16 minute read

Huldeblyk aan Families van Polisiemanne en Vroue

Liggaamsdele.

Dan het die menslike faktore en liggaamsdele ook aanleiding gegee tot die gee van ‘n paar byname. Sersant Taaispoeg, Spikkels, Raasbek, Wielbek, Pensie, Nekkies, Stinkasem, Eentand, Giftand, Rubberbek, Rubbernek, Pikneus, Bal, Oortjies, Bakoor, Poepies, Vleisnek, Boesman, Bulbkoppie, Mary Virgin, Spoegbek, Kieste, Tandjies, Platkop, Knoffelvoete, Witkop, Rooineus, Ou Dowe, Asem, Neus, Gorreltjie, Holle, Kielieboud, Koppiekrap, Ore, Bones, Waterkop, Blokkop, Lapkop, Sementpens, Koppie krap en Hamerkop.

Advertisement

Diere

Diere het ook hulle regmatige bydrae tot die gee van byname gelewer. Kat, Bokbek, Porkie, Misseljaatkat, Esel, Bul, Pikkewyn, Bokkie, Pompdonie, Pelikaan, Piet muis, Fido, Pakaboel, Hommel, Kwartel, Katmannetjie, Horse Power, Kees, Blou Aap, Vaaltyn, Valkie en Rot.

Ander

Dan was daar Proppies, Pappa Beyl, Soutie, Jassie, Shine, Crash Helmet, Hangkas, Pellie, Pypie, Speedy, Ice Cream, Sementmannetjie, King Henry, Blink Willie, TP, JJJ, Happy Jack, Snuifblik, Majuba, Here comes the burgermaster, Pretty Boy, Organise, Appél, Sequinces, Hop Along, Jan Plank, Wandering Star, Little Tin God, Skewe Sewe, Dad, Swartboek Smit, Bruinhoedjie, Bolletjies, Pop, Taranakie, Jock, Bloujan, Kuka, Tingtong, Beheer, Kleintjie, Skewe Kerneels, Kaffertjie, Staal, Ploegbaas, Ou Lelik, Trooster, Toppie en Mounie

Afkortings

Die gewone afkorting van vanne, “van labels” het ook vir ‘n aantal gesorg. Blackie, Lackie, Van, Toitjie, Divvie, Iiwies, Pine, Fires, en Bossie, (gelukkig nie bossies a.g.v. grensdiens nie). Elkeen was maar grootliks, hetsy deur eie toedoen of manewales, verantwoordelik vir die ontstaan van sy of haar se bynaampie. Daar is nog so baie....sommige wat nie te "public" gemaak kan word nie. Van die naamdraers het geen probleem met die "titel" gehad nie, terwyl andere jou weer wou kruisig sou jy waag om hul naam so ydellik te gebruik. Dit was dan juis die vet op die vuur vir dié gebruikers (sondaars) van die byname. Meeste van hierdie name was selfbeskrywend – ander weer nie so maklik nie. Ook nie lank nie, of jou nuuskierigheid bring jou in elk geval na die oorsprong daarvan! En as jy eers daai naampie het, glo my, gaan hy saam met jou graf toe!! (Herman Bosman, RB)

HULDEBLYK AAN DIE FAMILIES VAN POLISIEMANNE EN VROUE

Hierdie bundel sal onvolledig wees indien daar nie hulde aan die gesinne van lede wat deel van die S.A. Spoorwegpolisie was, gebring word nie. Ek kan maar net aan die talle opofferings dink wat my eie eggenote, Magda en my drie kinders, Ronnie, Lisa en Cobus oor al die jare moes maak. My familie se opofferings is verteenwoordigend van wat elke polisieman of -vrou se familie moes deurmaak. Daarom wil ek graag enkele ontberings en opofferings van wat my familie moes deurmaak, deel. Magda was ‘n plattelandse nooi en ʼn boorling van Lichtenburg. Na ons troue het ons eers by haar tannie in Denver loseer want met my salaris kon ons nie ʼn woonstel bekostig nie. Toe sy swanger raak, het ons in ʼn woonstelblok in Joubertpark by my suster gaan woon. Die aanpassing vanaf die platteland na die stad, en dit boonop in ʼn woonstelblok op die dertiende verdieping, was iets groots wat sy moes verwerk het. Ek was op die Mobiele eenheid op Johannesburg stasie gestasioneer. Ons het minstens twee keer per week dienste op ʼn een of ander hooflyn trein verrig, wat beteken het dat ons dikwels moes oorslaap op ander plekke. Dit was bykans tyd dat die baba gebore moes word en ek moes ʼn hofsaak op Standerton gaan bywoon het. Met aankoms by die hof in Standerton, argumenteer die jong staatsaanklaer met my oor die klagte wat teen die beskuldigde ingebring was. Hy wou eers die wetboek nadersleep. Sonder enige onduidelikheid het ek aan die aanklaer verduidelik dat my vrou op haar laaste was, dat die trein om een uur die middag na Johannesburg vertrek het en dat ek, kom wat wil, op daardie trein sou wees. Toe ek met ʼn gehaas by die stasie aankom, het die trein vyf minute voor my aankoms, alreeds vertrek. Die teleurstelling en woede het die oorhand gekry. Ek was buite myself. Die kaartjiesklerk, wat ek teen daardie tyd al goed geken het, het tot my redding gekom. Met sy splinternuwe Chevrolet het ons twee al met die meganisasiepad gejaag om die

270

trein in te haal. Na vele handgebare tesame met die klerk wat op die motor se toeter gelê het, het die treindrywer besef dat hy moes stilhou. Soos ʼn wafferse hekkies atleet het ek oor die draad heining geseil en my sit in die trein gekry. Daar was ʼn onrustigheid in my wat my wou opvreet. Met aankoms te Johannesburg stasie, om ongeveer ses uur die aand, het ek my na die woonstel, wat nie ver van die stasie geleë was nie, gehaas. Ek het aan die woonsteldeur geklop, maar daar was niemand tuis nie. ʼn Stemmetjie binne my het my wys gemaak dat Magda brood en melk by die kafee om die hoek gaan koop het. Na ongeveer tien minute het besef ek dat sy al terug moes gewees het indien sy slegs kafee toe was. Al wat nou oorgebly het, was om die kraaminrigting te skakel. Ons het nie ʼn telefoon gehad nie en ek het my na die Griek se kafee om die hoek gehaas. Baie bekommerd het ek die Queen Victoria kraaminrigting, waar ons vir die bevalling bespreek het, geskakel. “Is mev Beyl dalk al opgeneem?”, het ek benoud verneem. ”Ja,” het die saalsuster my ingelig: “sy is in kraam en jy sal jou moet roer en sorg dat jy hier kom.” Die inrigting was in Hillbrow, so ʼn paar straatblokke vanaf die woonstel. Omstreeks nege uur die oggend het die kraampyne begin en sy was siel alleen met ʼn taxi na die kraaminrigting. My motor was onklaar ek moes nog ʼn ruiker iewers kry en ʼn taxi bestel. Intussen het die skuldgevoelens aan my gevreet. Met die hulp van die kafee eienaar, Johnny, se vrou, het ek ʼn bos blomme in die hande gekry. Agter die toonbank het sy ʼn blompot uitgekrap en het sy die blomme in die pot gerankskik. Terwyl ek op die taxi gewag het, plaas ek die blompot op die deksel van ‘n Coca Cola yskas. Op daardie stadium kom ʼn swart man die kafee binne en skuif die deksel oop om ʼn koeldrank uit die yskas te haal. Die deksel het teen die blompot gestamp en dit was net glasstukke en water wat gespat het. Al wat ek gehoor het terwyl ek met my pistool teen die man se kop gestaan het, was Johnny wat skreeu: “Ronnie, please don’t shoot.” Nou moes daar ʼn ander pot vir die ruiker gekry word. Weer was dit Johnny se vrou wat tot my redding gekom het. Die taxi het opgedaag en die drywer was opdrag gegee om te laat waai. Met aankoms by die kraaminrigting was my senuwees gedaan. Nou staan ek met die blompot in my een hand en met die ander hand het ek probeer om die agterstevoor japon aan te trek. Soos wat dit by sulke plekke gaan, was die grootte van die japon vir “matriek seuns” gemaak, en ek was lankal verby daardie grootte. Met die japon wat halfpad oor my een skouer hang, het ek die saal waar Magda was, binne gestorm. Op daar die oomblik het ʼn verpleegster met ʼn baba in haar arms by die saal uitgekom. Ek was te laat! Hoe verduidelik jy aan jou pasgebore kind en aan jou vrou hoe jy op daardie oomblik voel? Die feit dat die bevalling sonder komplikasie verloop het, het ‘n bietjie verligting gebring, maar ek het nogtans baie teleurgesteld en sleg gevoel dat ek die bevalling gemis het. Nou was die groot vraag. “Is dit ʼn seun of ‘n dogter"? Die suster het my aan die arm gegryp en het my gesleep na ʼn saal waar omtrent tien babas gelê het. “Waar is my seun?” wou ek opgewonde by haar weet. “Jy is die pa, jy behoort seker te weet hoe jou kind lyk”, was al inligting wat ek uit haar gekry het. Ewe kordaat, met ʼn borsmaat wat enige tyd die knope van my hemp kon laat spat het, patrolleer ek tussen die wiegies deur. By ʼn bepaalde wiegie het ek net die gevoel gekry dat dit my seun was. “Suster, dit is my seun”, het ek haar beslis meegedeel. “Mnr. Beyl, maar hoe weet jy dit?” het sy verbaas gevra. Baie spoggerig oor die fris bulletjie wat daar lê, antwoord ek haar: “Maar ek is mos sy pa, is ek nie?” Desember 1974 het ons verhuis vanaf Esselenpark na Komatipoort. Vir eers was daar nie ʼn huis vir ons beskikbaar nie. Die huis van die Posbevelvoerder was nog deur die vorige Posbevelvoerder en sy familie beset. Vir eers moes ons in een van daardie klein twee slaapkamer Spoorweghuisies intrek. Geen grasperk, geen tuin, net rooi grond en vlermuise wat in die huis se dak nes gemaak het en wat die aardigste reuk afgegee het. Intussen het my ouers kom kuier en die kinders moes maar op die vloer slaap. Na sowat ʼn maand het ons na die voorkeurhuis vir die Posbevelvoerder getrek. Ons was nog besig om uit te pak toe ek ʼn teleks ontvang het dat ek by Esselenpark moes aanmeld. “Ek is skaars ʼn maand gelede daar weg, wat moet ek nou weer daar gaan maak?” het ek baie vererg gevra. Die politieke onstabiliteit in die land het die stigting van ʼn Spesiale Taakmag vir die Spoorwegpolisie vereis en Hoofkantoor het besluit dat ek by die stigting en opleiding betrokke moes wees. Januarie 1975, meld ek by Esselenpark aan. Die ander stigterslede was luitenant Phillip Delport, luitenant Grant Grierson, sersant Johan Lotriet en Riaan Stander. Die samestelling van die

271

kursusprogram en handleiding vir die taakmag het drie maande geduur. Drie maande lank moes my familie alleen op die nuwe dorp hulle weg vind. Ronnie moes vir die eerste keer skool toe gaan. Sy pa was nie daar om hom in sy nuwe skooldrag te sien of om ʼn foto van hom te neem nie. Gedurende die eerste drie maande by Esselenpark het my familie my net elke tweede naweek gesien en dit vanaf Saterdagoggend sewe uur tot Sondagmiddag vyf uur wanneer ek weer na Esselenpark terug gereis het. Die kursus vir die taakmaglede in Oudtshoorn, het ook drie maande geduur. Na afloop van die eerste groep se opleiding, het ons die geleentheid gekry om ons families te gaan besoek voordat die opleiding van groep twee begin het. Omrede ek op Komatipoort woonagtig was, kon ek met die geleentheid slegs drie dae by my familie deurgebring het. Magda en die kinders moes by die huis bly want sy kon nie motor bestuur nie. Omstandighede het haar gedwing om ʼn bestuurderslisensie te bekom. Vir die leerling- en bestuurderslisensie moes sy alleen na Barberton, wat ongeveer ʼn honderd kilometer vanaf Komatipoort was, per motor ry. Die berugte 1976 het aangebreek. Dit was November en ek moes weer Kollege toe om spesiale dienste op Jan Smuts-lughawe te gaan verrig. Ons was vir ongeveer agt-en-veertig uur by die lughawe aan diens toe ek doodmoeg by die Kollege vir ʼn welverdiende rus aangekom het. Magda was op daar die stadium op haar laaste met ons jongste seun, Cobus. Die naaste kraaminrigting was op Nelspruit; ʼn honderd-en-tien kilometer vanaf Komatipoort. Die aand van die tweede Desember 1976 besef Magda dat dit tyd vir die baba was om gebore te word. Sy het die ambulans ontbied om haar na Nelspruit te neem. Gelukkig was haar moeder by ons wat na die ander twee kinders kon omsien. Kwart oor vyf die oggend van die 3de Desember 1976, maak die ordonnans my wakker met die woorde: “Adjudant, jou vrou is in die hospitaal opgeneem en sy het geboorte geskenk aan ʼn seuntjie.” Heel deur die blare vra ek hom: “Maar waarom?” Hy het my met verbasing aangekyk en gesê: “Maar jy behoort seker te weet hoekom sy geboorte geskenk het.” Agt uur daardie aand het ek en my moeder by die hospitaal in Nelspruit aangeland. Weer was die skuldgevoel teenwoordig omdat ek gevoel het dat ek vir haar en die baba in die steek gelaat het. Weer was ek vir myself en vir die Mag kwaad. Toe ek ʼn offisier word, was ek na Hoofkantoor verplaas. Hoe salig om elke naweek by die huis te kon wees. Die saligheid het ook nie lank geduur nie omdat ek en sersante Flip Aslett en Barkhuizen springstoflesings vir elke personeellid vanaf Pretoria tot en met Messina moes gaan aanbied het. Gedurende die week het ons in ʼn kaboes gebly en die kere wat ons nie te ver vanaf Kemptonpark was nie, het ons naweke huis toe gegaan. Hierdie opleiding het etlike maande geduur. Ons het pas ʼn nuwe huis gekoop en baie dinge moes nog gedoen word. Omdat ek afwesig was, moes Magda vir my instaan en met die bouer veg om die goed gedoen te kry. Nadat die opleiding in die Noord Transvaal streek afgehandel was, het ek een oggend opdrag gekry om die volgende dag saam met generaal Claassen na Windhoek te vlieg. Toe ons in Windhoek land, was ek omtrent die rede vir ons besoek ingelig. Die terroriste aktiwiteite in die noorde van Suidwes het skerp toegeneem en die burgerlike personeel van die Spoorweë het onveilig gevoel. Die opdrag was eenvoudig: Stig ʼn tuiswag by elke groot stasie in Suidwes en lei die burgerlike personeel van Spoorweë op sodat hulle hulself en hul families kan beskerm. Vir ongeveer ses maande het ek tussen Johannesburg en Windhoek gependel en intussen was my twee oudste kinders, wat nog in die laerskool was, in hulle derde skool. Na ongeveer ses maande moes ek weer generaal Claassen na Windhoek vergesel. Dit blyk toe dat die terroriste ʼn Spoorbaaninspekteur op Kombat vermoor het. Dit het ʼn groot onrustigheid onder die burgerlike personeel van die Spoorweë gebring. Met ons terugreis na Johannesburg vra generaal Claassen uit die bloute: “Het jy ʼn huis gekry?” Ek het ʼn huis in Kemptonpark betoog ek. “Nee man, ek bedoel het jy ʼn huis in Windhoek gekry?” Nou wat gaan nou aan? “Jy en jou gesin moet so gou doenlik pak en na Windhoek verhuis”, was die opdrag. Weer was dit ʼn ontwrigting vir my familie. Ronnie en Lisa het net by die nuwe skool aangepas en hier moes ons alweer aanskuif. Januarie 1980 het aangebreek, en sewentien maande nadat ons na Kemptonpark verhuis het, was ons al weer oppad en hierdie keer na Windhoek. Dit was April 1980. Ek het met die eerste kontingent polisiemanne by Oshivello grenspos aangemeld waar ons vir ʼn tydperk van drie maande in die operasionele gebied diens gedoen

272

het. Talle offisiere, onder-offisiere en konstabels het na ons dienste te Oshivello en Kamanjab verrig. Ongeveer vyf uur die oggend van 30 Junie 1980, het Magda met ʼn angsgevoel wakker geskrik. Sy het haar moeder, wat by ons gekuier het, wakker gemaak en haar onrustigheid met haar gedeel. Nadat hulle saam gebid het, was dit asof daar ʼn rustigheid oor haar gedaal het. Ongeveer elf uur dieselfde oggend, het brigadier Edik Eloff, die Bevelvoerende offisier, voor die huis stilgehou. Magda se hart het inmekaar gekrimp want was deeglik bewus van die moontlike rede vir sy besoek. Hy het haar meegedeel dat ons daardie oggend om nege uur in ʼn kontak met terroriste betrokke was, maar, tot Magda se groot verligting het hy haar gerus gestel met die nuus dat niemand van ons gedood of beseer was nie. Skaars twee jaar nadat ons in Windhoek gevestig geraak het, het die opdrag gekom dat ons na Slagboom, wat tussen Addo en Kirkwood geleë is, moes verhuis. Dié plaas was vir sewe jaar onbeman. Die twee slaapkamer Spoorweghuisie op die plaas was die voorafgaande sewe jaar deur die buurman se bokke as ʼn kraal gebruik. Die hele huis moes eers opgeknap word voordat ons dit kon bewoon. Intussen het ons as ʼn gesin van vyf vir bykans vier maande in ʼn vier slaapbank karavaan, sonder elektrisiteit of lopende water, gebly. Ronnie en Lisa moes koshuis toe. Die naaste skool was op Kirkwood en dit was dertig kilometer vanaf Slagboom. Die dag toe meubelvervoerwa ons meubels wou kom aflaai, het dit baie gereent. Die vragmotor het vir ʼn voertuig op die grondpad uitgedraai en het op die rand van die pad in die modder beland. Daar het ons angstig gewag om in die huis in te trek, maar die meubels kon nie afgelaai word nie. Gelukkig het die buurman oor ʼn stootskraper beskik en hy het tot ons redding gekom. ʼn Opleidingsbasis moes etes aan die kursusgangers verskaf en vir die doel het jy ʼn menasie, stowe, ys- en vrieskaste asook kokke nodig gehad. Die basis was in die bos; ver afgesonder van alles en almal, so waar moes dié personeel vandaan kom? “Wat van Magda, sal sy nie bereid wees om beheer van die menasie te neem nie”, het Hoofkantoor die oplossing aangebied. Sy het geen vorige ondervinding of opleiding in die verband gehad nie. Dit was nie ʼn probleem nie. Twee weke later was dit Magda wat na Johannesburg en Esselenpark vertrek het. Dié keer was dit ek wat by die kinders en by die huis moes bly. Na ʼn blits kursus het sy terug gekeer maar daar was nog geen menasie, kook- of verkoelingsgeriewe nie. Van die slaapkwartiere en die ablusieblokke was gereed maar verder niks nie. Johan Lotriet het met dertig taakmag lede aangemeld vir opleiding. Hulle moes eet, maar daar was nog nie ʼn menasie, stowe of verkoelingsgeriewe nie. Magda het hulp met die voorbereiding van etes nodig gehad en ons het gewonder waar ons opgeleide persone sou kry om dit te kon doen. Niemand het daarin belang gestel om daar in die bos te gaan werk nie. Al oplossing wat oorgebly het, was om die werklose plaaslike arbeiders op die plase te nader. Ek kan my nie vir een oomblik die frustrasies indink wat Magda met die bar en ongeletterde skepsels moes gehad het nie. ʼn Gasstoof op pote was aangekoop, asook ʼn aantal potte. Die kombuisie van ons huis was te klein om vir die dertig manne kos in voor te berei, met die gevolg dat die grasperk langs die huis die kombuis en menasie geword het waar die lede twee keer per dag van etes voorsien was. Naweke moes die twee kinders se klere en beddegoed vir die koshuis met die hand gewas en gestryk word. Daar was nie krag vir ʼn elektriese strykyster nie en Magda moes noodgedwonge ʼn strykyster op die primusstofie warm maak om die wasgoed te stryk. Vertoë om darem net ʼn kragopwekker te voorsien het op dowe ore geval. Een Maandagoggend, nadat Magda weer oor die naweek gesukkel het om die kinders se wasgoed skoon te kry, het ek Port Elizabeth toe gery met die voorneme om daardie dag ʼn ultimatum aan die Bevelvoerende offisier, kolonel Cas Pelser, te stel. As daar teen Woensdagmiddag vier uur nie ʼn kragopwekker op Slagboom gestaan het nie, sou ek en my gesin die volgende Maandag by Hoofkantoor in Johannesburg gaan rapporteer het. Dit was Woensdagoggend teen omtrent tien uur dat daar ʼn trok met ʼn kragopwekker arriveer het. Dit was nie sommer so opwekker nie, dié een het ʼn V8 Rolls Royce enjin gehad wat genoeg krag aan ʼn dorpie soos Cookhouse kon voorsien. “Hoekom dan nou eers?”, het ek telkemale gevra. Aangesien die huisie net twee slaapkamers gehad het, moes Ronnie in die buitekamer slaap. Lisa kon haar eie kamer hê, maar Cobus moes in die eetkamer slaap.

273

This article is from: