Kruispad #4

Page 1


1


Hi almal!

ONS as redaksie is besonder opgewonde oor hierdie uitgawe! Nie net is die amptelike en offisiële bekendstellingsuitgawe van Kruispad nie, maar dit is ook die bekendstelling van ons splinternuwe, super-interessante, uiters interaktiewe, heavy cool webblad (oftewel Kruispad.net)! Gaan check dit nou dadelik uit! Hierdie uitgawe se tema, “Watokal... Hy wil, sal ek kies” handel hoofsaaklik oor keuses maak. In #1 tot #3 het God ons tot geloof gelei, ons oorreed om ’n nuwe lewe tot sy eer te lei, en ons gemotiveer met die wete dat Hy ons daarvoor sal toerus (#3). Nou kom ons by die praktiese gedeelte! Ons moet begin om elke dag, uur-vir-uur en minuut-vir-minuut vir Hom te leef. En ons doen dit deur tussen verskillende goed te kies. Wanneer jy ’n keuse tussen twee goed moet maak, is een altyd meer God se wil as die ander. Byvoorbeeld: Om bloot nie by ’n partytjie jouself in ’n besope toestand in te drink nie, is minder God se wil as om heerlik met jou vriende om ’n braaier te gesels en (skoon!) grappe te vertel. Dieselfde geld ook vir ernstiger, meer onduidelike keuses: Om ’n middelklas, onderbetaalde onderwyser te word, is dalk eerder God se wil vir jou as om ’n CEO van Absa te word! Ons hoop om in Kruispad #4 vir jou ’n bietjie leiding te gee oor alledaagse-, sowel as toekomskeuses. En noudat ons ’n splinternuwe, super-interessante, uiters interaktiewe, heavy cool webblad (oftewel Kruispad.net) het, kan jy gerus daarop met jou mede-Kruispad-lesers gesels oor die moeilike besluite wat jou tans in die gesig staar. Mooi bly tot #5, en sien julle in Cyberspace! Adri! ;-) red@kruispad.net

2


Deur ds. Fanie

Hoe

Coetzee (leraar

van die Gerefor

meerde Kerk Po

tch-Noord)

EENVOUDIG sou die lewe nie daarsonder gewees het nie...? ...Hoe VERVELIG sou die lewe nie daarsonder gewees het nie?

Dink ’n bietjie en verwonder jou daaroor dat God aan jou die voorreg gee om te kan kies. Jy kan na twee dinge kyk en kies watter een die beste is. Jy kan “ja” sê of jy kan “nee” sê. Jy kan voorkeure hê en jy kan afkeure hê. Jy kan besluit wat is goed en jy kan besluit wat is sleg. OF KAN JY? Ja! God het ons as mense geskep met die vermoë om te kan kies tussen reg en verkeerd en tussen goed en sleg. Juis omdat Hy die mens na sy beeld geskep het, het die mens, anders as diere, hierdie vermoë. Omdat Hy die mens na sy beeld geskep het, plaas Hy die mens in die paradys met ’n keuse om van die Boom van die Lewe te eet of nie. Nee! Die mens kan nie kies nie, want die mens het gekies. Hy het verkeerd gekies. Hy het homself gekies. As gevolg van dié verkeerde keuse word sy keuses vir altyd beïnvloed. Hy het die vermoë om die goeie te kan kies, verloor. Sy geneigdheid is nou om teen God en sy naaste te kies. As God die mens nou aan sy eie keuse oorlaat, sal hy nooit weer reg kies nie. Ja! Die gelowige mens kan kies, omdat God – Wie kan kies en altyd reg kies – gekies het om Homself weer aan mense te verbind. Hy kies om sy Seun na die wêreld te stuur om mense te red. Volgens sy keuse bring Hy verlossing vir mense. Hy maak van mense nuwe mense. Hy gee sy Heilige Gees om hulle te omvorm, nuut te skep. Hy stel hulle weer in staat om reg te kan kies. Hy herstel die beeldskap.

Die eerste verkeerde keuse van die mens is in die tuin van Eden gemaak. Ons beeld ‘n moderne, tong-in-die-kies Adam en Eva uit: hy oorweeg om ‘n hap te vat en sy glimlag vir sy besluiteloosheid. Die situasie word natuurlik fyn dopgehou deur die slang...

3


Nou, jong gelowige, omdat God jou gekies het: - KAN jy weer kies. Kies om die Here te dien. Kies om die goeie te doen. - MOET jy kies. Dit is jou verantwoordelikheid. - WIL jy kies. Wat ook al Hy wil. Hoewel bogenoemde die basis vorm van my lewe, beteken dit nie dat alle keuses nou vanself vir my duidelik gaan word nie. Dalk is die teendeel waar. Soms moet jy tussen reg en verkeerd kies. Mag die Here jou deur sy Woord en Gees lei om wat reg is te kies. Soms moet jy tussen reg en reg kies. Mag die Here baie sulke keuses oor jou pad bring. Soms moet jy tussen verkeerd en verkeerd kies. Mag die Here hierdie keuses van jou af weghou. Ontspan dus en maak jou keuse. Gelukkig weet ek dat my keuse altyd onderhewig is aan God se keuse vir my. Gelukkig hoef ek nie my keuse alleen te maak nie. Gelukkig bepaal God my toekoms en word dit nie bepaal deur my keuse nie. Gelukkig kan en wil God uit my regte en verkeerde keuses die goeie laat geskied.

4

Selfs al maak jy met opregte bedoelings ’n verkeerde keuse, kan jy weet dat die Here vir jou die goeie gekies het. Hy vergewe. Hy herstel. Daar is gelukkig net een ewigheidskeuse en dit het God reeds gemaak. Hy het jou sy kind gemaak. Kies om dit in die geloof te aanvaar. Alle ander keuses is nie ewigheidskeuses nie. Ja, party keuses het ’n veel groter invloed op jou lewe as ander, soos wanneer jy byvoorbeeld jou huweliksmaat kies. Maak biddend hiervan seker. Jy kies immers nie om te trou, sodat jy weer kan skei nie. Die meeste ander keuses is nie ewigheidskeuses nie. Dit kan meestal omgekeer word. Dit kan meestal reggestel word. Jy kan vergewe word as jy verkeerd kies. Moet daarom nie bang wees om te kies nie. As gelowige dobbel jy nie met jou lewe nie. Jy gee dit oor in die hand van Hom wat die toekoms in sy hand het. Jy soek sy wil. Jy maak jou keuses. Jy weet dat niks – ook nie jou of ander se dom keuses – jou kan losruk uit die liefde van God in Jesus Christus nie.


Een van die moeilikste aspekte van loopbaankeuses is die verskeidenheid opsies. Dis amper soos ‘n fabriek se voerband wat gedurig nuwe moontlikhede produseer (in die vorm van verskillende hoede hier). As jy jouself ken, is dit makliker om die regte hoed te kies!

5


Geskryf deur Paul Basson, ’n Kruispad-leser.

gaan ek met my lewe doen? Dit is een van die grootste vrae waarmee elke jongmens gekonfronteer word. Deesdae maak al die opsies dit soveel moeiliker om te kies. Gaan ek werk of gaan ek verder studeer? Watter kursus moet ek studeer? Moet ek dalk sommer afvat en die wêreld gaan sien? Ons wil almal geld maak en gelukkig wees. Ons ervaar ook almal die druk om ’n besluit te neem. Hoe pak jy hierdie belangrike stap in jou lewe aan? Wat moet ek doen? is egter die verkeerde vraag om te vra. Die antwoord lê eerder opgesluit in ’n ander vraag: Wie is ek? “Jy moet jouself ken. Al help dit jou nie om die waarheid te ontdek nie, help dit jou ten minste om jou lewe te bestuur, en niks is meer geskik nie,’’ (Blaise Pascal). Deur selfkennis vind jy uit wat om met jou lewe te doen. Dit gaan oor jou natuurlike self. Wat maak jou opgewonde of moedeloos? Wat is jou waardesisteem? Hoe kommunikeer jy en hoe hanteer jy konflik? Het jy ’n rustige, vurige of angstige persoonlikheid? Wanneer werk jou brein en logika die beste? Wanneer jy feite onthou en weergee, berekeninge doen, logies redeneer, besluite neem, filosofeer? Wat kom vir jou natuurlik en wat doen jy met moeite? Wat is jou talente? Is jy meer gemaklik om te lei of om te volg? Dit is verskriklik belangrik dat jy absoluut eerlik met jouself is wanneer jy hierdie vrae beantwoord. ’n Mens maak baie maklik die fout om jouself op te som soos wat jy daarvan sal hou om te wees. Die volgende uiters belangrike aspek is volwassenheid. Dit gaan daaroor of jy met sekerheid jou eie keuses kan maak en die verantwoordelikheid daarvoor kan dra. Volwassenheid het nie noodwendig te doen met hoe slim of hoe oud jy is nie. Nou: Jou beroep is ’n roeping, nie ’n werk nie. Jy word gebore met sekere talente, dus is daar beroepe waarin jy natuurlik sal presteer. Hoe weet ek wat my roeping is? God gee vir jou leidrade deur jou talente. God seën jou pad wanneer jy dit met geloof en oortuiging aanpak. Deure sal vir jou oopgaan, of Hy sal selfs deure toemaak as dit nie sy goedkeuring dra nie.

6

Die enigste manier om ’n mislukking van jou lewe te maak, is wanneer jy nie as ’n kind van God leef nie. Dit is jou primêre identiteit. Wat jy in jou beroep doen is net ’n manier waarop God om jou te gebruik in sy koninkryk. Daar is beter en slegter keuses wat jy kan maak wanneer jy jou talente aanwend, maar jy het die voorreg om te kies. Hy verwag van ons net goeie rentmeesterskap met dit wat Hy vir ons gee. Ongelukkig word geld en sukses soos wortels voor ons neuse geswaai wanneer ons beroepskeuses moet maak. Hiermee veroorsaak Satan verwarring en ongelukkigheid wat soms ’n leeftyd lank kan duur. Vermy daarom vergoeding en aansien as die grootste oorwegings wanneer jy jou keuse maak. So hoe weet ek dat ek in die regte rigting beweeg? Jy ervaar innerlike vrede, voel energiek en opgewonde, en geniet dit wat jy doen ten spyte van harde werk. Die verkeerde rigting tap jou geestelike energie en beroof jou van opgewondenheid en kreatiwiteit. Jy moet self jou opsies uitsorteer. Wat is eerder net belangstellings of stokperdjies, en wat sal jy wil doen as ’n beroep. Met ander woorde, waarmee sal jy jouself produktief wil besig hou vir die grootste deel van jou dag en jou tyd. Jou beroep raak immers ’n lewenstyl! ’n Mens moet só versigtig wees om nie ’n oorhaastige besluit te neem nie, veral wanneer jy verder wil gaan studeer. Jongmense het meestal die voorreg om ’n bietjie te speel vir tyd na skool. Gebruik gerus die tyd om die wêreld te sien, te werk en te groei. Jy hoef glad nie bang te wees dat jy jou vermoëns sal verloor nie. Die belangrikste is dat jy jouself reg moet oriënteer vir dit wat voorlê. Wanneer jy werk, doen iets wat jou talente verder sal ontwikkel. As jy wil studeer, kies ’n rigting wat vir jou die beste toerusting sal gee en wat getrou aan jou karakter is. Ons hoef nie een beroep te kies en dit vir die res van ons lewe beoefen nie. Ons moet net op die regte plek begin.


“DAAR

is mense wat sê: ‘Alles is my geoorloof.’ Ja, maar nie alles is heilsaam nie. ‘Alles is my geoorloof,’ sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.” 1 Korintiërs 6:12.   Rocks, poppers, dakspykers en boomgom! Mmm… ek dink ons is so bang vir dwelms dat ons nie stop om vir mekaar te sê hoe dêm lekker dit is nie. Ja toe nou! Dink jy mense gebruik dwelms omdat dit hulle so aaklig laat voel? Vat nou maar Dagga. As jy genoeg van die regte goed rook is jy so hoog hulle moet die Brandweer gaan haal om jou daar af te kry. Opsoek na die ewige pienk wolkie… Dwelmgebruikers soek ’n rush, ’n gevoel van euforie, hulle wil wegkom van die werklikheid, van hulle persoonlike probleme, depressie en moeilike lewensomstandighede. En hulle is bereid om enigiets te gebruik om dit reg te kry, van onwettige dwelmmiddels soos speed tot voorskrifmedisyne en huishoudelike produkte soos benzene. Die uiteinde is altyd hartseer. Snaaks eintlik, nè? ’n Ou wat al klaar genoeg probleme van sy eie het, begin ’n ding gebruik wat hom net nog meer probleme gaan gee. Ek het ongelukkig nie genoeg spasie om jou van elke liewe dwelmmiddel en sy newe-effekte of die aakligheid van ’n dwelmleefstyl te vertel nie. Weet net dat jy nooit ooit die woorde volhardende dwelmgebruiker en suksesverhaal in dieselfde sin geskryf sal sien staan nie. Dwelms is ’n korttermyn ontsnappingsmiddel en veroorsaak langtermyn hartseer. Dis nooit DIE ANTWOORD op jou lewe of jou probleme nie. Watter tipe dwelms is die gewildste? Dit hang af. In laer inkomstegroepe word enigiets van dagga tot Tik gebruik – in hoër inkomstegroepe enigiets van e’s/acid tot kokaïne. Geharde gebruikers wat nie meer rondspeel nie, gebruik eerder heroïne, crack en crystal meth (ook bekend as Tik).

Hoe lyk dwelmmisbruik in skole? Moeilik om te sê. In Koster en Ermelo kry jy dalk meer met drank, dagga en poppers te doen, terwyl skole in Johannesburg hulle eie e-klub met ’n voorsitter en buitemuurse aktiwiteite het. Almal stem egter saam dat dit vinnig besig is om oral toe te neem. Wat maak ek as ek agterkom dat iemand by die skool dwelms gebruik? Ek weet dis ’n cliché, maar gaan praat met iemand in ’n gesagsposisie wat jy vertrou. ’n Onderwyser of berader by die skool, jou dominee of jou ouers – dis nou as hulle dit taktvol genoeg kan hanteer sodat jy nie die res van jou skoolloopbaan tydens pouses in die bosse moet gaan wegkruip nie. Hoe weet ek my vriend gebruik dwelms? Kyk na goed wat verander: gedragspatrone, persoonlikheid, ’n nuwe vriendekring, hy’s alewig platsak en op soek na geld, veranderde kleredrag, self-higiëne word afgeskeep, moeg en lusteloos, stel nie belang in sport of ander fisieke aktiwiteite nie, punte val skielik, ontwykende praatjies rondom sy doen en late – sjoe, daar is so baie tekens jy sal eintlik gou agterkom IETS is nie meer pluis nie. Hoe help ek my vriend? Jou vriend het heel moontlik probleme by die huis of met homself en nou’t hy gaan staan en stupid raak in ’n dom poging om dit beter te maak. Jy gaan sukkel om hom alleen te help. Daarom weer die cliché: Gaan praat met iemand in ’n gesagsposisie wat jy vertrou. Komaan, jy skuld jou vriend ten minste dit! Hoe bly ek weg? Kies jou vriende, kies jou vriende, kies jou vriende, kies jou vriende, jaag Christus na as die antwoord op die lewe en volg die opvoeding wat jou ouers jou gegee het. Sterkte en geniet die reis!

7


geskryf deur ds. Nico Grönum (leraar van die Gereformeerde Kerk Wierdapark)

8

Dwelmmisbruik is ’n bedrieglike ding: dit beloof ’n aangename belewenis (“die pienk wolkie”), maar die navolge kan dodelik wees (vandaar die kopbene in die hoofopskrif). Daar is egter altyd hoop en ’n uitkomkans, hier uitgebeeld as ’n verligte venster met ’n nooduitgang teken.


Rubriek verskaf deur Geopende Deure

MESKELE

se gesig is vertrek van smart. Die lewe het vir haar en haar sewe kinders ’n drastiese wending geneem. Meskele se man, Michael, is op 11 Oktober 2006 deur Moslem-ekstremiste om die lewe gebring. Hy sal onthou word vir die sagte gees waarmee hy na Moslems uitgereik het. Deur sy bediening het talle Moslem die ware vrede wat daar in God is, gevind. Ongelukkig was daar diegene wat ongelukkig was oor Michael se toewyding aan Jesus en sy laaste opdrag. Die week voordat Michael aangeval is, is verskeie Christenleiers deur ekstremiste gedreig. Hulle kerk is op Maandag, 9 Oktober afgebrand. Michael het almal aangemoedig om nie angsbevange te wees nie. Die aand waarop hy vermoor is, het hy vir oulaas ’n biduur by een van sy vriende se huis gelei en die Woord met hulle gedeel. Hy het eers laataand tuis gekom. Omstreeks twee-uur daardie oggend het die aanvallers aan sy deur geklop. Hulle het die deur afgeskop en sy huis binnegestorm. Daarna het hulle hom uit sy huis uitgesleep en vir ’n verskrikte Meskele en haar kinders beveel om die volgende dag by die Moskee te gaan aanbid. Die ekstremiste het Michael op sy eie werf omring en hom probeer dwing om die shaá da te bely. Hy het nie die Islamitiese geloofsbelydenis geken nie en het dit vir hulle gesê. Hulle het hom beveel om dit agter hulle aan te sê. Michael het in Oromo, sy moedertaal, die volgende geantwoord: “Ek glo in die Naam van die Vader, sy Seun en die Heilige Gees – een God.” Sy aanvallers het hom met ’n

skerp wapen ’n hou in sy nek toegedien. Michael het steeds Jesus as Here erken. Hulle het sy arm met die machete gesteek. Weer het Michael sy geloof in Christus bely. Teen die derde hou was Michael se liggaam met bloed deurdrenk. Sy dogter het gepleit dat die ekstremiste nie haar pa moet doodmaak nie. Maar dit was tevergeefs. Meskele en al haar kinders kon net magteloos toekyk hoe die gebeure voor hulle afspeel. Soos die houe op Michael neergesak het, het hy geweier om Jesus te verloën. Nadat sy aanvallers hom ’n laaste keer agter sy nek geslaan het, het hulle van die toneel af verdwyn. Michael het nog gelewe. Sy getraumatiseerde gesin het probeer om hom te help. Daar was niemand anders wat hulle kon bystaan nie. Michael het gesterf, terwyl hy vir sy gesin gebid het. Meskele en haar kinders woon in ’n afgeleë deel van Ethiopië. Hulle is nogsteeds te bang om na hulle eie huis terug te keer. Ten spyte van al die trauma waardeur hulle is en al die tye wat hulle regtig mismoedig voel, is Meskele en haar kinders vasbeslote om Christus te volg, selfs deur hierdie doodsvallei. Vir verdere inligting rakende vervolgde Christene wêreldwyd besoek ons webwerf by www.opendoors. org.za   Meskele het in Meimaand geboorte geskenk aan haar en Michael se sewende kind.

9


Ons het vir die kampgangers van Nooitgedacht Senior Hoërskoolkamp die volgende vraag gevra: “Wat is die moeilikste besluit wat jy al ooit moes neem?” Hier is ’n paar van hulle antwoorde (ons het besluit om al die antwoorde maar liewers anoniem te publiseer...) - Om te besluit of ek emosioneel reg genoeg is om te gaan kuier, ver van my ma hulle af (dis nou al lank terug). - Ek moes in gr. 3 besluit of my kêrel met my beste maatjie ook mag kys. Hy’t vir my ’n briefie geskryf en gevra of hy kan, want sy lyk vir hom so eensaam... Wel... Ek’t gesê dis reg en ons was altwee met hom gekys! Ha-ha! - My keuse oor die beroep wat ek na matriek moet volg. Dan ook waar ek wil gaan swot. Ek sukkel met die feit dat ek my droom wil navolg, nl. argitektuur. Maar Potch bied nie die kursus aan nie, wat beteken ek gaan nie swot wat ek nog altyd wou gaan swot het nie. Die gevolg is dat ek iets gaan swot wat glad nie vir my lewensvervulling gaan gee nie of ek gaan iewers swot wat nie lekker gaan wees nie. - Om die Here aanvaar as my Saligmaker, opgehou drink, opgehou rook, probeer op te hou sondig. - Om te kies tussen jou vriende of iets wat ek moet doen, maar die iets het te doen met die kerk en dat ek moes help. - Of ek na ’n nuwe gemeente moet skuif terwyl ek klaar soveel ondersteuning by my huidige kerk ontvang. - Om te besluit wat ek met die res van my lewe gaan doen. - I really don’t know. I’ve made lots of choices. - My moeilikste besluit was om ’n ou vriend af te skryf. Hy het gevloek en sulke goed en my ouers wou hê ek moet hom afskryf. Ek het toe nie besluit om hom af te skryf nie, maar dit het so gebeur dat hy moes trek. Maar ek moes eintlik hom reggehelp het. - Watse kos om te bestel in ’n restaurant. - My vriende wat my lewenswyse verander. - Of ek moes rook of nie. Groepsdruk. - Om iemand te vergewe vir iets wat hulle gedoen het wat jou verpletter het.

10

- Om nee te sê vir rook. - Om van jouself te deel met iemand anders wat jy nou net ontmoet het. - Óf en wát ek moet swot. - Om te aanvaar dat my niggie nie meer met ons is nie. - Keuses tussen vriende, reg of verkeerd. - Moet ek my ma-hulle sê oor iets wat ek gedoen het? - Of ek ’n roeping het. - Roeping. - Om tussen 2 mense wat jy liefhet te kies, want ek het altwee lief. - Studierigting. - Ek maak nie van ’n besluit ’n probleem nie. - Om te besluit of ek hierdie jaar vir my koshuis se HK moet staan. - Of ek moes aangaan met ’n vriendskapsverhouding of dit meer moes maak. - My moeilikste besluit was toe ek moes kies tussen my vriende gelukkig te hou of myself gelukkig te hou.


DIE Gereformeerde Kerk Rietvallei bied elke Sondagaand om 18:30 hulle kontakdiens aan. Hierdie diens is daarop gemik om persone wat kerkloos of kerklos is weer terug te bring op die pad van die Here. Ons nooi alle Kruispad-lesers en hul vriende uit om hierdie geleenthede by te woon met die doel om uiteindelik ’n aktiewe lid van die gemeente te word. Kom ervaar God se Woord saam met hulle op ’n meer informele, maar tog geestelike wyse. Kom vind uit hoeveel pret dit is om waarlik ’n kind van die Here te wees. Die kerkgebou is geleë te Umgenistraat 359, oorkant Hoërskool Waterkloof. Vir meer inligting, kontak gerus die kerkkantoor by 012 347 7362.

Lus vir ’n wegbreek? Moeg vir aanhou werk en geen rus nie? Vanaf 21 tot 24 September 2007 word daar ’n Wwesskamp aangebied in die omgewing van Rustenburg by die Stille waters Kampterrein. Die tema is “EK IS...Wie is ek?” en beloof om baie insiggewend te wees. Kostes verbonde aan die kamp beloop R400 per persoon. Vir meer inligting oor die Wwesskamp, kontak Dawid van Aswegen per e-pos (dawidv@nissan.co.za) of by 083 722 8454.

Op 6 Oktober 2007 word daar ’n Damesoggend by die Gereformeerde Kerk Eloffsdal aangebied, met Petru Wessels en Karel Trichardt wat ’n lenteprogram gaan aanbied. Kostes hieraan verbonde is R50 per persoon en sluit ’n ligte middagete in. Daar sal ook kunsuitstallings wees. Vir meer inligting kontak Minni Lotter by 012 335 3570.

Vir diegene wat in Londen is, of op pad is daarheen en nog nie gehoor het nie: Ons het laasjaar ’n Gereformeerde Kerk in Canada Water gestig. Vir meer inligting gaan na www.canadawaterkerk.com

Vanaf die 9de September bied die Gereformeerde Kerk Kaapstad ’n Alpha-kursus aan. Die kursus bestaan uit 10 sessies en sal Sondagaande om 18:00 begin. Enigiemand is welkom om dit by te woon. Kom ondersoek die basics van Christenskap en bring gerus vriende saam wat vrae het oor Christenskap en nie weet waar om die antwoorde te kry nie. Vir meer besonderhede, kontak ds. Griffel van Wyk (082 354 3726).

Die jaarlikse Boland-kamp word vanaf 21-26 September aangebied by die Mizpah kampterrein buite Grabouw. Betaal slegs R450 vir ’n bo-gemiddelde kamp wat heerlike uitstappies insluit. Die kamp is vir graad 7 tot 12 skoliere. Kontak gerus vir ds. Reinder Kingma 021 919 5893 of Jan van der Walt 021 853 8402 vir meer inligting.

11


www.Bybel.co.za HIERDIE is die webtuiste van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Met hierdie blad probeer hulle om soveel as moontlik mense te kry om die Bybel te lees, te bestudeer en te versprei. Het jy al ooit gesukkel om bepaalde terme in die Bybel vinnig op te soek? Die webblad is maklik om te gebruik en jy kan vinnig dele in die Bybel (in Engels of in Afrikaans) opsoek.

www.christiansunite.com Dit is nogal ’n baie oulike blad om te browse, maar is nie so gebruikersvriendelik soos ’n mens graag wil hê nie. Die blad skep ’n goeie indruk. Die cartoon afdeling is egter ’n probleemarea: die grappies mag in party se oë skerp wees, maar dié wat met betrekking tot God gemaak word, is nie so snaaks nie. ’n Oulike funksie is die games wat afgelaai kan word, dit is verniet en as jy sou sukkel is daar flash players beskikbaar wat die proses vergemaklik. Wat die inhoud betref is dit raadsaam om jou eie oordeel so ver as moontlik te gebruik.   www.faithclipart.com Nogal ’n oulike site. Buiten vir die clipart, kan jy ’n program, The Design Centre aflaai. Hiermee kan jy onder andere presentations, kaartjies & flyers ontwerp. Dit is maklik om te gebruik en teks-areas kan maklik vergroot word. Prente vanaf faithclipart kan ingetrek word en jy kan die dokumente in PDF-formaat stoor wat drukwerk vergemaklik.

www.BibleStudyGuide.org Dit is ’n webblad wat Bybelstudiebronne verskaf. Bybel e-boeke, Powerpoint presentations, interaktiewe Bybellesse en speletjies wat jou Bybelkennis toets is alles op die blad beskikbaar. Dit is die ideale webblad om te besoek vir diegene wat bietjie meer in diepte Bybelstudie wil doen.

12


Selfvertroue – die sleutel tot jou ware self Alan Loy McGinnis Christelike Uitgewersmaatskappy, 2007 ISBN: 978-1-86829-485-5   HIERDIE is nie net ’n boek wat aanbeveel kan word as jy jou selfbeeld wil verbeter nie. Dis ook ’n baie praktiese en leesbare gids waarin jy kan ontdek hoe om innerlike krag te kry, verwerping te hanteer, jou uniekheid as mens te ontwikkel, perspektief te behou oor jou tekortkominge, en soveel meer. Die mate van sukses wat ons behaal in verhoudings, sport, ons finansiële sake en liefde word grootliks bepaal deur ons selfbeeld. Daar is mense wat suksesvol is op elkeen van hierdie gebiede. Dit kom voor dat hulle sukses soos ’n magneet aantrek en hulle kry dit reg om die vervulling te vind wat ander heeltyd bly ontwyk. Wat is hulle geheim? Selfvertroue. Hulle twyfel nie aan hulle waarde as mens nie. Hulle weet ook waaraan hulle hulle waarde moet meet. In Selfvertroue wys Alan Loy McGinnis dat dit moontlik is om meer selfvertroue te kry. Die boek is vol praktiese riglyne, interessante verhale en staaltjies wat jou sal help om te groei in selfkennis sonder dat jy in die strik van selfaanbidding beland.

Ontdek die ware doel vir jou lewe – riglyne vir ’n doelgerigte en passievolle lewe Robin Chaddock Christelike Uitgewersmaatskappy, 2007 ISBN: 978-1-77000-334-7

vind om jou unieke lewensdoel na te streef en uit te leef. Die boek is prakties en help jou onder andere om jou primêre passie en sterkpunte te bepaal. Daarmee is jy dan in staat om: jou talente en gawes te gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak jou invloedsfeer positief te beïnvloed die beste na vore te bring uit die mense met wie jy daagliks te doen het en ’n intiemer verhouding te hê met God.   Doelgerigte gebed – ’n praktiese handleiding vir ’n vervullende gebedslewe Bennie Mostert Christelike Uitgewersmaatskappy, 2007 ISBN: 978-1-77000-387-3   DOELGERIGTE gebed is ’n praktiese gebedshandleiding. Dit is gebaseer op die beginsel van 30% kennis van gebed en 70% doen, want “’n mens leer tog bid deur te bid.” Die eerste deel van die boek is ’n handleiding met 40 onderwerpe wat jou stap vir stap wys hoe om die Skrif te bid. Elke onderwerp word ondersteun deur teksverse wat óf reeds verwerk is tot ’n gebed óf ’n riglyn kan wees vir jou eie gebed. Die tweede deel van die boek is ’n stu-diegids waarin jy jou daaglikse vordering gedurende die 40 weke kan meet. Die boek is ’n wonderlike hulpmiddel om te beweeg van ’n passiewe na ’n aktiewe gebedslewe, en te begin sien hoe wonderwerke in jou lewe gebeur!

Ons lewensdoel is nie iets wat ons dóén nie; ons lewensdoel is iets wat ons ís.   DIE meeste van ons is in dié fase van ons lewens waar ons van ons belangrikste keuses moet maak: keuses ten opsigte van ’n studierigting, ’n beroep, ’n lewensmaat, ens. Die meeste van ons besef ook dat die keuses wat ons nou maak die fondament lê vir die res van ons lewens. Robin Chaddock sê: “As jy die kans sou hê om van aangesig tot aangesig voor God te staan terwyl jy nog op aarde leef, en Hom te vra net wat jy wil, is die kans baie goed dat jy ’n vraag oor jou lewensdoel sou vra: Hoekom is ek hier? Wat wil U hê moet ek met my lewe doen?” Haar boek is ’n uitstekende handleiding waarin jy riglyne kan

13


Starfield Beauty in the Broken Sparrow Records/2006   EK moet eerlik wees, toe ek hierdie album die eerste keer in my CD-speler gesit het, het ek geen idee gehad wat om te verwag nie. En was ek aangenaam verras! “My generation is aching for real” is ’n aanhaling uit die eerste snit – My generation – van Starfield se nuutste album, Beauty in the Broken. Hierdie sin som sommer ook die res van die album op. Met ’n sterk Pop/Rock-klank, wat verbasend goed afgerond is vir ’n jong groep wat nog net vier jaar lank bestaan, is hulle lirieke reguit en draai dit geen doekies om nie. Aanhalings uit die Skrif kan op heelwat plekke duidelik gehoor word. Ander snitte, byvoorbeeld Great is the Lord en Glorious One, toon duidelik ’n intieme verhouding tussen God en die kunstenaars. Chris Tomlin, een van die grootste name in die Christelike musiekbedryf, is ook betrek met die snit Son of God. Hierdie is ’n groep wat gerus maar dopgehou kan word.  8/10

te in ’n klein dorpie buite Atlanta, VSA. Die groep is deur Steven Curtis Chapman raakgesien, wat hulle gehelp het om ’n belangrike platekontrak te onderteken. Die hele groep sien hulself steeds eerder as bedienaars, as ’n Christelike musiekgroep, en hulle is baie betrokke by hulle plaaslike gemeente. Mark Hall het ook tussendeur al die musiekbediening ’n webblad op die been gebring (www.jumpstartresources.com). Hierdie blad dien as hulpbron vir jeugleraars wat nie die ondersteuning van ’n groot gemeente het nie. Lifesong is nie ’n album wat ’n mens net vir die lekkerte luister nie. Dit het baie diep met my gepraat. Ek wens eintlik meer Christelike groepe wil dieselfde moeite as Casting Crowns doen. Kyk gerus ook uit vir hulle nuutste album, The Altar and the Door, wat binnekort op die rakke gaan verskyn. 8/10

Casting Crowns Lifesong Reunion Records/2005   BALLADE vir ’n enkeling kan gaan slaap. Hierdie is ballades wat elkeen wat daarna luister persoonlik raak. Lifesong, Casting Crowns se tweede album, is relatief bekend op die rakke, maar dit bly nog steeds ’n album wat reguit uit die Skrif uit praat. Boonop kan dit toegepas word op elke dag se doen en late. Casting Crowns het reeds ’n hele streep Grammy en Dove toekennings agter hulle naam en dit is duidelik dat hulle hul gawes aan God opdra. Hul musiek het ’n sagte rock-klank (dit neig amper om ballades te wees). Daar is egter ook ’n paar meer dramatiese snitte soos Set me free en In me, wat ’n sterk elektriese kitaar-klank het. Alhoewel die titelsnit, Lifesong, musikaal nogal teleurstellend is, maak dit tog die boodskap van die album baie duidelik. Soos die band bely in die verduideliking van Lifesong, “If my life does not worship Him, my songs don’t either.” Elke snit word vergesel deur ’n verduideliking, asook vewysings uit die Skrif. Dit is hoofsaaklik omdat Mark Hall, die sanger en liedjieskrywer van Casting Crowns, eers die Jeugleraar was van ’n gemeenDie resensieblad word met trots geborg deur:

14


15


16


17


18



Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.