars op te tree en behulpsaam te wees by verskeie kompetisies waar lede van die publiek deelgeneem soos by Dog Show Jumping. Luitenant Scheepers se Fox Terriër hondjie, Buks, was ʼn bekende gesig te Esselenpark. Hy het onder die kursusgangers as “Beeweewe” bekend gestaan. Buks het in sy mandjie saam met Skip op sy motorfiets gewerk en huis toe gery. Hy was ʼn “gevreesde instrukteur” tydens kamerinspeksies. Die kursusgangers het op hulle klerekaste gespring om van Buks se tande weg te bly wanneer hulle kamers nie na wense was nie. Sonder Skip se medewete was Buks gereeld by braai geleenthede met sterk “medisyne” gedokter en dan kon Skip nie verstaan hoekom Buks doelloos rondloop en amper nie op sy pote kon bly nie! Sekere manne het plesier daaruit geput om Buks so nou en dan met ‘n spuitkan Gensen Violet te versier. Daarna moes almal vir Skip en Buks in hulle pasoppens wees. Buks het, bo en behalwe sy plig om dissipline onder die manne te handhaaf, ook as daggahond gekwalifiseer. Hy was dikwels deur Skip by Jan Smuts-lughawe vir die deursoeking van vliegtuie aangewend. Verskeie insette vir die TV program, Lourierkrans, wat die Hondeafdeling van die S.A. Spoorwegpolisie in die program uitgebeeld het, was ook by die Hondeskool te Esselenpark verfilm. In 1986, na die samesmelting van die twee Magte, het opleiding van hondegeleiders nog steeds op Esselenpark voortgegaan. In Januarie 1987 het die personeel en die honde na die S.A. Polisie Hondeskool by Kwaggasrand, in Pretoria, teruggeskuif. Hulle het dienste by die springstof afdeling, onder leiding van wyle majoor Blignaut, verrig. Gelukkig was ons reeds vroeër jare in die Hondeskool en die verskuiwing was toe ʼn maklike aanpassing aangesien ons reeds die meeste van die personeel daar geken het. Altesaam honderd-sewe-en-sestig honde, plus die negentien vir die Sekerheidswagte, was as patrollie-, springstof- en dwelmhonde opgelei. (Elred Kruase)

253

My droom word waar.

Met my indiensneming op 13 Desember 1976 was ek op Springs geplaas. My aflossings bevelvoerder was adjudant offisier P.G Victor. Na my basiese opleiding het ek onmiddellik aansoek gedoen om as ʼn patrolliehond geleider opgelei te word; ʼn droom wat op 21 Januarie 1979 waar geword het. Ek was egter op 16 Januarie 1979 na die rang van sersant bevorder en na Nelspruit verplaas. My oproepinstruksies was natuurlik nog aangegee as nr. 12022 konstabel JHP van der Merwe, Springs, en ek het ook so by die Hondeskool sonder rangkentekens aangemeld. Die Maandag het luitenant Victor ons kom besoek en my weer ʼn sersant gemaak. Dit het my die voorreg gegee om voor in die F100 saam met die instrukteur te ry. Ons het daardie tyd nog ʼn groen velddrag gedra. Ek was in sersant Tokkie Koen se klas ingedeel en was met ʼn hond met die naam van, R60 Bruno, wat aan die polisie geskenk was, uitgereik. Saam met ons was konstabel Jan Brand van Pretoria en konstabel Redelinghuys van Jan Smuts wat as instrukteurs opgelei was. Jan Brand was later een van die instrukteurs. Die Bevelvoerder van die Hondeskool was brigadier Manie van Zyl en kolonel Silversnor Meyer was in bevel van die patrolliehonde. Tydens opleiding was ons en ons SAP kollegas oor een kam geskeer met geen onderskeid nie, d.w.s. saam liggaamsoefeninge en ander aktiwiteite gedoen, hoewel ons apart van hulle gewoon het. Kolonel Meyer het my op meer as een geleentheid gebruik om hondemanne wat na Ovamboland op pad was, om vier uur die oggend op Waterkloof lughawe te besorg. Was dit ʼn gesukkel om daai klomp dronk hondemanne met hul honde en uitrusting in ʼn voertuig te kry? Daar was ook nie tydens uitpasseringparades onderskeid getref nie. Lede van die S.A Spoorwegpolisie het in 1977 met die eerste, tweede en derde plekke weggestap. Konstabel Frans Roelofse (Nelspruit) met R41 Rex eerste plek, konstabel Casper Snyman (Welkom) tweede plek en konstabel Natie Roesch (Komatipoort) derde plek. Die trofees was tydens die parade aan die lede oorhandig. Ek het in 1982 die springstofhond geleiderskursus te Esselenpark deurloop. Die legende van Buks die Fox Terriër sal nog lank voortleef. Op ʼn geleentheid kry ek vir Buks in die hande en gaan versteek hom in een van die kursusgangers se kas. Buks was doodstil in die donker kas en so het luitenant Scheepers sy skaduwee, of was dit nou sy kind?, geloop en soek. Ek het na Skip gestap en gefluister dat ek gehoor het dat iemand vir Buks in ʼn kas gesit het. So was almal van ons vir kamerinspeksie aangetree. Die verbasing op die lid se gesig toe Skip sy kas oopmaak en Buks in Skip se arms spring, was onbeskryflik. Die klap wat hy onskuldig tussen sy blaaie gekry het, het my later maar laat om verskoning vra. Die SAP het ʼn Dobermann gehad wat oor toue geloop het. My hond, Bruno, was die eerste Duitse Herdershond wat oor toue geloop het en ek het verder gegaan en dit met ʼn balanseerleer gekombineer. Op stasies het geleiders ʼn dubbele rol gespeel. Hulle was in baie gevalle in bevel van die aanklagtekantoor en het as hondegeleider opgetree. In enkele gevalle was van hulle selfs die Posbevelvoerder wat ook as hondegeleider opgetree het. Op groter sentra soos byvoorbeeld op Jan Smuts-lughawe, het hulle in eenheidsverband gefunksioneer. SAP hondemanne was in die laat sewentiger jare op Middelburg gesentraliseer. So was die Spoorwegpolisie honde byvoorbeeld weer in die Laeveld, op Nelspruit, waar ek gestasioneer was, die enigste polisiehonde in die omgewing. As gevolg daarvan was ons gereeld deur die SAP vir take soos bosdeursoeking, misdaadvoorkomingoperasies, springstofklagtes ens. genader. Hierdie take kon uitgevoer word aangesien die opleidingstandaard en kurrikulum van die S.A. Polisie en die van die S.A.Spoorwegpolisie presies dieselfde was. (Van v/d Merwe)

Tekkies en Duiwel – Walvisbaai (1981-1982)

Sersant M.J. Strydom was ons enigste (later het nog een bygekom) hondeman in Walvisbaai en die Alsatian, Duiwel, was aan hom toegeken. Almal het Sers. Strydom as Tekkies geken en dit het ook niks met skoene te doen gehad nie. Tekkies het sproete gehad wat soos roes gelyk het, en almal weet om roes te voorkom in Walvisbaai, gebruik jy Tectile. En so was die naam toe aan Tekkies toegeken; net op die verkorte vorm wat maklik van die tong gerol het. Terug by die storie; Ou Tekkies was vreeslik lief vir die hond en sou ure spandeer om die ou se hok behoorlik skoon te maak en die liefde en tyd wat ingesit was met die voorbereiding van Duiwel se maaltye, was iets om te waardeer. En as Tekkies op rusdae was, sou hy óf self

254

inkom om die hond kos te gee, óf hy sou die hele proses so omslagtig moontlik verduidelik het sodat Duiwel nou nie in sy afwesigheid “short ” kom nie. Walvisbaai was as ʼn reël ʼn baie stil stasie, maar gedurende nagskof, en spesifiek hier van half twaalf die nag af, was dit nog stiller. Tekkies sou dan Duiwel se hok skoonmaak, die misdaadverslag deurgee Windhoek toe, en wanneer die verveeldheid toegesak het, het hy op die Spoorwegfoontjie geklim en jou gebel by die hawe se hoofhek wat ongeveer so 100m van die aanklagtekantoor was. Dan wou hy nou weet hoe dit gegaan het, of alles nog reg was, was daar baie bote in die hawe, ens, ens., maar daar was altyd ʼn doel agter hierdie oproepe. Dan sal hy vra of jy bietjie koffie wil hê, en as jy sê “ja”, dan trap jy reg in sy strik. Hy reël dan met jou dat hy die koffie sou maak, en wanneer dit reg was, sou hy bel sodat ons mekaar halfpad kon ontmoet, net so skuins voor die hawekafee. Dan kom die oproep vir die langverwagte koffie. Jy maak verskoning by die Doeanebeampte. En vang so draffie af aanklagte kantoor se kant toe. Maar soos jy aankom sien jy nie vir Tekkies nie. Miskien kom hy nog aan. En dan skielik hoor jy net uit die donker daar van die aanklagtekantoor se kant “Vat hom Duiwel!”, en uit die donker kom so klein donker torpedo op jou afgestorm. Nou is dit brieke gooi, omdraai, en laat waai terug kajuit toe by die hoofhek. Duiwel blaf mos nie. Hy sak al laer grond toe hoe vinniger hy hardloop. By die hawehek in, by die kajuit in, en slaan die deur toe. Binne ʼn breukdeel van ʼn sekonde is Duiwel by die deur en krap en byt aan die kosyn en deur om by sy “teiken” uit te kom. En ʼn paar sekondes later kom Tekkies aangeloop en skeur homself behoorlik soos hy lag. Binne-in die kajuit, uitasem en adrenalien wat pomp is dit ʼn gevloek en skel en dreigemente dat Duiwel geskiet sal word as hy my byt. Tekkies lag net en sit die leiriem aan Duiwel. Dan is dit veilig om uit te kom. En Duiwel is die ene dierbaarheid vanself. Kan hom nou maar vryf en ore krap asof niks gebeur het nie. Die troosprys was darem ʼn koppie lekker warm koffie by die kantoor, want jy moet gaan help skoonmaak. Brasswerk moet blink gemaak word, toonbank moet “ge-bone ” word, vloere moet politoer kry en blink gevryf word, die bloulig buite moet Brasso kry. Ons aanklagtekantoor was mos ons trots. (Marius A Carelse)

Weermag offisiere kry gratis haarsny.

Ek was as hondegeleider van Junie 1979 tot Februarie 1983 te Nelspruit gestasioneer. Tussen die Goedereloods en die Houer-depot was ʼn omheinde stuk grond dertig by tagtig meter wat onbenut gelê het. Ons hondegeleiders het dit as oefenterrein gebruik. Uit ons hondemanne se kultuur het die kamp natuurlik ʼn braai gehad. Ek en konstabels Leon Henning en Ben Labuschagne het eendag, na ʼn oefening met die honde, besluit dit was braaityd met die gebruiklike “polisiekoffie” as lafenis. Omdat ons nog besig was, het die hek van die Goedereloods oopgestaan. Dit was al donker, so teen agt uur se kant wat ons ʼn voertuig opgemerk het wat ongemagtig rondry. Die eerste waaraan ons gedink het, was dat dit trokdiewe was. Gewapen met ons 9mm pistole in die hand het ons die voertuig takties afgetrek. Dit was toe nie trokdiewe nie, maar twee een pip luitenante (2de luitenant) van Bourkes Luck, die S.AW Honde Sentrum, wat vir ‘n kursus op Nelspruit was. Uit die aard word hulle genooi om by ons aan te sluit, ek weet nie of dit ons gasvryheid was, of omdat hulle drank nog volop was nie. Soos die aand gevorder het kom ek agter hulle weet nie so baie van honde as wat hul voorgegee het nie. Jy vra net iemand om ʼn hond te “foei “(berispe) of te “prys” en onmiddellik sal jy agterkom of die persoon al ʼn hond opgelei het of nie. In die Hondekamp oortuig ons hulle dat hulle hare bietjie lank was en ons eindig later in die aanklagtekantoor op. Die kantoor was gesluit met die swart konstabel aan diens wat op voetpatrollie was. Ons het ʼn knipper gehad en het sommer mekaar se hare in die paradekamer gesny. Ben Labuschagne was die barbier hy het die eerste ou gerus gestel met die nommer drie kammetjie. Toe die knipper agter sy kop was, het Ben die kammetjie afgehaal met nogal ʼn koddige eindresultaat. Die tweede ou was bietjie onwillig om te sit, maar sy vriend het hom gemotiveer deur te sê dat hy nie alleen by die basis met die mode styl gaan opdaag nie en hy het toe maar ook gaan sit. Ben en Leon het die twee soldate besig gehou en ek het vir Bruno gaan haal vir hom sy beskerming opgesit. Die skreeu van ʼn maer vark en die twee se geskreeu toe Bruno hulle “rim” kan goed vergelyk word. Na die episode het hulle,

255

hulself vinnig uit die voete gemaak – ek dink hulle was bang vir wat ons drie nog in staat was om te doen. ʼn Ruk daarna het ek en Ben die bankbegeleiding vanaf die stasie na die bank gedoen, en wie kom van voor, die einste twee ouens in volle weermag step-outs. Toe hulle ons herken, kry hulle skielik ʼn behoefte om die pad oor te steek, wat hulle ook toe op ʼn amperse looppas gedoen het. (Van v/d Merwe)

Omen – Hoof patrolliehond – Walvisbaai (1982)

Duiwel was nie altyd die enigste hond op Walvisbaai nie want konstabel Kühn het ook later die hondekursus gedoen en toe teruggekom met patrolliehond, Omen. Die hond het lang hare gehad en ek dink sy tong was pers, maar nietemin ʼn trotse aanvulling tot ons stasie. So met tyd het ek altyd die idee gekry Omen is dalk bietjie te vriendelik, maar Duiwel was ook so as Tekkies by was. Almal het van die hond gehou want hy was anders met sy woljas en al. Eintlik het ons nooit veel gedoen waar ons die honde nodig gehad het nie, maar dit was altyd ʼn vertroosting om te weet daar was bytmasjiene as ons op hulle knoppie gedruk het. So het die dag aangebreek waarop ons so bietjie ROM nommers wou jaag en, wat is beter as spoorloop om sommer ʼn klomp arrestasies op eenslag te maak? Die beste plek daarvoor was natuurlik by Kuisebmond by Narraville stasie waar daar in werklikheid ʼn voetbrug was, maar daar was ongelukkig nie meer ʼn heining nie. Aan die oorkant van die brug was so klein munisipale kantoortjie of iets, en dit was die beste inwag plek om te sien wie nie van die brug gebruik gemaak het nie. Op die betrokke oggend het ons besluit om Kühn en Omen saam te vat want Omen kon mos die arrestasies uitvoer op die manne wat eerder besluit het om weg te hardloop. En soos dit was, was dit ʼn wye oop wêreld waar ʼn verdagte met spoed baie maklik kon wegkom, maar die gebied was ook nie voertuig vriendelik nie. Sommer vroeg was ons op ons pos en die J.534’s hardloop mooi! Ons het onsself agter die geboutjie versteek met die brug duidelik in sig, maar vir die aankomelinge was ons nie so sigbaar nie. Wanneer hulle dan oortree en by die geboutjie verbyloop, dan roep ons hulle saggies, wink hulle nader, en bestel die J.534 op hulle. Omen was nog nie gebruik nie en het eenkant teen die gebou gelê en ʼn uiltjie knip. Maar soos dit mos is, was alle mense nie altyd gehoorsaam nie en ʼn jong knaap het oor die spoorlyn geloop sonder om eers daaroor na te dink. Ons het hom ingewag en toe hy in lyn met ons kom, het ons hom geroep en nader gewink. Hy het gaan staan en ons verbaas aangekyk. Nie eers die uniforms kon hom oortuig dat dit die regte ding was om te doen om maar eerder nader te kom nie. Hy het ook vinnig besef dat ons nie ons teenwoordigheid wou weggee nie, en hy het eenvoudig net sy kop heen en weer geskud vir ʼn duidelike “nee.” Weer het ons hom nader geroep en ernstiger gelyk, maar weer het hy net sy kop geskud en sommer verder begin aanstap. Kyk, hierdie tipe verontagsaming van die gereg was vir ʼn Sporie totaal onaanvaarbaar, en maak nie saak wat nie, hy sal betaal vir sy astrantheid. Toe begin die jaagtog! Ons het almal uit ons skuiling gepeul en het die man genader, maar hy kyk omgekyk en besluit dat nie een van ons sal hom daardie dag sou vang nie en hy het begin rieme neerlê die vlaktes in. Wat hy nie geweet het nie, was dat ons vir Omen gehad het en hy sou so wrintie nie vir daardie hond weghol nie. Ek het so draffie agter hom aan gevat want ons wil hê hy moet spoed optel sodat ons ʼn ordentlike “tackle” kon sien. Intussen het Kühn vir Omen aan sy leiband gegryp en op die toneel verskyn. Die twee was soos blits by my verby met die man wat toe al seker so sewentig meter voor my was en op vol spoed voortgestoom. Ons almal het ons ondersteuning aan Kühn en Omen luidkeels bekend gemaak en nie lank nie of Kühn maak die leiband los want hy was besig om Omen se spoed te breek. Met die leiriem los het Omen die aarde behoorlik in twee geskeur soos hy daar weggevlieg het, en toe weet ons, hierdie een is ook in die sakkie! Omen was seker so dertig meter agter die man toe besluit hy die natuur roep en hy sou eers sy been moes lig. Hy het morsdood stil in sy spore gestop en broek losgemaak. Kühn het by hom verby gekom, hom in die verbygaan bestraf en maar self steeds voortgesnel. Omen het klaar gemaak en besluit dit was bog dat sy baas sy werk moes doen en blits weer daar weg om Kühn binne sekondes verby te gaan. Toe weet ons dis nou neusie verby. Die verdagte het al gegil so naby was Omen aan hom, maar hond se kind besluit hy moes nou eers weer stop want die natuur vereis van hom om te nommer twee. Ons

256

het verslae gestaan en die petalje dophou! Wie sou dit ooit kon glo? Kühn het weer by Omen verby geblits tot by die verdagte wat toe maar gaan staan het om die hond se aanval te trotseer. Kühn het die man aan die arm gegryp en teruggekeer na waar ons hom ingewag het. En Omen... hy wag tot sy baas by hom kom en wys hom hoe bly hy was om hom te sien. So al asof die gearresteerde nie eens bestaan het nie. Nodeloos om te sê dat die klomp van ons wat agtergebly het, het omtrent op die grond rondgekruip soos ons gelag het. Kühn het geloop en die arme Omen bestraf terwyl die hond duidelik nie verstaan het wat hy verkeerd gedoen het nie. Die gespottery het lank nog aangegaan en selfs ou Kühn het later saam gelag wanneer die verhaal vir die soveelste keer oorvertel was. (Marius A Carelse)

Leeu en konstabel Ephraim Ndubane.

Die lesings en voorligting oor tuisgeprakseerde bomme wat adjudant offisier Beyl vir ons en al die Spoorwegpersoneel aangebied het, het my belangstelling in springstof geprikkel. In 1979 was ek gekeur om as hondegeleider opgelei te word. Die kursus was by die S.A. Polisie Hondeskool by Kwaggasrand in Pretoria Wes deur kaptein Scheepers van die Spoorwegpolisie aangebied. Aanvanklik het my hond, Rex, met die uitpassering gesukkel, maar ʼn jaar later het ek en Rex vir die springstofkursus na Esselenpark vertrek waar ons weer deur kaptein Scheepers opgelei was. Met die uitpassering van dié kursus het ek en Rex die versteekte items die vinnigste opgespoor. Dit het gemaak dat ons met die louere as die beste hond en geleider weggestap het. Toe ons as die wenners aangekondig was, was ek baie trots op myself en op Rex. Daar was altyd ʼn groot kompetisie tussen die hondemanne op kursus. Om as die beste hond en geleider aangewys te word, het die prys net nog soveel meer spesiaal gemaak. Terug op Komatipoort moes die opleiding voortgaan. Konstabel Ephraim Ndubane het gereeld saam met my en konstabel Natie Roesch gegaan wanneer ons die honde geoefen het. Tydens een so ʼn geleentheid het Ephraim weer gehelp met die uitblaf oefening. Hy moes in ʼn boom klim en Natie se hond, Leeu, moes hom gaan uitsnuffel het. Die reëling was dat wanneer hy in die boom was, moes hy fluit wat vir Natie die teken sou wees om vir Leeu los te laat. Natie was oortuig dat hy ʼn gefluit gehoor het. Hy die bevel aan Leeu gegee om te soek. Die volgende oomblik was daar ʼn groot geraas in die bos. Ephraim het hom met Leeu se spoed misgis en, voordat hy behoorlik in die boom was, het Leeu hom aan die band van sy rewolwersak beetgekry. Toe hy afkyk, hang Leeu met ʼn gegrom aan die band. Baie benoud het hy vir Natie geskreeu om sy hond te kom haal. (Pieter Swanepoel)

My eerste klagte as lid van die TVP.

Soos ons almal weet, het die Spoorwegpolisie na amalgamasie nie onmiddellik by die Suid Afrikaanse Polisie ingeskakel nie. Ons het bekend gestaan as Tak Vervoer Polisiëring of kortliks TVP. Op 1 Oktober 1986 die nag het ek lekker gehuil toe ek na Danie Smuts se hoorbeeld oor die Spoorwegpolisie op die draadloos, soos Niekie sê, geluister het. Vol moed het ek te Kaapmuiden aan diens gerapporteer saam met my kollega, speurder-sersant Hendrik Cilliers, en ons het uitgesien na die nuwe uitdaging. Teen tien uur die oggend het ons ʼn klagte ontvang van ʼn verdagte toestel wat op ʼn nabygeleë plaas opgemerk was. Ek en Hendrik het die klagte gaan bywoon, met natuurlik patrollie/springstofhond, Bruno. Met aankoms op die toneel het die boer ʼn houer waarvan die deksel half oop was, aan ons uitgewys. Aan die oppervlak van die grond was dit duidelik dat die houer al geruime tyd daar gelê het. Baie versigtig het ek die toestel genader en onmiddellik het my opleiding ingeskop en ek besef die houer het komponente wat ʼn ploftoestel moes hê, naamlik ʼn houer, stroombane en ‘n kragbron(battery) - al wat ek nie kon sien nie was die springdoppie en springstof. Met die wete dat die naaste landmyn sewentien kilometer vanaf Kaapmuiden ontplof het, wou ek nie die houer verder versteur nie. Ek het vir Bruno sy springstoftuig aangesit en hom nader gestuur, maar hy het geen reaksie getoon nie. Ek het uit al vier windrigtings probeer, maar sonder sukses. Net hier het ek as hondegeleider die fout gemaak deur in my hond se vermoëns te twyfel – ook met reg. Met die amalgamasie wat plaasgevind het, het ek lank 257

This article is from: