PAROW
B u r g e r E-pos: tyger@dieburger.com
Woensdag 28 Maart 2012
WEST COAST VILLAGE OPENING END APRIL www.starkeayresgc.co.za
Tel: 021 910 6500
Faks: 021 910 6501
) Skietdrama tydens OTMroof
Dit was so hittete... MARANA BRAND VAN HULSTEYN
’n Skroef van 4 cm lank is moontlik al wat Maandagoggend omstreeks 02:30 tussen die koeëlpunt van ’n AK47 en Coenraad Groenewald se lewe gestaan het. “Vanaand gaan ek eers lánk bid, en dan iets drink,” het ’n moeë Coenraad, eienaar van die De Tyger Kwik Spar in Frans Conradie, waar die Absa-kitsbank Maandagoggend deur ’n bom verwoes is, aan TygerBurger gesê. Hy en sy skoonseun Luke Geldenhuys, bestuurder van die Kwik Spar, het ter nouernood aan die dood ontkom toe hulle tydens die bomaanval by die Spar opgedaag en die aanvallers op hulle losgebrand het. Hulle het van die aanval te hore gekom toe een van hul sekuriteitswagte, Frincis Nkoy, vir Coenraad gebel het van onder die voertuig waar hy geskuil het. Sy “broer”, Declau Mpukuta, is in daardie stadium met die loop van ’n AK47 teen sy nek, gedwing om te lê en sy oë toe te hou. Frincis was aan die agterkant van die gebou besig om die terrein te bewaak, terwyl Declau aan die voorkant naby die Tygerberg-dierehospitaal gesit het. Declau het gesien hoe ’n blou BMW-driereeks met gerookte ruite twee maal stadig in Frans Conradie verby die winkel ry. Dit moes vir hulle gelyk het of daar niemand by die winkel is nie. Die volgende oomblik het die kar voor die winkel gestop, maar die ligte het op Declau geval en een van hulle het uitgespring en hom platgedruk. Sy selfoon is ook onmiddellik buite aksie gestel, het Declau gesê. “Maar ek het gesien my broer het gesien en toe onder ’n Golf weggekruip. Gelukkig het ek voorheen al twee keer ’n vuurwapen teen my
nek gehad in die Kongo. Ek kon maklik stil lê.” Dis toe dat Frincis vir Coenraad, wat naby die winkel bly, bel. “Ons het afgejaag terwyl Luke die polisie bel. Toe hoor ons ’n helse slag. Toe sê Luke: ‘Pa, daar gaan die ATM’,” het Coenraad vertel. Daar was oral rook en stof en skrapnel en hulle kon nie mooi sien toe hulle die parkeerplek voor die winkel binnery nie. Toe hulle langs die BMW beland en in daardie breukdeel van ’n sekonde deur die oop bestuurdersvenster sien hoe almal in die voertuig platval, het hulle besef hierdie is nie gewone inbrekers nie. Hulle het onmiddellik versnel, maar die man wat Declau aangehou en op daardie oomblik op die hoek van die winkel gestaan het om dekking vir die bomplanters te verskaf, het op hulle losgebrand. “Ek het nog met die polisie gepraat. Ek skree toe net: ‘Hoor jy hulle skiet op ons!’ Die adrenalien het gepomp. Dit het geklink of ek in ’n movie is. Ek het agtergekom ek voel nog okay. Ons het by die agterkant van die parkeerarea uitgery. Die mans het weggejaag. Toe ons omdraai en weer voor die winkel stop, was die polisie langs ons,” het Luke vertel. Eers het hulle gedink daar was meer skote, want een koeëlpunt wat deur gepantserde metaal kan dring, is by die agterkant van die bakkie in – reg in lyn met Coenraad, wat bestuur het – maar het hom nie bereik nie. Nog ’n gat lyk of ’n koeël Luke tussen die blaaie moes tref – maar dit het nie. Uiteindelik is vasgestel dat daar twee skote was: Een skoot was mis. Net een was deur die bakkie. Een koeëlpunt het ’n skroefie aan die agterkant van die bakkie 100% in die middel getref, wat die punt verdeel het. Die een deel het agter Luke opgeslaan en die ander het aan die kant van die bakkie uitgekom. . Na bladsy 2.
Coenraad Groenewald (links) en sy skoonseun Luke Geldenhuys by die bak kie waarin hulle Maandagoggend vroeg gery het toe mans wat die OTM voor hulle De Tyger Kwik Spar opgeblaas het, op hulle geskiet het. Voor is die plek waar die een koeëlpunt die bakkie op 'n skroef kop binnegedring het. Die skroef het die koeëlpunt verdeel waarna een deel uitge kom het by die plek wat Luke aanwys. Foto: Marana Brand van Hulsteyn