10 minute read

Nienaber praat Skole- en Wêreldbekerrugby

Hoe het jy by rugby betrokke geraak en hoe het jou pad geloop vanaf jou eerste betrokkenheid tot by Bokafrigter?

Na ek fisioterapie op Bloemfontein studeer het, het ek by `n fisioterapiepraktyk in Bloem begin en is ek gevra om die fisioterapeut vir die Vrystaat o.19 en o.21 rugbyspan te wees. Ek is `n paar jaar daarna aangestel as die fisio van die Cats in die Super Rugby-reeks. Rassie was toe nog `n speler by die Cats en het baie keer in die fisio - kamer video analises op sy “black box” (‘n analiseringsprogram wat hy by die WNNR gekoop het) gedoen. Hy sou my van tyd-tottyd roep om vir my te wys wat hy ontleed het, en so is my belangstelling geprikkel.

Jacques was kondisioneringsafrigter van die Cheetahs vanaf 2004 tot 2007, verdedigingsafrigter van verskeie u

Unies tussen 2008 en 2014, onder andere van die Stormers en ook in 2011 vir die Springbokke. Hy was ook Munster se assistent en senior afrigter vanaf 2016 tot 2017 voordat hy teruggekom het na SA en sy reis by die Springbokke voortgesit het.

Vertel ons meer van jou skooldae. Waar was jy op skool en in watter posisie het jy gespeel?

Ek was in Laerskool Riebeeckstad in Welkom en is toe koshuis toe by Grey College tot in graad 11. My ouers het toe Bloem toe getrek en ek is in graad 12 terug huis toe. Dit was nogal `n jammerte om my seniorjaar in die koshuis mis te loop. Atletiek (800m en 1500m) en landloop was my hoofsport, maar ek het ook rugby vir die lekkerte saam my vriende vir die laer spanne gespeel en dit nie so ernstig opgeneem nie. Ek het meestal flank gespeel.

Spelers oefen deesdae met swaar gewigte van`n jong ouderdom af. Wat is jou mening daaroor?

Dit is `n belangrike onderwerp. Mens moet onderskeid tref tussen gewigte (weights) en jou eie liggaamsgewig en rekke waarmee jy kan oefen. Enige oefening waar jy jou liggaamsgewig gebruik, is 100% en kan net `n goeie bydrae tot jou kondisionering lewer. Sodra dit kom by gewigte in die gimnasium moet jy baie versigtig oefen omdat dit jou groeiplate kan beskadig. As daar met gewigte geoefen word, sal ek toesighouding en advies van `n spesialis of ‘n kenner aanbeveel. Sommige jongmense se groeiplate gaan op ‘n vroeë (veertien- en vyftienjarige) ouderdom toe en ander eers op ‘n latere ouderdom (sewentien- tot agtienjarige ouerderdom). Wees daarom baie versigtig om te vroeg, sonder toesig en advies van ‘n kenner, met gewigte te begin oefen.

Hoe belangrik is rugbystatistiek soos die aantal duikslae, meters gehardloop, ens. vir jong spelers?

Ek dink vir laerskoolspelers moet dit net gaan om die spel te geniet en selfs tot in die hoërskool ook, maar as jy `n meer ernstige rugbyspeler is, dan raak statistiek al hoe belangriker en kan dit vir jou belangrike dinge uitwys. Dit moet egter nie só belangrik raak dat dit die lekkerte uit rugby haal nie. Wat is daardie lekkerte? Dis die tye saam met jou vriende, in die tokkamer, die spangees, die kringetjie voor en na die tyd, die Maandag se praat oor Saterdag se wedstryd. Dís die goed wat mens onthou.

Wat sou jy sê is ouers se rol op laerskool en op hoërskool?

Ouers moenie die lekkerte uit die sport vir hulle kinders haal deurdat hulle te ernstig daaroor is nie. Volgens my is ‘n ouer se belangrikste rol om hulle kinders te ondersteun. Probeer die afrigting vir die afrigters los, en as jou kind ernstig is oor sy sport, leer hom dan dat dit harde werk vat om bo uit te kom. Daar is niks verkeerd om ekstra tyd in te sit nie. Weer eens is dit die belangrikste dat hulle rugby geniet. Die ou wat dit maak, is die ou wat rugby ongelooflik baie geniet, want die opofferings wat jy moet maak, kan jy nie maak as jy nie lief is vir rugby nie en sonder daardie liefde vir die spel, gaan jy nooit genoeg dryfkrag hê nie. Jy moet as speler eienaarskap neem. Wat is eienaarskap? Dis nie die afrigter se werk alleen om seker te maak jy raak beter nie, dis jou werk om seker te maak dat jy elke dag verbeter. Afrigters is net daar om jou te help en te fasiliteer. Dis nie jou ouers se werk om seker te maak jy gaan oefen nie, dis jóú werk.

Is daar ‘n ouderdom waar jong spelers hulself in ‘n posisie moet begin vestig?

Daar is nie `n vaste resep nie. Jy moenie senuweeagtig raak as jy nie in `n posisie vestig nie – it will come to you. Daar is internasionale spelers wat tot in matriek nog in ander posisies gespeel het as toe hulle hul nasionale span gehaal het. In Frankryk speel `n ou soos Mathieu Bastareaud flank vir Toulon in sommige wedstryde en senter vir Toulon in ander. Hy het Frankryk op senter verteenwoordig.

Wat dink jy is die vlak van skole rugby in S.A in vergelyking met die res van die wêreld?

Ek dink ons skole rugby is op `n hoë en professionele vlak. Daar is baie min ander lande se skole wat met ons kan meeding. As jy kyk wat party skole oorsee aan hulle rugbyprogramme spandeer, is daar party van daardie skole wat meer aan hulle rugby spandeer as party van ons kleiner plaaslike Currie Cup - unies. In vergelyking daarmee is dit dan eintlik ongelooflik hoe goed ons is. Daar is verskillende ontwikkelingsprogramme vir jong spelers wat gevolg kan word en dit verskil van land tot land. Baie van ons sukses op seniorvlak is omdat ons kontakvaardighede reeds baie vroeg op skool ontwikkel word. Sommige oorsese lande se ontwikkelingsprogramme vir jong spelers fokus op skool egter meer op balvaardighede en individuele vaardighede. Dit is belangrik om te noem dat daar nie ‘n regte of verkeerde jong speler ontwikkelingsprogram is nie. Elke land doen wat vir hulle die beste is.

Waarop dink jy moet laerskoolleerders en hoërskoolleerders in terme van spel en tegniekontwikkeling fokus?

Werk maar net aan jou vaardighede soveel as wat jy kan. Jy kan nooit te veel vaardighede hê nie. Jy kan nie té veel tyd aan vaardigheidsontwikkeling spandeer nie. Spelers met visie word beslis raakgesien. Kyk byvoorbeeld na Lionel Messi. Hy het 676 keer in die wêreldbekersokkerfinaal gescan waar die spasie is en wat om hom aangaan. Leer van vroeg af die gewoonte aan om die heeltyd te kyk wat op die veld aangaan en waar daar moontlike geleenthede en spasie is om te speel. Dis seker die beste vaardigheid waaraan jy as `n speler aan kan werk.

Scan die QR kode en kyk die video van Lionel Messi sescanning vaardighede:

Kom ons praat Springbokrugby. Daar is onlangs genoem dat julle as ‘n groep eintlik destyds meer op 2023 gefokus was, en dat 2019 se wen ‘n bonus was. Wat sê jy?

Jy is 100% korrek. Toe ons afrigtingspan in 2018 begin het, was Bok-rugby op die veld (resultaat-gewys) in daardie stadium op`n laagtepunt en om dinge te kon omdraai en `n kans te staan om die 2019 Wêreldbeker te kon wen, moes ons `n plan bymekaar sit wat ons `n kans sou gee. Ons het besluit om met die Bokke se sterk punte te speel en dit was om fisies te wees. Dit is nou vyf jaar later, en al het ons baie tyd tydens Covid verloor, het ons kans gehad om spelers se diepte in alle posisies te vergroot, om aan individuele vaardighede te werk. Baie faktore speel `n rol en daarom kan sukses nie verseker word nie, maar ons is in `n goeie posisie. Daar lê egter nog harde werk voor om die laaste dinge in plek te sit voor die Wêreldbeker se afskop.

Die wêreldbeker lê voor. Wat was jou hoogtepunt tot sover as Springbokafrigter?

Op die veld, as hoofafrigter, was dit verseker om die Britse en Ierse Leeus te kon klop. Vir twintig maande het die spelers mekaar nie gesien nie, en om op so `n kort kennisgewing bymekaar te kon kom, saam met al die uitdagings wat met Covid gepaardgegaan het, en die reeks te wen, was `n baie groot hoogtepunt. Omdat ons net elke twaalf jaar teen die Britse Leeus speel, kry min afrigters die kans om die Bokke teen die Britse en Ierse Leeus af te rig. Dit was dus vir my as afrigter `n groot voorreg. Neem ook in ag dat die Leeus teen Australië geseëvier het en die reeks teen die All Blacks gedeel het. Sou ons verloor het, sou die Leeus onoorwonne teen die drie Suidelike Nasies gewees het en dis wat hierdie oorwinning soveel lekkerder gemaak het.

Af van die veld is my hoogtepunt om te sien hoe spelers ontwikkel en hoe hulle gemaklik raak in die span; hoe hulle groei as mense binne spanverband; as volwassenes en met die media, asook hoe hulle meer verantwoordelik raak en hoe hulle profiel ontwikkel.

Elke speler in die groep is uiteraard besonders talentvol. Wat is jou fokus ten opsigte van afrigting per individu, asook om die spelers te bestuur aangesien hulle almal hoë profiele het?

Ek glo nie dis ons afrigtingspan se rol om die individuele spelers se profiele te bestuur nie. Hulle is volwasse mans met hulle eie families en dit is hulle eie verantwoordelikheid om na hulle profiele om te sien. Al wat ons bestuur, is hulle rolle in die span en om oop en eerlik met ons spelers te wees ten opsigte van hul eie spel - die positiewe en negatiewe dinge uit te wys, aspekte uit te wys waaraan hulle kan werk en dit saam met hulle te monitor. Ons ondersteun hulle as individue, maar aan die einde van die dag is geen indiviuele spelersprofiel groter as die Bokke se profiel nie.

Ons probeer die spelers ook leer dat dit hulle keuse is om kommentaar op sosiale media te lees, maar uiteindelik is dit die speler se eie keuse dat indien hy die goeie kommentaar wil glo, moet hy die slegte kommentaar ook aanvaar. Ons verkies daarom dat spelers nie eintlik sosiale media volg nie en eerder ons as afrigters se kommentaar en opinie oor hulle spel moet glo. Sosiale media is nie die realiteit nie.

RESIDENTIAL, COMMERCIAL & INDUSTRIAL ALUMINIUM

Uiteraard is julle mikpunt om die wêreldbeker te wen. Is julle tevrede dat julle op hierdie stadium daar is waar jy wil hê julle moet wees?

Ek dink ons is. Ons het baie goed gedoen in ag genome dat ons baie tyd in 2020/2021 met Covid verloor het. Ons plan na 2019 was om aan spanontwikkeling en groei te werk, want daar was nie so baie tyd daarvoor voor die 2019 Wêreldbeker nie (net 18 toetse). Met spanontwikkeling bedoel ek die diepte per posisie en vaardighede van die individuele spelers. Hierdie proses het veroorsaak dat die uitslae op die veld soms daaronder gely het, maar dit het ons ook in `n baie beter posisie geplaas, deurdat ons spanontwikkeling en individuele vaardighede op `n beter vlak as in 2019 is. Deur hierdie roete te volg, het ons veral in 2022 baie spelers gesien wat na vore getree het en wat Bok-rugby soveel sterker gemaak het.

Hoe belangrik is jou wenrekord, aangesien dit op `n gereelde basis saam met vorige afrigters se rekords gepubliseer word?

Uit die aard van die saak verloor jy jou werk as die span nie wen of presteer nie. Die uitdaging is altyd om genoeg spelersontwikkeling te doen sodat jy nie net `n spelersdiepte van 15-22 spelers het nie. Indien jy dit kan regkry om as span te presteer, maar ter selfder tyd spelersdiepte te vergroot, vaardighede te verbeter en meer wedstrydstrategië in jou arsenaal te hê, dink ek is `n mens op die regte pad, want die einddoel om `n potensiële Wêreldbeker te wen, bly tog die belangrikste.

Baie mense wonder wat jou rol is en wat Rassie se rol is?

Die Direkteur van Rugby en die hoofafrigter van die Springbokke het verskillende pligte en rolle. Die maklikste beskrywing is dat ek verantwoordelik is vir wat op die veld gebeur en Rassie is verantwoordelik vir dit wat van die veld af gebeur. Dit is egter baie simplisties en bietjie meer kompleks as dit, maar dit is die maklikste om ons rol en pligte verdeling te beskryf. Ek en Rassie kom al `n lang pad saam. Ons het `n goeie werksverhouding en deur wedersydse respek beteken dit ons lewer insae oor en weer in mekaar se rolle, maar aan die einde van die dag staan ons elkeen pa vir ons resultate in ons onderskeie afdelings.

Hoe is die aanloop van Saterdag tot Saterdag voor ‘n toets?

Die Sondag na die Saterdag se wedstryd begin ons die Sondagoggend met medicals. Sondae is ook gewoonlik ons reisdag na ons volgende bestemming. Dit is die verantwoordelikheid van die spelers om dan hulle eie spel te analiseer (wat al die Saterdagaand vir hulle aangestuur word), waarna hulle deur die loop van die Sondagaand individueel met ons afrigters kan ontmoet om dit te bespreek, sou dit nodig wees. Sondagaande kom die afrigters bymekaar om die komende Saterdag se strategie te bespreek. Maandagoggende hou ons videosessies saam met die span, waar die vorige wedstryd ontleed word. Van Maandag tot Woensdag word daar geoefen. Die spelers se “naweek” begin Woensdagmiddae tot Donderdae waartydens hulle kan ontspan en hulle eie ding doen. Vrydae is kapteinsoefening afhangende van wanneer die veld beskikbaar is wat dan deur die kaptein gelei word. Dit neem nie sommer langer as 30 minute nie. Op `n wedstryddag begin ons al ses ure voor afskop met ons interne programme.

Jy was voor Springbokrugby betrokke by Munster. Wat het jou laat besluit op Leinster (hulle grootste vyand)?

Man, dis maar soos enige werk. Daar was `n pos oop en ek is genader en het die pos gekry.

Kan ons jou eendag terug verwag?

Definitief. `n Rugbyafrigter se paaie kan deur baie spanne en lande loop, maar op die ou einde is ek `n Suid-Afrikaner en `n trotse Bok-ondersteuner en as die geleentheid hom voordoen, dan kom ek terug. Oorsese afrigting stel `n mens bloot aan ander afrigtingstyle en nuwe tegnieke wat goed is vir my as afrigter en hopelik kan mens dit weer eendag in jou eie land terugploeg.

Baie sterkte aan julle. Ons wil vir jou dankie sê vir die rol wat jy in Springbokrugby gespeel het, die voorbeeld wat jy gestel het, asook jou nederigheid en die manier waarop jy jouself in hierdie groot pos dra. NET EEN

Bring die Wêreldbeker

This article is from: