36 minute read
Karakters en Legendes in die Spoorwegpolisie
goed gevaar dat die organiseerders ons van heel agter uit die opstel van die orkeste uitgehaal het om voor te kom loop. Voorwaar 'n prestasie. Gedurende 1977 het sersant Meintjies my geskakel en meegedeel dat die orkes 'n permanente afdeling gaan word en wou weet of ek sou belangstel. Ek het natuurlik op daardie stadium nie belang gestel nie. Toe ek gedurende 1982 Posbevelvoerder te Pietermaritzburg was, het die S.A. Spoorwegpolisie ook saam met ander orkeste aan die Durban Tattoo deelgeneem. Ek was genader en gevra of ek weer die Tamboermajoor vir die orkes sou wees. Die organiseerders van die Tattoo was so beïndruk met ons optrede dat hulle ons heel voor laat loop het en die hele optog deur die strate van Durban gelei het. Iets waarop ek baie trots was. (Jimmy Victor)
Die onbekende orkeslede.
Advertisement
Ek was aan die S.A.Spoorwegpolisie se orkes verbonde en het graag my musiek talente met skool orkeste gedeel. So gebeur dit dat ek aan die einde van 1986 versoek was om ʼn sekere skool in Pretoria te help met die voorbereiding van die skool se orkes wat by die Pretoria skou moes gaan optree. Die standaard van die skool orkes wat redelik, maar was volgens my mening nie op standaard om by so ‘n groot geleentheid soos die skou, op te tree nie. ʼn Plan moes gemaak word. Ek het toe besluit om lede van die Polisiekollege se blaasorkes vir ʼn wyle terug te stuur skool toe. Nie omdat ek met hulle akademies prestasies ontevrede was nie, maar dat hulle weer die ervaring moes beleef om deel van ʼn skool orkes te wees. Die polisielede en skoliere was in een orkes opgeneem wat ongeveer vyftig lede sterk was. ʼn Allemintige groot skool orkes. Die samevoeging van die orkes lede was nie ʼn probleem nie, maar wel die skool uniform wat vir die polisie studente gevind moes word. Die skooldrag se broeke was grys en die hemde wit, gelukkig nie iets wat moeilik bekombaar was nie. Skooldasse was by leerlinge geleen en elke orkes lid was met ʼn skool baret uitgereik. Die groot dag vir die optrede het aangebreek. Nadat dié skool hulle vertoning gelewer het, was die skare in vervoering oor die puik optrede van die orkes. By die optrede was sersant majoor Steenkamp teenwoordig. Hy was die persoon wat die skool kadetkompetisies landwyd gereël en die standaard daarvan beoordeel het. Hy wou onmiddellik weet waarom die skool orkes nie aan die voorafgaande orkes kompetisie deelgeneem het nie. Volgens hom was die standaard van die orkes wat twee weke tevore die kompetisie gewen het, nie naastenby so goed soos die orkes wat daardie dag by die skou opgetree het nie. Ek het die sersant majoor meegedeel dat hy behoort te weet dat matriek leerlinge nie meer aan die orkes kompetisies wou deelneem nie. Na afloop van die pouse het die onder orkeste, insluitende die orkes wat die vorige kompetisie gewen het, opgetree. Die orkes wat by ʼn betrokke geleentheid as die beste orkes aangewys was, was dan versoek om die geleentheid af te sluit. En daar word die betrokke skool se orkes gevra om die verrigtinge af te sluit, bedoelende dat hulle as die wen orkes by die skou aangewys was. Die skoolhoof was so oorstelp met sy skool orkes se puik optrede dat toe hy hulle gelukwens, het hy nie eers opgemerk dat al die orkes lede nie leerlinge van sy skool was nie. (Buks Meintjes)
KARAKTERS EN LEGENDES IN DIE SPOORWEGPOLISIE
Die S.A. Spoorwegpolisie het ook sy kwota rare karakters en legendes opgelewer. Dit is sulke mense wat ʼn onuitwisbare indruk op hul kollegas gemaak het dat hulle nalatenskap en herinnering voortleef, selfs nadat hulle al vir aantalle jare nie meer met ons is nie. Vir een persoon sal iemand ʼn legende wees en vir die volgende persoon nie. Elke generasie sal sy eietydse legendes en karakters oplewer. Hierdie is insette van lede wat so oor hulle kollegas gevoel het.
Die “Scrap collector ”
Een onuitwisbare karakter was sersant Koos Lubbe (skuilnaam) van die Kaap. Alhoewel hy ʼn sersant was, het die meeste hom as “Oom Koos” aangespreek. Oom Koos het vir een of 260
ander rede soms ʼn rekkie om sy een arm gedra. Ons het nooit die vrymoedigheid gehad om hom na die betekenis of doel van die rekkie te vra nie. Wanneer jy ʼn rukkie saam met Oom Koos op die skof gewerk het, het jy geweet dat stasiebesoeke en patrollies jou voorland was. Hierdie dienste het hy slaafs nagevolg met een duidelik doel voor oë; soek na elke stukkie yster, moertjie, boutjie, wastertjie, en natuurlik vir die groot “jackpot”, elke leë glasbottel. Na afloop van die skof was die vonds bymekaar gemaak en in sy motor gelaai. Ek wonder met hoeveel Rande hy sy maandelikse salaris op dié wyse aangevul het. Bo en behalwe die rare eienskap van hom as “scrap collector”, was hy ook lief daarvoor om te stap en te draf. Wanneer die lus vir stap hom oorval het, was die vangwa maklik by Vasco stasie geparkeer en dan moes almal uitklim en die trajek tot by “Gooroord”, dit is nou Goodwood, te voet patrolleer. Met aankoms te Goodwood was ʼn drafstappie uitgepak tot by die skougronde, waar manne van Jan Wilkens se faam, hom eers ʼn bietjie moes vermaak! Kyk, rofstoei was naas “scrap collection” sy passie! Nodeloos om te sê dat die voetpatrollies oor die trajek ʼn hele paar “jackpots” opgelewer het. Nou dat ek daaraan dink het Oom Koos mos, bo en behalwe vir die normale polisiedienste wat hy ons laat verrig het, ook gesorg dat die trajek en stasies vry van stukke ysters en leë bottels was; ʼn diens wat hy aan die Administrasie sonder vergoeding gelewer het. Dankbaar om te kan sê, dat Oom Koos nie dié werkswyse met elke skof gevolg het nie. Rus in vrede, Oom Koos! (Herman Bosman)
Die legendariese P.C. (Piet) Campher.
As daar een lid in die Kaap gestasioneer was, en nie vir Piet Campher geken het nie, was hy nie in die Mag nie, of het hy nie in die Kaap gewerk nie. Piet was ʼn polisieman vol lewenslus; dit wat hy aangevang het was altyd deurspek met die buitengewone. Elke dag het jy as kollega gewonder wat Piet die volgende gaan aanvang. Slegs enkele dinge wat hy gedoen het om van hom ʼn legende te maak, kan hier weergegee word. Dit is jammer dat al sy manewales nie bekend is nie. Soos almal weet, kan die somertemperature in die Kaap ook die hoogte inskiet. Om dan nog ʼn seiluniform (groen tunikas) op nagskof in die hitte te dra, was vir Piet net een te veel. Op nagdiens, wanneer die meeste Spoorweg werkers by Culemborg van diens was, het Piet sy Lunik baadjie en broek uitgetrek, en net in sy onderbroek geklee sy rondtes gepatrolleer. Net jammer dat daar in daardie dae nie selfone met kameras was nie. Piet, geklee in sy onderbroek, sou beslis die voorblad van die Burger gehaal het. Op Kaapstad stasie het ons dikwels, op aandrang van Piet, ons skoene en kouse uitgetrek en met ons voete in die visdam in die tuin gesit. Dit was by ‘n geleenthede soos hierdie dat Piet besluit het dat die “Bergies” gereinig moes word. Die mees aangewese plek vir die reinigingsproses was die fontein in Adderleystraat. Die “Bergies” was dan aangesê om al hulle klere uit te trek, hulle lywe met seep te smeer - wat hy voorsien het - en hulle van kop tot tone te was. Nou kon die “Bergies” weer vir ʼn maand of twee hou, voordat hulle weer begin reuke afgee het. Piet was ook bekend vir sy poetse wat hy gebak het. So het hy op ʼn dag een van sy kollegas ʼn poets gebak. Dié ou het hom vererg en Piet toegesnou: “Loop vang ʼn aap man!” Piet het die stelling letterlik opgeneem. Voordat die skof ten einde geloop het, het Piet met die Ford vangwa by platform een stilgehou. Al die deure en vensters van die vangwa was toe. ʼn Rukkie later, toe Piet se kollegas by die vangwa verbygestap het, wou hy die aap van een vangwa in ʼn ander vangwa gelaai het. Die twee voertuie se bakwerk was nie dieselfde hoogte nie en met die oorklim slag die aap uit die vangwa gespring. Nodeloos om te sê dat die bobbejaan teen daardie tyd al wild en verbouereerd was. Jy het net polisiemanne gesien spaander soos wat hulle in alle windrigtings gehardloop het. Na baie moeite en sorge was Kees weer gevang en terug in die vangwa geplaas. Piet het Kees weer by sy “blyplek” gaan aflaai. Almal het gewonder hoe Piet dit reggekry het om die bobbejaan te vang. Piet het so vindingryk soos wat hy was, ʼn brood agter in die vangwa geplaas en kees met die brood in die vangwa gelok. Een aand het Piet tot die gevolgtrekking gekom dat hy en sy kollegas honger was, en dat “pies” en “coke” die hongerpyne sou verdryf. Die kafee in Dock Road is ʼn kilometer of wat vanaf die hawe. Dié afstand was te ver om te loop en nou moes daar ʼn plan gemaak word. Piet maak homself op een van die PV ‘s ( dit is nou die trekkertjie wat die trollies op die perron
261
trek) tuis, en daar trek hy. Om die rit met die PV “amptelik” te maak, was ʼn lid of twee wat in die hawe gepos was, deur hom besoek terwyl hy na die kafee in Dock Road onderweg was. Piet sou seker ook gewonder het waarom die polisie nie PV’s aan die wyksersant uitgereik het om besoek aan lede te bring nie. Op ʼn relatiewe jeugdige ouderdom het Piet tragies sy lewe in ʼn motorfietsongeluk verloor terwyl hy oppad werk toe was. ”Piet was een van die beter studente wat by my opleiding te Esselenpark ontvang het. Hy was ʼn vriendelike en lewenslustige jongman wat goed gedissiplineerd was. Piet het vanweë sy persoonlikheid en geaardheid die potensiaal gehad om in ʼn goeie polisieman te ontwikkel, mits sy bevelvoerders sy kreatiwiteit, lewenslus en energie in ʼn positiewe rigting bestuur het”. (RB)
Jan Taaispoeg
Sersant Jan Theron (skuilnaam) was, om die minste te sê, ʼn moeilike man. Hy het die bynaam van Jan Taaispoeg na aanleiding van ʼn bepaalde insident gekry. Dinge moes gebeur soos en wanneer hy dit wou hê. Geduld en netheid op sy uniform was ook nou nie een van sy beste eienskappe nie. Wanneer hy oppad na die aanklagtekantoor was (almal kon hom altyd ʼn myl ver hoor aankom), het die lede in die aanklagtekantoor die deur tussen die toonbank en die kantoor opsetlik gesluit. Sersant Theron sou dan net een keer aan die deur vat om dit oop te maak, en as die lede nie vinnig genoeg na sy sin was nie, het hy oor die tralies op die toonbank gespring en dan was die hel los. Emmie Gunter het haarself voorberei vir die sersant eksamen. Jan Taaispoeg het haar probeer oortuig om haar wetboeke oral saam met haar te dra sodat sy vir die wetboeke kon lief raak. Dit was nou wel net twee groen wetboeke, maar dit was swaar om dit die heeldag saam te karwei. Omrede hy so moeilike mens was, het sy maar altyd geluister na wat hy te sê gehad het. Jan Taaispoeg was bevorder en hy en Douw Vermeulen was toe albei adjudant offisiere in die Kaap. Soos dit maar in daardie dae was, het die meeste mense van treinvervoer gebruik gemaak. Jan Taaispoeg en Douw Vermeulen het in volle uniform langs mekaar in die ses minute oor vier trein gesit. Douw het tot by Oostersee stasie gery en Jan Taaispoeg tot by Bellville. Al verskil tussen die twee was eerstens dat Jan baie ouer as Douw was en tweedens dat Douw se uniform baie netjieser en skoner as dié van Jan Taaispoeg daar uitgesien het. Die rytuig was vol gepak met siviele persone wat ook huiswaarts gekeer het. Jan het ʼn kug gegee en het daai slym diep onder sy ribbekas uitgetrek. Toe dit in sy mond land, besef Jan dat dit moes uit. Al plek waarheen dit nou kon gaan was by die treinvenster uit. Soos ʼn Paul Kruger van ouds, korrel Jan met ʼn goed geoefende poging en laat waai in die rigting van die venster. Groot probleem; die venster was nie oop nie!. Ewe nonchalant het Jan sy tuniek se mou vasgevat en het die venster daarmee skoongemaak. Douw was na Oostersee stasie onderweg maar toe die onsmaaklike voorval plaasgevind het, het hy met aankoms van die trein te Monta Vista stasie homself vinnig uit die voete gemaak. Sy verskoning: hy wou vir sy ouers, wat in Tygerdal gewoon het, gaan besoek het. Jan Taaispoeg het in die trein gesit tot op Bellville stasie asof daar op aarde niks gebeur het nie. (Emmie Gunter & Douw Vermeulen)
Oom Tiny Pretorius.
Net die lede van so vyftig jaar en ouer sal van adjudant offisier N.J.(Bal) Pretorius weet, of hom werklik ken soos wat ons, wat saam met hom in die Kollege gewerk het, hom geken het. Al wanneer ek as student met adjudant offisier Pretorius te doen gekry het, was op Vrydae wanneer die pelotonne hulle beddegoed by die stoor omgeruil het. Na my basiese opleiding was ek na elf maande weer terug by die Kollege en dié keer as peloton sersant. Aangesien ek slegs twee jaar diens gehad het, was die rang van ondersersant aan my toegeken. Nou het ek saam met die manne wat my instrukteurs was in dieselfde kantoor gesit. Wanneer Oom Tiny lus vir ʼn sigaret was, het hy ʼn besoek aan die instrukteurs se kantoor afgelê. Hy sou dan in die een hoek gaan sit het, ʼn sigaret uit jou pakkie haal en dan voortgegaan het om “Nader my God by U” te neurie sonder om ʼn woord te sê. Afhangende van die onderwerp onder bespreking, sou Oom Tiny uit die bloute ʼn opmerking maak. Soos die keer toe die Lugmag se vliegtuie in die Kaap teen die berg vasgevlieg het. Ons het bespiegel oor die moontlike
262
oorsake van die ongeluk, toe oom Tiny vra: “Weet julle mannetjies hoe dik die mis in die Kaap kan word"? Ewe dom antwoord ons dat ons nie die Kaap se weer geken het nie en dit is toe dat Oom Tiny die volgende wysheid kwytraak: “Laat ek julle nou vertel, die mis word so dik teen die berg, dat die seemeeue daarop kan loop.” Bewaar jou siel as jy sou uitbars van die lag. In geen onduidelike taal sou jy dan aanhoor hoe oningelig jy was, en hy sou sy misnoeë daarmee uitspreek dat sulke kaliber mense instrukteurs gemaak was. ʼn Ander gebeurtenis wat aan ons deur die ouer manne vertel was, het gebeur toe Oom Tiny nog ‘n pelotonsersant was. Hy het vertel dat hy as kind ‘n besondere intelligente kat gehad het. Die kat het op een of ander manier sy een voorpoot gebreek en Oom Tiny het toe die gebreekte pootjie met twee tamatiekis plankies gespalk. Een aand, terwyl hulle rondom die kombuistafel gesit en huisgodsdiens hou het, het hulle ʼn kap geluid in die voorkant van die huis gehoor. Na ongeveer die derde kap geluid het Oom Tiny se vader hom gestuur om ondersoek te gaan instel. “Kêrels, julle sal my nie glo nie, daar sit my kat met die gespalke pootjie voor ʼn muisgat. Elke keer as ʼn muis dit sou waag om die gat te verlaat, gryp die kat die muis met die gesonde poot en met die gespalkte pootjie kap hy die muis katswink, en sleep hom voor die gat wag. Nie minder nie as drie dooie muise nie lê daar by die kat.” Oom Tiny was die trotse eienaar van ʼn 9mm Duitse Luger pistool. As instrukteur het ek groot belangstelling in die Luger gehad. Op ʼn dag het ek hom gevra waar hy aan die Luger gekom het. “Nee,” vertel hy my, “gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ʼn sterwende Duitse offisier die pistool aan my gegee net voordat hy sy laaste asem uitgeblaas het.” Na daardie storie het die Luger vir my nog meer waarde gehad. Soos wat ons vriendskap ontwikkel het, het ek later verneem dat Oom Tiny nooit by die Tweede Wêreldoorlog betrokke was nie. Dieselfde Luger het amper sy dood en my ontslag gekos. Die ou wapenkamer was nog langs die ordonnanskamer geleë. Op ʼn dag besoek ek oom Tiny in die wapenkamer omdat ek iets by hom moes gaan haal het en hy sê toe ek moet die boonste laai van die toonbank oopmaak want die ding waarna ek gesoek het was daar in. Toe ek die laai ooptrek, het die Duitse Luger oop en bloot daarin gelê. Onwilligkeurig het ek my hand uitgesteek na die Luger. Toe ek dit optel, het my vinger per ongeluk aan die sneller geraak en daar het ‘n skoot afgegaan. Die koeëlpunt het letterlik deur die rakke in die wapenkamer gehardloop. Oom Tiny het gekoes dat dit bars en hy was later op sy knieë op die grond. Toe hy en ek tot verhaal kom, toe skel hy my: “Jy is ʼn verdomde instrukteur wat studente moet oplei en jy ken nie eers die basiese veiligheidsmaatreëls van wapenleer nie. Dit is geen wonder dat die standaard van opleiding, met instrukteurs soos jy, agteruit gaan nie.” Dit het niks gehelp toe ek hom daarop probeer wys het dat hy as ervare instrukteur, ʼn oorgehaalde pistool, waarvan die veiligheidsknip op “vuur” gestel was, in sy laai gebêre het nie. Dit was immers ook in stryd met dieselfde reëls waarvan hy my beskuldig het dat ek hulle nie nagekom het nie. Adjudant Pretorius het baie gebewe wanneer hy geskryf het. Hy het sy regterhand met sy linkerhand vasgehou wanneer hy geskryf het. Hy kom besoek die aand en maak ʼn inskrywing in die voorvalleboek. Die sleutel woord was “Erratum”. Toe ons later die oggend in die voorvalleboek aan diens teken, sien ons die inskrywing met die snaakse sleutelwoord. Ons jong instrukteurs het omtrent bespiegel oor die betekenis van die woord. Oom Tiny het op daardie stadium die kantoor binnegestap en geluister na ons gesprek. “Ja, geen wonder dat die standaard van vandag se opleiding so swak is nie. Julle sogenaamde instrukteurs ken nie eers die betekenis van die woord ‘erratum’ nie.” Ten spyte van die feit dat ons op instrukteurskursus in kompaniedril opgelei was, het elkeen van ons na afloop van dié kursus by Oom Tiny oor kompaniedril kom kers opsteek. Tydens uitpasseringparades het hy op die mou van sy regtervoorarm ʼn embleem met die letters ‘MG’ daarop gedra. Wanneer hy oor die betekenis van die embleem uitgevra was, was sy antwoord: “Ek was ʼn ‘Master Gunner’ in die Tweede Wêreldoorlog en is geregtig daarop om dit op my uniform te dra.” Niemand het met hom daaroor gestry nie. Van nature was hy ʼn vriendelike man om mee saam te werk. Maar as jy die anderkant van hom wou sien, moes jy in die middag, wanneer dit tyd vir “Die Leeutemmer” op die radio was, hom in sy stoorkamer kom pla het. Dan was hy kortaf en nors. Male sonder tal moes hy dringend iets vir kolonel Rönnebeck gedurende daardie tyd gedoen het. “Kom oor ʼn halfuur terug”, was sy standaard antwoord. Tydens skietoefeninge op Skurweberg buite Pretoria was
263
Oom Tiny as stoorman in beheer van die ammunisie. Op ʼn keer, tydens so ʼn skietoefening, het sersant Charles Channing dit mos gewaag om Oom Tiny se FM radiotjie te steel. Toe dit tyd was vir “Die Leeutemmer”, het hy naarstiglik na sy Fmpie begin soek. Die ding was weg en hy kon dit net mooi nêrens opspoor nie. Toe was die gort behoorlik gaar; die rowe en instrukteurs was daarvan beskuldig dat hulle van die ammunisie sou gesteel het. Die hele skietoefening het tot stilstand gekom en dit was die vinnigste geleentheid wat ʼn Fmpie, vanuit die niet, langs ‘n stoel verskyn het. Tydens ʼn besoek aan die Kollege deur die Kommissaris, generaal J.J.J. van Vuuren, het hy sy jaggeweer saamgebring met die opdrag dat ek dit moes laat skoonmaak het. Oom Tiny het weer in die instrukteurs se kantoor gesit en het een van my sigarette gerook en geneurie: “Nader my God by U”. Toe ek met die geweer ingestap het, het hy gevra wie se geweer dit was. Ek het hom geantwoord dat dit J.J.J. se geweer was. “Ja” sê Oom Tiny, “Dit is darem lekker om ‘n Kommissaris te wees”. Min het ek geweet dat daar in ʼn onlangse tydskrif ʼn artikel oor Minister Ben Schoeman was waarin hy te kenne gegee het dat hy nie langer sou jag nie. Hy was ʼn grootwild jagter. “Weet jy hoeveel keer het ek saam met die Minister buffels en olifante met daai geweer gaan jag het? Net omdat J.J.J. die Kommissaris is, gee Ben vir hom toe die geweer.” Toe ek die geweer aan genl. J.J.J. oorhandig het, het ek oom Tiny se gevoelens omtrent die geweer met hom gedeel. “Waarvan praat die man tog? Ek het die geweer met my eie dêm geld gekoop. Vir wat sal die Minister nou sy geweer vir my gee?” wou die generaal verontwaardig weet. Tannie Phyllis, Oom Tiny se dierbare eggenote, het tydens ʼn besoek aan die buiteland vir hom sewe pragtige egte sydasse gekoop. Al probleem was; Oom Tiny kon nie ʼn dasknoop maak nie. Op daardie stadium het ek ʼn Duitse Herdershond gehad. Saterdag oggende het Oom Tiny na my huis toe gekom om my touwys te maak rakende die opleiding van die hond. Dié betrokke oggend het Oom Tiny met ʼn plastieksak daar aangekom. Hy het die dasse uit die sak gehaal en vir ‘n vlietende oomblik dog ek die dasse was ‘n geskenk vir my. Tot my teleurstelling het hy die dasse gebring sodat ek elkeen van hulle so moes knoop dat hy dit net om sy nek kon sit en die knoop styftrek. In al my jare van opleiding het ek nog niemand aangetref wat Oom Tiny se bulderende stem op die paradegrond, en selfs tydens militêre begrafnisse, kon ewenaar nie. Tydens ʼn militêre begrafnis wat ek saam met hom gehou het, was die bevel vir die vuurpeloton om te “Vuur” so hard dat van die omstanders amper in die graf geval het. Alles wat ek van militêre begrafnisse weet, het ek by Oom Tiny geleer. Hy was ʼn netjiese polisieman. Tot sy dood was hy trots, flink en regop. My grootste hartseer was dat ek nie die voorreg gehad het om sy militêre begrafnis te kon waarneem nie en ook dat ek nie sy begrafnis kon bywoon nie. Oom Tiny, baie dankie vir jou stories en vertellings. Ten spyte van ons tekortkominge en blapse as instrukteurs, was die opleiding van die S.A. Spoorwegpolisie se lede, tog van die beste in die land. (RB)
Brigadier Phillip Delport.
Die Mag was soos een groot familie. Elkeen van ons het een of ander offisier of lid gehad na wie ons opgesien het of wat iets in jou kop agtergelaat het. In my geval was dit Phillip Delport. Ja, hy was al een wat vir my pa en ma, Pa en Ma genoem het. Ek was glo kleinboetie vir hom. Dit het hy altyd met smaak vertel wanneer ander mense teenwoordig was. Vir my was hy 'n man met wysheid, 'n regte “coach”, ʼn leermeester, ʼn leier - noem dit net wat jy wil. Hy het altyd vir ʼn mens tyd gehad. Met die aanvang van my kandidaatoffisierskursus het ons kursus met metodiek afgeskop. Toe ons die klaskamer binnestap, gebeur die volgende. Kolonel Delport is die lesinghouer en hy gebied my na die voorkant van die klas. “Kleinboetie, kom staan jy maar solank hier voor, ek sal nou aan 'n onderwerp dink waaroor jy moet praat. Net vir jou inligting, Pa het dit aan my gedoen toe hy as kaptein die kursusleier van ons K.O. kursus was, so ek sal dit ook aan jou moet doen”, was sy woorde. Daar staan ek oorbluf, onvoorbereid en onseker voor ʼn peloton sewentien en agtienjarige rofinas wat op kursus was. Nou vir die onderwerpe waaroor jy tien minute lank, onvoorbereid moes gesels: “Kleinboetie, wat kan jy die klas van skuifspelde vertel?” Nadat die tien minute soos tien ure gevoel het, volg die volgende onderwerp: “Kleinboetie, vertel en beskryf aan die rofinas die doel en nut van ‘panty hose.’” Dit was babbels hap, hoes en proes en jou verstand wat oortyd werk om
264
inligting oor die onderwerp te versamel. Dit natuurlik, tot groot vermaak van die toehoorders. Jare later op ʼn koue Vrydagaand was ek as offisier in bevel van ʼn padblokkade op die N7 snelweg. Terwyl ons nog besig was om voertuie af te trek en te deursoek, hou kolonel Flip by die padblokkade stil om ons te besoek. Nadat hy uit sy voertuig geklim het, roep hy my eenkant toe: “Kleinboetie, het jy gesien dat een lid van die stoppergroep nie 'n warm baadjie aan het nie?” “Maar kolonel”, sê ek ewe “as hy dan te dom is om een saam te bring, is dit sy probleem en nie myne nie, kolonel.” Hy het opdrag gegee dat die lid per radio ontbied moes word om by hom te kom aanmeld. “Jongman, goeie naand, waar is jou baadjie?”, wou die kolonel by hom weet. “Ek het nog nie een gekry nie, kolonel”, het die lid geantwoord. Oeps! Net daar het Flip Delport sy baadjie uitgetrek sonder om enige iets te sê. Hy het die “pips” (offisierrangtekens) van sy baadjie afgehaal en gesê: “Lyk my ons is een grootte. Ek gaan nou huis toe en sal more 'n ander een kry, hou maar die een vir jou”. Die lid het die baadjie aangetrek, vir Flip gesalueer en verdaag. Nou was ek en Flip weer alleen. “Kleinboetie, so kyk ʼn mens na jou mense, lekker aand en pas julleself mooi op.” Ja, Flip, jy was vir my ʼn rolmodel, en beslis goed genoeg om my ouboeta te wees.! (Douw Vermeulen)
Adjudant offisier Beyl.
Ek bring eer aan ‘n mentor en vaderlike figuur wat ‘n groot inpak op my lewe as jong polisieman en ek glo ook elke mens wat met hom op Komatipoort te doen gekry het, gemaak het. Met ingang 15 Augustus 1977, was ek vanaf Jan Smuts-lughawe na Komatipoort verplaas. Met my motorfiets het ek die lang pad na Komatipoort aangedurf. Met aankoms die Sondagmiddag, het ek by die aanklagtekantoor aangemeld net om te vind dat daar slegs nieblanke personeel aan diens was. Ek was net so verbaas toe konstabel Lazarus Shiba my met die polisievoertuig na die Posbevelvoerder, adjudant-Offisier, Ronnie Beyl, se woning geneem het. Hy het dadelik vir my blyplek in die Spoorweg koshuis gereël. Gou was dit vir my duidelik dat hierdie man dinge kan reël en baie vinnig ook. Elke persoon wat ooit met Ronnie Beyl te doen gehad het, sal weet dat hy alles wil weet en dat hy op sy eie versoek enige tyd van die dag of die nag ingelig wil wees wat om hom aangaan, maak nie saak waar hy hom bevind het nie. Een nag kom daar mense by die aanklagtekantoor aan en sê dat ‘n swart vrou in die wagkamer sit en dat sy vermoedelik besig is om te kraam. Adjudant Beyl was geskakel, wie die lede van die nagskof na die wagkamer vergesel het. Die vrou het geboorte in wagkamer geskenk en die Vroedvrou, Adjudant-Offisier Beyl, het die baba gevang waarna die kind en die ma later deur die Distrikgeneesheer ondersoek en ontslaan was. Ongeveer vier jaar na hierdie voorval daag ‘n swart vrou met ‘n klein seuntjie by die aanklagtekantoor op en verneem “waar die man is wat die baba gevang het”. Sy het verduidelik dat sy die vrou was wat geboorte in die wagkamer geskenk het en dat sy net die seuntjie, klein Ronnie, vir hom wil kom wys! Adjudant Beyl was toe reeds ‘n geruimte tyd al na Hoofkantoor verplaas. Sy het gevra dat as iemand hom weer sien, hulle tog net moet sê dit met haar en klein Ronnie goed gaan! Daar het tussen myself, Natie Roesch, Dolf Visser en Spyker Swanepoel ‘n ongeskrewe reël bestaan dat wanneer ons saam met Adjudant Beyl Nelspruit toe gery het moet die lid wat oggend skof werk voor by hom sit. En wanneer ons terugreis moet die lid wat middagskof werk, weer voor sit. Die rede hiervoor was, die oomblik wanneer ons op die N4 oppad Nelspruit toe was, dan het die vrae begin “Wat is die elemente van misdaad, moord, verkragting, brandstigting, aanranding ens.”? Die res het agter in die patrolliewa gesit en was dus nie aan hierdie indoktrinering van die wetsaspekte blootgestel nie. (hierdie is maar soos elke jong manne is). Later in my lewe was ek spyt dat ek nie elke keer as daar gery was, voor by hom gesit het nie, want hoe dit ook al sy, enige van die vrae wat in ‘n Polisie eksamen voorgekom het, en wat met jou op die pad Nelspruit behandel was, sou soos ‘n boek voor jou in ‘n eksamen lokaal oopgeval het. Met die deursettingsvermoë van adjudant offisier Beyl, het die Spoorweë ‘n brandweerwa aan Komatipoort onder sy bevel en beheer geplaas. Die polisiemanne van Komatipoort was vrywillig verplig om as brandweerbeamptes op te tree sou ‘n brand ontstaan het. Met die oorhandiging van die brandweerwa was daar ‘n groot parade gehou met die Afdelingsbestuurder, Stasiemeester, Oom Nel van die Koshuis, lede van die publiek, wat teenwoordig was. Hierdie verpligte vrywillige deelname as brandweerman het die
265
Spoorweg ons met ‘n tjek van twintig rand per maand vergoed. Dit het so by die vyftiende van die maand per pos op Komatipoort aangekom, wat ons dan by die bank gewissel het, vyf en twintig sent by die geld gesit en daarmee kon jy vir jou ‘n kas Castle bier koop. “Dad” Ek sê dankie vir die al die kennis, insig, leiding, opleiding, respek en eer wat jy in jou kort tydperk op Komatipoort, waar ek die voorreg gehad het om saam met jou te werk, vir my geleer het. Baie van hierdie dinge het ek later in my lewe as polisiebeampte en offisier gebruik en toegepas. Ek onthou nog jou woorde toe jy as ‘n kaptein ons besoek het. Ek en Swannie het jou gevra om vir ons vrae te spot vir die opkomende eksamen en jou antwoord was, “Kêrels spot en daar sal met jou gespot word”. “Ek salueer u” Wim Pretorius (Kierie)
Die skipper van die Loerie.
Sersant Nel, Skipper van die Loerie, was natuurlik 'n legende - afhangend van hoe 'n mens daarna kyk. Van tyd tot tyd het ek hom by die aanklagtekantoor gesien, alhoewel ek nooit iets met hom te doen gehad het nie. Ek was nog ʼn rekruut toe ek toegelaat was om saam met die manne op die Loerie te gaan werk. Die eerste aand op die Loerie het die vangwa ons almal na die boothuis toe geneem maar sersant Nel het direk met sy VW Variant stasiewa daarheen gery. Een van die manne - ek dink dit was Saayman of Reynecke - sê toe mos vir my: "Pikkie, sersant Nel is nie so kwaai soos wat die mense sê nie. Jy moet hom net vriendelik groet en darem wys jy wil leer. Vra hom uit oor die boot dat hy kan sien jy toon belangstelling." Daar kom ons toe by die boothuis aan en sersant Nel het by die tafel gesit met sy koerant by die perdewedrenne oopgevou. Die ander twee bemanningslede het toe effens teruggehang - wat ek nie agtergekom het nie - en ek het ewe manmoedig ingestap en gesê: "Goeienaand sersant, ek is rekruut Avenant hoe gaan dit?" Sersant Nel het sy pet so op sy agterkop geskuif, vir my gekyk en losgetrek met: "Soek jy nou f#*+kieng geselskap"? As jy niks het om te doen nie, moet dit nie hier kom doen nie. Ek is besig." My asem was weg! Die ander twee bemanningslede was net buite die deur maar hulle wou hulle breek soos wat hulle gelag het. Ek het daar gestaan en nie geweet waar om te kyk nie. Die nag was maar lank. Ek het daarna nog baie skofte saam met hom gewerk maar 'n wye draai om hom geloop. Die voorval het in 1976 plaasgevind. In 1995 het ek in Philippi area gewerk en besluit om by Ginsburg en Levy “scrapyard” 'n part vir my motor te gaan soek. Ek het daar ingestap en daar op 'n stoel, buite die sekuriteitshokkie, het ek my nagmerrie, sersant Nel, op ‘n stoel gesien sit; steeds met sy pyp en koerant by die perdewedrenne oopgevou. Dit was nou omtrent vreemd – amper twintig jaar later en daardie selfde irrasionele vrees het my beetgepak. Ek het my kop laat sak en so skuins verby gestap toe hy skielik opkyk en sê: "Vir wat groet jy nie?" Ek het toe daar langs hom gaan sit en amper 'n uur met hom gesels - en wat 'n lekker uur was dit nie. Hy het my toe vertel van sy aftrede en die verveeldheid by die huis wat gemaak het dat hy maar die werkie by die “scrapyard” gevat het en so meer. Dit het sommer gelyk of hy nie wou hê ek moes loop nie. Nou kan ek myself sinneloos lag oor daardie nag by die boothuis. Snaaks hoe 'n mens logies en intellektueel wéét die persoon kan fisies niks aan jou doen nie, maar steeds wegstaan - net ingeval. Dis dieselfde met basiese opleiding in die Weermag en soos by die Kollege ook. Die instrukteurs sal jou dreig met die verskriklikste goed wat jy weet fisies en biologies onmoontlik is, maar jy vat maar nie 'n kans nie – net vir ingeval. (Marius Avenant)
Genis en Oom Gellie Geldenhuys.
Een van die karakters wat ek bevoorreg was om te ontmoet was konstabel Genis wat in Tafelbaai hawe gestasioneer was. Hy was eers 'n stoker voordat hy ʼn polisieman geword het. Hy was so grof soos wat 'n mens kan kry en dan, teenoor hom, was daar Oom Gellie Geldenhuys, ʼn wedergebore Christen wat altyd mens probeer bearbei het. Op ʼn keer het Genis aan sy motor buite die aanklagtekantoor gewerk en met die gespook stamp hy sy kneukels stukkend. Hy trek daar los met 'n rits vloekwoorde wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Oom Gellie staan toe nader en sê: "Nee Genis, dit gaan nie help jy vloek so nie,
266
jy doen net jou eie siel skade aan" (Oom Gellie was baie godsdienstig na hy tot bekering gekom het). Genis het hom so gekyk en gesê: "Oom Gellie, dan beter jy nou bid vir die kar want ek gaan 'n hamer vat en hom in sy donner slaan!!!!” (Marius Avenant)
Die Arabiese Prins.
Herman Buckingham was ʼn karakter op sy eie. Sy sieninge oor godsdiens het baie se hare en bloeddruk laat rys. André Olivier, ook ʼn oud kollega van hom, het tydens die gedenkdiens toe hy oorlede is, hom raak opgesom. Hy het gesê alhoewel Herman nie aan die Drie-Enige God geglo het nie, het hy baie van ons wat bely het dat ons Christen was, in die skande gesteek. Hy sou sy broek letterlik en figuurlik vir iemand anders uitgetrek het. Hy het hom met die barmhartige Samaritaan vergelyk wat die gewonde gehelp het terwyl die Priesters en ander wye draaie om hom geloop het. Herman het op elkeen met wie hy ʼn verhouding gehad het, ʼn merk gelaat wat daai persoon altyd saam met hom sal dra. Ek en Herman het mekaar die eerste keer op die trein ontmoet toe ons oppad Oudtshoorn toe was om die taakmag daar op te lei. Ek het niks van sy geestelike sieninge geweet nie en tydens die treinrit was hy weer, soos gewoonlik, baie uitgesproke daaroor. So by so dat ek hom aan die keel wou gryp en by die trein se venster wou uitgooi. Later het ek besef dat hy nie moedswillig opgetree het om jou uit te lok nie; dit was wat hy oor godsdiens gevoel en verstaan het. Sy vriendskap met Joe Grant Grierson het dit nog meer beïnvloed. Later jare, toe ons na Kemptonpark verhuis het, het ons nie ver van mekaar gewoon nie. Ons oudste seun was in standerd drie toe ons na Windhoek verhuis het. Herman en sy vrou, Madelein, het ʼn afskeidsete vir ons by hulle huis aangebied. Omdat ek ‘n glas goeie rooiwyn geniet, het hy spesiaal twee bottels Cabernet Sauvignon vir die ete gekoop. Ons het net een bottel geledig. Hy maak toe die voorstel dat ons die ander bottel moes hou en wanneer Ronnie, ons oudste seun, matriek slaag, moes ons weer by hulle kom eet en dan maak ons die bottel oop. Daardie aand het ons die bottel met kerswas geseël met beide van ons se duimafdrukke daarop. Dit was in 1980. In 1985, toe ons op Slagboom was, slaag Ronnie sy matriek. Daardie Desember het ons die familie in die destydse Transvaal gaan besoek en het ons by Herman en sy familie aangegaan. Hulle het weer ʼn spoggerige ete voorberei om Ronnie en sy vriendin, Hildelene, se matriek uitslae te vier. Herman het die aand vertel hoe groot die versoeking dikwels was om die bottel oop te maak, maar ʼn belofte is ʼn belofte. Hy het altyd met heimwee vertel van hoe sy pa, wat op die Spoorweë in Kaapstad gewerk het, ekstra geld verdien het. Hy het oor naweke viool voor een of ander winkel op die sypaadjie gespeel, terwyl die omstanders geld in sy hoed gegooi het. Herman was ook iemand wat ʼn uitdaging aanvaar het. So het hy besluit om op die ouderdom van vyf-en-veertig vir klavierlesse te gaan. Hy het die musiek onderwyseres byna tot raserny gedryf met sy drang om klavier te speel. Hy wou nie net die klavier vir sy plesier bespeel nie, hy wou ook ʼn musiek kwalifikasie daarin behaal. Twee insidente het Herman se loopbaan in die S.A.Spoorwegpolisie beïnvloed. Die eerste was toe hy ʼn groep na Slagboom vir die praktiese deel van die springstofkursus vergesel het. In hierdie groep was daar sekuriteitslede van Yskor, Naschem en Atlas wat die kursus meegemaak het. Ek was die Bevelvoerder en na afloop van die kursus die Vrydag, het Herman kom vra of hy en die groep ʼn bietjie vroeër na Port Elizabeth kon vertrek vanwaar hulle die trein na Johannesburg moes haal. Ek het geen beswaar gehad nie en net na brunch is hulle daar weg. Die Maandagoggend op kantoor het die telefone onophoudelik begin lui. Dit was Hoofkantoor in Johannesburg wat wou weet wanneer en onder watter omstandighede Herman en die groep daar by my weg is. Later sou ek verneem dat hulle die hotel naby die stasie besoek en daar slim geraak het. Ek moet eers, ter wille van diegene wat nie vir Herman ken nie, verduidelik dat hy lank, skraal en blas van kleur was. Hy sou maklik met ʼn Arabier of ander inwoner van Midde Afrika verwar kon word. Toe hulle die trein bestyg het, het Herman tot die slotsom gekom dat die treinrit ʼn baie effektiewe praktiese oefening vir die groep kon wees. Bomme kom orals, en dus ook op treine, voor en die passasiers en ander belangrike persone moes daarteen beskerm word. Net daar het Herman van ʼn kaptein in die S.A. Spoorwegpolisie in ʼn “Arabiese Prins” verander wat onderweg na Johannesburg was. Die
267
kursusgangers het hulle opdragte van die “Prins” ontvang rakende hoe hulle het te werk moes gaan om hom te beskerm. Toe aandete bedien moes word, het die “Prins” se persoonlike “lyfwagte” die ander passasiers die loef afgesteek want niemand mag saam met die “Prins” in die eetsalon gewees het terwyl hy eet nie. Die lyfwagte het na die Hoofkelner gegaan en hom ingelig dat hy ʼn BBP aan boord gehad het en dat hy die beste wyn van sy voorraad aan die “Prins” moes aanbied. En so het die toneel hom ook toe afgespeel. Die Hoofkelner was op sy senuwees want hy was nie ingelig dat hy ʼn belangrike persoon vir ete sou hê nie. Hy het ook nie die protokol geken om so persoon te hanteer nie. Die sjef in die kombuis was ook nie gespaar nie. Die “lyfwagte” het op hom toegesak en hulle moes eers aan die kos proe alvorens dit aan die “Prins” bedien kon word. Die Hoofkelner het een van sy kelners gestuur om die kondukteur van die trein omtrent die “prins” se teenwoordigheid te waarsku. Hy het op sy beurt na sy passasierslys gegryp en gesê dat daar nêrens enige aantekening verskyn het omtrent ʼn BBP wat saam met hulle sou reis nie. By die volgende stasie het hy ʼn boodskap aan die Afdelingbestuurder se kantoor in Port Elizabeth gestuur en gevra waarom hulle hom nie van die inligting voorsien het nie. Hulle het, uit die aard van die saak, ook niks van die “Prins” geweet nie en het die Hoofbestuurder se kantoor in Johannesburg geskakel om te hoor wie en wat die “Prins” is. Die Hoofbestuurder het natuurlik niks daarvan geweet nie en dié het op sy beurt die Kommissaris gekontak om te hoor of hulle iets van die “Prins” en die “lyfwagte” op die trein geweet het. Oplaas het hulle ook nie kennis gedra daarvan nie en die Bevelvoerende Offisier in Port Elizabeth was geskakel met die opdrag om die saak te ondersoek. By elke stasie waar die trein stop en daar ʼn polisieman op die platform was, was hy deur die “lyfwagte” nader geroep sodat die “Prins” sy sakboek kon teken. Ek dink dit was op Cradock stasie wat die speurder daar ontdek het dat die “Prins” niemand anders was as ʼn kaptein in die Spoorwegpolisie nie. Herman se vele verduidelikings dat die hele gedoente eintlik praktiese opleiding vir die groep was, het nie die Kommissaris beïndruk nie. Was dit nie vir die ingryping en beskerming van brigadier Gustav Erlank, onder wie se bevel Herman gewerk het nie, was hy verseker ontslaan. Die tweede insident het veel meer skade vir Herman ingehou. Terwyl hy en ander lede besig was om ʼn kluis vir Chubb te evalueer, het hy met ʼn AK 47 geweer op die deur van die kluis geskiet. Hy het nie ʼn veiligheidsbril gedra nie en die omhulsel van die patroon het teruggevlieg en sy een oog tot so ʼn mate beseer dat hy die sig in dié oog verloor het. Hoofkantoor het egter bevind dat hy medies ongeskik was om verder as ʼn polisieman te kon werk, met die gevolg dat hy die diens as medies ongeskik moes verlaat het. Diegene wat Herman nie verstaan of van hom gehou het nie, was seker bly dat hulle van hom ontslae geraak het. Die ander kollegas het hom gemis. Rus in vrede, Herman. (RB)
Sersant Rosyntjie en die krewe.
Sersant Rosyntjie het langs Koeberg stasie gebly en dikwels met sy fiets werk toe gery. Hy het op die polisieboot gewerk. Op ʼn keer het Rosyntjie ʼn paar lewendige krewe gekry, maar twee gruwelike foute gemaak. Fout een. Hy het die lewendige krewe in koerantpapier toegedraai. Fout twee. Rosyntjie besluit toe om die krewe saam met hom op die trein te neem toe hy van diens gaan. Wat Rosyntjie vergeet het, was dat nat papier nie Kreef se kind binne gaan hou nie. Nog voordat die trein by Soutrivier stasie arriveer het, besluit die krewe dat hulle wil kyk hoe die stasie lyk. Met die ontsnap hulle uit die nat koerant papier en kies koers onder die treinsitplekke in. Die krewe hol in alle rigtings en Rosyntjie word op sy knieë gedwing. Twee dinge skiet deur sy gedagtes. ʼn Vars kreef smaak darem vorentoe en om in besit van ʼn kreef te wees, het jy ʼn permit nodig. Hierdie twee gedagtes noop Rosyntjie om in volle uniform tussen die banke rond te kruip, op soek na die ontsnapte krewe. Uit asem van die rondkruipery, en met ʼn stowwerige uniform, kon hy daarin slaag om die krewe te vang. Rosyntjie se gesig was vol plooie, daarvandaan die bynaam, Rosyntjie. (Herman Bosman)
268