4 minute read

Woord van dank

Cobus se Graad 1 juffrou was besig om die kinders die verskillende vertrekke van ʼn huis te leer en toe dit by die slaapkamer kom, vra sy hom waar slaap hy in die huis. Hy antwoord in die eetkamer en die juffrou was onlekker met die antwoord. Die middag toe hy by die huis kom, het hy sy ma gevra waar hy slaap. Sy antwoord toe dat hy in die eetkamer slaap omdat daar nie genoeg kamers vir elkeen van hulle was nie. By ʼn latere geleentheid kon Magda darem die juffrou oor die situasie by die huis inlig. Intussen gaan het ek ʼn gekwalifiseerde kok by die Holiday Inn hotel in Port Elizabeth afgerokkel. Soos wat ons gery het, het die kok al stiller geraak. Toe ons by Slagboom se hek indraai, het hy gevra of dit die plek was waar hy sou bly en werk. Ewe opgewonde het ek my mening uitgespreek dat hy dit baie sou geniet en dat hy feitlik sy hele salaris daar sou kon spaar. Die volgende oggend het hy in die kombuis aangemeld vir diens. Magda was in die sewende hemel want dié man het geweet van kos maak. Daardie dag kon Magda ontspan met die wete dat die etes betyds en goed voorberei sou wees. Die volgende oggend, omstreeks vyf uur, het een van die arbeiders wat in die kombuis gewerk het aan die kamer venster geklop. Die briljante kok het so pas sy goed gevat en hy was op pad Port Elizabeth toe. Ek het in die kar gespring en het hom net buite die basis gekry. “Nou wat nou?” wou ek by hom weet. “Sir, I am sorry, but I need the city lights”, het sy ondubbelsinnige antwoord gekom. Net daar het Magda se probleme weer van voor af begin met die voorbereiding van die etes en die onopgeleide hulp wat sy gekry het. Nadat die basis ongeveer ʼn jaar in werking was, was die opening en bekendstelling van die basis deur Hoofkantoor beplan. Die gastelys het voorsiening gemaak vir honderd-en-twintig gaste. Onder hulle die Minister van vervoer, mnr. Hendrik Schoeman, die Hoofbestuurder en sy bestuur, die Kommissaris, generaal Visagie en verskeie senior offisiere, die Kommandements bevelvoerder van die S.A. Weer- en Lugmag in Port Elizabeth, die Bevelvoerende offisier en senior offisiere van die S.A. Polisie, die Burgemeester en Kommando bevelvoerder van Kirkwood en talle televisie en koerant verslaggewers getel. Magda en haar “plaasarbeiders” in die menasie het die gaste op ʼn vyfster feesmaal getrakteer. Na die tyd het minister Schoeman speels aan haar genoem dat hy ʼn pad kafee wou open en sy moes dit vir hom bestuur het. In dieselfde asem het hy vir my gesê dat ek daar sal moes wegbly, want ek sou hulle profyt op die hamburgers opeet. Omdat die offisiere in die Spoorwegpolisie so dikwels verhuis het, was daar ʼn gesegde dat offisiere stukkende meubels en dom kinders gehad het. Lisa was in agt skole, Ronnie in ses en Cobus in vier skole (Ek verneem generaal Robbertze se dogter, Elmarie, was in nie minder nie as elf skole). Vandag kan ek met trots sê dat Ronnie sy B.Juris en LLB grade behaal het. Hy was tot die Oos Kaapse balieraad toegelaat en was ʼn Regsoffisier in die S.A Polisie. Vandag is hy en sy eggenote, Hildelene, die eienaars van ʼn vulstasie en ʼn winkel op Addo. Lisa het haar B.Sc. graad en HOD behaal en later ʼn Diploma in Christelike Aktiewe Terapie met lof geslaag. Sy is tans ʼn Wiskunde onderwyseres op Adelaide. Na skoolure en oor naweke bedryf sy haar praktyk vanaf ʼn kantoor by haar huis. Sy is met Ignus Potgieter ʼn boorling van Adelaide getroud. Hy is ʼn deeltydse prediker en berader en is voltyds werksaam by Biogas Power, ʼn maatskappy wat toerusting verskaf vir die opwekking van alternatiewe energie. Cobus is ʼn belastingkundige met ʼn Gevorderde Sertifikaat in Belasting met sy eie praktyk in Kemptonpark. Ek is daarvan oortuig dat daar talle ander gesinne in die S.A.Spoorwegpolisie was, wat selfs meer opofferings en ontberings as my gesin moes deurgemaak het. Aan al daardie gesinne sê ek SALUUT!!!!!

WOORD VAN DANK

Advertisement

Met ‘n projek soos hierdie moet jy willekeurig terugkyk na die verlede. Dit is dan wanneer jy besef dat die lewe inderwaarheid ‘n groot legkaart van gebeure is. Gelukkig, of is dit nou ongelukkig?, sien jy nie altyd waar ‘n gebeurtenis in jou lewe in die groot legkaart inpas nie. Met die terugblik op my loopbaan kan ek vandag verstaan waarom sekere dinge gebeur en andere wat ek graag wou laat gebeur het, nie plaasgevind het nie. Dan is dit wanneer ek duidelik die hand van God in my lewe sien. Vandag kan ek verstaan waarom sekere dinge nie moes gebeur het nie, want sou dit wel plaasgevind het, was die legkaart van my lewe onvolledig en miskien misvorm. Magda is ‘n besondere stukkie van my lewe se legkaart. Was

274

This article is from: