Gesinsverklaring “Die Here is hier! Hy is ons Vader wat ons met Sy hele hart liefhet en ons is Sy kinders. Saam vorm ons ‘n geestelike familie wat die hele week liefde teenoor mekaar uitleef. Hier by ons samekoms word ons eenheid met Jesus Christus en met mekaar sigbaar. Ons doel is: Om Hom te loof en te eer; Om mekaar onselfsugtig te dien; en om in gehoorsaamheid aan Hom Sy beeld verder uit te dra, sodat ander Hom ook as Vader kan leer ken.”
Voorwoord Verskillende mense het verskillende redes om te oefen of nie te oefen nie. Constantiakruin kies hierdie Pinkster om te oefen aan ritmes wat ons vorm in mense wat deur Jesus se liefde gestuur word om in die kragveld van die Gees te leef as nuwe mense. Met die volgende sewe ritmes is ons doelgerig saam in die Gym en gaan ons oefen. Soos ‘n goeie oefenspan gaan ons as gemeente saam gesels en saam groei. Ons gaan doelbewus met mekaar die redes bespreek vir ons deelname aan die oefeninge. Ons gaan mekaar verantwoordbaar hou vir spesifieke verwagtinge en uitkomste aan die einde van elke oefensessies. Hou individueel en as groep van hierdie oefensessies boek Skryf elkeen se verwagtinge neer. Na afloop van die sewe oefeninge gaan jy jou oë nie kan glo nie. Nuwe ritmes bring nuwe lewe. Die ritmes bring ons in die teenwoordigheid van die Koninkryk wat naby gekom het. Kom ontdek hoe om deur hierdie ritmes jou volle bestaan te verstaan vanuit die werklikheid van die Koninkryk. Die kinders gaan hierdie selfde ritmes gelyklopend in die saal tydens ons Kinderpinkster hanteer. Tom Smith, outeur van die boek ‘Raw Spirituality’ gebruik hierdie ritmes om gemeentes te begelei in geloofsvorming wat vanuit die werklikheid van God die lewe leef. Hierdie ritmes word verder in die jaar ontgin en ons as gemeente gaan hierdie ritmes gebruik om ons gestuurdheid dieper te ontwikkel. In die uitpak van die ritmes is daar ‘n duidelike onderskeid wat getref moet word tussen die woorde ‘probeer’ en ‘oefen’. Probeer fokus op ‘n handeling wat slaag of faal. Probeer gaan gepaard met prestasie, teleurstelling, kompetisie, mislukking en waardeloosheid. Oefen wys na die aanhoudende beter word met ‘n spesifieke aksie of in ‘n spesifieke area. Ons hou aan oefen en word elke keer bietjie beter. Dus gaan ons saam die ritmes oefen en niks probeer nie. Ons motiveer mekaar om in oefening te bly en vier mekaar se ontwikkeling. In ‘n verhouding gaan dit oor die reis , want daar is nie een spesifieke eindbestemming nie. Ons reis saam Jesus hier en nou, ons laat toe dat die Gees ons vorm.
1
Jesus op ‘n uitkenningsperade (Hoe lyk jou Godsbeeld?)
Mens tot Mens • Lees die gesinsverklaring saam en vra ‘n spesifieke gesinslid om te open met gebed. • Indien julle nog nie verwagtinge neergeskryf het nie, doen dit eers. • Was jy al ooit deel van ‘n Gym? Hoe voel jy oor oefen?
Mens tot God • Jare lank vorm ons aan ‘n beeld van Jesus. Wie Hy is en hoe Hy lyk. Wie is Jesus vir jou? Hier kan jy neerskryf wie jy dink Jesus is. • Sing lekker saam tot ons Here.
• Vra vir Jesus om jou in Sy karakter in te neem en te laat ontdek wat jy nog nie van Hom weet nie.
God tot mens Ons idee van wie Jesus is bepaal waar ons Hom verwag, watter invloed Hy het en waarmee ons Hom vertrou. Indien Jesus gesien word as sonde Verlosser alleen, was Hy eens nodig vir my heil en is Hy nie weer aktueel tot ons in die hemel kom nie. Jesus is soveel meer. Die Gees is deur Jesus gestuur om voort te sit wat Jesus as opdrag van die Vader ontvang het. Deur Jesus beter te verstaan weet ons waar die Gees nou aan die werk is. • Lees Joh 1:12-13 en gesels oor Jesus as Redder. Gesels oor redding, nie in die lig vandie ewige lewe nie, maar dat Jesus ons red om ook nie meer deel te wees van die sondige wêreld nie. Nou hoef ons nie kriminele dade te ondersteun nie, want ons verstaan wat sonde is. Ons kan kies teen ontwettige DVD’s, kos en klere wat deur kinder arbeid geproduseer word, die gebruik van korrupte praktyke in ons omgewing. Jesus as Redder het ‘n invloed op die manier waarop elke dag se keuses gemaak word. Skryf nou nuwe insigte neer by jou prentjie van wie Jesus is. • Lees Mat 28:18-20 en gesels oor Jesus as Leermeester van die lewe. Gesels oor Jesus wat alle mag het en leermeester oor die hele lewe is. Jesus wat eerste geken moet word in my mediese behoeftes, politieke oortuigings, ekonomiese praktyke, sosiale kringe, persoonlike oortuigings en gepleegde foute. Hy is die perspektief waaruit die lewe verstaan moet word. Skryf nou nuwe insigte neer by jou prentjie van wie Jesus is.
• Lees Lukas 6:46 en gesels oor Jesus as Heer. Gesels oor Jesus as Heer nie in terme van Sy status nie, maar in die verantwoordelikheid wat ons het om Hom te gehoorsaam wanneer ons Hom Here noem. Die term ‘Heer’ kom van die aanspreekvorm van ‘n slaaf wat voor sy heer/meester gebuig het en alles gehoorsaam het wat die slaaf voorgesê is. Fil 2:9-11 bevestig dat almal voor Jesus sal buig. Buig ons nog in Gehoorsaamheid voor ons Heer? Skryf nou nuwe insigte neer by jou prentjie van wie Jesus is. • Lees Joh 15:12-15 en gesels oor Jesus as Vriend. Gesels oor Jesus as Vriend in die lig van Paulus wat homself sien as ‘n ‘medewerker’. Hierdie vriend maak jou deel van die meesterplan. Hy hef jou op as medewerker as waardige lid van die span. Jesus se vriend is iemand in Sy binnekring. My nuwe status as vriend van Jesus maak my deel van die Goddelike plan vir die skepping. Hoe verander jou identiteit as vriend van Jesus hoe jy oor jouself en jou rol op aarde dink? Skryf nou nuwe insigte neer by jou prentjie van wie Jesus is.
Mens tot aksie Hier kom die oefeninge vir die week. • Wanneer ons bid ‘laat U Naam geheilig word’, vra ons Jesus om vir ons ‘n verantwoordelike prentjie te gee van wie Jesus regtig is. Bid elke dag hierdie kort gebed: ‘Heilige Gees, help my om ‘n gesonde prentjie van Jesus te skep.’ • Watter beeld van Jesus (Redder, Heer, Vriend, Leermeester) raak jou aan en gaan jy hierdie week gebruik om mee te oefen. • Lys nou doelbewuste aksies wat jy hierdie week gaan doen om jou beeld van Jesus te verbreed. Voorbeelde: Ek gaan doelbewus iemand vergewe. Ek gaan doelbewus kyk na onwettige gebruike, DVD’s, progammatuur. Ek gaan hierdie week oefen om op die sewende dag te rus. Skakel doelbewus in by ‘n bediening van die gemeente. Sluit af as groep waar jy hierdie gewaarwording wat die Gees vir jou gemaak het deur gebed in afhanklikheid van die Here opgeneem word.
2
Is jy ingeprop?
(Hoe lyk jou afhanklikheid van God?)
Mens tot Mens • Lees die gesinsverklaring saam en vra ‘n spesifieke gesinslid om te open met gebed. • Ons afhanklikheid van elektrisiteit in ons moderne lewe is ongelooflik. Tel hoeveel toestelle julle tuis het wat met laaiers werk of van elektrisiteit afhanklik is. Watter maatreëls het julle al aangegaan om elektrisiteit te hê tydens kragonderbrekings?
Mens tot God God gee vir ons die geleentheid om ingeprop te wees in die grootste kragbron in die totale skepping - God Almagtig. Jesus het gereeld ingeprop by die Vader. Die Gees is gestuur om die mens in hierdie konneksie in te neem en die elektrisiteit van hierdie verhouding te gebruik. • Van die maniere waarop ons inprop by God is deur te sing, saam te bid, stil te wees en te reflekteer. Gebruik hierdie geleentheid om by God in te prop op die manier waarmee die groep gemaklik is en aan gewoond is. • Sê spesifiek dankie vir die geleentheid om vrylik te vergader as gelowiges. Sê dankie vir die huise waar julle vergader, die lede wat saamkom en vra vir die oprigting van nog sel groeigroepe in die gemeente.
God tot mens Stilword by die Vader was Jesus se bron van lewe. Jesus het doelbewus uitgeprop van Sy werk, verkondiging, genesing en selfs Sy dissipels. Hy het doelbewus by die Vader gaan inprop. • Doelbewuste besluit - Lees Mark 1:35; 6:45-46; 14:32-35. Jesus het telkens ‘n verlate plek gesoek om by die Vader in te prop. Jesus het by die Vader ingeprop, nie om weg te kom van realiteit af nie, maar om Hom in staat te stel om die Vader se teenwoordigheid in alles te sien. Gesels oor hoe doelbewuste inprop by die Vader jou daaglikse perspektief kan beinvloed. • Moeilike uitprop - Lees Joh 6:1-15. Om totaal uit te prop is nie so eenvoudig nie. Situasies wat ons energie steel is ons meer geneig om van te wil uitprop as situasies wat ons energie gee. Jesus het wonderwerke gedoen en die mense wou Hom Koning maak - Hy kies om daar uit te prop en by die Vader in te prop. Gesels oor die moeite wat dit gaan kos om uit te prop
van jou man of vrou, jou kinders, jou drome, jou ideale, jou oortuigings, jou vooroordele, jou opinies, jou tv, jou sport en in te prop by die Vader. Soms draai ons God se arm en vra ons God se seën op ons inisiatiewe, maar het nooit ingeprop by God om te hoor wat Sy wil is nie. • Goeie konneksie - Lees 1 Kor 6:12. God word die bron van krag, van vervulling, van genot, van tevredenheid, van identiteit, van rus, van alle behoefte wat ons het. God se goedheid en liefde vir ons, Sy opinie oor ons en wens vir ons kan nou ervaar word. Ons begeerte wat ons aandag eis en ons liggaam rig is begeerte wat moet fokus op ‘n konneksie met die Vader. Gesels oor die behoeftes wat ons as mens het, behoeftes wat elke dag bevrediging vra en uit watter bron die bevrediging kom. Gesels ook oor die bevrediging wat uit verkeerde bronne kom.
Mens tot aksie Die aanleer van die rimte om uit te prop en weer in te prop gaan ‘n groot uitdaging wees, maar gaan jou ‘n onuitputbare kragbron gee. Om ons te help met hierdie oefening gebruik ons die woord ‘SMART’. S - ‘Specific’.
‘n Spesifieke plek en tyd vir uitprop en by God inprop. ± 15 min vir ‘n begin. M - ‘Measurable’. Doen iets konkreets waaroor jy kan reflekteer. Gebruik die Psalms, die geloofsbelydenisse, hou ‘n joernaal, wees stil. A - ‘Achievable’. Daar is niks wat ons so ontmoedig as iets wat nie slaag nie. Kies hoeveelheid en tyd met die realiteit van die dag voor oë. R - ‘Relevant’. Kies temas, tekste en dissiplines wat nou vir jou relevant is. T - ‘Timely’. Skeduleer doelbewus, net soos enige ander afskpraak in jou dag. Die doel is nie om iets ekstra tot jou dag te voeg nie. Die doel is om jou hele dag te verstaan as ‘n lewe voor die aangesig van God, in Sy teenwoordigheid heeltyd. Die Gees gee die leiding vir die dag, eerder as die een wat net al die stukke van die dag bymekaar moet hou. Hierdie aksie plaas die res van jou dag in perspektief. Erens met ‘n beeld van Jesus wat elke dag heel dag teenwoordig is het ‘SMART’ oefeninge tot gevolg. Gee ‘n oomblik vir elkeen om ‘n aanvanklike ‘SMART’ oefening uit te werk. Deel dit met mekaar. Deur dit te deel hou ons mekaar ook verantwoordbaar. Sluit af met gebed gefokus op die soeke na ‘n gesonde ritme van uitprop en inprop.
3
Die ‘magic’ van die braaivleisvuur (Wie is die mense op jou pad van geloofsvorming?)
Om stories te deel saam met vriende maak die lewe die moeite werd. As braaivleisvure kon praat!!! Die Gees wat die Vuur in ons is bring ook mense saam.
Mens tot Mens • Lees die gesinsverklaring saam en vra ‘n spesifieke gesinslid om te open met gebed. • Wanneer laas het jy ‘n nuwe vriendskapsverhouding aangeknoop? Is dit nie moontlik tyd vir ‘n nuwe een nie?
Mens tot God • Hier kan spesifiek gesing word oor Jesus as vriend.
• Bid spesifiek vir vriende, binne of buite die groep.
God tot mens Gemeenskap van gelowiges, of die mense op jou reis van geloofsvorming, is die byproduk van ‘n ontmoeting en verhouding met Jesus. Jesus bind gelowiges saam Die Vuur vergader, die Gees is die lewensbron van reisgenote, reisgenote op reis saam met Jesus. • Lees Heb 10:24. In ons geloofsverhouding met ander gelowiges het ons ‘n sekere opdrag en verantwoordelikheid gekry. Aansporing tot goeie dade en liefde word sagkuns opgeneem as ‘n vrye keuse. Die teks dring egter hierop aan dat deel van gelowiges se versorging van mekaar is die aansporing tot goeie dade en liefde. Dus, indien ons dit nie doen nie skeep ons mekaar af. Gesels oor hierdie implikasie vir julle as groep. Tot watter soort dade behoort ons mekaar aan te spoor? Hoe lyk sulke motivering? • Lees Kol 1:27. Die vorming van vriendskappe wat deel het aan jou geloofsreis vat lank. Hierdie groep om jou geloofsbraai word baie kosbaar en spesiaal. Die gevaar is egter dat die groep die fokus word en nie meer die Vuur nie. Die teks verklaar Christus as die hoop op redding. Ons word deel van Christus se gestuurdheid of missie en omdat daar ‘n gestuurdheid is vorm daar geloofsgemeenskappe. Gesels oor die doel van geloofsgemeenskappe. Wat is die doel van gelowiges wat bymekaar kom? Wat is die verhouding tussen geloofsgemeenskappe en die wêreld?
• Lees 1 Kor 14:26. Elkeen het ‘n gawe en ‘n plek om te dien. Die plek waar God die gemeenskap van gelowiges vergader gaan behoeftes hê. Sy kinders in daardie omgewing gaan opgeroep word tot diens. In die geloofsgemeenskap is daar verskillende gawes. Watter verantwoordelikheid het geloofsgemeenskappe om hierdie gawes te ontgin?
Mens tot aksie Hierdie ritme gaan ‘n groter uitdaging wees. Nou kom ons by die oefeninge waar ander my sien, saam my oefen, my bystaan, my verantwoordbaar hou en ook van my leer. Hierdie oefeninge het nie net met my as persoon te doen nie, maar is nou deel van ‘n groter groep, tot voordeel van ‘n groter groep en die verantwoordelikheid van ‘n groter groep. • Hier is ‘n geleentheid vir elkeen om iets waartoe die res hulle kan motiveer op die tafel te sit. Voorbeelde is ‘Om iemand te vergewe’, ‘kos vir iemand wat honger is, ‘geduld te beoefen’, ‘komplimenteer ten minste een persoon elke dag’. Wys groeplede aan mekaar toe wat deur die week een spesifieke persoon motiveer tot goeie dade of liefde wat hierdie persoon identifiseer het. Skryf die aksie van elke lid neer en gee volgende keer terugvoer. • Watter moontlike praktyke kan in geloofsgroepe inkruip, wat nie ooreenstem met gestuurdheid nie en hoe kan geloofsgroepe daarteen waak? Bid ook hier dat die Here ons sal beskerm en ons fokus op die Vuur gerig sal hou. Bestaan daar sulke praktyke in julle groep? • Hoe is julle as geloofsgemeenskap besig om toe te laat dat die Vuur julle stuur? Waarheen roep die Vuur julle op? • Hoe is jy by jou plaaslike gemeente diensbaar of sal jy diensbaar wil wees? Laat die selleier persone wat graag sal wil betrokke raak epos aan: info@constantiakruin.co.za. Sluit af met ‘n gebed waar jy jou vriende om die vuur opdra aan die Here. Bid en vra die Gees om Sy Vuur tasbaar in die groep te maak.
4
‘n Puzzel boutique!
(Hoe is jou unieke bydrae ‘n geskenk vir die wereld?)
Niemand huil in ‘n fliek oor iemand wat graag ‘n Mercedes wil ry en hoe die persoon daarby uit gekom het nie. Tog spandeer ons jare aan sulke stories en verwag dat ons lewe betekenisvol moet wees. Elkeen se unieke menswees is vir meer gemaak. Ons is geskep as deel van die plan/puzzel wat ‘n liefdevolle God se storie/prentjie hier op aarde werklik kom maak.
Mens tot Mens • Lees die gesinsverklaring saam en vra ‘n spesifieke gesinslid om te open met gebed. • Dikwels is dit makliker om te gee as om te ontvang. Hoekom sukkel ons om te ontvang, of dalk nie?
Mens tot God Soos op ‘n puzzelboks het ons elkeen ‘n prentjie van die lewe waarvolgens ons, ons eie lewe bou. Die prentjie bepaal waar die puzzelstukkie gaan. Hier moet jy ongemaklik eerlik met jouself wees. • Raak hier rustig en bewus van die lewensprentjie wat jou dryf, wat jou sin gee, wat jou doelwitte bepaal. Praat met die Here oor hierdie prentjie. Is dit die regte prentjie? • Lees Joh 1:1-14 in drie vertalings indien moontlik. Laat elkeen deel watter tipe prentjie die teks hier skep oor die lewe. Hoe lyk die puzzelboks volgens hierdie teks?
God tot mens Uit Johannes sien ons dat die prentjie van die boks wat die werklikheid van die puzzel bepaal nie die werklikheid is waarin ons nou leef nie, maar die werklikheid van Jesus wat voor die skepping daar was, waardeer alles tot stand gekom het en daarom Sy eiendom is en dat hulle wat die Lig aanvaar kinders van God genoem kan word. Die prentjie op die boks is God se Koninkryk en ons is die stukkies wat hierdie prentjie uitbeeld. • Genade - Lees Ef 2:8-10. Genade red ons, maar genade maak ons ook betrokke by God se werk hier op aarde. As ons onself ag as gered is ons noodwendig deel van die puzzelstukkies wat God se prentjie hier op aarde moet uitbeeld. Genade help ons om die regte prentjieboks raak te sien waarvan ons deel is. Die Gees lei ons nou om hierdie stukkies te word. Gesels oor die tweeledige impak van genade: Redding en betrokkenheid.
• Vergelyking - Die beste voorbeeld vir my van ‘n botique is ‘n puzzel. Elke stuk is anders, maar almal dra die kenmerk van die skepper. Wanneer ons onself en ons gawes met ander vergelyk word ons bloodgestel aan meerderwaardigheid of minderwaardigheid. Ons behoort ons nie te vergelyk nie, maar die uniekheid van elke stuk te vier en weet ons is in die botique van die Vader. Sy hand is in elkeen herkenbaar, maar nie een stuk is dieselfde nie. Gesels oor die gevaar van vergelyking, hoe dit jou al beinvloed het. Waar ly mense om julle as gevolg daarvan? • Ontdekking - Lees 2 Kor 1:3-5. Temperament, passie en talente ens. wys alles na die uniekheid van my puzzelstuk. Hierdie gedeelte wys verder na die verskillende tipes ervaring wat ons al in die lewe deurgegaan het. Hierdie lewenservaring is iets waarmee jy by ander betrokke raak omdat God jou daardeur gehelp het. Gesels oor hoe noodsaaklik dit is dat ons lewenssituasies moet deel, goed en sleg, omdat dit juis unieke dele is van jou as puzzel. Die Gees gebruik die lewe van gewone mense om ander te begelei. • Ontwikkel - Lees Ef 4:15-16. Die beste plek om ons uniekheid as puzzel te ontdek, wat ons in die botique is, is in ‘n liefdevolle gemeenskap. Die geleentheid om veilige en opregte terugvoer te kry oor ons as puzzelstuk bou die gemeenskap. Ons gawes lyk vir onsself alledaags omdat dit natuurlik kom of so lank al deel is van ons storie. Ons het nodig om onsself deur die oë van ander te sien. Die huldeblyk by jou begrafnis is te laat om jou uniekheid te ontdek. Gesels oor die waarde wat daarin is om jouself deur iemand anders se oë te sien
Mens tot aksie • Watter lewenservaring gee vir jou as puzzelstuk ‘n unieke kontakpunt met ander mense? Reflekteer oor jou lewe en noem ervaringe wat die Gees kan gebruik en jy nie voorheen gedink het kan lei tot bedieningsgeleenthede nie. • Wees baie eerlik en skryf die unieke gawes neer waaroor jy beskik en reeds van bewus is. Deel dit met mekaar en hoe die Gees dit al gebruik het. • Maak ‘n lys van waarde vir elke groeplid. Laat elke lid van die groep iets opskryf vir elke ander persoon. Een wit papier met ‘n persoon se naam op word in die rondte gestuur en elkeen skryf op daardie papier waarvoor God gedank word in die ander persoon. Die uitdaging is om na mekaar te kyk vanuit die oë van Hom wat daardie persoon geskep het. Vanaand bid ons en dank die Here vir wie Hy geskep het toe Hy jou geskep het. Sê dankie vir wie jy is en hoe Hy jou gevorm het. Gee jouself as instrument wat die Gees in die wêreld kan gebruik.
5
Nommer pas?
(In wie se skoene word ek ingeroep?)
Daar is een ding meer ongemaklik as skoene wat nog nie ingeloop is nie, iemand anders se ingeloopde skoene. Jesus roep ons in ander mense se skoene in. Hy het gereeld in die skoen van die verontregde, vergete, vervreemde en verwaarloosde persoon gestaan.
Mens tot Mens Wanneer jy na iemand se skoene kyk, is daar tog iets te sê oor die karakter van die persoon. Skoene word dikwels gebruik om ‘n stelling te maak oor iemand se perspektief oor die self. • Lees die gesinsverklaring saam en vra ‘n spesifieke gesinslid om te open met gebed. • Wees eerlik en vertel vir mekaar hoeveel stelle skoene in jou kas lê. Hoekom het jy so baie, of so min skoene in jou kas? • Waarom speel skoene so groot rol in hoe ons lyk? Kinders het veral ‘n hoë premie wat hulle op skoene plaas. Wat lei ons af van vuil, stukkende skoene?
Mens tot God Skoene herinner ons dat ons nie in ‘n fantasie wêreld leef nie. Die hier en nou is waarmee ons te doen het. Ons skoene neem ons na die plekke wat ‘n invloed op ons lewe uitoefen. Om bewus te wees van ons skoene maak ons ook bewus van ons inkarnasie as mens tussen mense, as egte wese. • Raak stil en raak bewus van jou skoene. In gebed dank jy die Here vir die plekke waar hierdie skoene jou heen geneem het en dat God daar was. Raak nou verder bewus waarheen hierdie skoene jou nog moet neem en doen daarvoor voorbidding.
God tot mens Die Gees lei ons om, in die omgewing waar ons is, bewus te raak van die Koninkryk en daarin te oefen om as die beliggaamde Koninkryk so te leef dat die wêreld weer met God se goedheid verenig word. Daar is ‘n aantal faktore in hierdie oefening wat in ag geneem word om regtig in iemand anders se skoene te staan. • Omgewing - Lees Lukas 10:30-37. Die Samaritaan beweeg van die oorkant van die pad na slagoffer, raak hom aan en versorg hom. Die priester en Leviet het volgens hulle gebruik reg opgetree, maar hulle gebruik het nie die omgewing buite hulle amp in ag geneem nie. Gesels oor die erns wat God deur die Samaritaan met die omgewing maak. Hoe lei die Gees ons
om ernstiger na die omgewing te kyk waarin ons is? Watter verskonings gebruik ons om die omgewing mis te kyk? • Om te sien - Lees Hand 10:13-16, 27-29, 34-35. Petrus sien deur die oë van Kornelius dat Jesus alle volke geroep het en uit alle volke mense red. Wanneer ons deur ander se oë na die omgewing kyk sien ons ander werklikhede raak. Ons leer ander stories ken en raak ontslae van ons skeptisisme. Ander oë leer ons om anders te bid en regtig in te tree vir ander se stories. Ander oë nooi ons uit na ‘n lewe waar ons bereid is dat die Gees ons lei na waar Hy wil. Gesels oor hoe ons in abstraksie soms nooit by die grondvlak kan uitkom nie. Hoe belangrik is dit om doelbewus deur ander se oë te kyk? • Reaksie - Lees Jes 1:17. ‘n Lewe van medelye is iets wat gekweek word. Daar gaan baie oefen in. Ons maak daarin ook baie foute, maar ons leer hoe om te help sonder om ander of onsself in die proses seer te maak. Veral in hierdie situasie is dit belangrik om te leer hoe om te ontvang. Deur te ontvang plaas jy jouself in ‘n posisie van swakheid. Hierdie omgewing skep ‘n veilige ruimte waarin iemand se menswaardigheid herwin word. Gesels oor menswaardigheid en hoe belangrik dit is om ‘n omgewing te skep waarin iemand kan gee. Jesus Self het ontvang, waarom sukkel ons om in die posisie van die ontvanger te wees?
Mens tot aksie Hier gaan ons oefen om in die ongemak van iemand anders se skoene doelbewus in te klim, deur ander oë tot nuwe insig te kom en daarop te reageer met veilige omgewings. • Beskryf die huidige omgewing van die gemeente. Beskryf die plekke waar die gemeente moontlik die gemeenskap miskyk. Waak teen veralgemening. • Deur wie se oë sou jy hierdie week werklikheid anders kon sien? Vind iemand en vergelyk jou werklikheid met hulle werklikheid. Die groep kan ook iemand kies wat nie die profiel van die groep weerspieël nie en dink saam watter tipe werklikheid daardie persoon se oë raaksien. • Laat elkeen in die groep sê wat hulle dink die Gees hulle na toe lei wanneer hulle na hierdie vreemde of ander werklikheid kyk.
6
My tyd is joune.
(Hoe kan ek dien met die voorregte en hulpbronne wat ek het?)
Hier verstaan en erken ons dat God die Eienaar van alles is. Dit wat ons het en waartoe ons in staat is, is ons oor aangestel as rentmeesters. Ons is die verantwoordelikheid gegee om God se gawes en hulpbronne verantwoordbaar te bestuur en verantwoordelik te benut. Die kerk is ‘n omgewing van genade en die wêreld een van gulsigheid. Hier verander die ou gesegde: “Keeping up with Jesus and not the Joneses.”
Mens tot Mens • Lees die gesinsverklaring saam en vra ‘n spesifieke gesinslid om te open met gebed. • Toe jy jonger was, of selfs nou, na wie het jy opgekyk en gewens dat jy het wat hulle het? Noem daardie een of twee dinge wat van iemand anders se lewe vir jou uitgestaan het en wat jy graag in jou lewe sou wou hê. • Hierdie oefening is moeilik. Klassifiseer jouself as arm, middelklas of ryk. Sleutel inkomste bedrae in op die webwerf www.globalrichlist.com en kyk waar jy staan in vergelyking met die wêreld. Net so idee, indien jou inkomste R100 000-00 netto per jaar is, is jy deel van die 40% rykste mense in die wêreld.
Mens tot God • Hierdie is ‘n goeie geleentheid om in gebed die Here te dank vir al ons hulpbronne, besittings, vaardighede en tyd. Verklaar dat jy geseënd is en daarom kan seën • Sing ‘n paar dankliedere saam.
God tot mens Die kerk oefen in genade en die wêreld oefen in gulsigheid. Hierdie twee staan teenoor mekaar. Wanneer ons in genade leef, leef ons na ander, wanneer ons uit gulsigheid leef, leef ons in kompetisie en vergelyk met almal anders. • Lees Matt 6:9-13. Die Onse Vader praat spesifiek oor ‘ons daaglikse brood’ en nie ‘my daaglikse brood’ nie. Hoe pas die groter geheel van ons gesin, familie en samelewing in ons gebed in? Hoe moet ons na persoonlike hulpbronne kyk wanneer die woord ‘ons’ in gedagte gehou word? • Lees Lev 19:9-10. Is dit verkeerd om in ‘n restaurant ‘n verjaarsdag te vier? Nee. Is daar plek in my lewe vir matigheid en die inperk van restaurant
geleenthede sodat iemand anders daaglikse brood kan hê? Verseker. Hierdie is ‘n moderne interpretasie van die teks. Gesels oor die relevansie daarvan en hoe dit toegepas kan word op motors, koffie, tyd, geleenthede, kos ens. Hoe moeilik is dit om hierdie aspek van ons lewe aan die Gees oor te gee? • Lees Hag 1:6. Hierdie vers wys hoedat iemand wat nie deel slegter daaraan toe is as toe hy nog nie iets gehad het om te deel nie. Oorvloed is nie vir opgaar nie, maar vir uitdeel. Watter wysheid kom uit hierdie teks rakende ons hulpbronne? • Wanneer ons bid vir ons daaglikse brood strek dit van kos tot die landsregeerders. Hierdie daaglikse brood raak ook die uitnodiging om weier te dink as my eie behoeftes. Die groep wat by die ‘ons’ ingesluit word bepaal die brood. Hoe wyer ek dink hoe meer mense word ingesluit by my gebed en word hulle behoeftes my prioriteit. • Gesels oor die volgende 10 gebruike wat ons kan help met die Goddelike bestuur van hulpbronne: i. ii. iii. iv. v. vi. vii. viii. ix. x.
Koop artikels vir die bruikbaarheid daarvan, nie die status nie. Verwerp alles wat lei tot ‘n verslawing in jou lewe. Ontwikkel die gewoonte om weg te gee. Waak teen bemarking wat gerig is op begeerte en aansien. Geniet sonder om noodwendig te besit. Ontwikkel ‘n diepers waardering vir die skepping. Kyk nugter na alle skemas van skuld. Verwerp alles wat ontwikkel het uit die verdrukking van ander. Skyf alles uit wat jou fokus op ‘allereers die Koninkryk’ steel. Beoefen die kwaliteit van eerlikheid in die verkry en uitgee van hulpbronne.
Mens tot aksie • Watter mense kan jy insluit in jou gebed rakende daaglikse brood en hoe beinvloed dit jou behoeftes? • Hoe voel jy daaroor om ‘n vreemdeling in jou begroting op te neem? • Maak ‘n lys van jou besittings, daarna merk jy langs elke besitting: ‘My eiendom’ of ‘God se eiendom’. • Daag mekaar uit om gestoorde items, ongebruike artikels in die huis of selfs iets wat jy weet iemand anders nodig het, hierdie week te gaan afgee by die kerk of by die persone wat nood het. Bid en vra dat die Gees jou sal lei as geseënde om ander te seën en dat hulpbronne nie ons fokus van bestaan sal word nie.
7
God aan/by die werk
(God aan die werk waar jy werk)
Hierdie ritme sluit aan by die reeks, God aan/by die werk, waarin ons ontdek het hoe God teenwoordig is waar ons aan die werk is. God in die werkplek sluit die Koninkryk bewustheid verder oop sodat ons die teenwoordigheid van God in alles kan ervaar waarvaan ons werk.
Mens tot Mens • Lees die gesinsverklaring saam en vra ‘n spesifieke gesinslid om te open met gebed. • Gesels met mekaar oor dit wat julle steeds kan onthou van die ‘God aan/ by die werk’ reeks. Wat van die ‘God aan/by die werk’ het jy begin toepas? • Wat van die eerste reeks sou jy weer wou herbesoek of opskerp?
Mens tot God • Deel graag getuienisse van die effek van die ‘God aan/by die werk’ reeks. • Fokus op elke lid se teenwoordigheid by die groep en bid dat God julle sal verras met Sy teenwoordigheid.
God tot mens Hier is ‘n opsomming van die ‘God aan/by die werk reeks. Gesels deur elkeen van hulle en herinner mekaar wat die implikasie daarvan is vir ons as gelowiges. • My werk is vir God belangrik - Gen 1:26-31. God het die mens gemaak om te werk en deur werk die Koninkryk uit te bou en God te verheerlik. • Ambisie - Matt 6:33. Daar is ‘n verskil tussen persoonlike ambisie en Goddelike ambisie. Goddelike ambisie bring ons by die doel van ons skepping uit. • Moeilike besluite - 1 Kon 3:5-15. In moeilike besluite gee ons verhouding met God en die Bybel ons morele raamwerk. Godgegewe beredenering en feite rig ons gedagtes. Ons gewete hou ons verantwoordbaar en die gevolge van die besluit vir myself en ander dien as motivering. • Hou balans - Fil4:11-12 & Kol 1:17. Balans gaan nie oor ewewig nie, maar oor die integrasie van God in alles. Lewensintegrasie in die teenwoordigheid van die God wat alles in stand hou bring ‘n gesonde lewe.
• Hanteer stres - 2 Kor 4:7-12. Stres kan soveel van ons lewe steel, maar stres kan ook vir ons leer hoe afhanklik ons van God is. God is die krag wat die kleipot heel hou. • Mislukking, teleurstelling en hoop - Rom 5:13. Jesus het die wet kom vervul en daarom word sonde nie toegereken nie. Ons kan hoop weer herwin deur terug te draai na God, die feite in die oë te kyk, mediteer in die Woord, ‘n joernaal by te hou en op te tree in die teenoorsgestelde gees. • Geld praat - Luk 16:1-13. Geld speel ‘n belangrike rol wanneer dit in diens van God is, maar vervreem ons van God wanneer ons in diens daarvan is. Wie betroubaar is in die klein dinge sal ook betroubaar wees in die groot dinge. • Geestelik heel - 1 Joh 2:15. Om geestelik heel te word verskuif liefde vir die wêreld na liefde vir God. Jy soek na spirituele kos wat jou versterk vanuit die realiteit van Jesus Christus. Jy laat toe dat God jou lief het soos jy is, maar ook vertrou jy dat wanneer Hy jou deur Sy liefde verander dit vir die goeie is en laat dit toe.
Mens tot aksie • Hoe voel jy huidiglik oor jou werk en wat is die impak daarvan op jou lewe? • Hoe kan die plek waar jy werk skuif van ‘n pligsgetrou werk na ‘n area van roeping? Hoe kan jy dit wat jy voel God jou gevra het om te doen uitleef in jou werk? • Is jou werk besig om deel te vorm van die mens wat jy wil wees? Hoe kan jy dit aanpas of volhou?
Vra vir die Gees om ook die rigting in al jou werksaamhede te gee. Vra dat Hy sal jou sal neem na waar Hy die bron van alles is en nie net mensgemaakte planne moet laat werk nie.